SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.55 issue1Sol T. Plaatje's paremiological quest: A common humanity in cultural diversityKeorapetse Kgotsitsile (1938-2018) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.55 n.1 Pretoria  2018

http://dx.doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i1.4620 

TRIBUTES
HULDEBLYK

 

R. E. van der Ross (1921-2017)

 

 

Hein Willemse

'N professor in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit van Pretoria en die eerste bekleêr van die Leerstoel Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij aan die Universiteit Gent, België. E-pos: hein.willemse@up.ac.za

 

 

 

Sedert sy jeug het Richard Ernest van der Ross (1921-2017) 'n belangrike rol in die breê Kaapse gemeenskap gespeel. Hy het hom onderskei as 'n anti-apartheidsaktivis, 'n opvoedkundige, 'n geskiedskrywer en openbare intellektueel, 'n vakbondmens, 'n gemeenskapsbouer, 'n maatskappydirekteur en in sy eie woorde: 'n politieke pragmatis. Daar is dikwels gesê dat Van der Ross 'n liberalis was, in die sin dat hy 'n ruimheid van gees en opvatting geopenbaar het wat die vryheid van die individu, gelykheid en die veelvoudigheid van idees vooropgestel het.

Die klassieke liberalis staan krities teenoor regerings en verwag dat hindernisse soos armoede, sosiale beperkings en diskriminasie wat individuele regte aan bande lê, uit die weg geruim moet word. Opeenvolgende koloniale en Suid-Afrikaanse regerings het die ontplooiing van volle menswaardigheid op verskillende maniere en praktyke teengewerk. Waar segregasie op grond van "ras" en klas voor 1948 deur tradisie en konvensie gereêl is, het die na-1948-regerings etnisiteit in apartheidswetgewing gaan verdinglik.

So het die onvaste etniese begrip "Kleurling" byvoorbeeld wetlike beslag gekry. Die moontlikheid van die bereiking van individualiteit soos verwoord deur liberale denkers is oneindig bemoeilik. In teenstelling met liberale denke wat etnisiteit, rasen stamidentiteite ondergeskik aan individualiteit stel, het die Afrikanernasionaliste eersgenoemde kategorieê as die grondslae van hul wêreldbeskouing na die breë Suid-Afrikaanse samelewing deurgevoer. Van der Ross moes vroeg in sy loopbaan, ten spyte van sy intellektuele voorkeur, met 'n onomstootlike feit rekening hou: die breê benoeming "Suid-Afrikaner" wat as 'n sinoniem vir individualisme funksioneer, was eenvoudig nie prakties haalbaar nie. Dit maak nie saak hoe jy jouself definieer nie, in die staat, in wetgewing en elders is jy deur die prisma van rasidentiteit beskou.

Van der Ross, die kleinseun van twee ongeletterde plaasarbeiders, was een van die min mense van gekleurde afkoms wat in die eerste helfte van die 20ste eeu voltyds aan die Universiteit van Kaapstad kon studeer. In 1952 word hy ook die eerste gekleurde persoon om 'n doktorsgraad aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit te behaal. Dit is merkwaardig dat hy in sy familie die tweede universiteitsgeskoolde persoon was. Sy pa, David van der Ross, was een van die eerste bruin mense om 'n graad te behaal aan die Universiteit van Kaapstad, en dus ook in Suid-Afrika. Die twee feite is insigself belangrik omdat universiteitsopvoeding vir gekleurde mense in die eerste vyf dekades van die 20ste eeu nie net moeilik bekombaar was nie, maar ook burokraties belemmer is. Waar 'n persoon wel tersiêre onderrig ontvang het, getuig dit van 'n ongewone deursettingsvermoë en 'n drang tot selfopheffing.

Die gedagte aan selfopheffing deur onderrig en opvoeding, hang nou saam met die nawerking van 19de eeuse Kaapse liberalisme waar die koloniale owerhede politieke gelykheid aan alle "beskaafdes" en 'n klein elite belowe het. Die belofte is nooit gestand gedoen nie en met die verwydering van bruin mense van die gemeenskaplike kiesersrol is dit die nekslag toegedien, aanvanklik in 1951 en finaal in 1956. Die wetgewing en die regering se manipulasie van die parlement was vir die gemeenskap 'n toonbeeld van verraad. Dit is geen verrassing dat Van der Ross juis in hierdie tyd in protesaksies prominent as politieke aktivis op die voorgrond getree het nie.

