SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2LugkasteelHitler, Verwoerd, Mandela and Me author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2988 

BOOK REVIEWS

 

Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis (Tweede uitgawe)

 

 

H. P. van Coller. (red.) Pretoria: Van Schaik, 2015 en 2016. Deel 1: 898 pp. ISBN: 978 0 627 03104 5; Deel 2: 1076 pp. ISBN: 978 0 627 03105 2; Deel 3: 1126 pp. ISBN: 978 0 627 03106 9.

Die tweede uitgawe van Perspektief en profiel: 'n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, onder redaksie van H. P. van Coller, is 'n ensiklopediese werk wat die Afrikaanse literatuur in drie dele histories, tematies en in 'n mate selfs biografies karteer. In detail en diepte: die leser, en veral die leser wat nie self professioneel literator is nie, kan nie anders as om onder die indruk te kom, nie net van die omvang van die Afrikaanse literatuur oor die afgelope eeu of wat nie, maar ook van die diepgang en diversiteit van literêre navorsing hier te lande. Die lys medewerkers is indrukwekkend: ouer én jonger is teenwoordig en selfs die dooies praat nog mee, in hoofstukke wat uit die vorige uitgawe behou is of deur steeds aktiewe literatore bygewerk eerder as vervang is.

Ten spyte van die selfrelativering van die subtitel, is Perspektief en profiel inderdaad op hierdie stadium wel dié Afrikaanse literatuurgeskiedenis. As blote oorsig beskou, en dus as naslaanbron, is dit meer volledig en op datum as enige vergelykbare teks, byvoorbeeld Kannemeyer se Die Afrikaanse Literatuur 1652-2004. Wat periodisering, tematisering en inskatting van literêre bewegings, figure en werke betref, en vir 'n krities-historiese blik op die Afrikaanse literêre veld as sodanig, is dit ook 'n veel meer gebalanseerde, inklusiewe en veral selfrefleksiewe werk as die van Kannemeyer. Benewens oorsigte van die belangrikste tendense en publikasies in die prosa, poësie en drama, word daar ook uitgebreid verslag gedoen oor literêre tydskrifte, kinderliteratuur, die uitgewersbedryf en meer. Belangrik veral is dat 'n bewussyn van die politieke aard van kanonisering as sodanig, en in Afrikaans met sy verdeelde geskiedenis in besonder, deel is van die teoretiese uitgangspunt en metodiek van die werk. Die aard en status van die kanonieke en die proses van kanonisering word vanuit die staanspoor geproblematiseer. Van Coller skryf soos volg in sy "Inleidende opmerkinge":

Dat Perspektief en profiel kanoniserend is, spreek haas vanself. Dat dit bloot 'n bestaande kanon (of bepaalde sosiale groepering se oordele) napraat, word egter ten sterkste ontken. Hier is genoeg teëwigte wat dit verhoed: nie net die poliperspektivistiese aard van hierdie werk nie, maar ook verskeie bydraes oor werke en skrywers wat in die verlede dikwels buite die kanon geval het. (xii)

Toegegee, die oogmerk van hierdie self ref leksie we ingesteldheid is uitbreiding eerder as ondermyning van die Afrikaanse literêre kanon. Dit beteken eerstens die voortgesette bestaan van die buite-kanonieke as literêre fenomeen-'n proses van in- en uitsluiting waaraan daar wel deeglik in Deel 1 aandag gegee word: Hein Willemse se "'n Inleiding tot buitekanonieke Afrikaanse kulturele praktyke", 'n hoofstuk wat die skrywer self 'n "paradoks" (73) noem in die konteks van 'n boek soos hierdie. Tweedens beteken dit dat daar volgens 'n logika van historiese regstelling gewerk word: die skeeftrekkende invloed van ingeskrewe, dikwels geïnstitusionaliseerde politieke vooroordele moet sover moontlik gekorrigeer word (byvoorbeeld die insluiting van meer swart en vroueskrywers), maar dan op 'n manier wat die kanon self as 'n objek van wetenskaplike studie bestendig en inderdaad sover moontlik die uitkoms maak van wetenskaplike proses en konsensus. Alhoewel die kanon dus histories gekontekstualiseer word, word dit nie volledig gehistoriseer nie.

In hierdie opsig is dit relevant om te let op die metodologiese sentraliteit van resepsie-ontleding in ongeveer al die bydraes en ook Van Coller se aandrang op die poliperspektivisme, of meerstemmigheid, van die werk. In beide gevalle dien dit vir Van Coller die oorhoofse doelwit van inkrementele wetenskaplike objektiwiteit, eerder as historiese relativering en fragmentering. Hieroor sal lesers en gebruikers van die boek uiteenlopende opinies hê; die historisiteit van literêre aktiwiteit en oordeel en die wetenskaplikheid al dan nie van literêre studie, en daarmee saam die kwessie van kanonisering, bly 'n bron van teoretiese debat. In 'n boek soos Perspektief en profiel is die beskrywing en opweeg van hoe 'n skrywer se werk oor tyd ontvang en gelees is, wel insiggewend en vir die doel van verdere navorsing baie nuttig. 'n Nadeel van 'n metodologiese klem op resepsie, is dat resepsie-tendense nie self altyd histories en ideologies gekontekstualiseer word nie. 'n Perspektief-hoofstuk oor teoretiese tradisies en metodologiese benaderings in die Afrikaanse literatuurstudie oor tyd heen, sou 'n aanwins gewees het.

Daar is twaalf perspektief-hoofstukke in die drie boekdele, almal van hoogstaande gehalte. Sommige van hierdie perspektiewe is die lengte van volwaardige monografieë en sal waarskynlik vir baie jare standaard-verwysingsbronne bly, vir professionele navorsers sowel as nagraadse studente. Enkeles sou inderdaad ook korter kon wees. Bernard Odendaal se "Die Afrikaanse poësie 1960-2012" in deel 3 is byvoorbeeld meer as 100 bladsye korter as Heinrich Ohlhoff se "Perspektief op die Afrikaanse poësie-Die poësie van voor 1900 tot 1960" in dieselfde band-maar tematiese aanbod en integrasie en minder klem op die bespreking van oeuvres wat reeds in die profiel-hoofstukke onder loep kom, sorg vir 'n hoofstuk wat in alle opsigte net so informatief en insiggewend is as dié van Ohlhoff. Henriette Roos se "'n Perspektief op die Afrikaanse prosa van die twintigste eeu tot 2010" is insgelyks boeklengte, en inderdaad 'n indrukwekkende historiese en politieke kontekstualisering van meer as 'n eeu se Afrikaanse prosa. Maar weereens: die sosiopolitieke agtergrond sou waarskynlik meer ekonomies aangebied kon word. Eerder as 'n beskrywende enumerasie van politieke gebeure, sou 'n meer eksplisiet politiek-teoretiese lens dalk 'n meer gefokusde kontekstualisering tot gevolg gehad het.

