SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Van kant gemaakDors author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5419 

BOOK REVIEWS

 

Die wêreld van die storie

 

 

Willie Burger. Van Schaik, 2018. 170 pp. ISBN: 978 0 627 03607 1.

Die wêreld van die storie (2018) deur Willie Burger fokus op "storiewêrelde en die verhouding tussen storiewêrelde en ander wêrelde (waaronder ook die leser se leefwereld)" (9). Die begrip "wêreld" is die vertrekpunt tot 'n meer "positiewe" lees van verhalende tekste (in teenstelling met die sogenaamde "hermeneutiek van agterdog"), en vloei voort vanuit 'n "verwondering oor die ontstaan van kam-mawêrelde tydens die leesproses en die betowerende ervaring dat hierdie wêrelde die leser kan meevoer" (159). Met die fokus op "storiewêrelde" enersyds en "ander wêrelde" andersyds, poog Burger om 'n goue middeweg te vind tussen dit wat Pascal Casanova die "interne teksgerigte literêre kritiek" en "eksterne kritiek" (12) noem. Burger wil steeds die uniekheid van die literêre werk laat sien, maar terselfder-tyd rekenskap gee dat die werk binne 'n sekere konteks tot stand kom.

As voorbeeld van Burger se soeke na 'n middeweg kan gewys word op twee voorbeelde, waarvan die eerste geassosieer word met "interne kritiek" (of die "effek van die teks") en die tweede met "eksterne kritiek" (of die poging om die "werk" en die "wêreld" met mekaar te versoen). Eerstens word gewys op die gedeelte oor handelingskomposisies (plots) (37-42), wat die "effek van die teks" belig. Hier word nie stilgestaan by klassieke narratologiese ondersoekmetodes nie, maar gewys op 'n studie wat 'n groep wiskundiges en statistici in 2016 gepubliseer het oor die basiese vorms van stories. Met behulp van wiskundige modelle het hulle ses storielyne gevind, naamlik "Iets tot niets", "Niets tot iets", "Man-in-die-gatvertelling", "Ikarus-plot", "Aspoestertjie-plot" en "Oedipus-plot", wat insig bied in die wyse waarop storiewêrelde tot stand kom (40-1). Hierdeur kan gesien word hoe vertellings lank nie meer net vanuit die klassieke narratologie bestudeer word nie; trouens, een van die sterk punte van Burger se studie is die manier waarop hy verskeie dissiplines betrek in sy ondersoek na die wêreld van die storie, onder andere die kognitiewe wetenskap, psigologie en neurologie (xi).

Tweedens word die "eksterne kritiek" ook nie op 'n rigiede of reduksionistiese wyse uitgevoer wat die storiewêreld "ge weld " aand oe n nie , maar ve e l e erd e r gekyk na d ie wyse waarop sekere "kontekste" bepalend is vir die manier waarop die kunstenaar op sy of haar wêreld reageer (146-57). Daar word byvoorbeeld geargumenteer dat Afrikaanse skrywers vanuit 'n spesifieke Suid-Afrikaanse konteks skryf met die gevolg dat die Afrikaanse letterkunde nie los gedink kan word van Suid -Afrika se koloniale geskied enis nie (146-7). 'n Mens sou hier 'n inleiding op die postkolonialisme verwag, wat wél oorsigtelik behandel word, maar Burge r he t e gte r nie te n d oe l om 'n p ostkoloniale be nade ring op 'n "instrumentalistiese" wyse te betrek nie (154). Wat voorgestel word rakende die lees van Afrikaanse tekste, is om te vra watte r ve rband d aar tussen die kammawêreld van die teks en die postkoloniale wêreld waarin die teks geskryf en gelees word, bestaan (154).

Die wêreld van die storie sien nie soos 'n tipiese handleiding oor vertellings daar uit nie, maar vloei voort vanuit 'n komplekse filosofiese besinning oor die wêreld van die storie. In die eerste hoofstuk dui Burger aan dat hy op Thomas Pavel se vertrekpunt in Fictional worlds (1983) steun, naamlik dat "'n alternatiewe moontlike wêreld" (13) deur die literêre teks ontstaan waartoe die leser toegang verkry; dié wêreld is egter nie "'n geslote spel" nie, maar "kan 'n rol speel in die leser se ervarings van die werklikheid waarin hy of sy leef" (13).

Vervolgens word in die volgende vier hoofstukke gefokus op die wyse waarop 'n fiksiewêreld tydens die leesproses tot stand kom, die leser se ervaring van die fiksiewêreld en die vergelyking van die fiksiewêreld met ander wêrelde. Dit word gedoen deurdat in hoofstuk twee in breë trekke ondersoek ingestel word na "vertelling as wêreldskeppende, singewende konstruk", maar ook die "gehalte van die wêreld" wat tot stand vertel word (23). In hoofstuk drie word gefokus op die kognitiewe prosesse van die leser tydens sy of haar ervaring van die fiksiewêreld (57). Hoofstuk vier verken 'n aantal benaderings waarop fiksiewêrelde op betekenisvolle maniere geïnterpreteer kan word (83-4), waarvan die belangrikste die gedeelte is oor die "wêreldskeppende" en "wêreldvergelykende" aspekte van fiksie as 'n manier om fiksiewêrelde te interpreteer (100). Die vyfde hoofstuk belig 'n aantal aspekte van tekste wat as leidrade dien vir die totstandkoming van wêrelde, wat kan help om die wêreld te beskryf en wêrelde met mekaar te vergelyk (107).

Die slothoofstuk laat sien die waarde van Burger se werk, in soverre sy besinning oor die wêreld van die storie (Hoofstuk een) in 'n sekere sin "beantwoord" word, met spesifieke verwysing na Rita Felski se pleidooi om 'n meer "positiewe" benadering tot die lees van literêre tekste: "Felski verduidelik dat 'n begeerte om 'n positiewe beskouing van die betowering van tekste te beklemtoon, nie noodwendig dui op 'n naïwiteit of dat dit 'n konserwatiewe reaksie is nie, maar dat 'n positiewe beskouing noodsaaklik is in 'n tydperk waarin die waarde van letterkunde (en van die geesteswetenskappe in die breë) dikwels bevraagteken word" (159).

Die wêreld van die storie oorbrug 'n leemte in die Afrikaanse literêre wêreld rakende die opskryf van die ontwikkelings in die narratologie sedert die publikasie van André Brink se Vertelkunde in 1987. Voorgraadse studente sal baat vind by die boek, aangesien die boek nuttige skryfriglyne bied by die lees van 'n literêre teks. Ook word daar op 'n bondige, dog verstaanbare wyse met gevorderde teoretiese konsepte gewerk, wat nagraadse studente en akademici kan gebruik vir navorsingsdoeleindes.

 

Alwyn Roux

Universiteit van Suid-Afrika. Pretoria. erouxap@unisa.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License