SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 número2Reviews índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 no.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5420 

BOOK REVIEWS

 

The History of Intimacy

 

 

I

Gabeba Baderoon. Kwela, 2018. 96 pp. ISBN 9780795708886.

Gabeba Baderoon se gedigte ontleed die verskillende posisies van liminaliteite: kindwees; man teenoor vrou; geboorteland teenoor nuwe rusplek; Distrik Ses versus apartheid; Moesliem en Christen

...

In 2004 behaal Baderoon 'n doktorsgraad oor die representasie van Islam in Suid-Afrika. Sy het wyd klasgegee in sowel Europa as in die VSA en tans is sy medeprofessor in Women's, Gender and Sexuality Studies and African Studies aan die Universiteit van Pennsilvanië.

Baderoon se gedigte het my nog altyd bekoor. In 2005 was ek op 'n paneel vir die DaimlerChrysler-prys toe sy die eerste plek behaal het teen 'n hand vol ander digters wat tans hul regmatige plek ingeneem het as digters.

A Hundred Silences het in 2006 eweneens by Kwela verskyn. Ander titels is The Dream in the Next Body en The Museum of Ordinary Life.

Hierdie jongste bundel word opgedra aan haar moeder: "Groundbreaker, Healer, Muse". Oor die moeder en digterlike taal, dink 'n mens onmiddellik aan Julia Kristeva se Desire in Language (1980) en die semiotiek: die moederfiguur is 'n ambivalente figuur in die vroulike onbewuste: een wat die digter wil uitwis én behou. Trouens, 'n mens sou hierdie hele komplekse bundel kon lees met Kristeva ter hand: Kristeva oor melancholie; Kristeva oor eensaamheid; Kristeva oor die baarmoeder; Kristeva oor bannelingskap; Kristeva oor vrouwees.

By Baderoon is daar 'n voortdurende beweging tussen die wet van die vader en die wet van die moeder, oftewel tussen die simboliese orde en die semiotiese orde. Die eie identiteit, soos afgelees in hierdie bundel, is 'n pynlike een: 'n wegbeweeg van die "law of the mother" en die vader se ontdekking van seksuele betreding (70) saam met die pynlike raspolitiek wat die jong kind ervaar het. Dit word pakkend weergegee in "The History of Intimacy" (66). Deur oor die moeder se ervaring van die ongelykhede te skryf (sy word hier 'n buikspreker vir die moeder), word 'n hele gemeenskap se ervaring weergegee. Sy bely: "Since the beginning, you have been breath, / and poetry" (67).

"The Law of the Mother" (70) handel oor verlies aan maagdelikheid (op 'n wrede manier) met die sosiale en psigologiese implikasies wat dit inhou vir vroue. Hierdie sterk gedig analiseer die volledige implikasies van die betreding (met 'n slim toespeling op Thelma and Louise). Die terapiesessie maak haar bewus van die gebrokenheid van die liggaam:

that 'broken' is a boundary

and the body is time

as well as place.

II

In "Answering" (69) word raspolitiek en genderpolitiek saamgesnoer. Identiteit is immers altyd 'n samesnoering van ras, klas en gender. Hier in 'n werksonder-houd word sy deur twee manne ondervra met een wat meen hy haat dit wanneer swart vroue oor die voetoorgang stap asof "hulle" al die tyd in die wêreld het; die ander een vra vir 'n antwoord wat sy nie by die pinko-liberale plek (die Universiteit van Kaapstad) geleer het nie-iets wat hom sal verras. Die gedig eindig so:

I don't get the job and sometimes

think of what he sees, stalled

at the light, metal drumming

beneath his feet, as a woman cuts

across the world, answering

only to herself (69).

Húlle, die twee regsgeleerdes, waar die digter aansoek doen vir 'n werk as sekretaresse (met twee grade) word 'n gedig wat al die gendersake opper via Hélène Cixous (The Laugh of the Medusa, 1975) en June Singer (Androgyny: Toward a New Theory of Sexuality, 1976).

III

Baderoon se gedigte is eweneens fassi-nerend in die "cross over" tussen Engels en Afrikaans. Onder haar verse roer daar dikwels verwysings na die Suid-Afrikaanse kultuur.

Sy voorsien die leser van 'n nuttige glossarium soos nuh (nè), doenya se goete (aardse dinge), ja (yes), sloot en tjorrie.

Die taalaspek van haar bundel is dus iets wat ondersoek moet word: die gebruik van spreektaal uit 'n Afrikaanse en Moesliemkultuur wat ons vind in 'n gedig wat in Engels geskryf is.

"Everything We've Said" (30) bly egter net 'n stelling-dit kon verder gegaan het in die spel tussen tale. "The Blue of the Night Before We Left (39) huiwer om 'n distigon te word.

IV

In "Cardinal Points" (73) word name van mense genoem (Louise, Jane, David) en die leser wonder of hierdie name werklik relevant is vir die gedig se betekenis? Dalk vir hierdie lesers. Robert Lowell het meer gedoen wanneer hy name in gedigte gebruik het sodat die persone argetipiese status verwerf het. Die aan-grypende liefdesgedig "Not You" (90) werk met die inkantatiewe herhaling van "I love" in al sy semantiese duidinge. Die gedig eindig soos volg:

I think poetry is the flood

for the not-you I've prepared for

from the start. (61)

Stilte (silence), tronke, hawestede, oor-gange en dus die posisie van liminaliteit, word telkens vanuit verskillende hoeke belig. "Poetry for Beginners" (9) sal 'n mens nie sommer gou vergeet nie. Hoe iemand iets vra en dit jou terugruk en jou eie aannames oor die digkuns laat ondersoek.

Daar is 'n lange lys van bedankings wat ook 'n bietjie vertonerig is oor al die vererings en besoeke.

In die geheel gesien, is dit 'n ryp bundel waarin die ek-spreker vreesloos skryf oor ongeregtighede. Hierdie leser bewonder veral die beskrywing van liggaamlike betredings. Dit moes ongelooflike moed gekos het om hierdie verse te skryf en uiteindelik te publiseer.

 

Joan Hambidge

Universiteit van Kaapstad. Kaapstad. joan.hambidge@uct.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons