SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número2Reviews índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 no.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5336 

BOOK REVIEWS

 

Die dag is bros. Sandton City Groot-doop

 

 

Wessel Pretorius. Protea Boekhuis, 2017. 137 pp. ISBN 978-1-4853-0652-8 (gedrukte boek). ISBN 978-1-4853-0653-5 (e-boek). ISBN 978-1-4853-0654-2 (ePub).

Die enigste Afrikaanse dramadebuut wat in 2017 verskyn het, is die dramaturg en akteur Wessel Pretorius se twee stukke Die dag is bros en Sandton City Grootdoop wat in een band saamgevat word. Veral eersgenoemde stuk is 'n werk van gehalte wat daarop wys dat Pretorius in die toekoms nog baie kan vermag al het hy in werklikheid reeds vantevore vyf ander teaterstukke op die planke gebring wat nog net nie in druk verskyn het nie. Die dag is bros is in 2015 vir die eerste keer by die Innibosfees opgevoer met Sandra Prinsloo, Nicole Holm, Dean-John Smith en Ben Albertyn in die rolverdeling. Ook Sandton City Grootdoop word vir die eerste keer in 2015 opgevoer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn met Hanna Borthwick, Roeline Daneel en Joanie Combrink in die rolverdeling.

Die woorde in die titel Die dag is bros sluit aan by die uitspraak van die (wit) karakter Tertius as twaalfjarige: "Onder in die swembad voel die dag nie ... voel die dag nie asof dit enige oomblik kan breek nie ... Bros? Ja, ek dink die beter woord is bros. Anyway, alles is bymekaar en koel en veilig onder in die swembad" (25). Die brosheid van die dag verwys verder na die dag waarop die handeling in die drama plaasvind en wat veral vir Tertius se ma, Elsa, talle skokkende openbaringe inhou.

Die drama is vol verrassende wendinge wanneer dit byvoorbeeld duidelik word dat Tertius reeds dood is en dat sy aanwesigheid verband hou met die innerlike gesprek wat Elsa voortdurend met hom voer. Wanneer die eweneens jong bruin karakter Brian, 'n jeugmisdadiger, sy opwagting maak, tree Tertius op die agtergrond en word die verhouding tussen Elsa en Brian na afloop van Tertius se tragiese dood die fokuspunt van die dramatiese handeling. Brian se belydenis aan Elsa dat hy betrokke was by die aanval op Tertius wat sy lewe gekos het, word een van die mees kritieke oomblikke in die drama. Die stuk word 'n treffende ondersoek na skuld en aandadigheid en bied ook 'n boeiende blik op die waarde van geleerdheid en blootstelling aan die letterkunde in die vorming van mense (by Elsa maar veral by Tertius en Brian). Brian praat met wrangheid oor die geleerdheid wat hy by Elsa ontvang het: "Six months later en ek staan met my fucked-up tekkies voor jou deur en soek vergifnis in disguise. Hier's ek nou. Knowledgeable on Sheila Cussons, N. P van Wyk Louw en die hele Swedish arthouse oeuvre" (60). Volgens Brian baat kultuuropvoeding 'n mens klaarblyklik maar min indien dit nie met betekenisvolle sosio-ekonomiese opheffing gepaard gaan nie. Soos baie kunstefeesdramas is Die dag is bros redelik beperk in omvang, maar dit slaag ondanks die ietwat onbevredigende slot baie goed en as debuutwerk beïndruk dit. Ook as 'n leesteks boei dit 'n mens enduit.

Hierteenoor is Sandton City Grootdoop van Wessel Pretorius minder oortuigend hoewel dit nie sonder meriete is nie.

Die verhoudingsproblematiek tussen die aktrise Kara en haar twee dogters Lisa en Danél vorm die kern van die ha nd e lings ve rlo op in e n rond om die inkopiesentrum Sandton City in Johannesburg waar hulle ná 'n lang tyd we e r bymekaar kom en hulle vervreemding van mekaar probeer uitwis. Die geleentheid is die verjaardag van Danél, die oudste van die twee dogters, wat te kampe het met bipolêre depressie. Albei dogters smag na sukses en erkenning nadat Kara haar twee dogters op 'n jeugdige ouderdom in die sorg van hulle pa agtergelaat het sodat sy sonder enige gesinsverpligtinge haar loopbaan as aktrise kon verder voer. In die stuk is dit veral Lisa wat haar woede teenoor haar ma se selfsug by herhaling tot uitdrukking bring. Sy het min geduld met onder meer Kara se onbegrip oor haar lesbiese verhouding, maar Kara is nie bereid om haar kant van die saak te verswyg nie: "Maar wat ek nie gaan eien nie, waarvoor ek nie boete sal doen nie, is hierdie verskoning van 'n persoonlikheid wat jy vir jouself gekweek het nie. Jou infantilisme, jou wrokkigheid teenoor goeie smaak en rede, jou aangeplakte liberalisme, jou lui, passiewe intellek wat homself manifesteer in sarkasme en 'n misplaaste sin van ironie en ek weier veral om te aanvaar dat hierdie onvermoë om iets noemenswaardig met jou lewe te doen, my skuld is" (121). Die suksesse wat Kara se twee dogters teen die einde van die stuk te beurt val, word op 'n geforseerde manier ingevoer en die stuk bly vassteek in herhalende rusies tussen veral Lisa en Kara sonder dat werklike verdieping bereik word.

Wessel Pretorius se dubbeldoordebuut by Protea Boekhuis is baie welkom en toon beslis belofte dat hy nog groot suksesse in die teaterwêreld kan behaal. Vir baie jare reeds is Protea Boekhuis een van net enkele uitgewerye wat die moeite doen om dramatekste uit te gee en sodoende lewer hulle 'n onmisbare bydrae tot die bestendiging van die Afrikaanse drama as genre wat weliswaar by kunstefeeste gedy, maar ook 'n sterker vastrapplek in die boekewêreld verdien. Wessel Pretorius se Die dag is bros. Sandton City Grootdoop behoort baie lesers se persepsie dat dramatekste nie so leesbaar is as byvoorbeeld prosawerke is nie, af te breek. Pretorius slaag naamlik goed daarin om sy leser by die wêrelde wat hy met sy woorde skets, in te trek en tot en met die laaste bladsy aan die lees te hou.

 

Andries Visagie

Universiteit Stellenbosch. Stellenbosch. agvisagie@sun.ac.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons