SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 número2Henriette Grové: 26 September 1922 - 15 Desember 2009Notes on three little histories índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.56 no.2 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.56i2.7506 

HULDEBLYK

 

Harry Kalmer (1956-2019)

 

 

Willie Burger

Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. E-pos: willie.burger@up.ac.za https://orcid.org/0000-0003-1602-6996

 

 

 

Vroeg vanjaar, toe hy reeds baie siek was, het Harry Kalmer by UNISA se Breyten Breytenbachseminaar gepraat. Die titel van sy voordrag was: "How to write in Afrikaans en still respect yourself in the morning". (Dit is terloops 'n kenmerkende Harry Klamer klopreël. Die gesoute kopieskrywer met jare se ervaring in die reklamebedryf het presies geweet hoe om lesers se aandag met 'n titel te trek. Dink maar aan titels uit sy oeuvre soos: Die waarheid en ander stories; En die lekkerste deel van dood wees; The secret of my excess; Die man met die dertien kinders.) 'n Effense aanpassing van daardie titel is paslik vir 'n huldeblyk aan die veelsydige en produktiewe Kalmer: 'How to study Afrikaans literature and still respect yourself in the morning'.

So bietjie meer as twee jaar gelede het Kalmer met die derdejaarstudente aan die Universiteit van Pretoria kom praat. Sy pryswennerroman, 'n Duisend stories oor Johannesburg, was vir die derdejaarsklas voorgeskryf en gulhartig soos hy was, het hy die uitnoding om met die studente te praat dadelik aanvaar. Hy het egter 'n voorwaarde gehad: hy was bereid om vrae oor sy roman te beantwoord en met my in gesprek te tree daaroor voor die studente, maar hy het eers 10 minute versoek om met die studente te praat oor die moontlikheid van 'n loopbaan in kopieskryf. Hy het passievol gepraat oor die reklamewese en die studente aangemoedig om 'n loopbaan in juis Afrikaanse advertensies te volg. Dit was vir die studente verstommend om te hoor dat iemand hulle aanmoedig om 'n loopbaan in Afrikaans te probeer hê-veral in die omstandighede waarin hulle dikwels onder die indruk gebring word dat daar nie juis loopbaange-leenthede in Afrikaans bestaan nie.

Toe ons op pad na die klas oor die kampus stap, wou Harry by my weet of ons Breyten Breytenbach se poësie vir ons studente voorskryf. Dit was vir my 'n vreemde vraag. Dit is immers ondenkbaar dat enige kursus in Afrikaanse letterkunde nie die werk van Breytenbach kan insluit nie! Harry het net so onderlangse laggie gegee en opgemerk dat daar in die drie jaar wat hy Afrikaans op dieselfde kampus bestudeer het, geen Breytenbach-gedigte met hulle behandel is nie. Dit was die soort poësie en Breytenbach die soort Afrikaner wat destyds nie as die ware Afrikaners en die 'regte' Afrikaanse letterkunde beskou is nie, of soos Harry dit self later in 'n lesing gestel het: "toe Pretoria die land van braaivleis rugby sonneskyn en Prys die Heer [was], 'n plek waar dit in die 1970's was asof Woodstock nooit gebeur het nie, Neil Armstrong nie op die maan was nie en H. F. Verwoerd nog gelewe het". Dit was die tyd toe Breyten Breytenbach tronk toe gestuur is-maar sy werk nie aan U P aan die studente voorgehou is nie.

Die manier waarop Afrikaans toé beskou en krampagtig beskerm is, het ongelukkig gelei tot 'n situasie waarin talle Afrikaanssprekendes skaam geword het om Afrikaans te wees, laat staan nog om in Afrikaans te skryf, of te werk. Maar Kalmer het deurentyd in Afrikaans bly skryf, en het die studente aangemoedig om in Afrikaans reklame te skryf, omdat hy 'n manier gevind het om ondanks al die vooroordele, al die stiksienigheid en uitsluiting in die naam van Afrikaans, in die taal te werk en sy selfrespek te behou.

