SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (Tweede uitgawe) author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2989 

BOOK REVIEWS

 

Hitler, Verwoerd, Mandela and Me

 

 

Marianne Thamm. Kaapstad: Tafelberg, 2016. 248 pp. ISBN: 9780624075202 (druk); ISBN: 9780624075219 (e-pub).

'n Outobiograf ie is sekerlik die ooglopendste demonstrasie van die proses van selfproduksie: 'n samevatting in skrif van die handvol storielyne wat 'n individu elke dag saamflans in 'n poging om 'n samehangende "ek" op te dis. In dié geval is 'n lewensverhaal geweef om "Marianne Thamm" te skep en aan 'n openbare gehoor aan te bied.

Die skepping wat te voorskyn kom, is nie die van 'n agent van die geskiedenis nie-die onwaarskynlike en onnodig bombastiese titel ten spyt. Eerder is dit 'n geval van 'n begaafde en met tye hoogs vermaaklike skrywer wat haar inner-like rukke en stote probeer lees teen die agtergrond van massale geskiedkundige en politieke omwentelings. Haar teks gee gestalte aan die feministiese standpunt oor die politieke aard van die persoon-like. Die narratief wat te voorskyn kom, is die sterkste wanneer dit 'n postmodernistiese rigting inslaan van 'n "klein storie" wat noodwendig ontsagwekkende afmetings in die subjek se lewe aanneem, want daardie storie is haar lewe. Daarteenoor oortuig die narratief minder wanneer die skrywer die grootse gebeure met historiese ikone-veral Mandela- probeer insluit.

Maar Thamm het iets beet: die magsverhoudinge van 'n bepaalde tydsgewrig bepaal en vorm elke individu, soos uitgedruk in die konsep van subjektivering. Merendeels navigeer sy die ineen-skakeling van die makro en mikro met vernuf en slaag daarin om 'n kragtige en ongewone "gewone storie" te vertel. Omdat haar benadering grootliks 'n introspektiewe sin-maak van die vervlegte verhale van haar ouers en haar eie is, sou daar geen outobiografie sonder besoeke aan pynlike plekke van self-vorming wees nie. Dit doen sy, onbeskroomd en dapper.

'n Narratief ontvou van die dramas van gender, seksualiteit en ras, en hoe hierdie kategorieë se ontplooiing, deur middel van ideologieë, tentakels tot in die diepste skuiltes van die menslike bestaan druk. Sy vertel van haar sosiale vervreemding weens die gender- en seksuele hoeke waarin mense mekaar verf; haar lewenslange stryd om erkenning as volledige mens in die aangesig van die eise waaronder mense gebuk gaan slegs omdat hulle as een of die ander geslag gemerk word.

Thamm neem dit terug na waar dit begin-die primêre bron vanwaar gender en seksualiteit as edikte aanhoudend uitgevaardig word: die familie as sosiale instelling. Spesifiek: die heteropatriargale inhoud van witheid soos dit in intieme mikroruimtes uitspeel. Thamm rafel witheid se nate heeltemal uit en ontbloot die inherente magsdinamiek van ras op 'n toeganklike, skrikwekkende en humoristiese manier wat selfs die mees toegewyde ontkenner van wit bevoordeling moeilik sal kan systap. Sy skryf oor haar pa: "I wondered where he was getting his lowdown on the local political landscape. Like so many white South Africans, the extent of his personal experience of the country was gleaned mostly when running small errands to the local grocery store [...] down the road" (190).

Wat veral aangryp, is die stiltes oor sekere seksualiteite-oor wat uiteindelik blyk die alledaagsheid van die herhaalde ontkenning van haar lesbiese identiteit te wees. Dit is 'n verhaal wat nog te min in hierdie land geskryf is: die seksuele as een van die sentrale dimensies van menswees, wat oor en oor verbloem, herverpak of onderdruk moet word as dit anders as die dominante weergawe is. Sy skryf in verhouding tot haar pa:

Considering his comment that day about throwing homosexuals out of a window, I'd find myself reflexively wincing when a snippet of a discussion, where the word "lesbian" always seemed to be articulated two or three decibels louder than the rest of the conversation, would drift between us. I dreaded my father idly picking up on that ... and hearing directly that he might agree with the homophobes and bigots. In these moments I would try and distract him. (200)

In daardie sin is dit 'n verhaal van stilswyes, waarvan die uitgewer Tafelberg se promosiemateriaal vir die boek ook ongelukkig spreek-of moet mens sê bulder weens die oordonderend luide weglatings. Thamm identifiseer heelpad deur die boek as 'n "lesbiër". Daarteenoor beskryf 'n pamflet wat saam met die boek aan voornemende resensente versprei word haar as "an outspoken gay feminist"-gay, eerder as lesbies. Slaan die boekomslag gade, en daar vind die leser Thamm as "outspoken feminist icon"- nie gay of lesbies nie. (Laat die skrilheid van die trompetgeskal vir 'n oomblik ter syde-dit is betwyfelbaar dat Thamm as ikoon beskryf kan word, maar miskien sal sy dit nou wees, na dese). Die uitgewer het gemeen haar seksualiteit kan nie onmiddellik aan potensiële kopers van die boek verklaar word nie. Dit blyk lesbianisme is steeds 'n skande, of minstens die soort skande wat nie winsgewend van die hand gesit kan word nie.

Saam met die swyes is daar egter ook die potensiële vryheid integraal tot die geheime lewens van lesbiërs: om onsigbaar en onleesbaar te wees in 'n dominante kultuur beteken jy maak jou eie reëls op, wat Thamm raak vasvat en ook vier: "There was and is no blueprint for how to live life as a lesbian and therein lay the freedom. One could move fluidly between worlds while still keeping one's own world private and safe" (195). Maar haar lewe onder die radar van heteronormatiwiteit kom tot 'n einde wanneer sy en haar lewensmaat kinders aanneem.

Tot op daardie oomblik woed haar voortdurende weerstand teen wit hetero-patriargie meestal uit in die intieme ruimte tussen pa en dogter. (Hoe sy haar skryfwerk as joernalis as deel van haar weerstand aanwend, kry verbasend min aandag in die boek.) Gepas, vir 'n wit mens in Suid-Afrika, maak die werking van ras-'n sosiale konstruksie wat, anders as seksualiteit, van die liggaam afgelees word-haar skielik sosiaal sigbaar as lesbiër. Want sy en haar wit lewensmaat saam met twee swart kinders kan net een ding wees: twee lesbiërs in 'n verhouding wat kinders aangeneem het. Die sosiale dissiplinering wat tot dan grootliks in haar familie van herkoms uitgeoefen is, word na openbare ruimtes uitgebrei, weer eens deur middel van afgesaagdhede, ontplooi om die wit vroue "buite beheer" vas te vat. Thamm vang dié soort banaliteite-"wie's die man?"-vrae, ensovoorts-waarmee lesbiërs steeds daagliks gekonfronteer word, met 'n gevatte ruimhartigheid vas, gewortel in 'n stewige politieke bewussyn. Weer eens loop sy ook ras trompop, soos sy probeer sin maak van "swart" kinders en "wit" ouers in 'n rassistiese land en wêreld.

As selfbewuste storieverteller is die einde van die boek, Thamm se saamtrek van die drade van ou en nuwe generasies, te netjies en neig dit selfs na soetsappigheid. Tog, oppad daarheen vertel sy 'n pittige en, paradoksaal, roerende (post-)apartheid-storie van selfverwesenliking deur weerstand, selfondersoek en empatieke begrip vir die ander. Dit is een van die baie stories wat nog vertel moet word om nie net die voortslepende ongeregtighede in ons midde te ontbloot nie, maar ook die vernuwende moontlikhede te laat blom wat so broodnodig is vir die skepping van ons groter self, die ontluikende kollektiewe Suid-Afrikaanse identiteit.

 

Christi van der Westhuizen
Universiteit van Pretoria. Pretoria
christi.vanderwesthuizen@up.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License