SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.57 número1This mournable body (Tsitsi Dangarembga)All the Places (Musawenkosi Khanyile) índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.57 no.1 Pretoria  2020

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.57i1.7904 

BOOK REVIEWS

 

 

Chinatown.

Ronelda S. Kamfer.

Kaapstad: NB Uitgewers, 2019. 64 pp.

ISBN 9780795709500.

In Ronelda Kamfer se nuutste digbundel, Chinatown, tref die verse gelaai met woede die leser soos 'n vuishou in die gesig. Jy hoor die pyn in haar stem, voel die breek in haar buik en proe die bitter op haar tong.

Die draak op die omslag gee jou 'n eenrigting vuilkyk en die groen-bruin kleure van die agtergrond simboliseer genesing, groei en nuwe lewe. Dit is as't ware asof daar deur hierdie bundel 'n nuwe era vir Kamfer aangebreek het. Nie net fokus sy meer op die vaderfiguur nie, maar sy bring ook die kwessie van femicide onder die loep. Kamfer open die bundel met 'n gedig getiteld "Chinatown", wat aansluit by die titel van die digbundel, en gebruik ook die woord meer as twee keer in die bundel self. Die herhaalde gebruik van die woord is veral funksioneel vanweë die digter se soeke na egtheid-in haar lewe, maar ook in haar digkuns. Volgens Hambidge (12) hou die bundel verband met Polanski se 1974 flim, Chinatown. Myns insiens hou die bundel nie net verband met Polanski se flim se ondersoek van bloedskande en geweld nie, maar ook met die "Chinese" winkels en die spesifieke Chinatown-winkel waarna die spreker gereeld terugkeer, 'n plek waar mense gewoonlik namaaksels en goedkoop produkte kry.

Kamfer ondersoek in hierdie bundel die bestaan van die bruin mens en al die ellendes wat dit inhou. Waar haar vorige bundels meer klem gelê het op die moederlike figuur, grondverskuiwings en apartheid, fokus hierdie bundel sterk op die vaderfiguur en die hedendaagse diskoers rondom femicide. Gedigte soos "Chinatown daddy" (11) spreek die harde realiteit van afwesige vaders aan. Verder meer sluit Kamfer aan by die huidige situasie in Suid-Afrika rakende femicide soos gesien in gedigte soos "DIY 3-step rape kit" (25), "terrorist attack" (26), "safe word" (34) en "laat die wit meisies huil" (47) waarin sy nie net die harde realiteit van verkragting aanspreek nie, maar ook die nagevolge en letsels wat dit agterlaat.

Verder meer verbeek Kamfer in Chinatown die stiltes wat in die verlede geskep is deur vanuit 'n voorheen-gemarginaliseerde stem te skryf. Die gemarginaliseerdes van die verlede vind dus deur middel van haar werk 'n geleentheid om hul eie verhale te vertel. Haar werk gee dus nie net aan die Afrikaanse leser die kans om na vroeër ongehoorde stemme te luister nie, maar verteenwoordig ook 'n ander perspektief op die verlede en die hede. Gedigte soos "Babes" (39), "try dié (52), "Mr Brown en sy pyn-Barbie" (16) en "meire" (24) verskaf nie net inligting oor die gemeenskap nie, maar ook oor die spreker self.

Kamfer se verse is egter nie sonder ironie nie. In "my poems is nie confessions nie" (50) dig die digter oor haar helde wat nooit Hertzogpryse wen nie en hoe sy "fokkol vir 'n wit vrou wat mooi gedigte geskryf het" voel nie, tog bedank sy Antjie Krog aan die einde van die bundel. Verdere ironie kan gesien word in gedigte soos "Chinatown op 'n Sondag" (33) waarin sy haar pa se beheptheid met wit mense onder die loep bring. Dit is vir die leser geen geheim dat die digter teen iets rebelleer nie. Haar onbeheersde woede en haat teenoor wit mense vloei van Noudat slapende honde in 2008 tot in Chinatown. Haar pa se obsessie vuur dié woede aan:

my pa volg die leftovers

van die wit man se toxic masculinity

hy is trauma se experimental phrase

sy legacy gaan wees: die mistress van wit manlikheid

die always-a-bridesmaid vir die bride van wit patriarchy (11)

Kamfer se beheptheid met wit mense is egter nie sonder teenstrydighede nie. Ten spyte van haar haat en woede teenoor witmense erken die spreker in "moenie my misverstaan nie" (43) dat nie alle dinge van witmense haar afsit nie:

moenie my misverstaan nie-boeremusiek is kak versin but daai Beaufort Wes nommertjie is nomme (43)

Wat die tipografiese inhoud en struktuur van die bundel aanbetref, wyk Kamfer nie net af van standaardafrikaans nie, sy skep ook 'n gehibridiseerde taal (Kaaps) wat lynreg staan teenoor taalsuiwerheid. Kamfer neem met ander woorde die taal van die kolonialiseerder, pas dit aan en maak dit dan haar eie. Tipografies is haar gedigte meestal sonder leestekens en reëllengtes wissel. Verder vloei gedigte in mekaar in, wat dit soos verhale laat lees. Die tematiese materiaal in die bundel is egter nie nuut nie en die woede oor pyn, swaarkry en rassisme is steeds nie uitgewoed nie. Tesame met gereelde temas wat met Kamfer se werk geassosieer kan word, spreek sy in hierdie bundel ook nuwe temas soos geestesgesondheid aan.

Kamfer kruip nie weg agter verdraaide verse of paradokse nie. Sy is eerlik in haar woede en maak die leser deel van haar aggressie. In haar postkoloniale ge-veg raak sy soos in grond/Santekraam ook die kwessie van grond in Chinatown aan:

jy exist in die regte wêreld

die een waar al die leaders doodgaan

die een waar almal kaalvoet

loop op gesteelde grafgrond (54)

Sy klassifiseer haarself as die Ander en verwys na die wit mense as "julle/ hulle". Steeds, soos in die eerste gedig in Noudat slapende honde, "waar ek staan", verafsku sy die tafel waarby hulle sit en vind sy maniere om hulle ongemaklik te laat voel. In "Prince Myshkin" (36) noem die spreker dat sy lief is vir baklei. Baklei kan in hierdie opsig geassosieer word met die postkoloniale opposisionele posisie wat die spreker teen die samelewing en die kanon inneem. Kamfer baklei nie net 'n fisiese ge-veg nie, maar voer ook 'n stryd teen die monsters in haar kop ("gaan aan" [46] en "bamboo" [14]).

Chinatown vorm nie net 'n voltooide siklus met ge-digte wat in gesprek tree met mekaar, soos gesien in "ek soek nie 'n plek langs die tafel nie" (28) en "straatmeid" (29) nie, dit daag ook verskeie stereotipes en norms uit. Myns insiens bou dit voort op vorige bundels, maar bring ook vernuwing na die tafel. Dit is 'n bundel waarin Kamfer standpunte inneem en waarin sy nie net die literêre kanon uitdaag nie, maar lesers ook aanmoedig om verandering teweeg te bring; radikale verandering ten opsigte van geestesgesondheid, afwesige vaderfigure en verkragting. Vir Kamfer is 'n plek langs die tafel te normaal-sy nooi eerder die Afrikaanse literêre gemeenskap uit om vuur te maak buite.

Tenita Zinsi Kidelo

3409458@myuwc.ac.za

Universiteit van die Wes-Kaapland

Kaapstad

ORCID: https://orcid.org/0000-0002-1818-6830

 

Geraadpleegde bron

Hambidge, Joan. "Hardegat verse vol dinamiet en onrus". Rapport. 1 Des. 2019, 12.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons