SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Alles begin met AnnaDie dag is bros. Sandton City Groot-doop author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.4790 

BOOK REVIEWS

 

Kroniek van turf

 

 

Dolf van Niekerk. Protea Boekhuis, 2018. ISBN 9781485306474 (gedrukte boek). 135 pp.

Veteraanskrywer Dolf Van Niekerk bring met sy debuutwerk, Gannavlei (1958), vernuwing in die tradisie van die klein-dorpse vertelling (Kannemeyer 381) en word 'n sentrale figuur in die Sestiger-literatuurbeweging wat veral met die novelle Die son struikel (1960) aandag geniet. Oorhoofs plaas Van Niekerk die "outsider" as karaktertipe in sy prosaoeuvre onder die mikroskoop en verken ook die verhouding tussen die simboliese "Ek" en die "Ander". Dit is dan ook so in sy 2018-roman Kroniek van turf waarin hierdie motief herhaal word om met 'n nuwe blik na 'n ou onderwerp te kyk.

Die roman vertel die verhaal van sewe generasies wat 'n lewe aan die suidpunt van Afrika probeer maak en speel oor bykans vierhonderd jaar af. Dit vertel die geskiedenis van 'n familie, maar ook die van 'n land steeds in wording, wat 'n verweefde identiteitsvorming tot gevolg het.

Eie aan die kroniek as genre (Du Plooy) bied die roman geskiedkundige gebeurtenisse in kronologiese volgorde sonder om akkuraatheid na te streef, maar het eerder die doel om 'n sekere sintese deur die vertelling te bereik. Die gevolg is 'n realistiese, dog romantiese vertelling. Deur 'n familie oor generasies te volg en op elkeen se stryd (politiese en rassestryd, stryd teen die natuur om oorlewing en ook persoonlike stryd) te konsentreer, verken Van Niekerk die mate waarin elke generasie bo en behalwe deur bloed aan mekaar verbind is, maar ook hoe elke generasie aan die grond verbind is. Uiteindelik stel die roman vrae oor hoe identiteit aan grond verbind word, maar raak ook etiese aspekte daaromtrent aan in die verkenning van die verhouding tussen die Afrikaner en die inheemse volke, asook die ons-ons-verhouding (Afrikaner-Afrikaner).

Die titel verwys na die simboliese band tussen grond en identiteit vanweë die simboliese betekenis wat aan die ruimte gegee word: Kroniek van Turf is 'n verhaal van die grond-Suid-Afrika-en die mense (meervoud!) wat dit bewoon.

Die roman word in elf hoofstukke opgedeel en word meestal vanuit 'n personaal-gebonde derdepersoonsverteller se perspektief aangebied. Soms wissel die fokalisators te midde van die handeling in 'n betrokke hoofstuk wanneer 'n protagonis-fokalisator doodgaan. Met hoofstuk sewe tot elf verskuif die verteller-fokalisator na 'n eerstepersoonsverteller wat vir 'n meer intieme leeservaring sorg en ook vir meer karakterontwikkeling.

Tema-ontwikkeling is by tye té naby aan die verhaal se oppervlak, 'n verskynsel wat deels te wyte is aan die genre en omvang van die teks ('n novelle van 135 bladsye). Die temas sluit in: Die ongenaakbaarheid van die land en die stryd om oorlewing; die band tussen identiteit en grond; elkeen se soeke na vrede in 'n land met baie uiteenlopende volke en belange; die verhouding tussen die Afrikaner en die inheemse volke, asook die Afrikaner-Afrikaner-verhouding; etiese kwessies rondom begrippe soos volk en vaderland; die geskiedenis wat herhaal word; die manlike plig teenoor sy gesin; geweld en die minagting van die "ander"; perspektief as bepaler van wie die geskiedenis bepaal. Die ingeligte leser sal opmerk dat sommige van hierdie temas ooreenkomste toon met die tipiese inhoud van die Afrikaanse plaasroman.

As kroniek speel die verhaalgebeure vinnig af met min ontwikkeling wat aan die me e ste karakte rs ve rle en word. Hierdie aspek lei aanvanklik tot lesersweerstand, maar die leser ontdek gou dat die herhaling van deurlopende insidente oor generasies heen die groter oogmerk van die verhaal is.

Van Gerrit (die aanvanklike protagonis) se reis vanaf Friesland om onder die VOC aan die Kaap die Goeie Hoop te boer, tot kwessies rondom grondeise op die drumpel van die 1994-verkiesing aan die einde heers 'n deurlopende motief oor hoe onvergewend en ongenaakbaar die Suid-Afrikaanse ruimte is, maar ook hoe pragtig dit is en hoe elke generasie 'n sin vir hoop en vrede daarin vind. Op Gerrit se plaas Nietverdacht in die Roggeland is die ruimte byvoorbeeld een van hoop: "Die ongenaakbaarheid van die land, die ruimtes en die sterre het iets in hom wakker gemaak, hom uitgedaag" (7). Hy word deur vele gevare geteister, veral die vyandigheid van inheemse volke, wat vir konstante konflik in die verloop van die verhaal sorg. Die herhaling van geweld oor die eeue is insiggewend en word 'n sleutel tot die afwisselende voorstellings van enersyds die aftakeling wat oorloë en die minagting van die "ander" meebring, en andersyds die hoop wat familie en die grond waarvoor geveg word, inhou. Gerrit en sy nasate is konstant betrokke by 'n gewelddadige stryd om oorlewing. Gerrit se plaas Nietverwacht word byvoorbeeld afgebrand en hy sterf uiteindelik tydens 'n geveg met die Xhosas terwyl sy seun Johannes toekyk. Johannes en sy broer Daniel en hulle gesinne ervaar ook ongeluk. Johannes moet weens 'n sprinkaanplaag die Renosterberg verlaat en vestig hom in die Grootrivier-distrik waar hy 'n plaas tussen die Gij-Gumaap en die Nieu-Gamaap-riviere by die plaaslike Boesmanstam met vee koop. Dit is hier waar die "ander" vollediger medemens word en 'n verhouding tussen die Afrikanerpatriarg en die Boesmanstam- spesifiek die leier, Kousop-ontstaan, wat vir generasies onthou sal word. Die roman vertel onder andere 'n verhaal van twee gesinne-een Afrikaner, die ander Boesman-wat vir 'n wyle in vrede saam die land tussen die twee riviere bewoon, totdat die Boesmanstam deur Boeremagte oorwin word. Johannes en sy gesin neem nie deel aan die oorlog teen Kousop nie. Etiese kwessies rondom wie geregtigheid bepaal, word verder ondersoek as Johannes van die Boere se onmenslike behandeling van Kousop se vroue en stamlede te hore kom. Uiteindelik sal Johannes se agteragterkleinkind saam met 'n jong Kousop (Kousop se nasaat) ná die Bosoorlog 'n grondeis beveg.

Die roman stel vrae oor wie as buitestaander gesien word. Watter instansie bepaal wie die buitestaander of die "ander" is? Aan wie behoort die grond en is daar 'n manier om dit werklik te bepaal? Die roman is weens die genre en die tema-ontwikkeling sterker afgestem op die literêre leser wat te midde van resente debatte oor grondeise die teks aktueel sal vind.

 

Adean van Dyk

Sol Plaatje Universiteit.Kimberley. adean.vandyk@spu.ac.za

 

Geraadpleegde bronne

Kannemeyer, J. C. Die Afrikaanse Literatuur 16522004. Human & Rousseau, 2005.         [ Links ]

Du Plooy, Heilna. "Kroniek." Literêre terme en teorieë. 2013. www.literaryterminology.com/index.php/lemmas/18-k/98-kroniek. Toegang 3 Jul. 2018.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License