SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1Keorapetse Kgotsitsile (1938-2018) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.1 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4384 

REVIEW ARTICLES

 

'n ope brief aan Dorian Gray en 'n peiling van die Afrikaanse resensiebedryf

 

 

Neil Cochrane

Verbonde aan die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria. E-pos: cochrn1@unisa.ac.za

 

 


ABSTRACT

The young Afrikaans poet, Ruan Fourie, published his debut volume of poetry, 'n ope brief aan Dorian Gray, (An open letter to Dorian Gray) in 2017. Fourie's debut received predominantly negative reviews from Afrikaans critics. A review by Afrikaans critic, Tom Gouws, was particularly destructive and transgressed acceptable professional standards. This example of destructive criticism is scrutinized in relation to similar transgressions in Afrikaans book reviews. In addition, a comparable Irish case study and theoretical viewpoints by C. J. van Rees and Susanne Janssen are considered to provide a nuanced perspective on current practices in Afrikaans literary criticism. The article also focuses on the responses of Bernard Odendaal and Lina Spies to Fourie's poetry to provide a critical and independent opinion on aspects such as publishing decisions, mentorship, manuscript development and editorial mentorship. The last part of the article consists of a substantiated evaluation of 'n ope brief aan Dorian Gray. It is concluded that despite evidence of creative talent, there are too many shortcomings due to questionable editorial mentorship and impetuous publishing decisions.

Keywords: literary criticism, Afrikaans poetry, book reviewing, Ruan Fourie, literary mentorship.


 

 

'n ope brief aan Dorian Gray and an assessment of book reviewing practice in Afrikaans

'n ope brief aan Dorian Gray

Ruan Fourie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2017. 75 pp. ISBN: 978-1-4853-0747-1.

Die jong digter, Ruan Fourie, se debuutbundel, 'n ope brief aan Dorian Gray, is taamlik lou en selfs swak ontvang deur die meeste kritici. Resensies van Marius Crous op Versindaba en Nini Bennett op LitNet beklemtoon min of meer dieselfde gebreke, alhoewel Crous minder negatief is as Bennett. Joan Hambidge oordeel meer positief en verwys na die "baie talent" wat aanwesig is.

Die bundel het ongelukkig ook tot die snedigste "kritiek" in 'n lang tyd gelei. Die resensie van Tom Gouws ("Digter nie teen homself beskerm") wat op 10 Julie 2017 in Volksblad verskyn, is 'n laagtepunt in die Afrikaanse resensiebedryf. Gelukkig het 'n handjievol literatore soos Bernard Odendaal, Hambidge en Daniël Hugo sterk beswaar aangeteken, maar die skade is gedoen. Die probleem lê nie by die besware wat Gouws identifiseer nie, maar by die onsmaaklike en onoortuigende wyse waarop hy sy "argumente" aanbied.

Dit is onaanvaarbaar dat hy hom tot die skatologiese ("Dis suiwer kak.") moes wend om sy misnoeë uit te spreek. Dit is veral die patroniserende toon van die ouer akademikus wat my neurone tot in hul kern irriteer. Dit is lafhartig dat hy woorde in die mond van die ontslape professor A. P. Grové lê. Verder is dit aanmatigend om namens "alle literatuurdosente" (7) te praat. Behoede my en die Afrikaanse let-terkunde as dosente so 'n meerderwaardige houding teenoor hul minderes koester.

Dit is jammer dat Gouws se "tyd en geduld ontbreek" (7) om 'n indringender resensie te skryf, want dit is immers die belangrikste taak van die resensent: om bundels en digters met respek te behandel. Dit beteken dat jy moeite doen en erns maak met die bundel op jou lessenaar. Dit beteken nie 'n lysie van ongemotiveerde gebreke of vae frases soos "veel, veel meer" (7) nie. Beide dui gewoon op laksheid.

Die eendimensionele aard van Gouws se resensie is 'n verdere knelpunt. Dit is iets wat gereeld sy kop uitsteek in Afrikaanse resensies. Ek twyfel of enige boek ooit só goed of só sleg kan wees om 'n algehele lofprysing of vervloeking te regverdig. Al wat skrywers en digters verwag is 'n intelligente oordeel, selfs al is dit negatief. Daniel Mendelsohn som dit goed op in sy artikel "A critic's manifesto" (2015) wat in The New Yorker verskyn: "The intelligent negative review, indeed, does its own kind of honor to artists: serious artists, in my experience, want only to be reviewed intelligently, rather than showed with vacuous raves - not least, because serious artists learn from serious reviews."

Ek wil nie in die strik beland om resensies te resenseer nie, want hierdie vakature is reeds deur Crito gevul. Elke week plaas die resensie-resensent, Crito, op sy/haar LiíNeí-blog getrou sy/haar indrukke oor die jongste resensies wat oor Afrikaanse boeke verskyn. Daar is min sprake dat Crito ooit die boeke lees wat geresenseer word, aangesien die fokus eerder op subjektiewe uitsprake oor die gehalte van resensies val. Derhalwe bied hy/sy nie werklik vir die potensiële leser enige aanvullende perspektief op nuwe Afrikaanse publikasies nie.

