SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.56 issue2Behind the wall in Kobus Moolman's A Book of RoomsBiracialism and trauma in Kaine Agary's Yellow-Yellow author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.56 n.2 Pretoria  2019

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.56i2.4423 

RESEARCH ARTICLES

 

"Al half dier": objekgeoriënteerde ontologieë, gestremdheidstudies en Siegfried (Willem Anker)

 

"Already half animal": object oriented ontologies, disability studies and Siegfried (Willem Anker)

 

 

Bibi Burger

het haar doktorale proefskrif aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit Stellenbosch voltooi. E-pos: bibiburger30@gmail.com,https://orcid.org/0000-0002-9483-6671

 

 


ABSTRACT

Willem Anker's debut novel, Siegfried, deals with the experiences of the eponymous character, who is mentally disabled and whose hands and feet are webbed. In this article, an attempt is made to investigate how the theories of Deleuze and Guattari, as well as object oriented ontologies, can be used to argue that the representation of the character of Siegfried involves a blurring of the boundaries between the human and the nonhuman. The second aim of this article is to establish whether such a blurring is ethically problematic, given the cruel ways in which people considered less human than others are often treated. Where the first aim is concerned, it is argued that Siegfried's interaction with the world challenges hegemonic ideas of human subjectivity, especially ideas of what constitutes normal humanity. In the character of Siegfried traces are found of what can be described, in Deleuze and Guattari's terms, as becomings. These becomings serve as lines of flight from blocked forms of human subjectivity. The boundaries between what is considered human and what is considered nonhuman are therefore indeed blurred. Concerning the second aim, it is argued that the novel can be read as a critique of the ways in which society treats disabled people, and that it can therefore be brought into dialogue with disability studies. The potential for object oriented ontologies to be apolitical (and even unethical, in this respect), is countered in the analysis of the novel by disability studies' activism and social commentary.

Keywords: becominganimal, Deleuze and Guattari, disability studies, object oriented ontologies, Siegfried, Willem Anker.


 

 

Inleiding

Willem Anker se debuutroman, Siegfried (2007), handel onder meer oor die ervarings van die titelkarakter. Siegfried is 32 jaar oud, maar is sielkundig op die vlak van 'n jong kind: "Hy het die brein van 'n graadeen en die lede-mate van 'n eend" (Siegfried 125). Hy het "die ledemate van 'n eend", want hy het gewebde hande en voete. Hierdie artikel ondersoek die uitbeelding van Siegfried se ervarings en bou in hierdie opsig voort op twee vorige studies oor Siegfried: Babette Viljoen se magisterverhandeling "Fokalisasie en vertelinstansie in die representasie van ge-stremdheid in geselekteerde Afrikaanse romans", en Joan-Mari Barendse se artikel "'n Kulturele entomologiese ondersoek na insekte in Willem Anker se Siegfried".

Viljoen (73) voer aan dat die maniere waarop sekere ruimtes as onherbergsaam vir gestremde karakters voorgestel word en daar teen gestremdes gediskrimineer word, in Siegfried gekritiseer word. Sy sê ook dat die grens tussen "normale" en gestremde mense in die roman uitgedaag word, omdat die niegestremde karakters in die roman ook as abnormaal uitgebeeld word (60).1 In Barendse se artikel ondersoek sy die verhoudings tussen insekte en die karakter van Smit, 'n alkoholverslaafde skrywer wat saam met Siegfried reis. Sy kom tot die gevolgtrekking dat Smit se eet van insekte en die maniere waarop hy sekere mense vergelyk met insekte, nie impliseer dat die grense tussen die menslike en die niemenslike uitgedaag word nie (84). Smit vergelyk mense met insekte om te dui op sy afkeer van hulle; insekte simboliseer dus steeds vir hom die groteske en totaal Ander. Hy eet insekte, maar sy verhouding met insekte verander hom nie en daag, volgens Barendse, nie sy menslikheid uit nie.

Die eerste doel van hierdie artikel is om vas te stel of die grense tussen (wat konvensioneel beskou word as) die menslike en die niemenslike wél in die karakter van Siegfried vervaag. Om hierdie vraag te beantwoord, word teorieë rondom objekgeoriënteerde ontologieë (OO) asook Gilles Deleuze en Félix Guattari se teorieë oor wording in verband gebring met Siegfried.'n Tweede doel van die artikel is om te bepaal of die uitbeelding van die vervaging van grense tussen die menslike en die niemenslike problematies is ten opsigte van die etiese beginsels wat daaragter lê. Die beskouing van sommige mense, insluitend gestremde mense, as 'minder menslik' as ander lei immers dikwels tot pynlike gevolge. Vir hierdie aspek van my ondersoek word daar aangesluit by Viljoen se argument dat die (wrede en neerhalende) maniere waarop "abnormale" mense deur die samelewing hanteer word, in Siegfried uitgebeeld en gekritiseer word.

Viljoen se argument, die maniere waarop dit aansluit by gestremdheidstudies, asook die implikasies van OO en Deleuze en Guattari se teorieë vir die grense tussen die menslike en die niemenslike word in die volgende af-delings toegelig. Michael Feeley se poging om Deleuze en Guattari se teorieë met gestremdheidstudies in gesprek te bring, dien as vertrekpunt.

 

Die menslike en die niemenslike

Feeley (864) voer aan dat die teorieë van Deleuze en Guattari aangewend kan word in gestremdheidstudies. Die interdissiplinêre en aktivistiese veld van gestremdheidstudies fokus hoofsaaklik op hoe die konsep van sogenaam-de "gestremdheid" gekonstrueer word en hoe die samelewing behoort aan te pas om gestremde persone tegemoet te kom. Hierdie fokus veroorsaak egter dat teoretici dikwels die liggaamlike ervarings, insluitende pyn en ongemak, van gestremde persone ignoreer omdat die klem eerder op die samelewing as op die individu se ervaring val. Daarteenoor beteken die hernude fokus op die materiële, wat Feeley die "ontologiese wending" noem, dat aandag aan die verhoudings tussen sosiale konstruksies (soos die onderskeid tussen "gestremd" en "normaal") en die materiële, insluitend die liggaamlike ervarings van mense, gegee word.

Die "ontologiese wending" waarna Feeley verwys, manifesteer in dissiplines soos filosofie, kuituurstudies, en literêre teorie. In laasgenoemde veld word daar tans heelwat navorsing gedoen met die doel om antroposentrisme teen te werk en meer ekologies volhoubare maniere van bestaan te bedink (Smith, "Ekokritiek en die nuwe materialisme: 'n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)" 749 en "Plek en ingeplaaste skryf: 'n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk" 892). Ook binne die Afrikaanse literatuurstudie word daar navorsing gepubliseer wat by hierdie tendens aansluit, onder andere deur Joan-Mari Barendse, Franci Greyling, Erika Lemmer, Susan Meyer, en Susan Smith.

Hierdie hernude pogings om die verhoudings tussen die mens en die res van die werklikheid te herkonseptualiseer, spruit onder meer uit die mens se bewuswording van die ekologiese verwoesting wat veroorsaak word deur kapitalistiese leefwyses. Aardverwarming veroorsaak byvoorbeeld dat die mens besef dat teenwoordige bestaanswyses en ingesteldhede nie volhoubaar is nie. Die filosoof Timothy Morton (lok. 178 en verder) verwoord die algemene besef dat aardverwarming en ander grootskaalse ekologiese verwoesting die gevolg van die bevoorregting van die mens en sy behoeftes teenoor dié van die res van die werklikheid is. Verskeie denkers, insluitende Maria Mies, voer aan dat hierdie antroposentrisme verstrengel is met modernistiese denke. Mies (223) verduidelik dat die aansprake op die regte en voorregte van die modernistiese subjek onderlê word deur die weiering van die regte van die abjekte ander; alle mense wat nie wit is nie, vroue, mense met gestremdhede, niemenslike organismes, ensovoorts word gesien as ondergeskik aan die wit, manlike, "normale" subjek se wense, en manipuleerbaar deur hom. Die uitsluiting van hierdie mense en ook die niemenslike word dikwels regverdig deur die teleologiese siening van die geskiedenis. Hegel (86) voer byvoorbeeld aan dat die mens beweeg van barbaarsheid na beskawing en dat dit dus nodig sou wees om die natuur te oorstyg.

Na aanleiding van Julia Kristeva se werk is dit moontlik om die maniere waarop sekere mense en die natuur in Hegel se denke hanteer word, te beskryf in terme van abjeksie. Kristeva (2, 12) bou voort op die werk van Freud en die antropoloog Mary Douglas om aan te voer dat: "what is abject, [.. .] the jettisoned object, is radically excluded [. . .]. It lies outside, beyond the set, and does not seem to agree to the latter's rules of the game. [. . .] The abject confronts us [. . .] with those fragile states where man strays on the territories of animal". Kristeva se beskrywing van die ego se uitsluiting van die abjekte is vergelykbaar met Hegel (65-7) se argument dat die self sig van die Ander moet onderskei om as volle subjek te realiseer. 'n Sintese word bewerkstellig wanneer die Ander in die self geïnkorporeer word: "Through the destruction of the Other's independence, the Ego realizes its own self-consciousness as being in the world" (Mies 225).

Onder die vaandel van teorieë soos die nuwe materialisme, die akteur-netwerk-teorie, objekgeoriënteerde ontologie, ontologiese realisme, en posthumanisme argumenteer eietydse denkers dat die wêreld nie verdeel kan word in menslike subjekte en niemenslike objekte nie. Hierdie teorieë is uiteenlopend en kan nie noodwendig met mekaar vereenselwig word nie. Tog kan gemene grond afgebaken word deur te stel dat die werklikheid deur die aanhangers van hierdie teorieë beskou word as bestaande uit objekte, waarvan die mens 'n spesifieke soort objek is (Bryant 18). Volgens die voorstaanders van hierdie teorieë moet die mens as objek nie beskou word as verhewe bo alles anders nie en het die niemenslike nie slegs waarde of betekenis in verhouding tot die mens nie. Dit is om hierdie rede dat in hierdie artikel "objekgeoriënteerde ontologieë" of "OO" as sambreelterm vir die verskeie genoemde benaderings gebruik word. Daar moet egter ook gelet word op die feit dat die "object-oriented ontology" 'n spesifieke manifestering van die pas bespreekte beskouing behels en veral geassosieer word met die werk van Graham Harman.

Die konseptualisering (en vooropplasing) van die modernistiese subjek is reeds uitgedaag deur postmoderne en -strukturalistiese denkers wat die gekonstrueerde aard van hierdie subjek, en die grense tussen die subjek en die abjekte Ander, verken (Smith, "Ekokritiek" 752). Die pogings van poststrukturalistiese denkers om te toon dat realiteit deur taal geskep word (en dat taal nie bloot 'n bestaande werklikheid representeer nie), het volgens Smith ("Ekokritiek" 752) en Meyer ("Die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan: Aspekte van die nuwe materialisme in Vuurklip van Marié Heese" 69) tot gevolg gehad dat die klem steeds val op 'n menslike aspek, naamlik taal, en die menslike verstaan van die wêreld.2 Daarteenoor poog die nuwe materialisme om "die verdeling tussen materie en die kulturele konstruksie daarvan [. . .] te oorbrug" (Smith, "Plek en ingeplaaste skryf" 892).

Sodoende bou die nuwe materialisme (en die ander bogenoemde teorieë wat deel vorm van die ontologiese wending) voort op die werk van vroeëre denkers wat die essensialistiese diepte-ontologieë (waarvolgens daar 'n materiële werklikheid bestaan wat die mens slegs deur taal en representasie kan ken) bevraagteken. 'n Invloedryke voorbeeld is Deleuze se herwaardering van vroeëre denke in Spinoza: Philosophic Pratique (1970). Deleuze onderskei nie tussen menslike en ander liggame nie. Alle (lewende en nielewende) liggame is gesitueer in komplekse verhoudings tot mekaar.3 Deleuze (27) gebruik die term "affek" om te dui op die potensiaal van elke liggaam om op te tree of "to be acted upon". Liggame besit nie 'n statiese identiteit nie, maar is eerder voortdurend in 'n proses van wording wat gedryf word deur affek, die maniere waarop liggame mekaar affekteer of deur mekaar geaffekteer word (48-51). Die manier waarop enige liggaam op enige gegewe tyd verkeer, is nie die resultaat van transendentale essensies nie, maar is eerder die gevolg van stadige of herhalende ("slow, refrained, or looped") wordinge (Bertelsen en Murphie 145).

In sy werk saam met Guattari gaan Deleuze voort om te onderskei tussen twee soorte samevoegings ("assemblages") wat deur middel van affek en wordinge gevorm word: molêre en molekulêre samevoegings (Anker, "Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach" 225). Molêre samevoegings is rigied en hiërargies, terwyl molekulêre samevoegings buigsaam en snel-bewegend is. Die oedipale subjek, soos wat die psigoanalis dit verstaan, is 'n molêre samevoeging. Deleuze en Guattari (Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia 7) voer aan dat Freud se oedipale subjek alle verhoudings waarin die mens verstrengel is, reduseer tot "playing mommy and daddy". Anker ("Nomadiese self" 225) verduidelik dat Deleuze en Guattari hierdie konseptualisering van die mens as geblokkeerd beskou, omdat dit die mens beperk tot 'n spesifieke vorm van wees (naamlik 'n subjek wat gevorm word deur verhoudings met die ouers) en min moontlikhede vir wording toelaat. Daarteenoor beskryf hulle verskeie vorms van wording wat as vluglyne kan dien vir die mens om ander samevoegings toe te laat. Waar die Freudiaanse psigoanalise die subjek verstaan as beperk deur verskeie sielkundige komplekse, fokus Deleuze en Guattari (Anti-Oedipus 7) eerder op die nuwe moontlikhede wat deur elke affektiewe verhouding ontstaan. Willem Anker ("Nomadiese self" 219) beskryf hierdie vorms van menslike wording soos volg:

Die subjek bestaan in sy wording-tussen mens en dier, tussen die ek en die hond, tussen die ek en die ma. Die self is die wording. Daar bestaan nie 'n self buite die wording nie. Waarop dit, eenvoudig gestel, neerkom is dat Deleuze/Guattari voorstel dat die subjek in 'n reeks van veel meer direkte verbindings met sy omgewing bestaan as wat die heersende subjektiwiteitsteorieë toegee.

'n Tipe wording waaraan Deleuze en Guattari veral aandag skenk is dié van wordende-dier, soos Anker ("No-madiese self" 228) die konsep van "becoming animal" vertaal:

Die wordende-dier kan beskryf word as 'n komposisie van verskillende vorms van spoed en affekte wat totaal verskillende individue insluit; dit laat die dier 'n gedagte word, 'n koorsagtige gedagte in die mens op dieselfde tyd wat die mens dieselfde affek as die dier ondervind [. . .].

Wordende-dier behels dus, onder meer, 'n omarming van dierlikheid-wat tradisioneel beskou word as die ab-jekte. Waar die modernistiese subjek die abjekte uitwerp of inkorporeer in sigself, voer Deleuze en Guattari (A thousand plateaus 88) aan dat die abjekte die potensiaal het om die subjek te deterritorialiseer. Hulle gebruik die term "deterritorialisasie" om te verwys na die maniere waarop samevoegings se grense ondermyn of verander kan word sodat wording kan plaasvind.

OO sluit nie net by Deleuze en Guattari se konsep van wording aan nie, maar ook by hulle opvatting dat 'n komplekse verskynsel soos die menslike subjek "as 'n funksionele struktuur verrys uit 'n veelvuldigheid van laervlak-komponente" (Anker, "Nomadiese self", 28). Enige liggaam is dus nie net voortdurend in wording nie, maar kan ook gesien word as 'n samevoeging wat spruit uit verskeie komplekse verhoudings. Anker ("'n Bosluis, Billy the kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld") praat van die menslike subjek as "'n gedistribueerde self", omdat dit ontstaan uit die affektiewe verhoudings tussen 'n oneindige hoeveelheid liggame. Ten spyte van OO se kritiek op antroposentrisme, word daar binne OO dikwels aandag geskenk aan die mens se liggaamlike ervarings. Al word die menslike liggaam nie beskou as belangriker as ander liggame nie, word daar ook erken dat ondersoekers nie die spesifieke menslikheid wat noodwendig aan hulle eie perspektief gekoppel is, kan ontken nie (Neimanis). Wat menslikheid betref, word daar aangevoer dat geen van die verhoudings waaruit die individuele mens spruit, beskou kan word as belangriker as ander nie. Waar die menslike brein tradisioneel meer gewaardeer is as ander aspekte van die mens, ontken OO 'n duidelike skeidslyn tussen die brein en die ander verhoudings waaruit die menslike subjek verrys. Astrida Neimanis voer dus aan dat OO sinvol aansluit by die feminisme, omdat dit toelaat dat navorsers aandag gee aan die mens se liggaamlike ervarings-wat tradisioneel, buite die natuurwetenskappe, afgeskeep is omdat dit geassosieer is met vroulikheid, terwyl rasionaliteit assosieer is met manlikheid-sonder dat die individuele mens op essensialistiese wyse gereduseer word tot die eienskappe van die liggaam.

Soos vroeër genoem, voer Barendse (84) aan dat, wat die karakter van Smit betref, daar nie sprake is van wording of "'n postmenslike vervlegting van mens en dier" nie. Smit eet wel insekte en beskryf spesifieke mense en menslike gemeenskappe dikwels in terme van insekmetafore. Barendse voer egter aan dat Smit se entomofagie 'n mate van beheer in sy "andersins betekenlose" lewe verteenwoordig. Smit se interaksie met insekte gee dus "nooit aanleiding tot 'n transformasie waarin die aard van albei verander om nuwe moontlikhede te skep nie" (Barendse 84). In Deleuze en Guattari se terme kan daar gestel word dat daar nie in die karakter van Smit sprake is van wordende-insek nie. In die volgende afdelings word vervolgens geargumenteer dat daar, in die uitbeelding van die karakter van Siegfried se liggaamlike ervarings en sy intieme verhoudings met die res van die wêreld, wél sprake van 'n voortdurende proses van deterritorialiserende wording is.

 

Die meer-as-menslike

OO stel voor dat die uitbeelding van karakters en ruimtes op vernuwende maniere ondersoek moet word (Dürbeck, Schaumann & Sullivan 122). Ruimtes en landskappe kan nie bloot as agtergrond beskou word nie. Aan die ander kant kan karakters ook nie as die produkte van deterministiese ruimtes beskryf word nie (122). Daar word eerder voortgebou op die fenomenologie, omdat ruimte en die menslike liggaam gesien word as interafhanklik (Merleau Ponty 112). Ruimte word ook deur Dürbeck, Schaumann, en Sullivan beskou as iets wat ontstaan uit die verhoudings tussen 'n groot hoeveelheid liggame (133).

Ruimtes kan dus beskryf word as meer-as-menslik. Die term meer-as-menslik (more-than-human) is ontwikkel binne die ekokritiek en sluit aan by bogenoemde fenomenologiese beginsel dat die mens nie onafhanklik van die res van die wêreld kan staan nie en ingebed is in relasionele netwerke (Abram xi). Terwyl daar kennis geneem word van die mens en menslike aksies se plek in hierdie netwerke, word die mens nie sentraal daarbinne geplaas nie (Smith, "Plek as liggaam en liggaam as plek: Tendense van die nuwe materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog" 6).

Daar het reeds verskeie artikels (Greyling; Meyer "Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns"; Smith, "Plek en ingeplaaste skryf" en "Plek as liggaam") verskyn waarin die nuwe materialisme gebruik word om die uitbeelding van ruimte in die Afrikaanse letterkunde te ondersoek. Hierdie studies behels 'n ekokritiese interpretasie van die uitgebeelde ruimtedimensies in die tekste wat ondersoek is. In hierdie artikel is die fokus eerder die uitbeelding van 'n gestremde karakter se ervarings in spesifieke ruimtes. Die uitbeelding van Siegfried se ervarings is hier die primêre oorweging, maar die ruimtes waarin hy homself bevind, word nie bloot as agtergrond beskou nie. Siegfried beskryf die interaksie tussen sy subjektiwiteit en ruimte soos volg: "As hy buite is of in plekke wat vol goeters is dan voel hy deel van die goeters wat nie sy lyf is nie dan is sy lyf net 'n stuk van die hele plek" (Siegfried 195).

