SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2DorsKroniek van turf author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5393 

BOOK REVIEWS

 

Alles begin met Anna

 

 

Annemari Coetser. Human & Rousseau, 2017. 360 pp. ISBN: 9780798176170.

'Anna is die vrou wat so belangrik is dat alles in hierdie verhaal by haar begin" (13). Twee belangrike vrae wat vanuit die staanspoor die leser se aandag prikkel om die roman Alles begin met Anna verder te lees, is: Wie is Anna en wat is die alles waarna daar alreeds in die titel van die roman verwys word?

Alles begin met Anna kom uit die pen van Annemari Coetser. Die leser word reeds by die aanvang van die lees van die roman ingelig dat dit "losweg" gebaseer is op die skrywer se familiegeskiedenis. Dit word vanuit twee karakters se perspektiewe vertel, Poppie Nienaber (Coetser se eie ma) gebore in 1913 en Poppie se ma, Anna, gebore 1873. "Bowenal vertel dit die verhaal van Coetser se eie ouers Poppie en Frikkie, en waar sy, die skrywer, vandaan kom". Hierdie skrywersnota aan die begin van die roman herinner die leser dat daar wel plek-plek 'n verdraaiing van die waarheid geskied.

Om hierdie gegewens verder tot stand te bring, verskyn daar 'n stamboom van Anna (Poppie) se familie, sowel as van haar man Frikkie. Die kaart, wat net voor die proloog verskyn, bied 'n verdere blik op Poppie en Anna se leefwereld: die Oranje-Vrystaat. Die gebruik van 'n paar ou foto's wat in die roman verskyn, dra by tot die skep van 'n nostalgiese atmosfeer en herinner lesers daaraan dat hulle hier te make het met werklike mense se stories.

Aan die begin van die roman word die leser alreeds voorberei op sekere belangrike gegewens wat die lees van die roman vergemaklik. Die voorblad stel dit duidelik dat hierdie roman "'n familiesage van voor die Anglo-Boereoorlog" is. Dit strek oor drie generasies, met die vertelde tyd wat strek vanaf voor die Anglo-Boereoorlog tot die aanloop en gebeure van die Tweede Wereldoorlog (vanaf om en by 1835 tot 1942). Boaan elke regterkantse bladsy van die roman word die jaar waarop gefokus word in elke hoofstuk, aangedui. Dit dien as 'n nuttige hulpmiddel vir die leser om tred te hou met die vertelde tyd.

Alhoewel Anna en Poppie se verhale parallel loop, is dit Poppie s'n wat die leser boei om saam met haar meer uit te vind oor haar familie. Die verhaal begin en eindig met Poppie wat in 1942 by 'n treinstasie wag vir 'n trein uit Natal uit. Een van die vrae wat gou by die leser opkom, is wat die werklike rede is hoekom Poppie op die ouderdom van nege saam met haar suster en broers in die Charlotte Theron Kinderhuis moes gaan woon. Toe Poppie vermoed dat die waarheid oor haar ouers vir haar weggesteek word, konfronteer sy haar ouer suster, ook Anna (Sussie Anna). Sussie Anna erken toe dat hulle ma aan 'n geestesversteuring gely het en dat sy die laaste tien jaar van haar lewe in 'n "sielsieke-hospitaal" gebly het. Dit is glad nie wat Poppie verwag het nie en haar skok is duidelik te bespeur wanneer sy eers nie haar suster wil glo nie: "Ekskuus? Wat bedoel jy? [...] Nee! [...] Jy jok vir my!" (171). Dit is ook die rede hoekom sy wegskram as iemand haar vra van watter Nienabers sy is (104).

Die feit dat sy wonder of hulle op haar sal neersien as sy hulle die waarheid vertel, lewer kommentaar oor die stigma van geestesverteurings gedurende daardie spesifieke tyd. Die vraag wat bydra tot Poppie se innerlike konflik is of sy of haar kinders ook eendag die kans staan om haar ma se sielsiekte oor te erf (179). Sy probeer dus om haar familiegeheim, van veral mans wat by haar vlerksleep, weg te steek-deels omdat sy vrees dat hulle vir haar die trekpas sal gee (12).

Poppie se ma, Anna, se verhaal, wat vervleg is met Poppie s'n, versterk die intrige van die verhaal. Dit wek ook simpatie by die leser, aangesien Anna se lewe beslis deur moeilike tye geteister is. Tydens die Anglo-Boereoorlog moes sy haar eerste man en kind aan die dood afstaan. Sy het ook saam met ander vroue en kinders in 'n konsentrasiekamp gewoon onder ondraaglike omstandighede. Toe sy uiteindelik weer liefde vind, by Poppie se pa, tref die noodlot weer. Sy het daarna gesukkel om die pot aan die kook te hou. Alhoewel Poppie voel dat dit nie genoeg rede was vir haar ma om van haar sinne af te raak nie, herinner Sussie Anna haar deernisvol aan die volgende: "Moenie oordeel nie, Vlooi. Hoe weet jy hoe jy onder soortgelyke omstandighede sou optree?" (178). Oordeel, en wat 'n mens met daardie oordeel maak, vorm 'n belangrike tema in dié familiesage.

Tydens die vertelling van Poppie en Anna se verhale, stel Coetser die leser voor aan manlike karakters, soos Frikkie (Poppie se kêrel, losweg gebaseer op Coetser se pa). Van die verteltyd fokus op Frikke se dae as soldaat en as krysgevangene. Alhoewel hierdie tipe vertellings die twee Annas se verhale onderbreek, bied dit tog 'n insiggewende blik op die gemengde gevoelens van mans wat op een of ander wyse betrokke was by die Suid-Afrikaanse oorlogsgeskiedenis. By Frikkie het daar 'n opgewondenheid oor die avontuur (246) wat die oorlog mag inhou, geheers. Hy sien dit selfs as sy kans om iets van die wêreld te sien (245), met terselfdertyd 'n bangheid vir dit wat mag voorlê. Temas van ontnugtering en verlies sowel as hoe 'n mens 'n nuwe toekoms bou nadat dit wat jy geken het, verwoes is, word ook verken. Dit skakel met beide Poppie en haar ma se verhaal en vra die belangrike vraag: Hoe gaan 'n mens voort met jou lewe? Alhoewel genderstereotiperings aanwesig is by van die vertellings, bied die fokus wat op Poppie en haar ma se verhale geplaas is 'n interessante invalshoek. Dit werp lig op aspekte wat die vrou moes deurmaak gedurende die oorlogsjare.

Coetser se deernisvolle vertelling bied vandag se lesers 'n blik op die genadeloosheid van die oorlog op beide mans en vroue (asook die landskap). Die roman word 'n verkenning van hoe mense hulself moes dwing om voort te gaan, van voor af te begin en hoe dit vir party mense net nie fisies of emosioneel moontlik was om dit te doen nie.

Die teikenmark van Alles begin met Anna is beslis nie net diegene wat 'n voorliefde vir die geskiedenis het nie. Terwyl dit daarin slaag om oud en jonk mee te voer na 'n wêreld van ouds, verseker die universele temas van liefde, verlies, armoede, vergifnis, familiekonflik, politieke konflik, oordeel, moed en hoop dat dit by 'n wye leserspubliek aanklank vind. Terwyl die roman maklik lees, lê die impak by die wete dat dit gebaseer is op die skrywer se eie familie. Die deeglike uiteensetting van die roman met selfs 'n nagedagte (360) bevredig die nuuskierigheid van lesers wat wonder wat in die regte lewe van Poppie, haar suster en broers, en daarby dan ook Coetser se familie, geword het. Die leser vind op 'n interessante wyse uit wie Anna is en wat die alles is wat met haar begin.

 

Loraine Prinsloo

Universiteit van KwaZulu-Natal. Durban. prinslool@ukzn.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License