In die bedompige wêreldjie van die Kaapse bruin elite was die slagordes opgestel tussen die radikale vleuel van die Teachers' League of South Africa (TLSA), die Non-European Unity Movement (NEUM) en hul "Tien Puntplan" enersyds, en die Teachers' Educational and Professional Association (TEPA), die Coloured People's National Union (CPNU) en later die South African Coloured People Organisation (SACPO), 'n assosiaat van die (African National) Congress-beweging en hul "Vryheidshandsves", andersyds. Die TLSA en sy bondgenote het in die openbaar 'n militante houding ingeneem, politieke boikotaksies (teen onder meer die destydse Departement van Kleurlingsake) georganiseer en mense wat nie hulle standpunte gedeel nie, uitgekryt as "meelopers van apartheid" (collaborators en quislings). Hulle rigsnoer was "nie-rassigheid" (miskien korrekter: antirassigheid), gerugsteun deur die 4de Internasionaal en die denke van die Marxistiese teoretikus, Leon Trotski. Op sy beurt het Van der Ross hulle rejectionists genoem (In Our Own Skins 119).

Vir hulle was Van der Ross en kie "Kleurling-nasionaliste" wat "Kleurlingeiesoortigheid" en "Kleurlingskap" (Colouredism) wou bevorder en dus na Verwoerd se pype sou dans. Van der Ross het dié karakterisering verwerp. Sy regverdiging vir sy benadering tot gemeenskapsleierskap was eenvoudig: Sy gemeenskap was op die rand uitgestoot en hulle het kleuridentifikasie sonder stigma in hul organisasies en sportliggame gebruik. "Ek is 'n Kleurling", het hy uitdagend vir die rejectionists gesê, ook in later jare teenoor sy UWK-studente wat dié term totaal verwerp het. TEPA, waarvan hy 'n stigterslid was, het hulle beywer vir samewerking, gesprekvoering en skakeling. In die praktyk het dit dikwels petisies aan die owerhede of pleidooie ter verbetering van hul lede se werksomstandighede en salarisse behels. Dié gematigde politieke benadering het hom ook toegelaat om as 'n onderwysbeplanner in die Departement van Kleurlingsake te werk en later by die afsonderlike politieke bedeling van die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR) betrokke te raak. Hy en andere het die Arbeidersparty opgerig wat aan die verkiesings van die VKR onder die vaandel van "'n stem vir die Arbeiders is 'n stem teen apartheid" deelgeneem het. Vir die duur van die VKR se bestaan, het die party 'n soort stok-in-die-wiel-politiek bedryf.

Pragmatiese besluitneming, die bevordering van die lewensomstandighede van "sy mense" eerder as retoriese militantheid het Van der Ross, volgens sy eie getuienis, aangespreek. Hy was die oprigter-redakteur van die Kaapse koerant, The Cape Herald, betrokke by die bou van huise as projekte van die Build a Better Society (BABS) organisasie, 'n lid van die Erika Theron-kommissie, maar dit is veral in die onderwys-van voorskool tot die universiteitswese en elke fase tussen-in-dat hy sy stempel afgedruk het.

Dit is geen geheim dat die staatsuniversiteite, waaronder die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), opgerig was om geskoolde arbeid te voorsien binne die raamwerk van die apartheidsbeleid nie. Van der Ross se aanstelling as rektor van die UWK in 1975 het onder kontroversiële omstandighede plaasgevind en later het van die konserwatiewe (wit) personeel selfs aktief sy posisie probeer ondermyn. Vandag is dit duidelik dat sy termyn 'n deurslaggewende rol gespeel het in die vestiging van 'n etiek van onafhank-like denke, vryheid van spraak en onbelemmerde toegang tot universiteitstudie van mense uit werkersklasgemeenskappe. Vir hom was die UWK, 'n "Universiteit van die Werkersklas". Met die frase het hy doelbewus aangedui dat hy nie 'n universiteitsbedeling geskoei op grond van ras en kleur ondersteun nie. Vir die grondleggers van apartheidonderwys moes dié gedagte teen hulle verwagtinge ingegaan het, maar Van der Ross het reeds as lid van die Theron-kommissie 'n kernbeginsel van apartheid, naamlik dat die Wes-Kaap 'n Kleurlingvoorkeurgebied is, teengestaan.