Hierdie aanhaling dien ook as voorbeeld om Siegfried se fokalisasie te illustreer. Siegfried het deurgaans 'n eksterne verteller, maar het vier fokalisators: Siegfried, Smit, David ('n webontwerper wat uiteindelik selfmoord pleeg), en Fafnir ('n eksperimentele dramaturg en regisseur wat 'n fratssirkus bestuur). Die derde gedeelte van die roman bevat ook verslae oor Siegfried deur 'n psigiater van die psigiatriese hospitaal, Huis Sonneskyn. In die gedeeltes van die roman waarin Siegfried die fokalisator is, word veral die interaksie tussen verskillende liggame beskryf. Daar word relatief min melding gemaak van Siegfried se emosies of van abstrakte gedagtes. Die roman begin byvoorbeeld soos volg:

Sy pa loop uit en val om.

Siegfried storm by die huis uit. Sy pa lê in die stof. Wind waai teen sy hande twee seile wat hom wegvat van sy pa se lyf af. Hy wil nie na sy pa kyk nie. Sy pa lê net daar. Hy kyk weg. Hy staan stil hy kyk diékant hy kyk daaikant sy oë gaan vinnig. Hy voel hulle. Alles is strepe lig en donker. (Siegfned 9)

Die interaksie tussen Siegfried se liggaam (sy hande en sy oë) en die meer-as-menslike omgewing word beskryf. Daar word wel genoem dat Siegfried nie na sy pa wil kyk nie, en dit impliseer moontlik 'n emosionele reaksie op die gebeure. Hierdie gedeelte, en die res van Siegfried se fokalisering, kan gekontrasteer word met die gedeeltes van die roman waarin David die fokalisator is. Daardie gedeeltes bestaan hoofsaaklik uit 'n interne monoloog waarin David besin oor sy verlede en oor die aard van sy bestaan. Hy dink byvoorbeeld: "Jy is 'n klomp koppies wat hier en daar opskiet uit die grond uit. Elkeen is jy. En word vernietig deur die erosie en die wind. Spring na waar jy die erosie en die wind is, die lug tussen al die duisende plato's. Jy is wat jy nie is nie" (129). Dit is duidelik dat David aan homself dink as intiem verbind aan en ontspruitend uit verhoudings met die meer-as-menslike. Hy dink egter slegs in 'n abstrakte, metaforiese sin daaroor. In die gedeeltes waarin Siegfried die fokalisator is, word hierdie verhoudings op konkrete wyse voorgestel.

Siegfried se wyse van fokalisering kan in verband gebring word met die outistiese dierkundige Temple Gran-din se bewerings dat outistiese mense, soos diere, die wêreld veel meer konkreet as "normale" mense ervaar:

Normal human beings are abstractified in their sensory perceptions as well as their thoughts. [. . .] Animals and autistic people don't see their ideas of things; they see the actual things themselves. We see the details that make up the world, while normal people blur all those details together into their general concept of the world. (Grandin en Johnson lok. 525)

Alle outistiese mense sal waarskynlik nie met Grandin se beskrywing van hulle ervarings saamstem nie, en Siegfried word ook nie in die roman as spesifiek outisties beskryf nie. Dit is egter duidelik dat die konkrete sterk teenwoordig is in die beskrywings van die meer-as-menslike vanuit Siegfried se fokaliseringshoek, op 'n manier wat herinner aan Grandin se bewerings.

Siegfried is nie die modernistiese subjek soos deur Mies beskryf (sien die afdeling "Die menslike en die nie-menslike") wat verwyderd van 'n omgewing kan staan om dit op 'n rasionele wyse te manipuleer nie. Vanuit sommige poststrukturele benaderings sou daar aangevoer kon word dat die verhouding tussen subjek en objek deur die teks gedekonstrueer word. Alhoewel só 'n argument geldig sou wees, is dit ook belangrik om te let op die maniere waarop liggaamlike materiële ervaring in hierdie gedeeltes op konkrete wyse uitgebeeld word. In die volgende beskrywing van Siegfried se ervarings in Seepunt is dit byvoorbeeld nie so eenvoudig soos 'n binêre op-posisie van subjek en objek wat slegs teoreties omvergewerp word nie. Die groot hoeveelheid liggame (Siegfried se liggaam, sand en seewater, sowel as die verskillende verhoudings waaruit hierdie liggame spruit) wat 'n rol in die interaksie speel, is duidelik, sowel as die konkrete ervaring van 'n konneksie met die meer-as-menslike:

Die sand is te los onder sy tone dis te warm hy kan nie wegkom nie dis die moeilikste hardloop. Sy voet swik. Die sand is in sy gesig hy kruip hande-viervoet sy oë is nat alles proe sout. Sy stem skree sy gorrel trek uit sy mond uit alles skree. Hy is in die see. Die skree laat hom omval. Gesig eerste in. (Siegfried 79)

Dit is duidelik dat nie net die ruimtes waarin hy homself bevind nie, maar ook Siegfried se spesifieke liggaam-likheid, sy ervarings beïnvloed. Siegfried se gewebde hande speel 'n rol in die meeste van sy ervarings-hoofsaak-lik op 'n stremmende manier, aangesien tegnologie oor die algemeen ontwikkel is vir gebruik deur mense met ongewebde hande. Siegfried sukkel onder andere met 'n rugsak (19), plaasgereedskap (57), 'n blikkie Coke (91-2), hempsknope (96), eetgerei (113-4), 'n skêr (166), en 'n pen (172). Soos Siegfried se pa vir hom sê (oor boomklim):

"Jy's nie 'n donnerse kat nie mens kan net doen wat jou lyf wil hê jy moet kan en niks meer nie en die Here behoed jou niks minder nie" (113). Ook sy gewebde voete veroorsaak probleme. Hy het aanvanklik "groot stewels [...] spe-siaal vir hom gebou dat sy enkels kan reguit bly sy voete is groot sy voete is swaar" (11). Nadat sy skoene gesteel word op die trein tussen Stellenbosch en Kaapstad (71), loop hy die res van die tyd kaalvoet. Dit veroorsaak dat sy voete uitgelewer is aan die omgewing: "Hy is seer alles is stukkende nerwe sy voet is seer so kaal" (75).

