SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Toen met een lijst van nu errond. Herman de Coninck BiografieDie wêreld van die storie author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.4744 

BOOK REVIEWS

 

Van kant gemaak

 

 

Kris van Steenberge. Vertaal deur Fanie Olivier. Protea Boekhuis, 2017. 304 pp. ISBN: 978-1-4853-0682-5.

Die Tweede Wereldoorlog mag wel 'n prominente plek inneem in die Wes-Europese kulturele geheue, maar dit is veral die Eerste Wereldoorlog wat die Vlaamse identiteit bepaal het. Dit is nie verbasend dat die resente toename van historiese fiksie in Vlaandere fokus op die loopgraafoorlog van 1914-18 nie. Dit het immers die Belgiese landskap-letterlik en figuurlik-verander. Uit die keur van boeke en digbundels wat 'n eeu ná die trauma verskyn het, stel Protea Boekhuis vir die Afrikaanse leser ná Stefan Hertmans se Oorlog en terpentyn (2016) nou ook Kris van Steenberge se droomdebuut Van kant gemaak (2017) beskikbaar. Woesten (die oorspronklike Nederlandse titel uit 2013) is ook vertaal in Duits, Engels en Spaans, en die filmregte is reeds verkoop.

Hoewel die boek se lokprente stel dat stories van Van Steenberge (1963) se oupa oor die Groot Oorlog die kiem vir sy roman vorm, is Van kant gemaak nie in die eerste plek 'n oorlogsroman nie. Dit is net Guillaume Duponselle, een van die hoofpersone, wat op die front skielik uit die roman verdwyn met die eenvoudige mededeling dat "die liggaam van die heer Docteur Duponselle, vrywilligerarts in die leër, deurboor [word] in 'n koeëlreën, soos 'n sif" (154). Die verhaal speel nie af tydens die oorlog nie en die feite uit die geskiedenisboeke bly beperk tot 'n eenmalige vermelding van die fortegordel rondom Luik en die Duitsers se vernietigende dik Berthas (145).

Van Steenberge skryf in die eerste plek 'n Vlaamse familieroman wat rondom die oorlog gesitueer is, en wat afspeel in die arm plattelandse dorpie, Woesten, naby die frontstad Ieper. Die roman bring tot uitdrukking wat die geskiedenisboeke aan die literêre outeur oorlaat: die menslike emosie, en die condition humaine. Soos die verteller van die onheilspellende lokrolprent op Van Steenberge se webtuiste dit stel: "Soms springt de tijd vooruit-met schokken-zonder dat je er erg in hebt wat hij aanricht met de mensen rondom je". Dit het vir Van Steenberge onder andere "de Bronzen Uil" besorg- die jaarlikse Vlaamse literatuurprys vir die beste Nederlandstalige debuut. Die pryskomitee noem Van kant gemaak tereg "een zorgvuldig opgebouwd verhaal waarin verschillende personages een eigen interpretatie geven van hun zoektocht naar hun lotsbestemming".

Die opbou in kombinasie met die verteltegniek is inderdaad opvallend. Die roman bestaan uit vyf dele en daar is nie net een hoofpersoon nie. In elke deel word die visie van een van vier gesinslede aangebied: eerstens van die ma, Elisabeth, en in die tweede afdeling van die pa, Guillaume, albei deur 'n alwetende derdepersoonsverteller. Elisabeth, die pragtige dogter van die dorpie se smid, trou met dié Brusselse dokter. Sy intellek lyk veelbelowend vir hulle toekoms (Elisabeth se ma is 'n kantklosser), maar lekker is net 'n vinger lank. Hulle kry twee seuns genaamd Valentyn en Naamloos, wat so genoem word omdat hy "'n afgryslike vervorming" is (49). Almal dink sy dood sal vinnig kom, alhoewel dit nie so is nie. Guillaume kwyn skielik weg en gee hom oor aan drank. Van Steenberge laat die leser gis oor die sielkundige oorsaak van die dokter se reaksie tot en met die tweede deel van die roman, waarin Guillaume sentraal staan.

Toe breek die oorlog uit. Elisabeth se kop word by die huis verbrysel en Guillaume sterf kort daarna op die slagveld. Die roman wat die leser 130 bladsye lank meesleep in die tragiese gesinslewe in 'n skinderdorpie, ontwikkel onverwags tot 'n whodunnit. Tog slaag dit nie daarin om 'n meeslepende moordverhaal te word nie. In die derde en vierde deel vertel Valentyn en Naamloos respektiewelik, albei vanuit 'n eerstepersoonsperspektief. Hoewel die nuwe kyk op die psigies getormenteerde Guillaume interessant is (Valentyn noem hom nêrens 'Pa' nie), is hulle stemme nie heeltemal oortuigend nie. Daar is herhalings van informasie en fragmente wat die boek momentum laat verloor, en die woordeskat en styl is opmerklik na aan die eerste twee dele. Naamloos het die intellek van sy pa geërf (hy blyk plotseling Latyn te kan lees), maar die leser was nie voorberei op hierdie deus ex machina nie. Wat Valentyn betref, word hy 'n slagoffer van kindermisbruik in die Katolieke Kerk. Die priester vermoor Elisabeth omdat sy in die sakrestie inkom toe Valentyn sy vingers vou om meneer Pastoor se "harde vleis, stewige kloppende vleis" (191). Hoewel 'n historiese roman eerstens kenmerkend is vir die tyd waarin dit geskryf word, voel die insluiting van dié openbaring in hierdie verhaal onnodig. Die romankarakters bied ook nie nuwe insigte omtrent die kerkmisbruik nie.

Die laaste deel van die roman is 'n samesang van Valentyn en Naamloos. Hulle vertel afwisselend en kyk vanaf die Isle of Wight terug op hulle verlede anderkant die water. So 'n tweestemmige ons-verteller is interessant en laat die leser nadink oor wie eintlik die alwetende verteller in die eerste twee dele van die roman was. Ongelukkig vind die leser eers in hierdie laaste 40 bladsye uit van hierdie fokuspunt van die roman. Sommige lesers sal ook die eind-goed-alles-goed kitsch vind.

'n Historiese roman is 'n uitdaging vir vertalers. In sy "notas deur die vertaler" skryf Fanie Olivier-wat verantwoordelik was vir die Afrikaanse vertaling van J. M. Coetzee se Disgrace-dat daar min van die Vlaamse aanwesigheid in die roman in Afrikaans tereg kom. Inderdaad, "het hof" het die neutrale woord "sangdiens" geword. Tog het hy "enkele Franse woorde behou" om die couleur local lewendig te hou.'n Mens kan egter wonder of almal die Frans verstaan, asook die Latyn. Somtyds is daar 'n neerlandistiese woordkeuse, soos byvoorbeeld "godverdomme". Nietemin lees die Afrikaans maklik, en die dubbelsinnigheid van die Afrikaanse titel is opvallend: dit dui ook op die beroemde destydse kant-wêreld van België. (Ek is nie seker of dit Olivier is wat met die titel opgekom het nie.)

In konklusie is Van kant gemaak 'n geslaagde toevoeging aan die genre van vertaalde historiese fiksie in Afrikaans. Indien 'n mens dit as 'n tragiese familieroman lees, sal die intrige van die dorpie nog lank in die kop bly meepraat.

 

Tycho Maas

Universiteit van Amsterdam / Universiteit Stellenbosch. Amsterdam / Stellenbosch t.a.j.maas@uva.nl

 

Geraadpleegde bronne

Van Steenberge, Kris. Kris Van Steenberge. www.krisvansteenberge.be.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License