SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue2Queer Africa 2. New StoriesThe History of Intimacy author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.2 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.5298 

BOOK REVIEWS

 

The Keeper of the Kumm

 

 

Sylvia Vollenhoven. Tafelberg, 2016. 3 00 pp. ISBN 9780624063087.

In 'n tyd waar daar gepraat word oor grondonteiening sonder vergoeding, swart ekonomiese bemagting met "African first", word The Keeper of the Kumm deur Sylvia Vollenhoven 'n baie belangrike boek in die geskiedenis van Suid-Afrika. Hierdie outobiografie is nie alleen die weergawe van 'n individu se lewensreis nie, dit is ook 'n geskiedskrywing, 'n vertelling van dit wat verborge gelê het of wat verborge gehou was of miskien nog verborge gehou word.

Die boek begin met die verteller wat hulp soek vir haar ongesteldheid.

Vele besoeke aan dokters en toedien van Westerse medisyne bring geen verandering mee nie en die verteller wend haar tot tradisionele Afrika-medisyne en metodes. Interessant genoeg is die tradisionele dokter 'n wit man, Niall. Die beveel dat sy 'n geestebeswering ondergaan want sy het, "picked up a deathly energy [...] the energy of a dead person, maybe several entities, and that is what is causing the chaos in your life" (14). Ná die Femba-ritueel of geestesbeswering verbeter die gesondheidstoestand van die verteller geleidelik. Wat met haar gebeur het, word vergelyk met wat met die Khoisan god /Kaggen gebeur. /Kaggen herwin weer sy krag ná elke beproewing. Hy word beter deur water te drink en hom te beroep op magiese gelowe soos in die storie van //Kabbo. Die verteller sê voorts: "we have been stripped of our ancestral places and our names. We are largely ignorant of our heritage and true identity. But if we search with open hearts, our rituals and stories can revive us" (288).

Ten spyte van 'n Waarheids- en Versoeningskommissie, een wat deesdae "gebrekkig" genoem word, wil dit voorkom asof die land in 'n afwaartse spiraal beweeg.

Suid-Afrika, 24 jaar ná die koms van demokrasie is ten spyte van vele veranderinge, positiewe ontwikkelinge, steeds 'n rasverdeelde land, geweld-geteisterd en het 'n gaping tussen ryk en arm wat al groter word. Gepaard met hierdie ellendes gaan die vergrype aan staatsgeld en staatskaping. In The Keeper of the Kumm is die verteller se ondervindinge 'n mikrokosmos van wat die groter bevolking in Suid-Afrika gedurende apartheid deurgemaak het. Sy is egter ook 'n baanbreker in sekere gevalle. Haar reis as 'n joernalis neem haar na plekke wat beide soet en suur ondervindinge meebring. Een so 'n geval is haar dekking van die dood van Samora Machel, die eertydse president van Mosambiek wat in 'n vliegongeluk op Suid-Afrikaanse bodem omgekom het. Haar ondervindinge is wat min joernaliste al ervaar het en getuig van 'n passie vir haar beroep. Die gevare wat sy moes navigeer, word in diepte beskryf en is amper ongelooflik gegee die feit dat die gebeure plaasvind in die tyd toe die beleid van apartheid hoogty in Suid-Afrika gevier het.

Die koms van die nuwe Suid-Afrika bring ná die aanvanklike euforie, groot teleurstellings. Die verteller bevind haarself weer in 'n identiteitskrisis ongeag haar identifisering met die Swart Bewussynsbeweging. Sy begin stelselmatig vervreemd voel, nie in staat om haar plek in die demokrasie te vind nie. Haar onverklaarbare siekte het alles te doen met 'n diskoers van uitsluiting wat stelselmatig posvat in die land. Dit is eers wanneer sy die Bleek en Lloyd joernale in die argiewe teëkom dat daar 'n lig opgaan. Haar ontmoeting met //Kabbo begin haar geleidelike herstel.

The Keeper of the Kumm vertel die storie van miljoene ontwortelde Suid-Afrikaners. Omdat die Waarheids- en Versoeningskommissie so gebrekkig was, moes daar meer pogings aangewend word om die effek van hierdie ontworteling te verstaan en die herstel te bewerkstellig. Te min aandag word gegee aan die letsels gelos deur kolonialisme en apartheid aan die wat as "kleurling, gemeng, bruin" bekend gestaan het. Hierdie gemeenskap het op groot skaal rassisme geïnternaliseer en die effek daarvan is akuut deur die verteller beleef. Ongelukkig het die selektiewe onthou van die geskiedenis vele afstammelinge van die inheemse Khoi en San, afstammelinge van die slawe vervreem en kon 'n pad na herstel nie uitgewerk word nie. Die herstel van die verteller is onlosmaaklik verbind aan die onthou van haar ondervindinge, die opgrawe van haar "komvandaan" en die opneem van haar regmatige plek in 'n nuwe Suid-Afrika. Hierdie boek vra vir 'n herbesin oor wie en wat "African" is en aan wie almal die land behoort.

The Keeper of the Kumm is 'n belangrike bydrae tot die Suid-Afrikaanse literatuurerfenis. Dit is 'n tydige "vermaning" dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie op 'n vasgestelde datum begin het nie. Dit is ook 'n bevestiging dat daar verskeie kulture is en dat almal se stories vertel moet word. Die afwaartse spiraal in die Suid-Afrikaanse gemeenskap wat hetsy deur geweld of korrupsie plaasvind, kan ook toegeskryf word aan die "mis-vertel" of die "on-vertel" van Suid-Afrikaanse stories.

By die lees van The Keeper of the Kumm het hierdie resensent weereens besef dat die vertel van stories belangrik is omdat die slagoffer en die werklike dader mekaar in die storie ontmoet. Dit is hier waar "truth and reconciliation" kan plaasvind. Sylvia Vollenhoven skryf aan die einde van die derde deel van die boek:

But the nagging is always there. My friends are Xhosa and black, Nama and black, Venda and black. A richness of identity that speaks in their history. I am just black. BC has rescued me from colouredness but does not contain the potential for an identity linked to my history.

Delving into //Kabbo's story and the Bleek-Lloyd archive has made me understand that my history, my claim to this land lies in moving beyond an amorphous, universal blackness. (241)

The Keeper of the Kumm is tegnies goed geskryf. Die innerlike konflik wat die verteller regdeur die boek ervaar, bring 'n nuuskierigheid in die leser na vore, so ook dan die ontknoping van die verskeie terme van identifikasie wat regdeur die verteller se lewe loop, "Mixed, Coloured, Black, Khoisan". Vir diegene wat met vrae oor identiteit spook en ook vir die wat 'n stukkie Suid-Afrikaanse geskiedenis wil verstaan, sal hierdie boek 'n belangrike toevoeging wees. Ek beveel hierdie boek aan vir alle Suid-Afrikaners in die hoop dat die boek wel in Afrikaans en isiXhosa vertaal sal word.

 

Diana Ferrus

Universiteit van Wes-Kaapland. BellvHle. dferruswriter@gmail.com

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License