Webb Keane (194) is van mening dat die mens se gebruik van ander liggame nie dui op 'n aktiewe subjek wat 'n passiewe voorwerp manipuleer nie. Die verhouding tussen subjek en voorwerpe is nie eenvoudig nie, omdat voorwerpe eienskappe besit wat sekere potensiële interaksies moontlik maak. Soos die menslike liggaam wat "net [kan] doen wat jou lyf wil hê jy moet kan" (Anker, Siegfried 113), só laat alle voorwerpe net sekere interaksies toe. Die meer-as-menslike is dus nie passief nie, maar bevat eienskappe wat vergelykbaar is met die agentskap wat tradisioneel slegs aan mense toegeskryf is. In hierdie artikel word die Engelse term "agency", in navolging van onder andere Anker ("Nomadiese self" 261, 412) en Chaudari (76), as "agentskap" vertaal. Soos Chaudari (76) beweer, is 'n "agent" "'n 'wese' met die kapasiteit om op te tree"; "agentskap" dui op "die uitoefening of manifestasie van hierdie hoedanigheid". Die term "agency" sou ook na Afrikaans vertaal kon word deur middel van 'n omskrywing, byvoorbeeld "kapasiteit om op te tree". Die term "agentskap" beklemtoon egter dat dit 'n spesifiek menslike eienskap, tradisioneel geassosieer met 'n menslike figuur (die agent), is wat binne OO met die meer-as-menslike in verband gebring word.

In Siegfried kan daar verwys word na die agentskap van niemenslike voorwerpe wat Siegfried se ervarings beïnvloed. Sy reeds genoemde spesiale stewels (Siegfried 11), die handvatsel van sy pa se bakkie (27), en sy klere sonder knope (96 en 129) vergemaklik byvoorbeeld sy bestaan. Wanneer hy hierdie voorwerpe verloor, word sy lewe moeiliker. Hierdie voorwerpe is deur 'n mens, Siegfried se pa, aangepas. In terme van Keane (194) se genoemde teorie kan daar egter aangevoer word dat hy hierdie aanpassings net kon maak omdat hierdie voorwerpe eienskappe besit wat hierdie interaksies moontlik maak. Siegfried self manipuleer ook voorwerpe met eienskappe wat interaksies toelaat wat hy as gunstig ervaar. Hy gebruik byvoorbeeld 'n mes om 'n blikkie Coke oop te maak

(92).

Behalwe daarvoor dat Siegfried verstrengel is met die omgewings waarin hy homself bevind en met niele-wende voorwerpe, is hy ook intiem verbind met diere en plante. Hy het veral 'n verhouding met een dier en een plant: Hond en Plant. Siegfried en Smit beland uiteindelik onder 'n brug waar hawelose mense bly. Hond woon ook hier (75). Hond kry kos by die hawelose mense onder die brug en dien vir hulle as beskerming (82) en vir Siegfried as 'n "kussingwolf" wanneer hy met sy kop op hom slaap (78). Plant is die palmboom wat Siegfried van die plaas af saamneem stad toe en uiteindelik in Seepunt plant (229). Siegfried sorg vir Plant en Plant bied vir Siegfried 'n manier om "immersed, committed, in touch" met die wêreld te wees-soos wat Amin en Thrift (112) beweer oor die belewing van die band met die meer-as-menslike wat in die beoefening van tuinbou moontlik word. Voorbeelde hiervan is wanneer Siegfried vir Plant vryf wanneer hy alleen of gedisoriënteerd voel in die nagklub Squatter Camp (Siegfried 137), in Huis Sonneskyn (164), en in die fratssirkus (219).

 

Abjeksie en wording

In Siegfried word abjekte karakters in dierlike terme beskryf. Onder die brug waar die hawelose mense bly, woon byvoorbeeld Mildred, 'n meisie met "'n bos wilde hare" en 'n "eselse gebulk" (82), wat vir Smit voer soos 'n ma-voël haar baba (248). Hier woon ook "Philip die Kat" wat "Die Kat Gelyd" maak, "'n klank erger as 'n katwyfie in Augustus" (82). In Huis Sonneskyn (159), en ook in Fafnir se fratssirkus, is daar 'n "voëlvrou" wat "Kwêê"-geluide maak (198). In die sirkus is daar ook 'n "wurmman", 'n vrou met 'n stert, 'n "perdgesigman" en 'n "lelike meermin" (206-7). Siegfried se gewebde hande en voete maak hom in die oë van ander 'n "visman" (15), "paddafiguur" (19), "eend-freak" (104), en "amfibiese monstertjie" (114). Siegfried word nie net met waterdiere vergelyk nie, maar ook met voëls. Maggie (David se meisie) sê aan Siegfried: "Jy fladder jou kos, jy fladder alles in soos 'n voëltjie" (114). Wanneer hy oorweldig voel, doen hy "die voëlding" (120). Dit help hom om te ontspan en behels dat hy "sy arms uitsteek langs die kante en stadig soos 'n voël maak op en af met sy arms soos 'n reier wat stadig vlieg" (129).

Soos reeds genoem, handel wordende-dier vir Deleuze en Guattari nie oor mense wat maak of hulle diere is, of beskryf word as diere nie (Anker, "Nomadiese self" 14), maar eerder oor die deterritorialisering van die molêre samevoegings wat geassosieer word met tradisionele idees oor die menslike subjek. Anker ("Nomadiese self", 221) verduidelik dat Deleuze en Guattari die mens beskou as 'n "ditheid", soos enigiets anders uit die milieu van die meer-as-menslike. Dit beteken dat die menslike bewussyn "'n stel snelhede tussen ongevormde partikels, 'n stel ongesubjektiveerde affekte" is (221). As die mens beskou word as 'n "ditheid", beteken dit dat dit ook oopgestel kan word tot verbindings met ander samevoegings, intensiteite, en "dithede" (224).

Die 'dierlike' karakters in Siegfried word nie net deur die ander karakters in die roman soos abjekte wesens behandel of met diere vergelyk nie. Die konneksies en samevoegings wat tussen hulle en die meer-as-menslike gevorm word, stem dikwels meer ooreen met dié waaruit diere en plante ontstaan as dié waarmee mense tradisioneel geassosieer word. Siegfried maak nie 'n bewuste keuse om "die voëlding" te doen nie, maar dit is 'n affektiewe konneksie wat hom kalmeer. Dieselfde is waar van sy verbinding met Plant. Wanneer Siegfried aan Plant vat, vorm hy konneksies met die meer-as-menslike en ervaar hy wat Deleuze en Guattari (Thousand plateaus 11) beskryf as die wysheid van plante: "Even when they have roots, there is always an outside where they form a rhizome with something else-with the wind, an animal, human beings". In Siegfried is daar dus 'n vervaging van die grens tussen die menslike en die meer-as-menslike-'n vervaging wat, volgens Barendse (84), nie by die karakter van Smit plaasvind nie.

Daar is vroeër verwys na die manier waarop Siegfried se fokalisering ooreenstem met die maniere waarop outistiese mense asook diere, volgens Grandin, die wêreld waarneem. Soos genoem is hierdie vergelyking problematies; daar bestaan immers 'n pynlike geskiedenis, én hede, van mense wat deur hulle gemeenskappe beskou word as minder-as-menslik en dus op wrede en uitbuitende maniere behandel word (sien byvoorbeeld Mbembe 24). Dat die gestremde karakters in Siegfried vergelyk word met diere kan beskou word as 'n ontkenning van hulle regte, voorregte, en waardigheid-sake wat gewoonlik slegs met menslikheid geassosieer word. Siegfried kan egter ook gelees word as kritiek op die maniere waarop abjekte, 'dierlike' mense deur die samelewing hanteer word. Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word in die volgende afdeling aangespreek.

 

Objekgeoriënteerde gestremdheidstudies

Viljoen bespreek, onder meer, die literêre uitbeelding van die maniere waarop die samelewing mense wat as gestremd geklassifiseer word, behandel. Wat Siegfried betref, skenk sy veral aandag aan die uitbeelding van Huis Sonneskyn as 'n ruimte wat veronderstel is om 'n tuiste te bied aan gestremde persone, maar deur Siegfried as on-herbergsaam ervaar word. Sy voer aan dat die psigiatriese verslae in die derde afdeling van die roman voortdurend "teenstrydig [is] met Siegfried se ervaring van homself" (Viljoen 63). Sodoende word "die kilheid en onbegrip van die psigiatriese personeel vir die leefwêreld van die gestremde" uitgebeeld en word daar kommentaar gelewer op die manier waarop gestremde persone deur die samelewing hanteer word (Viljoen 73). Viljoen (68) wys ook op die ironie van Fafnir wat sy sirkus sien as 'n heenkome vir mense wat "nooit die status van mens gegun [word] nie" (Siegfried 214), maar hulle mishandel en ook hulle leefwêreld misken. Vir hom is hulle net rekwisiete in sy eksperimentele toneelproduksie.

Viljoen fokus voorts op hoe die onderskeid tussen "normale" en gestremde karakters in Siegfried vervaag. Haar argument word soos volg saamgevat: "Hoewel Siegfried gestremd is, word hy in hierdie verhaal byna as normaal uitgebeeld in vergelyking met die ander karakters, deur die klem op die nie-gestremdes se ongewoonheid en abnormaliteite" (60). Sy ondersteun hierdie argument deur te verwys na die "normale" karakters se abjekte en sosiaal onaanvaarbare gedrag, byvoorbeeld Smit se entomofagie en David en Fafnir se sadistiese siening en hantering van Siegfried.

Alhoewel Viljoen dit nie eksplisiet stel nie, sluit haar lesing van Siegfried aan by die interdissiplinêre veld van "disability studies", wat in hierdie artikel as "gestremdheidstudies" vertaal word. Teoretici binne gestremdheid-studies argumenteer dat gestremdheid 'n sosiale konstruk, eerder as 'n essensialistiese identiteit, is (Feeley 865). Foucault se werk oor geestesversteurings word byvoorbeeld deur hierdie teoretici gebruik om te verduidelik hoe mense hiërargies geklassifiseer word as "normaal" of afwykend (Feeley 865). As hierdie klassifikasies gesien word as arbitrêr, raak dit moontlik om diagnoses te weier en die onderskeid tussen "normaal" en "gestremd" te dekon-strueer (866). Die mediese wetenskap is gewoonlik gemoeid met die diagnosering van afwykings van die norm as siektetoestande, maar gestremdheidstudies fokus eerder op die omgewings, sisteme, en beleide wat gestremde mense se lewens bemoeilik (Cella 578). Dit is dan ook wat Viljoen doen wanneer sy die uitbeelding van onher-bergsame ruimtes in Siegfried bespreek.

Soos wat OO, en veral die nuwe materialisme, poststrukturalistiese denkers se tekstualisering en abstrahering van die werklikheid uitdaag (Smith, "Ekokritiek" 752 en Meyer, "Allesomvattende" 69), só voer Feely (866) aan dat poststrukturalistiese benaderings tot gestremdheidstudies problematies is. As daar slegs gefokus word op die sosiale konstruksie van kategorieë wat verband hou met normaliteit, gestremdheid, en geestesafwykings, word die belang van die liggaamlike en materiële dimensie van mense se bestaan misgekyk. Feely redeneer voorts dat Foucault en ander poststrukturele denkers kulturele diskoers sien as 'n aktiewe mag wat passiewe materie manipuleer. Daarteenoor voer Feely (868) aan dat OO gebruik kan word om ook ondersoek in te stel na hoe materie agentskap besit wat diskoers beïnvloed. Feely se argument sluit dus aan by OO se ondermyning van die streng onderskeid tussen die subjek en die objek, soos reeds bespreek. In gestremdheidstudies word kulturele diskoers normaalweg gesien sien as 'n aktiewe agent wat passiewe materie (insluitend menslike liggame) manipuleer. 'n Spesifieke menslike liggaam sal byvoorbeeld binne 'n spesifieke diskoersraamwerk gediagnoseer word met 'n spesifieke gestremdheid. Dié menslike liggaam besit egter ook, in Keane se terme (soos bespreek in "Die meer-as-menslike") sekere eienskappe wat weerstandig is teen hierdie diagnose en wat nie daardeur verklaar kan word nie. As teoretici binne gestremdheidstudies dus kritiek wil lewer op die maniere waarop mense binne sekere diskoerse gereduseer word tot hulle gestremdhede, is dit volgens Feely (868) nie genoeg dat hierdie diskoerse bloot intellektueel gedekonstrueer word nie. Daar moet ook aandag gegee word aan die maniere waarop menslike liggame hierdie diskoerse kompliseer.

Soos die titel van Feely se artikel ("Disability studies after the ontological turn: A return to the material world without a return to essentialism") suggereer, laat OO akademiese aandag aan die materiële wêreld toe, insluitend liggaamlike ervarings, sonder dat daar verval word in essensialistiese denke. Terwyl die werklikheid van liggaamlike pyn en ongemak (insluitend dié gesetel in die brein) nie geïgnoreer moet word nie, moet dit ook nie gebruik word om die essensie van 'n liggaam te beskryf nie. Alle liggame is altyd in wording en ander, minder pynlike, konneksies en moontlikhede kan gerealiseer word (Feely 870).

Hier kan bygevoeg word dat Deleuze en Guattari se fokus op wording, insluitende wordende-dier en -plant, beteken dat idees oor 'normale' menslike subjektiwiteit uitgedaag word. Terwyl Viljoen se argument omtrent die uitbeelding van die omgewing en sosiale strukture in Siegfried as onherbergsaam, geldig is, vind daar nie in die roman bloot 'n dekonstruksie van "normaliteit" en "gestremdheid" plaas nie. Die roman verken die lyding van Siegfried en ander abjekte karakters in spesifieke situasies, maar ook hulle wording in interaksie met die meer-as-menslike wat in die vorige afdeling bespreek is. Hierdie wordende-dier en -plant dien vir Siegfried as vluglyne wat hom help ontsnap van geblokkeerde menslike subjektiwiteit.

Terry Eagleton (9-11) waarsku dat daar vorms van die nuwe materialisme is wat materie abstraheer en dat daar bepaalde gevare aan hierdie praktyk verbonde is:

As such, they run the risk of taking the pain out of it, turning their gaze from its recalcitrant bulk. [. . .] Matter, in short, must be rescued from the humiliation of being matter. Instead, it must be regarded as a sort of materiality without substance, as fluid and protean as the post-structuralist notion of textuality. Like textuality, the stuff is infinite, indeterminate, unpredictable, non-stratified, diffuse, free-floating, heterogeneous and untotalisable.