Harry het in die 1970's en 1980's besef dat daar Afrikaanse skrywers is, soos Breytenbach, wat 'n ruimte in Afrikaans geskep het vir diegene wat nêrens tuis gevoel het nie-wat 'n onrus oor hul isolasie en assosiasie met rassisme, konserwatisme, nasionalisme en christenskap ervaar het. Hierdie skrywers het hom laat voel dat hy sy selfrespek kan behou al skryf hy in hierdie taal, maar nog belangriker, het hy een van die skrywers geword wat die ruimte vir 'n ander beskouing van Afrikaans en 'n Afrikaanse denkwêreld help oopskryf het. Harry was een van die skrywers wat dit vir 'n jonger geslag opwindend gemaak het om Afrikaanse literatuur as 'n tuiste te kon ervaar. Toe ek Kalmer se Die waarheid en ander stories tydens my dienspligjare gelees het, kon ek weet daar is 'n plek in Afrikaans om krities te wees, om buite die laer te staan, om trots te wees op wat vermag kan word in die taal en deur denke in die taal. En dit is iets wat Harry se boeke voortdurend by uitstek gedoen het.

Al het Hennie van Coller dit nie goedgedink om 'n profiel oor Kalmer in die driedelige Perspektief en profiel se kanonisering in te sluit nie, is Kalmer een van die groepie skrywers in Afrikaans wat 'n leefwereld in Afrikaans buite die Afrikaanse wêreld moontlik maak. (Dit is miskien juis hierom dat hy uiteindelik die erkenning vir 'n Duisend stories oor Johannesburg se Engelse weergawe gekry het in die vorm van die Sunday Times se Barry Ronge-prys vir fiksie, terwyl die Afrikaanse weergawe nie Afrikaanse pryse verower het nie?) Kalmer het ook 'n Afrikaanse ruimte geskep waarvoor 'n mens nie selfbewus wegskram nie, juis deur nie betrokke te raak by bakleiery oor en om Afrikaans nie-wanneer Spek Harmse motiveer waarom hy Afrikaanse advertensies skryf, is dit geen van die holruggeryde argumente nie, is daar geen angsvalligheid nie, bloot 'n gevoelige oor op die grond en vir die klank van raak woorde.

Die Suid-Afrikaanse literatuur van die paar dekades vóór 1994 is gekenmerk deur anti-apartheidsentimente: 'betrokke literatuur'. Kalmer het in hierdie stadium gedebuteer, in 'n tyd van noodtoestande, en toe dit-soos nou-moeilik was om te onderskei wat regtig in die land aan die gang is en wat propaganda is. Toe verskyn Die waarheid en ander stories (by Taurus, juis omdat Kalmer nie by Nasionale Pers wou uitgee nie weens die manier waarop beriggegee is oor die Dakar-beraad). Die verhale sluit aan by die grensverhale van die tyd-die geweld, diensplig, struggle, maar veral ook blootlegging van die leuens wat die geweld regverdig. Die interessante is egter hoedat Kalmer, anders as die meeste ander skrywers van 'grensliteratuur' (byvoorbeeld Strachan, Van Heerden, Kellerman, Kruger) met sy ironiese sin vir humor, ook selfrefleksief met die 'genre' van die grensverhaal omgegaan het-soos die veelseggende titel van die een verhaal aandui: "Die nag steek op op soos 'n seer tand; 'n grensverhaal in die jongste styl". Hierdie titel (en verskeie aanhalings en verwysings in die verhaal self) is 'n aanduiding van hoedat Kalmer, reeds in 1989-midde in die opbloei van grensliteratuur ook sy bydrae gelewer het tot grensliteratuur-maar anders as by die ander grensliteratuurskrywers was daar by hom nie bloot die rapportering van die 'waarheid' van die situasie nie, maar ook 'n selfbewuste wete van waarmee hy besig is en 'n ironiese blik daarop.

Hierdie selfbewuste in voeling wees met die literêre stromings van die tyd, sowel as met die sosiopolitieke situasie waarin hy skryf, kenmerk Kalmer se oeuvre. Die selfbewuste deelname aan die literêre stromings stel hom egter ook in staat om buite daardie strominge en tendense en temas te staan. Juis hierdie buitestaan stel hom in staat om op subtiele wyse oor die tendense en stromings te reflekteer. Dit doen hy tot in sy laaste roman. In 'n Land sonder voëls sluit hy aan by die tendens om distopiese verhale te skryf-maar dan doen hy dit vol selfspot en ironie-veral met die verwysing na die distopiese literatuur van Orwell en Huxley.

Hierbo is reeds gewys op Kalmer se humorsin, altyd onderbeklemtoon, sodat die haastige leser sommige van die snaaksste opmerkings mislees. In die een grensverhaal dink 'n karakter, na aanleding van 'n landmyn, "die dood begin by die voete"-'n verwysing na 'n gedig van Breyten Breytenbach uit Die ysterkoei moet sweet. Heelwat later, in 'n Duisend stories oor Johannesburg, kry dieselfde aanhaling 'n ligter gevoel as die meisie met 'n liefde vir Breytenbach se digkuns dieselfde woorde onder haar voet laat tatoeër, maar sy skryf lelik en die tatoeërkunstenaar kan nie Afrikaans verstaan nie en toe lees dit: "doos begin by die voete".

Geweld is sentraal in byna al die literatuur sedert 1994-Leon de Kock verwys na die "wondkultuur" in 'n "patologiese openbare Suid-Afrikaanse ruimte" waarin misdaadfiksie 'n sentrale plek inneem. Kalmer is in voeling hiermee. Hy sluit ook aan by die misdaadgenre wat sedert die 1990's in ons land 'n bloeitydperk beleef. Misdaad-fiksie as die uitdrukking van misnoeë met postapartheid Suid-Afrika, die teleurstelling met die gewaande reën-boognasie. Misdaadfiksie bied by uitstek die geleentheid om alles wat verkeerd loop in die land van geweld en korrupsie bloot te lê, bied geleentheid om na die wonde te staar. Speurder Barries Barnard moet probeer sin maak van die chaos-tevergeefs in X-Ray, en later in Kniediep.

Kalmer is by uitstek die skrywer van die stad-in teenstelling met die plaasromantradisie skep hy 'n wêreld waarin nie eens meer nagedink word oor plaasstof nie. Kalmer bied die soort prosa waarmee gewone, stedelike, middelklas-Afrikaanssprekendes kan identifiseer. Die eksplisiete 'stadsroman', 'n Duisend stories oor Johannesburg, ondersoek selfbewus die tema van die stad. Johannesburg kom hier op 'n ander manier aan die bod: as mega-stad is dit die plek wat al die vlugtelinge opvang-nie soos Le Corbusier 'n stad sentraal wou beplan nie, maar in duisende versplinterde gebeurtenisse-sonder 'n enkele samebindende faktor-terwyl alles nogtans deur 'n netwerk verbind is. Kalmer het 'n ander blik op die stad oopgemaak, maar ook 'n ander blik op die romankuns in 'n tyd van 'netwerkdenke'.

Ondanks sy aansluiting by temas en tendense van die stad, grens, postmodernisme, geweld en wonde, is sy werk in die eerste plek menslik. Hy weet ons is "kniediep" in die moeiliheid, dat ons so eensaam is dat ons "briewe aan 'n rooi dak" skryf, dat behoort en tuisvoel altyd bietjie buite bereik is. Die onbereikbare afstand tussen mense is 'n onvermydelike kondisie van ons bestaan. En selfs as dit lyk asof daar versoening is, momente van nabyheid, word dit dikwels in die kiem gesmoor-soos weer in 'n Land sonder voëls. Gevolglik is die momente wanneer een mens wel 'n ander op deernisvolle wyse ervaar, so oorrompelend in sy werk. In hierdie momente munt Kalmer uit-dit is waarom En die lekkerste deel van doodwees so treffend is. Maar soms kon hy dit met een sin regkry. Hy had die vermoë om die leser aweregs met 'n enkel sin te tref, soos die beskrywing van die Boer wat van die krysgevangenekamp terugkeer en met sy vrou, wat die verskrikking van 'n konsentrasiekamp oorleef het, herenig word: "Wanneer Abraham uiteindelik van Ceylon af kom, het hulle so baie vir mekaar te sê dat hulle nooit daaroor praat nie".

Kalmer was nie slegs 'n goeie storieverteller nie, hy het ook die vermoë gehad om onvergeetlike karakters (met gepaste name) te skep. Meneer de Beer, X-Ray Visagie, Barries Barnard, Vlieger, Spek Human, Bosman Hiemstra, Magdalena Otto. Die enkele kenmerk wat al die uiteenlopende karakters deel, is dat hulle nooit inpas nie en nooit stereotipes raak nie. Sy fiksiekarakters is soos die historiese karakters waaroor hy skryf (Bram Fisher; hy was besig met Marius Schoon) nie stereotipes nie. Hulle is dikwels oënskynlik gewoon, vaal, soos iemand aan ons almal bekend is.

Hy maak dit moontlik vir iemand soos ek, wat letterkunde moet doseer, om te wys dat Afrikaans 'n bepaalde, unieke manier van kyk na menswees en die wêreld moontlik maak. (En sodoende maak hy dit moontlik om Afri-kaanse letterkunde te bestudeer met behoud van jou selfrespek.)

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons