SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Die wêreld van die storieAlles begin met Anna author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

 

BOOK REVIEWS

 

Dors

 

 

Marinda van Zyl. Tafelberg, 2018. 303 pp. ISBN 978-0-624-08436-5.

Marinda van Zyl se tweede historiese roman, Dors, bied 'n blik op die Afrikaner, post-Groot Trek (1876-80), en hoe daar steeds na die land van "melk en heun-ing" (72) gesoek word. Die roman se tref-krag lê in die mate waartoe die gevolge hiervan op persoonlike vlak, asook op dié van die groep Trekkers, as verteen-woordigend van die Afrikanervolk, die groter samelewing, en die onmiddellike natuur uitspeel.

In 1876 vertrek groepe Transvalers vanaf die Marico- en Krokodilrivier na Damaraland, op soek na 'n nuwe begin, 'n "paradys" (67) waar hulle hulle in vrede kan vestig. Die meeste Boere trek met die motivering om van Engelse anneksasie te vlug, terwyl sommiges se motivering vaag bly: "Wat vir my paradys is, kan vir jou en jou familie hel wees. Dit hang af van die redes waaroor jy wil trek [...]" (67). In hulle pad staan die Dors, 'n streek waterlose Kalahari, wat hulle moet oorsteek met die hoop om 'n vreedsame bestaan aan die anderkant te vind. Die tog eis sy tol, wat vrae stel oor die prys wat vir die beoogde verbetering van omstandighede (en simboliese bevordering van 'n samelewing) betaal word, oor wat 'n paradys beloof om te wees, en ook oor die opofferings wat daarvoor gemaak moet word. Niemand blyk ongeskonde by hul bestemming te arriveer nie, terwyl baie kies om vroeër af te draai of terug te keer. Buiten die ongenadige ruimte tree ander kragte ook antagonisties op. Deurlopend is onenigheid tussen die Boereleiers opmerklik en simbolies van 'n blik op Afrikaner-manlikheid wat stelselmatig ontmitologiseer word.

Die verhaal volg onderskeidelik die Greylings en die Ackermans, wat vir 'n wyle saam trek, maar wie se paaie vir 'n groot gedeelte van die verhaal skei, en tog uiteindelik weer verbind word. Voor in die boek verskyn verkorte stambome van beide gesinne, asook 'n kaart (Dorskaart 1876-80) om die leser te oriënteer. Met die eerste oogopslag kan dit verkeerdelik blyk dat die verhaal as familiesage aangebied word; eerder word die handeling afwisselend deur drie karakters met die verloop van die trek gefokaliseer. Elk word simbolies ingespan om fasette van lyding en verlies te verteenwoordig, asook om tema-ontwikkeling as geheel voort te stu.

Betta Greyling is die vrou van Jan Greyling wat vir die grootste gedeelte van die trek as kommandant optree en, as ervare jagter, die enigste persoon is wat die trekgemeenskap veilig deur die onbekende ruimte kan begelei. Weens etlike verliese van kinders en kleinkinders-insluitend hul jongste seun wat sterf wanneer sy eerste leeujag skeefloop-die feit dat sy sien hoe menige ander Trekkers weens koors en siektes sterf, en sy ook self net-net van die doodsbed opstaan, tree Betta as getuie op vir die lyding wat die Afrikanervrou ervaar. Sy verwoord die prys wat hulle vir die patriargale begeerte om te trek, betaal soos volg: "Die Voortrekkers het dit makliker gehad as ons. Hulle kon die Zoeloes die skuld gee toe hulle kindertjies vermoor is, maar ons het onsself te blameer. Ons het hierheen getrek om ons nageslag te kom uitmoor" (297). Elders word opgemerk dat dit nie die bosveldruimte is wat dodelik is nie, maar die "menslike sotheid" van die Boere (251). Weereens word die motivering vir die trek as verbetering van omstandighede onder die loep geneem.

Adriana Ackerman-'n beeldskone sestienjarige-is die oudste dogter van Jakobus en Celia Ackerman wat 'n beter skut en ruiter as die meeste mans is. Haar onskuld word vroeg in die verhaal van haar geneem en verdere ongeluk dwing haar om vrou-alleen-"hardekool" (163), soos 'n man behoort te wees-haar lot en die wrede nuwe wêreld aan te pak. Die hoeveelheid ongeluk wat sy teëkom is voldoende om haar as heldin te vestig wat simbolies 'n stereotipiese beeld van die Afrikanervrou uitdaag. Die onderdanige rol van die vrou in 'n patriargale bestel word sodoende uitgedaag, asook die idee van vroulikheid en eienskappe wat stereotipies aan 'n vrou verleen word. Ten spyte hiervan is die hoeveelheid ongeluk wat Adriana beleef met tye oorbodig, wat dreig om die verhaal af te water tot 'n blote avontuurverhaal, en afbreuk doen aan die realisme wat die historiese roman as genre grotendeels handhaaf.

Teenoor Adriana word die agtienjarige Tiaan-Jan Greyling se kneg-ingespan om die blik van die Afrikanerman te ontmitologiseer. As kneg is Tiaan daarvoor verantwoordelik om allerhande take te verrig, maar hy verkry algaande groter verantwoordelikhede, insluitend om saam met die jaggeselskap 'n olifant plat te trek (waarvoor hy met 'n olifanttand van sy eie beloon word). Tiaan se aanvanklike doel is egter om 'n troupant, 'n voëlspesie wat in Damaraland voorkom, te skets en sodoende sy afgestorwe pa se wens te vervul. Mettertyd, ná die Greylings se pad van die Ackermans s'n skei, gaan hy op soek na Adriana, wat die roman ook as liefdesverhaal ontwikkel. Sy sagmoedige, dog waagmoedige geaardheid, asook sy liefde vir skets en waterverf (wat uiteindelik van groot waarde vir hom is) staan in kontras met die bravade van die stereotipiese Afrikanerman. Sy opoffering vir Adriana, en selflose aanvaarding van haar mannetjiesagtigheid, dra by tot 'n alternatiewe blik op Afrikanermanlikheid.

Lyding en verlies staan sentraal in die verhaal, terwyl idees rondom verbetering en sogenaamde bevordering ondersoek word. Verblindende begeerte hierna word as die dors wat "jy nie met water kan les nie" (88) beskryf. Tog kan hierdie metafoor uitgebrei word na die verwoesting wat menslike begeerte saai ten opsigte van onregte wat die self, die groter samelewing en die natuur aangedoen word. Uiteindelik suggereer die verhaal dat dit eerder geliefdes as beter omstandighede is wat as 'n paradys nagejaag moet word. Ten spyte van die somber toon wat meestal heers, bied die ontwikkeling van Tiaan en Adriana se verhouding vertroosting dat daar, te midde van swaar tye, altyd hoop op nuwe lewe bestaan. Deurgaans word stereotipes van die Afrikaner gejukstaponeer met argetipes, soos dié in die karakters van Tiaan en Adriana, wat moontlik holrug gery kan voorkom. In wese poog Marinda van Zyl in Dors om 'n alternatief tot die onderwerp van die menslike aard, wat by tye meer ongenadig as die ruimte kan wees, te bied, deur die suggestie dat hoop wel seëvier.

 

Adean van Dyk

Sol Plaatje Universiteit. Kimberley. adean.vandyk@spu.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License