As daar slegs gefokus sou word op hoe Siegfried en die ander abjekte karakters idees oor molêre subjektiwiteit deterritorialiseer, sou dit beteken dat hulle slegs simbole vir spesifieke filosofiese idees is. Hulle wordingsprosesse word egter nie as pynloos uitgebeeld nie. Hulle status as die Ander word ook nie geromantiseer of geëssensiali-seer, soos wat Braidotti (in Dolphijn en Van der Tuin 24) beweer in dekonstruktiewe denke gebeur, nie.

Siegfried is intiem verbind met die meer-as-menslike en hy is voortdurend in prosesse van wordende-dier en plant. Dit beteken egter nie hy ís 'n dier of plant nie. Soos Grandin (in Grandin en Johnson lok. 129) beweer: "Autistic people can think the way animals think. Of course, we also think the way people think-we aren't that different from normal humans. Autism is a kind of way station on the road from animals to humans". Dolphijn en Van der Tuin (113) stel dat die nuwe materialiste die verhoudings tussen liggame, "their affect, force, and movement [...], speeds and slownesses, [and] how the event unfolds according to the in between, according to intra-ac-tion" behoort te ondersoek eerder as die liggame self. Wat gestremdheidstudies betref, beteken dit dat OO daardie "way station on the road from animals to humans", oftewel die verskynsel van wordende-dier, kan ondersoek vir moontlikhede-en vir beperkings. Grandin se beklemtoning dat outistiese mense ook mense is, beteken egter ook dat onderdrukkende sisteme nie geïgnoreer moet word nie en dat die politieke angel nie uit gestremdheidstudies gehaal moet word nie.

 

Samevatting

In die artikel is gevind dat die karakter van Siegfried op verskeie maniere intiem verbind is met die meer-as-mens-like wêreld. Hy is ook voortdurend in 'n proses van wording. Hy en die ander abjekte karakters in die roman deter-ritorialiseer dominante subjektiwiteitsopvattings. Die grense tussen wat beskou word as menslik en niemenslik vervaag dus in die uitbeelding van die karakter. Hierdie uitbeelding van die vervaging van die grense tussen die menslike en die meer-as-menslike in 'n gestremde karakter het die potensiaal om vrae op etiese vlak te genereer, gegewe die wrede maniere waarop mense wat beskou word as 'minder menslik' as andere, dikwels hanteer word. Die uitbeelding van Siegfried se interaksie met die meer-as-menslike dekonstrueer egter nie bloot opvattings oor aktiewe menslike subjekte en passiewe niemenslike objekte nie. Die fokus op sy liggaamlike ervarings en op die intensiteit daarvan, asook op die affekte tussen sy liggaam en ander liggame, beteken dat sy pynlike ervarings in spesifieke omgewings en sisteme vooropgeplaas word. Dit is veral waar van sy ervarings in Huis Sonneskyn, waar daar gepoog word om die kompleksiteit van sy identiteit te reduseer tot patologie wat genormaliseer moet word. In aansluiting by Viljoen se studie oor Siegfried word geargumenteer dat hierdie gedeeltes van die roman in verband gebring kan word met kritiek uit die gestremdheidstudies op die maniere waarop gestremde mense deur die samelewing behandel word. In die roman word die vervaging van die grense tussen die menslike en die nie-menslike in 'n gestremde karakter uitgebeeld en, terselfdertyd, word kritiek gelewer op die maniere waarop die samelewing dikwels gestremde mense (en ander abjekte wesens) hanteer en hulle probeer inperk.

 

Erkenning

Hierdie artikel is gebaseer op gedeeltes uit die proefskrif, 'n Geokrities-vergelykende analise van Afrikaans- en Engelstalige Suid-Afrikaanse stedelikeromans. Dit is in 2016 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi met Louise Viljoen as studieleier.

 

Aantekeninge

1 . In hierdie artikel gebruik ek 'normaal' in aanhalingstekens om te verwys na mense wat nie deur die samelewing geklassifiseer word as gestremd nie. Die term "neurotipies", wat spruit uit die neurodiversiteitsbeweging-sien byvoorbeeld Steve Silberman se invloedryke Neurotribes (20L5) sou ook gebruik kon word, behalwe dat dit hier gaan oor Siegfried se liggaamlike sowel as sy verstandelike gestremdheid. Ek verkies ook die gebruik van 'normaal' omdat die aanhalingstekens dui op die problematiese aspek van die term, aangesien die woord steeds die voorregte wat 'normale' mense in die meeste omgewings en gemeenskappe geniet, impliseer.

2 . Daar moet gelet word op die feit dat dit nie vir alle denkers binne die veld van OO gaan om 'n eenvoudige afwys van die poststrukturalisme nie. Smith ("Ekokritiek" 759) verwys byvoorbeeld na Morton se herinterpretasie van Derrida se bekende uitspraak dat daar niks buite die teks is nie: "Morton se interpretasie is dat wanneer Derrida [. . .] sê: 'there is nothing outside the text' [. . .], hy daarmee saamstem deurdat hy daarin lees dat daar nie 'n groot Ander is nie, 'no device, for instance, that could measure quantum phenomena without participating in these phenomena' [. . .]. Belangriker: 'All observations are inside the system' [. . .] Uit hierdie uitspraak van Morton kan gesien word dat hy Derrida se seminale stelling hier bo interpreteer as 'n verwysing na die saambestaan van alle dinge en dat alle dinge interaktief binne dieselfde sisteem is. Morton voer aan dat Derrida nie 'n veralgemenende stelling oor realiteit maak nie, maar dat Derrida 'n sisteem van interaktiwiteit beskryf".

3 . In die res van die artikel word die term 'liggame' ook op hierdie wyse gebruik-as verwysend na menslike en niemenslike, lewende en nielewende voorwerpe wat elkeen ook gevorm word (ontstaan) uit komplekse verhoudings met die meer-as-menslike. Wanneer daar na 'liggaamlike' ervarings of eienskappe verwys word, word daar daarenteen na menslike karakters se liggame verwys.