Dit laat vrae ontstaan oor die doel van Crito se saai onderneming, want wie stel regtig belang of 'n resensie aan Crito se norme voldoen? Dit is elkeen se goeie reg om te blog of nie te blog nie en geen voorskrifte bestaan waaroor mense mag blog nie. Dit kan strek van Bengaalse tiere tot pottebakkery, maar kriptiese bloginskrywings van 'n selfaangestelde resensiewaghond dra min tot vitale boekgesprekke by.

Literêre smeerveldtogte, persoonlike aanvalle en wraakgedagtes dra nog minder tot die bevordering van die letterkunde by. Die Gouws-resensie oor die Fourie-bundel is allermins die eerste voorbeeld van sarkasme en nydigheid in die Afrikaanse letterkunde. Dit het al dikwels gebeur dat Afrikaanse boekresensente die pers gebruik om persoonlike gevegte te loods. 'n Skreiende voorbeeld is die saak Du Plessis versus Hambidge wat uit 1991 dateer. In Phil du Plessis se resensie oor Hambidge se bundel, Die verlore simbool (1991), raak hy die volgende kwyt: "Tensy Joan Hambidge haar literator(?)trise-skap en haar neurotiese woede beter kan integreer, gaan haar poësie nog lank ly. So ook die leser, wat maklik wil weghol soos van 'n kwylende, dol teef." (6) Du Plessis se resensie is voorafgegaan deur 'n uitspraak van Hambidge in die vermaakbylae, Kalender, 'n maand of wat vantevore waarin sy Du Plessis beskryf as 'n "minor-minor-minor-poet". Dit is uit dié gegewens duidelik wat hier gebeur-'n moddergooiery in die pers.

Hambidge het in die 1990's 'n weeklikse rubriek, Op my literêre sofa, vir Beeld behartig. Haar rubriek is veral gekenmerk deur polemiese uitsprake oor literêre sake en gedurende haar redelike lang sitting op haar sofa het sy 'n hele paar publikasies tot literêre rampgebiede verklaar. Dit het dan gelei tot vermanende lesersbriewe van die verontregte skrywers en hul vriende met opskrifte soos "Joan moet ophou met haar private vetes" (Toerien 3) en "Joan hou haar nie aan reels van welvoeglikheid" (Scheepers 8).

'n Onderskeid is nodig tussen histeriese reaksies op billike kritiek en wettige besware teen onbilike kritiek. Soms is skrywers se velle te dun of kritici se wraaksugtige ego's te groot. Hierbenewens bestaan daar beslis iets soos blatante misinterpretasie. 'n Goeie voorbeeld is Ampie Coetzee se resensie van Johann de Lange se bundel Die algebra van nood (2009) wat op 20 April 2008 in Die Burger verskyn. In dié resensie tipeer Coetzee die bundel as "onnoemenswaardig" (11) en wys foutiewelik op De Lange se "verkragting /ontkragting" (11) van Van Wyk Louw. Dit is duidelik dat Coetzee nie besef het dat Van Wyk Louw as een van De Lange se belangrikste literêre vaders figureer nie.

'n Ander geval is Tom Gouws se misinterpretasie van die voorblad van Henning Pieterse se kortverhaalbundel, Omdat ons alles is (1998). In sy resensie wat op 19 Oktober 1998 in Beeld verskyn, verwys hy verkeerdelik na die voorbladillustrasie as "'n pragtige Middeleeuagtige houtsneewerk van 'n Sebastiaan-figuur... (6). Dit is twak, want op die voorblad word die twaalfde kaart van die Tarot, die gehangde man, uitgebeeld soos Pieterse (14), Hambidge (14) en Roodt (10) in hul reaksies op die Gouws-resensie aantoon.

Probleme in die resensiebedryf is nie uniek aan die Afrikaanse letterkunde nie. In 2015 ontstaan 'n herrie in die Ierse resensiebedryf ná Eileen Battersby se snedige resensie van Paul Murray se roman, The Mark and the Void. Na aanleiding hiervan besluit die joernalis, Martin Doyle om 'n verskeidenheid rolspelers oor die volgende kwessies te nader: die eerlikheid van Ierse boekresensente oor die werk van Ierse skrywers binne 'n klein literêre landskap en die hantering van negatiewe kritiek. Die verskillende response verskyn op 16 Julie 2015 in The Irish Times in 'n artikel getiteld "Reviewing Irish books: the good, the bad and the ugly truth."

Daar is 'n aantal redes waarom ek na hierdie artikel verwys. Eerstens vertoon die Ierse en Afrikaanse sisteme 'n aantal ooreenkomste. Beide sisteme is relatief klein en 'n beperkte aantal rolspelers is by resensering betrokke. Dit veroorsaak dat skrywers en resensente mekaar persoonlik ken wat terselfdertyd 'n hoë premie op integriteit plaas. Daar is Ierse kritici soos John Boyne wat uiters pessimisties is oor dié stand van sake:

The truth is, and I know this from experience, you can't even criticise another Irish writer's work any more without being accused of professional jealousy. It's utterly ridiculous, particularly when we live in an era where mediocrity is so celebrated. In my view, books by Irish writers should be reviewed by complete outsiders who have neither axes to grind nor friendships to maintain.

Crous bied in sy bydrae "'n Skalpel vir die vernislaag oor die découpage" 'n uitstekende perspektief op die soortgelyke dilemma van resensentkeuses in die Afrikaanse resensiebedryf. Anders as Boyne is Crous krities oor die voorstel dat kennisse nie mekaar se werk moet resenseer nie: "As ons hierdie maatstaf toepas, mag niemand meer resensies skryf nie, want daar bestaan nie iets soos 'n smettelose, objektiewe tabula rasa as dit kom by die resensiebedryf in Afrikaans nie." (7)

Die tweede rede waarom die artikel van Doyle van belang is, het te make met die reikwydte van die response wat betrek word. Die debakel oor Tom Gouws se resensie van Ruan Fourie se debuut bied 'n goeie vertrekpunt om op soortgelyke wyse uit eie geledere te besin oor kwessies soos integriteit, billikheid en gepaste response op negatiewe kritiek. Dit is alleenlik sinvol indien alle rolspelers (boekeredakteurs, skrywers, uitgewers en resensente) op 'n gekonsolideerde forum tot die gesprek toetree. 'n Paar lesersbriewe hier en daar bied nie voldoende impetus aan dié belangrike debat nie.

Die Gouws-resensie van Ruan Fourie se debuutbundel is 'n bewys dat onvanpaste literêre kaperjolle steeds in die Afrikaanse literêre wêreld aanwesig is. Vir sommige mense beskik haatlike resensies seker oor vermaaklikheidswaarde of dalk is dit 'n manier om tanende lesersgetalle van koerante te verhoog. Dit is ewe grappig as bekende aartsvyande mekaar se werk resenseer. Hoe dit hoegenaamd gebeur, gaan my verstand te bowe. Weet die boekeredakteur dan nie van beter nie? Hierdie punt is ook deur H. P! van Coller geopper in 'n lesersbrief ("Gouws oordeel oor Hambidge hoort nie") wat op 4 Januarie 2017 in Volksblad verskyn.

Dit bly jammer as Afrikaanse boekresensies nie aan basiese voorwaardes soos gebalanseerdheid, nugterheid en professionaliteit voldoen nie. Dit is veral betreur-enswaardig as Afrikaanse boekeblaaie begin lyk soos The Jerry Springer Show. Basta met die "rioolslootkritiek" (6) soos ene Perfidious Albion dit so mooi in Volksblad stel.

In die literêre bedryf gaan dit nie net om waardebepalings oor literêre werke en skrywers nie. Volgens Van Rees (284) staan boekresensente en kritici konstant in 'n mededingende verhouding tot mekaar en ding hul mee om 'n gesaghebbende posisie in 'n literêre gemeenskap. Van Rees (284) verduidelik die tweeledige rol van die kritikus as volg: "a critic not only produces belief in the properties and quality he has assigned to the cultural products he is concerned with; at the same time he aims at producing belief in his own value, that is his status as connoisseur, his ability to assess the properties and quality he deems peculiar to a work."

Indien mens die Gouws-resensie aan bogenoemde twee voorwaardes meet, is dit duidelik dat dit ver te kort skiet. Eerstens oortuig Gouws se resensie nie die leser van die eienskappe en kwaliteit van Fourie se debuutbundel nie, omdat hy nie moeite doen om die bundel behoorlik te bespreek nie. Sy resensie bestaan uit 'n irrelevante buitetekstuele anekdote, ongemotiveerde waardeoordele en 'n uiters oppervlakkige aanduiding van gebreke.

Tweedens bevestig Gouws met sy blatante sarkasme allermins sy waarde, status en vermoë as 'n poësiekenner. Die uiteindelike gevolg is dat medekritici, die digter en poësielesers min waarde aan sy oordeel heg. Gouws se vreemde benadering tot die Fourie-bundel, onderskei hom van ander kritici en ontlok kontroversie, maar dit hou ook 'n wesenlike gevaar vir sy reputasie in en verminder die waarde van sy beoordeling. Die belangrikste rede hiervoor is dat sy beoordeling (en die wyse hoe hy dit formuleer) grootliks verskil van medekritici (Crous, Bennett en Hambidge) se meer gebalanseerde en beskaafde waardeoordele. Dié meganisme word goed deur Janssen (295) opgesom:

Besides, reviewers take into account their colleagues' statements. In the final analysis these constitute the sole test for a reviewer's own statements, the only way he may be proved right or wrong. A critic's recognition as a connoisseur depends to a great extent on the similarity or comparability of his choices and statements to those made by his collegues. In repeatedly taking a dissenting view, a critic risks his status of literary expert.

Die Gouws-resensie dien as 'n soort voorbeeld van onaanvaarbare praktyk. Hopelik sal boekeredakteurs en resensente hul bes probeer om 'n herhaling van die onsmaaklike voorval te voorkom. In dié verband kan hulle 'n paar riglyne in gedagte hou. As 'n boek die resensent om welke rede ook al irriteer, kan hy of sy eerder die boek aan die boekeredakteur terugstuur. Dieselfde riglyn geld as die resensent nie die tyd of energie het om 'n behoorlike resensie te lewer nie. Resensente is veronderstel om etiese standaarde te handhaaf wat onder meer beteken dat hulle botsende belange verklaar. Verder het boekeredakteurs 'n verantwoordelikheid om sover moontlik te verhoed dat swak, wraaksugtige en beledigende resensies verskyn.

Onlangs het Kerneels Breytenbach 'n bruikbare en insiggewende bydrae op Lit-Net gepubliseer getiteld "Hoe om 'n boekresensie te skryf". Ek gaan akkoord met sy raad, maar dink tog dat boekeredakteurs kennis moet dra van die belangrikste vetes en vyande in die literêre wêreld. Sodanige kennis sal almal verleentheid spaar, maar Breytenbach het gelyk dat boekeredakteurs ook nie alwetend is nie: "Boekeredakteurs kan onmoontlik op hoogte wees van alle heersende vetes in die skrywerswêreld. Resensente moet liefs belange verklaar wanneer hulle genader word. As die boekeredakteur dan nog vir hulle kans sien, rus daar op hulle die verpligting om daardie belange nie te bevorder nie."

Ek sluit hierdie komponent van my resensie-artikel af met wyse raad van Uys Krige. Dit is uit 'n brief wat Krige in 1934 uit Spanje aan sy broer, Bokkie, skryf. In die brief bied Krige met verwysing na Roy Campbell 'n goeie perspektief op die invloed van onbillike kritiek op die digter:

Soos Roy sê, daar is niks wat die ware digter meer op prys stel nie as net opreg, intelligente, opbouende kritiek, hoe streng en onverbiddellik dit ook mag wees! Maar as die minderwaardigheid van die kritikus sonneklaar uit elke sin en frase van hom spreek, en hy boonop nog kwaadwillig en met opset die werk waaraan jou liefde en opoffering, al die gawes wat jy mag hê van hart en verstand met geloof en hoop en volharding maande- en jare lank gewy het, verkeerd en verdraaid voorstel-wanneer, sê ek, hy met 'n paar haastige strepies van die pen dogmaties en nadruklik jou alle talent of begaafdheid weier en ontsê-dan, meen ek, is dit hoogtyd om van jou ledekant op te staan en met een hou, meedoënloos, daardie swaap-kop te verbrysel... (343)

In die volgende deel van hierdie bydrae verskuif die fokus na mentorskap en die rol van uitgewers. In my betoog gebruik ek Ruan Fourie se debuutbundel as aanknop-ingspunt. In die slotgedeelte van dié resensie-artikel kom my beoordeling van 'n ope brief aan Dorian Gray ter sprake.

In sy repliek op die Gouws-resensie "Moes ek digter só teen homself beskerm?" (13) probeer Odendaal 'n korrektief bied op die oneerbiedige resensie van Gouws. Dit is goed dat hy gereageer het, maar ongelukkig verval sy respons grootliks in the professor doth protest too much-retoriek. Dit gaan te veel om selfverontskuldiging en irrelevante verskonings wat hy namens Fourie aanbied. Ek weet steeds nie wat die diefstal van Fourie se rekenaar met die uiteindelike kwaliteit van die gepubliseerde bundel te doen het nie. Die Afrikaanse poësieleser betaal baie geld om boeke aan te skaf en resensente spandeer baie tyd om publikasies vir lesers in perspektief te plaas. Lesers en resensente stel werklik nie belang in die tragedies agter die skerms nie, hulle is slegs geïnteresseerd in die finale produk op die winkelrak.

Miskien moet studente tydens formele en informele kreatiewe skryfprogramme beter mentorskap ontvang oor die afronding van bundelmanuskripte. 'n Manuskrip wat ingedien word vir die doeleindes van 'n formele kwalifikasie in Kreatiewe Skryf-kuns is nie noodwendig gelykstaande aan 'n voorlegging aan 'n uitgewer nie. Dit is twee verskillende kontekste waarin verskillende maatstawwe geld. Weldeurdagte dade en denke is op almal van toepassing wat oorweeg om 'n bundelmanuskrip aan 'n uitgewer voor te lê of jy nou Kreatiewe Skryfkuns formeel bestudeer of nie.

Dit is opvallend hoe dikwels debuutbundels kort ná die voltooiing van akade-miese programme in Kreatiewe Skryfkuns verskyn. Sommige van hierdie bundels is uitstekend en vernuwend (die debute van Loftus Marais, Bibi Slippers, Hennie Nortjé en Fourie Botha is goeie voorbeelde), terwyl ander minder indrukwekkend is. Ek is oortuig dat die swakkeres beter sou wees indien groter geduld en indrin-gerder skaafwerk aan die dag gelê is. Dit is uiteraard tot mentors, graadprogramme en universiteite se voordeel indien afgestudeerde studente so gou moontlik hul digbundels publiseer en veral as hierdie debuutbundels pryse wen, maar haastige honde verbrand soms hul monde.

Spies het gelyk as sy in 'n koerantartikel van 2 Oktober 2017 maan teen Afrikaanse digbundels wat op "die lopende band" (9) verskyn en die "onbesonne publikasie van debuutbundels" (9). Sy is verder van mening dat Odendaal sy student "ferm, maar vriendelik" (9) op die gebreke in sy digkuns moes wys. Die implikasie is dat Odendaal as mentor medeverantwoordelik is vir die gebreke in Ruan Fourie se debuutbundel. Dit is gewoon nie 'n billike taksering nie. As dit geldig is, sal alle dosente wêreldwyd voor stok kom indien hulle afgestudeerde studente in die arbeidsmark misluk.

Ek stem saam met Spies dat mentors 'n groot aandeel het in die vorming van jong digters, maar dit is steeds die student se keuse of hy wil ag slaan op voorstelle en vermanings. Dit is en bly steeds Ruan Fourie se werk en nie Bernard Odendaal s'n nie. As die afgestudeerde of huidige student op eie houtjie sy onafgeronde verse aan 'n uitgewer voorlê, is dit ongetwyfeld nie die mentor se skuld nie. Ruan Fourie het self besluit om sy werk aan 'n uitgewer voor te lê wat dit toe gepubliseer het. Ek is oortuig dat Odendaal goeie mentorskap aan Fourie gebied het. Swak leermeesterskap deur Odendaal is nie die oorsaak van ooglopende gebreke in Fourie se debuutbundel nie, alhoewel oorhaastigheid en gebrekkige redaksionele mentorskap van uitgewerskant wel 'n rol speel. Dit is presies waarteen T. S. Eliot waarsku in sy toespraak voor die Society of Young Publishers in 1952. Hy identifiseer twee kernprobleme in die uitgewer-digterverhouding:

The first is to dissuade a poet from wanting to publish too soon: before he has enough good poems for a volume without putting in inferior poems. The other is to prevent a poet from wanting to publish too often. The saturation point of the market for poetry, for poetry even by a very well-known poet, is low. It does even a good poet harm to bring out his volumes in rapid succession.

In Erika Terblanche se profiel oor Wilma Stockenstrõm op LitNet sluit sy sêgoed van Stockenström in. In een van haar uitsprake wat oorspronklik in 'n 1988-uitgawe van Die Suid-Afrikaan verskyn, bied Stockenström 'n meer satiriese perspektief op haastige publikasiebesluite: Afrikaanse skrywers, dink ek, tref dit so gelukkig. Hier is baie uitgewers vir 'n klein taaltjie. Ons digters! Hemel, jy hoef net 'n gedig te poep, dan word hy uitgegee." Alhoewel beide Eliot en Stockenstrõm se uitsprake lank gelede gemaak is, bly hulle menings relevant vir Afrikaanse digters vandag. Daar verskyn jaarliks 'n goeie oes Afrikaanse digbundels ten spyte van 'n klein leserspubliek en bedenklike winsgrense. Die kwaliteit van bundels bly wisselvallig en dikwels is 'n groter aanbod van swakker verse aanwesig. Die rede hiervoor is waarskynlik oor-haastige publikasie.

Dit bly jammer dat Fourie oorhaastig was met die uitgee van sy bundel. My spyt gaan nie om 'n onderdrukking of ontkenning van sy talent nie, maar juis die teenoorgestelde. Ek is vas oortuig dat Fourie baie kon baat by terugvoering van kritieser lesers (nie net vriende, Instagram-ondersteuners en kollegas nie) en 'n in-tensiewer ontginning van beskikbare toetsterreine. Het hy ooit gedigte voorgelê vir NB-Uitgewers se Nuwe stemme-reeks? Sterk debutante soos Ilse van Staden, Bernard Odendaal, Ronelda Kamfer, Loftus Marais, Hennie Nortjé en Bibi Slippers het almal aanvanklik in Nuwe stemme gepubliseer. Die Nuwe stemme-reeks bied aan opkomende digters die geleentheid om waardevolle terugvoering te ontvang van samestellers, mededigters en die Afrikaanse poësieleser.

Behoorlike manuskripontwikkeling van uitgewerskant, is 'n belangrike faktor in die uiteindelike kwaliteit van debuutwerk. In dié opsig vervul die redakteur 'n sleutelrol in die verbetering van die manuskrip. Dit behels veel meer as tegniese versorging en idees oor hoe om die boek te bemark. Sinvolle manuskripontwik-keling help die digter om ooglopende gebreke te oorkom. Ek sien min bewyse in Fourie se debuutbundel dat intensiewe mentorskap en manuskripontwikkeling plaasgevind het.

'n ope brief aan Dorian Gray is weens verskeie redes 'n onbevredigende debuut, alhoewel dit duidelike tekens van potensiaal vertoon. In Fourie se geval is die vrugte nog nie heeltemal ryp nie.

Die tematiese beperktheid van die bundel is 'n beduidende gebrek. Die verwoording van die liefde is 'n bekende tema in die digkuns, maar dit is eentonig om 'n hele digbundel aan die wel en weë van 'n jeugdige liefdesgeskiedenis te wy. Boonop is die meeste liefdesgedigte so verstandelik en strak dat dit min ontroering by die leser veroorsaak. Die bundel bevat te veel intertekstuele speletjies en poëtiese truuks wat grootliks bydra tot die verlies van 'n eie stem.

Die intertekstuele spel met Oscar Wilde se roman, The picture of Dorian Gray (1890), voldoen nie aan die verwagtinge nie, aangesien die hedonisme, erotiek en sensuali-teit van die oorspronklike teks nie deeglik genoeg neerslag vind nie. Die verplasing van die Victoriaanse era na die Potchefstroomse studentelewe kom geforseerd en pretensieus voor. Die probleem lê nie by die digter se belesenheid nie, want dit is duidelik dat hy oor grondige literêre kennis beskik. Die tekortkoming is dat die talryke motto's, direkte aanhalings en optelfrases in 'n groot mate versiering is wat min bydra om diepgang aan die verse te verleen.

Die liefdesgedigte is dikwels niksseggend, omdat dit oorwegend bestaan uit 'n klomp futlose gedagtes wat lukraak neergepen word, sonder dat dit duidelik is wat die spreker eintlik wil sê. Wat beteken reels soos: "die lewe is tydrowend / en het tyd vir niemand nie." (59) en "daar's dooie blare by my voete en lewendes aan die takke"? (47)

Verder bly die toon in die liefdesverse wroegend en sentimenteel. Die liefde neem kennelik nie vir hierdie spreker 'n duisend vorme aan nie. Dit dwarrel voort "soos die lied van 'n meisie / in haar liefde verlaat."

Die kere wanneer die spreker wel 'n bietjie sensueel verkeer, is dit in die trant van onoortuigende pretensie en oppervlakkigheid: "en spuit saans Coco Mademoiselle / op die kussing wat ek vashou- / sodat dit soos Chanel No5 se flessie geur / tydloos moet word. / van hier kan ek jou olfaktories vlugtig / maar altyd herroep, ma vie en rose." (56)

In 'n gedig soos "die man wat val" (46) tref die spreker verbande tussen 'n reël van Christina Koning uit 1992 en die 9/11-tragedie nege jaar later. Die spreker beskou die reël "It was September, / season of dying falls." as 'n soort voorspelling van die terreuraanval in New York waartydens 'n man na sy dood spring. Hy kom in die slotreël tot die gevolgtrekking dat talige konnotasies niks anders is as "...'n soeke na die einddoel van niks." Hierdie is een van 'n aantal voorbeelde waar die gedig nie bo die vanselfsprekende uitstyg nie. Uiteraard is die spreker se geforseerde juks-taponering van uiteenlopende sake 'n niksseggende onderneming. Dit kom voor asof die spreker iets verhewe sê, maar in der waarheid sê hy niks betekenisvols nie.

Fourie se meer gekondenseerde verse is beter as die langer verhalende gedigte. 'n Goeie voorbeeld is "i. Temperaat" (47) uit die gedigreeks "ekwinoks" (47-8) wat met sterk beelde 'n oortuigende atmosfeer vir liefdestragiek skep:

'n kraai slaap, kou ongegrendel,

langs die volledige werke van Shakespeare

en ek treur terwyl rose in 'n pot

dood kook vir Turkish delight

Ongelukkig verloor die gedig sy trefkrag omdat dit deel vorm van 'n drieledige reeks waarin die spreker onverstaanbare verbande tussen sy liefdesbelewing en die 9/11-tragedie probeer lê. Die drie gedigte (met verskillende datums onder die gedig-titels) sluit op geen logiese wyse bymekaar aan nie. Waarom gedigte wat beter op hul eie sou staan in 'n reeks aanbied? Onsinnighede soos dié frustreer en irriteer lesers.

'n Ander voorbeeld van ondeurdagtheid is die onfunksionele plasing van gedigtitels onderaan gedigte. 'n Verdere stoornis is die flou herdigtings van bekende Ingrid Jonker-verse: "het ek gesoek na die grootpad / om daarlangs terug te vlug, / hier het dit my by Verlies se Halte gebring." (57)

In die gedig, "mens" (63), beïndruk Fourie wel met slim woordspel, bondigheid en funksionele leestekengebruik:

ek is mens

ek is mensgemaak

ek is mens, gemaak

om te verwoes.