Ek het Van der Ross as studenteleier en later as dosent en kollega leer ken. Hy het onder die uiterste provokasie altyd kalm en beredeneerd oorgekom, selfs wanneer sy lewe in wesenlike gevaar was. Dikwels het hy onverskrokke, man-alleen, tussen die onlustepolisie en betogende studente gestaan. Per geleentheid het hy die vernedering van 'n bestokery met eiers tydens 'n oproerige studentevergadering stoïsyns verduur. Sy verdraagsaamheid was in teenstelling met die hardhandigheid waarmee rektore elders (en ook voorheen op die UWK) opstande onderdruk en dikwels vererger het. Ek onthou hoe hy met kalme oorreding die ontbanning van 'n studenteraad of die hantering van verskeie boikotte en opstote van verskillende aard hanteer het. Dit moes nie maklik gewees het nie, en 'n mens van mindere allooi, sou vroeg reeds geknak het.

Eendag was ek deel van 'n afvaardiging wat hom oor een of ander saak moes gaan spreek het. Ons was vasbeslote om ons standpunt so férm moontlik te stel. Sy eerste woorde aan ons in sy kantoor was, "Gentlemen. its been a very long day. Let's have a sundowner, before we start. What will you have? Port? Scotch, ...?" Na 'n rondte drankies het 'n ongekende gemoedelikheid oor ons samesprekings neergedaal. Ons is twee uur later daar weg met minder as wat ons geëis het, en met 'n begrip vir sy situasie en die beskikbare opsies. Ons het toe ook deeglik agtergekom waarom hy die bynaam "Tricky Dicky" gekry het.

Van der Ross was altyd bereid tot gesprek. Selfs al het 'n mens polities grondig met hom verskil en selfs al het van sy politieke keuses vreemd en selfs verdag voorgekom, kon hy beredeneerd sy keuses in gesprek uiteensit en sy gespreksgenote dwing om dieselfde te doen. Ek het oor die jare besondere waardering vir sy oopheid van gees en sy skerp humorsin gekry. Hy het polities en sosiaal 'n middelgrond bestryk wat waarskynlik nader is aan die algemene belewing en verwagtinge van die meerderheid mense met sy agtergrond-'n waarneming wat nóg van die ekstreem-linkse nóg die ekstreem-regse elemente in die Kaapse politiek gesê kan word.

In die dertig jaar sedert sy aftrede as rektor het hy onder meer gedien as 'n lid van die Demokratiese Party in die Wes-Kaapse Wetgewer en as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Spanje. Tussendeur sy bedrywighede het hy ook tyd gemaak om 'n hele aantal boeke die lig te laat sien. Vroeër het hy opvoedkundige handleidings gepubliseer en later gekonsentreer op sy primêre belangstelling: die sosiale geskie-denis en politiek van diegene geklassifiseer as Kleurling: "For the past sixty years and more (met sy dood sou dit byna sewentig jaar wees), I have observed, studied and written about the Coloured people of South Africa. Rightly or wrongly, wisely or misguidedly, accurately or otherwise. I have aired my opinions about the people of whom I am part" (A Blow to the Hoop 178). Onder sy talle publikasies tel Myths and Attitudes-An Inside Look at the Coloured People (1979), The Rise and the Decline of Apartheid (1986), Up from Slavery-Slaves at the Cape (2005), Buy my Flowers! The Story of Strawberry Lane, Constantia (2007), The Black Countess: A Biography (2008), A Blow to the Hoop-The Story of My Life and Times (2010) en In Our Own Skins. A Political History of the Coloured People (2015).

Van der Ross was 'n man met weloortuigde menings wat onteenseglik 'n ryk nalatenskap agterlaat. Hy het talle organisasies gestig, gelei en was op feitlik elke maatskaplike terrein in sy gemeenskap en die breë samelewing betrokke. As 'n in-dividu sou hy in enige nie-diskriminerende gemeenskap uitgestyg het. Hy was 'n demokraat te midde van 'n politieke warspul wat naastes teenoor mekaar opgestel het. Dick van der Ross was in alle opsigte 'n besondere en 'n groot Suid-Afrikaner.

Gent, Belgié

Desember 2017

 

Geraadpleegde bronne

Van der Ross, Dick. A Blow to the Hoop-The Story of My Life and Times. Ampersand, 2010.         [ Links ]

Van der Ross, Richard. In Our Own Skins. A Political History of the Coloured People. Jonathan Ball, 2015.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License