 

Geraadpleegde bronne

Abram, David. The spell ofthe sensuous: Perception and language in a more-than-human world. Pantheon, 1996.         [ Links ]

Amin, Ash & Nigel Thrift. Cities: Reimagining the urban. Polity, 2002.         [ Links ]

Anker, Willem. "Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach". D Litt, U Stellenbosch, 2007. http://hdl.handle.net/10019.1/1088.         [ Links ]

________. "'n Bosluis, Billy the kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld." Litnet, 2013. http://www.litnet.co.za/2013-n-bosluis-billy-the-kid-en-coenraad-de-buys-die-spore-van-legendes-in-die-veld/. Geraadpleeg 25 Mei 2018.         [ Links ]

________. Siegfned. Kwela, 2007.         [ Links ]

Barendse, Joan-Mari. "'n Kulturele entomologiese ondersoek na insekte in Willem Anker se Siegfried." Tydskrif vir Letterkunde vol. 54, no. 2, 2017, pp. 74-85. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.54i2.1314.         [ Links ]

Bertelsen, Lone & Andrew Murphie. "An ethics of everyday infinities and powers. Félix Guattari on affect and the refrain." The affect theory reader. Reds. Melissa Gregg & Gregory J. Seigworth. Duke U P, 2010, pp. 138-57.         [ Links ]

Bryant, Levi R. The democracy of objects. Open Humanities P, 2011.         [ Links ]

Cella, Mathey J. C. "The ecosomatic paradigm in literature: Merging disability studies and ecocriticism." Interdisciplinary Studies in Literature and Environment vol. 20, no. 3, 2013, pp. 574-96. DOI: https://doi.org/10.1093/isle/ist053.         [ Links ]

Chaudari, Shamiega. "Stilte en agentskap in die slaweroman Philida van André P. Brink". LitNet Akademies vol. 14, no. 3, 2017, pp. 66-87. https://www.litnet.co.za/stilte-en-agentskap-die-slaweroman-philida-van-andre-p-brink/.         [ Links ]

Deleuze, Gilles. Spinoza: Practical philosophy. Vertaling Robert Hurley. City Lights, 1988.         [ Links ]

Deleuze, Gilles & Félix Guattari. Anti-Oedipus. Capitalism and Schizophrenia. Vertaling Robert Hurley, Mark Seem & Helen R. Lane. U of Minnesota P, 2000.         [ Links ]

________. A thousand plateaus. Vertaling Brian Massumi. U of Minnesota P, 1987.         [ Links ]

Dolphijn, Rick & Iris Van der Tuin. New materialism: Interviews and cartographies. Open Humanities P, 2012. http://www.openhumanitiespress.org/books/titles/new-materialism/. Geraadpleeg 31 Jul. 2018.         [ Links ]

Dürbeck, Gabriele, Caroline Schaumann & Heather I. Sullivan. "Human and non-human agencies in the anthropocene." Ecozon@ vol. 6, no.1, 2015, pp. 118-36. http://ecozona.eu/article/view/642/689.         [ Links ]

Eagleton, Terry. Materialism. Yale U P, 2016.         [ Links ]

Feely, Michael. "Disability studies after the ontological turn: A return to the material world without a return to essentialism." Disability & Society vol. 31, no.7, 2016, pp. 863-83. DOI: https://doi.org/10.1080/09687599.2016.1208603.         [ Links ]

Grandin, Temple & Catherine Johnson. Animals in translation: Using the mysteries of autism to decode animal behavior. Scribner, 2005. Kindle.         [ Links ]

Greyling, Franci. "Sin van plek, ingeplaastheid en bioregionaliteit in 'n kunstenaarsboek-installasie, Mooirivier: Weerspieëling en weerklank." LitNet Akademies vol. 12, no. 3, 2015, pp. 308-57. http://www.litnet.co.za/sin-van-plek-ingeplaastheid-en-bioregionaliteit-in-n-kunstenaarsboek-installasie-mooirivier-weerspieeling-en-weerklank/.         [ Links ]

Hegel, Georg Wilhelm Friedrich. The phenomenology of mind. 27 Nov. 2017. https://www.marxists.org/reference/archive/hegel/phindex.htm. Geraadpleeg 31 Jul. 2018.         [ Links ]

Keane, Webb. "Signs are not the garb of meaning: On the social analysis of material things." Materiality. Red. Daniel Miller. Duke U P, 2005, pp. 182-205.         [ Links ]

Kristeva, Julia. Powers ofhorror: An essay on abjection. Columbia U P, 1982.         [ Links ]

Mbembe, Achille. "Necropolitics." Public culture vol. 15, no. 1, 2003, pp. 11-40.         [ Links ]

Merleau Ponty, Maurice. Phenomenology of perception. Vertaling Colin Smith. Routledge, 2005.         [ Links ]

Meyer, Susan. "Die allesomvattende materiële dimensie van ons bestaan: Aspekte van die nuwe materialisme in Vuurklip van Marié Heese." LitNet Akademies vol. 12, no. 2, 2015, pp. 69-89. http://www.litnet.co.za/die-allesomvattende-materiele-dimensie-van-ons-bestaan-aspekte-van-die-nuwe-materialisme-in-vuurklip-van-marie-heese.         [ Links ]

________. "Ingeplaaste skryf as vergestalting van ekosentriese ingesteldheid in Petra Müller se verhaalkuns." Literator vol. 35, no. 2, 2014, pp. 1-12. DOI: https://doi.org/10.4102/lit.v35i2.1080.         [ Links ]

Mies, Maria. "Self-determination: the end of utopia?" Ecofeminism. Reds. Maria Mies & Vandana Shiva. Zed, 2014, pp. 218-30.         [ Links ]

Morton, Timothy. Dark ecology: For a logic of future coexistence. Columbia U P, 2016. Kindle.         [ Links ]

Neimanis, Astrida. Bodies of water: Posthuman feminist phenomenology. Bloomsbury, 2017. Epub.         [ Links ]

Silberman, Steve. Neurotribes: The legacy of autism and the future of neurodiversity. Avery, 2015.         [ Links ]

Smith, Susan. "Ekokritiek en die nuwe materialisme: 'n Ondersoek na die nuwe materialisme in enkele gedigte van Johann Lodewyk Marais uit die bundel In die bloute (2012)." LitNet Akademies vol. 11, no. 2, 2014, pp. 749-74. http://www.litnet.co.za/ekokritiek-en-die-nuwe-materialisme-n-ondersoek-na-die-nuwe-materialisme-in-enkele-gedigte/.         [ Links ]

________. "Plek as liggaam en liggaam as plek: Tendense van die nuwe materialisme en interaksie tussen mens en plek in enkele tekste uit Verweerskrif (2006) van Antjie Krog." LitNet-Akademies vol. 12, no. 2, 2015, pp. 1-24. http://www.litnet.co.za/plek-as-liggaam-en-liggaam-as-plek-tendense-van-die-nuwe-materialisme.         [ Links ]

________. "Plek en ingeplaaste skryf. 'n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk." LitNet Akademies vol. 9, no. 3, 2012, pp. 887-928. http://www.litnet.co.za/plek-en-ingeplaaste-skryf-n-teoretiese-ondersoek-na-ingeplaaste-skryf-as-ekopotiese-s/.         [ Links ]

Viljoen, Babette. "Fokalisasie en vertelinstansie in die representasie van gestremdheid in geselekteerde Afrikaanse romans." M.A.-verhandeling, Noordwes-U, 2012. http://hdl.handle.net/10394/9236. Geraadpleeg 31 Jul. 2018.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License