'n Ander hoogtepunt is "rigor mortis" (66) aangesien die doodsbeelde en die liefdesverlies assosiatief skakel en die spreker die sentrale metafoor van begin tot einde deurvoer. Die insig waartoe die spreker in die slotstrofe kom, is eenvoudig dog treffend en die woordspel effektief:

met troebel oë

bewonder ek die ingesonke wange,

dink ek terug aan hoe hierdie wese

my meegevoer het

en hoe ek my wêreld laat krimp het

om plek te maak in my

vir die wêreld van 'n ander.

Ongelukkig word die gedig ontsier deur geykte beskrywings soos "troebel oë" en "ingesonke wange". Mooiskrywery is 'n slaggat waarin Fourie dikwels trap. Dit is asof hy te hard probeer om "poëties" te klink en verhewe kunsteoretiese stellings te maak. Hy moet eerder van hierdie lastige donsvere ontslae raak en onbevange dig.

Daar is voorbeelde van sterk beelde, intelligente ontginning van intertekste en kreatiewe taalspel in die bundel, maar die meeste verse is onafgerond. Uiteindelik moet die vers in sy totaliteit as kunswerk slaag. 'n Mooi beeld hier of 'n vernuftige woordkeuse daar beteken nog lank nie 'n geslaagde gedig nie. Dit is immers die geheelindruk waarin die meeste kritici en lesers belangstel.

Dalk kan Fourie ook ag slaan op die bevrydende woorde van Nellie Forbush in South Pacific: "I'm gonna wash that man right outa my hair, and send him on his way." Goeie digters lees en het lief, maar hulle sprei ook hul vlerke om nuwe horisonne te ontdek.

Die verskyning van 'n ope brief aan Dorian Gray het weens verkeerde redes aandag getrek. Dit is 'n bundel wat soveel beter sou wees mits strenger selfkritiek en fermer redaksionele mentorskap toegepas is. Dié twee gebreke het Ruan Fourie verhinder om sy aantoonbare digtalent, literêre bevoegdheid en kreatiewe gawes oortuigend aan te wend. Hopelik sal Tom Gouws se onbenydenswaardige "kritiek" hom nie verhinder om sy digterskap te ontwikkel en 'n meer afgeronde tweede bundel uit te gee nie.

Die slotbeskouing oor die Gouws-resensie is gewoon die volgende: resensente en boekeredakteurs moet hulle distansieer van destruktiewe kritiek, want hulle speel 'n sleutelrol om integriteit en professionaliteit in die Afrikaanse resensiebedryf te bevorder.

My beoordeling van Ruan Fourie se debuutbundel sluit aan en verskil van Crous, Bennett en Hambidge se beskouings. Dit is grootliks 'n bykomende betekenis wat ek toeken of produseer. In Criticism and Truth (1966) merk Roland Barthes die volgende op: "Criticism is not science. Science deals with meanings, criticism produces them." (79) Ongeag die toekenning van verskillende en grootliks negatiewe betekenisse aan n ope brief aan Dorian Gray is die digter en sy werk byna deur die bank met respek behandel. Ongelukkig is dié uitspraak nie op Gouws van toepassing nie.

Gelukkig bestaan daar ook selfstandige response van lesers. 'n Goeie voorbeeld is Gedigteleser van Kuilsrivier wat as volg op Fourie se bundel reageer:

En toe gaan haal ek Gouws se eie debuutbundel uit die rak, Diaspora (1990), blaai dit deur en wonder hoeveel lesers dit lees en byvoorbeeld 'n gedig soos "aarsspieël" waardeer.

En toe lees ek weer Fourie se bundel deur en dink: Dalk het Gouws die gedigte byna net so vinnig deurgelees soos Grové die "stapeltjie gedigte".

Want ek dink Fourie se bundel moet gekoop en gelees word, veral deur jong mense, want hulle sal aanklank vind by gedigte soos "ekwinoks" (bl. 47-48), "Marina Joyce" (bl. 55), "que sera sera" (bl. 59), "mens" (bl. 63) en "typo" (bl. 70)-om 'n paar te noem. (11)

Dit is ingeligte en intelligente lesers soos dié wat resensente en boekeredakteurs in gedagte moet hou, want boekliefhebbers se opinies dra miskien die grootste gewig. Baie van hulle bespreek daagliks ywerig Afrikaanse boeke by leeskringe en boekfeeste dwarsoor die land.

Ten slotte wil ek 'n voorstel aan leeskringe maak: plaas 'n ope brief aan Dorian Gray op julle leeslyste, sodat lojale lesers ook aan die debat hieroor kan deelneem.

 

Geraadpleegde bronne

Albion, Perfidious. "Resensent moet van eie resensie gered word." Volksblad. 17 Jul. 2017, p. 6.         [ Links ]

Barthes, Roland. Criticism and Truth. Trans. K. P Keuneman. Athlone, 1966.         [ Links ]

Bennett, Nini. "'n Ope brief aan Dorian Gray deur Ruan Fourie: 'n resensie." LitNet. 12 Sep. 2017. www.litnet.co.za/n-ope-brief-aan-dorian-gray-deur-ruan-fourie-n-resensie/.         [ Links ]

Breytenbach, Kerneels. "Hoe om 'n boekresensie te skryf." LitNet. 23 Nov. 2017. www.litnet.co.za/hoe-om-n-boekresensie-te-skryf/.         [ Links ]

Coetzee, Ampie. "Onnoemenswaardig." Die Burger. 20 April 2009, p. 11.         [ Links ]

Crous, Marius. "'n Skalpel vir die vernislaag oor die découpage." Beeld. 23 Jan. 2017, p. 7.         [ Links ]

_. "Resensie: 'n ope brief aan Dorian Gray (Ruan Fourie)." Versindaba. 20 Jun. 2017. www.versindaba.co.za/2017/06/20/resensie-n-ope-brief-aan-dorian-gray-ruan-fourie/.         [ Links ]

Doyle, Martin. "Reviewing Irish books: the good, the bad and the ugly truth." The Irish Times. 16 Jul. 2015. www.irishtimes.com/culture/books/reviewing-irish-books-the-good-the-bad-and-the-ugly-truth-1.2287224.         [ Links ]

Du Plessis, Phil. "'n Mens wil weghol soos van 'n kwylende, dol teef." Beeld. 15 Aug. 1991, p. 6.         [ Links ]

Eliot, T.S. "The Publishing of Poetry." (herdruk in The Bookseller). 6 Des. 1952. www.tseliot.com/editorials/eliot-on-the-publishing-of-poetry.         [ Links ]

Fourie, Ruan. 'n ope brief aan Dorian Gray. Protea Boekhuis, 2017.         [ Links ]

Gedigleser. "Fourie se bundel moet gekoop en gelees word." Die Burger. 15 Jul. 2017, p. 11.         [ Links ]

Gouws, Tom. "Briljante debuut met pynlike woordwonde." Beeld. 19 Okt. 1998, p. 6.         [ Links ]

_. "Digter nie teen homself beskerm." Volksblad. 10 Jul. 2017, p. 7.         [ Links ]

Hambidge Joan. "Op my literêre sofa". Kalender, 27 Jun. 1991, p. 4.         [ Links ]

_. "Gouws lees homself, nie verhale." Beeld. 21 Okt. 1998, p. 14.         [ Links ]

_. "Resensie Ruan Fourie-'n ope brief aan Dorian Gray." Woorde wat weeg. 28 Jun. 2017. http://joanhambidge.blogspot.co.za/2017/06/resensie-ruan-fourie-n-ope-brief-aan.html.         [ Links ]

__. "Polemies - Orakel Gouws." Woorde wat weeg. 12 Jul 2017. http://joanhambidge.blogspot.co.za/2017/07/polemies-orakel-gouws.html.         [ Links ]

Hugo, Daniel. "Beskerm resensent teen homself." Die Burger. 13 Jul. 2017, p. 18.         [ Links ]

Janssen, Susanne. "Reviewing as social practice: Institutional constraints on critics' attention for contemporary fiction." Poetics vol. 24, 1997, pp. 275-97.         [ Links ]

Krige, Uys. Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje. Red. Peet van Aarde. Hemel & See Boeke, 2010.         [ Links ]

Mendelsohn, Daniel. "A critic's manifesto." The New Yorker. 28 Aug. 2012. www.newyorker.com/books/page-turner/a-critics-manifesto.         [ Links ]

Odendaal, Bernard. "Moes ek digter só teen homself beskerm?" Die Burger. 24 Jul. 2017, p. 13.         [ Links ]

Pieterse, Henning. "Skrywer 'werp' hom in swembad oor resensie." Beeld. 21 Okt. 1998, p. 14.         [ Links ]

Roodt, P H. "Kan 'nuwe mens' lieg oor boek, geen berou toon?" Beeld. 11 Nov. 1998, p. 10.         [ Links ]

Terblanche, Erika. "Wilma Stockenstrõm (1933-) Sêgoed van Wilma Stockenstrõm." LitNet. 23 Jul. 2015. www.litnet.co.za/wilma-stockenstr-m-1933/        [ Links ]

Scheepers, Riana. "Joan hou haar nie aan die reels van welvoeglikheid." Beeld. 3 Augustus 1995, p. 8.         [ Links ]

Spies, Lina. "Digbundels verskyn op die 'lopende band.' Die Burger. 2 Okt. 2017, p. 9.         [ Links ]

Toerien, Barend. "Joan moet ophou met haar private vetes." Beeld. 15 Jul. 1991, p. 3.         [ Links ]

Van Coller, H. P "Gouws oordeel oor Hambidge bundel hoort nie." Volksblad. 4 Jan. 2017, p. 6.         [ Links ]

Van Rees, C. J. "How reviewers reach consensus on the value of literary works." Poetics vol. 16, 1987, pp. 275-94.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License