SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2The History of IntimacyVan kant gemaak author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5297 

BOOK REVIEWS

 

Toen met een lijst van nu errond. Herman de Coninck Biografie

 

 

Thomas Eyskens. De Arbeiderspers, 2017. 587pp. ISBN: 978-90-295-1140-7.

"Ik ween om bloemen in de knop gebroken". Dié reël van Willem Kloos kom by my op by die besef van die verlies dat 'n digter soos Herman de Coninck (1944-97) se werk nie in die vroeë jare sewentig in Suid-Afrika behoorlik bekend was nie. Agterna gesien het verskeie jong Afrikaanse digters onbewustelik in hom 'n medestander gehad. Dit geld trouens ook die Nederlandse digters met wie De Coninck sterk bande gehad het soos Rutger Kopland. Dat Daniel Hugo uiteinde-lik sou sorg vir 'n bloemlesing vertalings uit sy werk, Liefde miskien (1997), dien wel as skrale troos.

Om hierdie rede alleen al is Thomas Eyskens se onlangs verskene Toen met een lijst van nu errond. Herman de Coninck Biografie boeiende leesstof.

Eyskens vertel die verhaal van 'n jong digter wat soos so dikwels in die literatuurgeskiedenis 'n moeisame aanloop meegemaak het. Daarteenoor sou De Coninck dié naam word in die Vlaamse poësie teen die einde van die eeu. Die literêre blaaie onder sy redakteurskap in die Nieuw Wereldtijdschrift en De Morgen het die genre op vele maniere gepromoveer. Verskeie jong digters is deur hom aan die hand geneem op weg na uiteindelike bundeling. Die verkope van sy versamelde gedigte wat 'n jaar ná sy dood verskyn, sou met die verskyning van die 19de druk in 1997 al 50 000 eksemplare beloop.

'n Belangrike baken is Lionel Deflo se poging om in die vroeë jare sewentig die jongste ontwikkelinge onder een noemer te bring: die "Nieuw-realistische poëzie in Vlaanderen". Die kritikus Hugo Brems sou hierdie tendens later soos volg in sy Altijd weer vogels die nesten beginnen omskryf: "gedichten waarin een helder en communicatief taalgebruik in dienst stond van maatschappijkritiek, waarin alledaagse tafereeltjes werden geschetst of waarin op een speelse manier omgegaan werd met wrijvingen tussen taal en werkelijkheid" (330). Die jong De Coninck is hier volledig deel van en plaas die klem op 'n poging om kommunikatief te wees in teenkanting van die "experimentelen" wat lesers met hul verwikkelde verse afgeskrik het. Hy skryf aan Deflo dat dit nie vir hom saakmaak waaroor poësie gaan nie: "Maar ze kan het tenminste allemaal proberen op een verstaanbare manier te zijn. En daarom juich ik de historische invloed van het nieuw-realisme toe" (Brems 331).

Eyskens bring sy biografielesers telkens op 'n helder wyse terug by die ontwikkeling van die poëtika wat De Coninck se werk onderlê en steeds geld in sy vele opstelle oor hierdie genre.

Hy toon aan hoe De Coninck hom reeds as student uitspreek teen die "overdaad aan beelden" in die "experimentele" poësie van die Nederlandse en Vlaamse Vijftigers en standpunt inneem "voor het gebruik van een lenige en hartstochtelijke spreektaal zoals hij die onder andere terugvond bij Marthinus Nijhoff". En verder: "Ook het credo van Hermans toekomstige poëzie zit er al in verwerkt: gevoelens zo naakt mogelijk weergeven" (106).

Hierdie ontwikkeling roep ook wel sterk weerstand op teenoor "dat onding dat 'nieuw-realistische poëzie' schijnt te heten". Dit sou "in wezen een truc en e en s tuk cam o uflage" wees "om het ten hemel schreiende gebrek aan talent te verbergen". (197). De Coninck wys uiteindelik daarop dat hy op sy beurt gekant is teen die epigone van die "experimentelen": "die vonden op den duur al dat moeilijke geschrijf enorm gemakkelijk". Hy besluit: "Ik heb daar de slogan aan overgehouden: moeilijk schrijven is gemakkelijk. En omgekeerd is gemakkelijk schrijven een van de moeilijkste dingen die er zijn" (197).

Dit bring noodwendig die verhouding tussen poësie en werklikheid ter sprake. Eyskens toon aan dat De Coninck as student-kritikus al meen (na aanleiding van 'n gedig van Remco Campert) dat "poëzie verder moet gaan dan alleen maar de werkelijkheid bij te kleuren. Poëzie moet ook inwerken op de werkelijkheid, moet de werkelijkheid aanvaardbaar maken om in te kunnen leven. 'Dichten is werken, de wereld veranderen'". (164) Hy haal in dié opsig aan uit De Coninck se gedig uit 1966 "Zo is hier elke dag: de bloemen":

En even sterk zijn hier de dichters.

Hun stevige beelden bewerken de realiteit

als boeren het land,

een hele werkelijkheid kunnen zij

in hun armen dragen.

Eyskens noem verderaan: "Het was volgens Herman een illusie om te denken dat poëzie de werkelijkheid kan representeren, want dichters bewerken de werkelijkheid voortdurend met woordspelingen, beelden en klankeffecten" (194).

Verhelderend in dié opsig is ook De Coninck se uitsprake oor die weergee van gevoelens: "Poëzie is het overstijgen van ervaringen en gevoelens, niet het weergeven ervan" (194). Wanneer hy teen die einde van sy lewe optree as gasdosent in Groningen kom hy terug op die kwessie van ontroering. Die aanleiding is sy gedig "Shoah" wat hy uiteindelik weggelaat het uit sy laaste bundel, Enkelvoud. In die gedig gebruik hy die wegvoer van Jode tydens die Tweede Wereldoorlog na vernietigingskampe as metafoor. "Een van de wetten van de ontroering is dat je het drama kleiner moet maken dan het is, dat is altijd sympathiek." Die omgekeerde lei eerder tot verleentheid: "Ontroering in de poëzie is pure woordberekening. Maar soms reken je verkeerd" (401).

Eyskens laat in die loop van die biografie dus sien hoe die digter ontwikkel het tot 'n heel bewuste vakman.

Beginnende digters sou hulle ook wel kan troos aan die opdraande stryd van die jong De Coninck om uiteindelik gepubliseer te word. Wanneer hy in die jare sestig 'n aantal gedigte voorlê by die interuniversitêre blad Ruimte, word d it deur die bank geweier. Eyskens noem: "Een ervan was 'je ogen na geween', de oerversie van wat later Hermans bekendste gedicht zou worden, 'Verjaardagsvers'" (107). Daarna sal dié gedig ook eers nog afgewys word deur Dietse Warande & Belfort!

Eyskens se biografie is uiteindelik die verhaal nie slegs van die lotgevalle van 'n individuele digter nie, maar van 'n hele generasie, van reaksie en aksie in die geskiedenis van die "land der letteren".

 

Wium van Zyl

Universiteit van Wes-Kaapland. Bellville. wvanzyl@uwc.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License