Die profiele word alfabeties aangebied en is versprei oor die drie dele. Vars ingesluit in die tweede uitgawe is: Pirow Bekker, I. L. de Villiers, Louis Esterhuizen, Tom Gouws, Koos Kombuis, Deon Meyer, Petra Müller, Welma Odendaal, Dan Sleigh en Eben Venter. Die profiele word gekenmerk deur heelwat variasie wat betref aanbod en lengte. Sommige profiele is grootliks beskrywend. 'n Voorbeeld is Marius Crous se profiel van digter Louis Esterhuizen. Ander is betogend. 'n Voorbeeld is Neil Cochrane se bydrae tot die profiel van Joan Hambidge in deel 2, waarin hy sterk stelling inneem teen "uiters snedige, neerhalende en eendimensionele kritiek" (465) op haar werk. Dan is daar ook profiele waarin eksplisiete en vergelykende waardeoordele gewaag word. G. A. Jooste en Chris N. Van der Merwe oordeel so in deel 3 oor Karel Schoeman: "Die oeuvre van Karel Schoeman is ongeëwenaard in Afrikaans wat diepgang, omvang en reikwydte betref" (602). Die polemiese bly ook nie uit nie. Oor Antjie Krog skryf Tom Gouws in deel 2: "sy doen meer vir die lesbiese en feministiese vers as wat Joan Hambidge in dertien bundels kon regkry (587)". En in die profiel van Koos Prinsloo word daar in deel 2 geskryf: "In 1998 verskyn Riana Scheepers se boek Koos Prinsloo: Die skrywer en sy geskryfdes. Gerrit Olivier se vernietigende kritiek hierop word in 2000 gepubliseer" (1001). Die skrywer van hierdie assessering van die impak van Gerrit Olivier se resensie? Gerrit Olivier.

Dit is jammer dat Van Coller, anders as in die vorige uitgawe van die boek, nie aandui wat die kriteria van in- en uitsluiting was nie-selfs al was sulke kriteria nie rigied toegepas nie. 'n Mens wonder op grond waarvan Eveleen Castelyn geprofileer is, maar nie Dolf van Niekerk, Marlise Joubert of Fanie Olivier nie? Verdien J. C. Steyn 'n profiel op grond van 'n enkele digbundel en 'n reeks prosatekste waarvan die meeste nie-fiksie is, terwyl daar nie profiele oor Gert Vlok Nel met sy invloedryke een bundel en J. C. Kannemeyer met sy reeks biografieë geplaas is nie? So kan 'n mens natuurlik aangaan: lesers se smaak verskil. Ek sou 'n profiel wou sien van Johan van Wyk; en ek dink Charl-Pierre Naudé is gevestig genoeg as digter om ook een te verdien. Dit is 'n lekker speletjie, maar die boek sou wel gebaat het by 'n metodologiese stelling oor hoe keuses gemaak is in hierdie verband.

In sommige gevalle word daar myns insiens te uitvoerig aandag gegee aan die "sekondêre" uitset van skrywers wat eintlik in ander genres gekanoniseer is, met die gevolg 'n soort wanbalans in die boek. Die lang besprekings van Johann de Lange en H. J. Pieterse se kortverhaalbundels (deur Andries Visagie en Heilna du Plooy onderskeidelik) is deeglik en insiggewend, maar verdien hierdie bundels regtig meer ruimte as die individuele bundels van Abraham H. de Vries? Of soveel aandag wanneer 'n skrywer soos Klaas Steytler se roman In die somer van '36 glad nie genoem word nie?

Nie elke profiel bespreek chronologies elkeen van 'n skrywer se werke nie; sommige profiele is meer tematies georganiseer. Verder lys nie elke profiel al die skrywer se werke in die verwysingslys nie. Dit is jammer dat die profiele nie begin of eindig met 'n lys van die skrywer se boeke plus publikasiedatums nie, dalk selfs met vermeldings van literêre pryse en vertalings: dit sou beslis nuttig wees vir die nie-akademiese leser wat die profiele gebruik as bron van inligting oor 'n skrywer.

Die arbeid en liefde wat die publikasie van so 'n monumentale werk moontlik maak, verdwerg egter die meeste voorbehoude en verskille in oordeel en inskatting wat 'n mens sou kon hê. Die debatte waartoe dit sal aanleiding gee, is in elk geval gesond. Die nuwe Perspektief en profiel sal vir baie jare 'n standaardwerk en 'n onontbeerlike verwysingswerk wees-al is die lewenskragtigheid van die Afrikaanse letterkunde tans van so 'n aard dat daar sedert die ter perse gaan en publikasie van hierdie boek in 2015 en 2016 alrééds 'n handvol skrywers is wat realistiese aanspraakmakers is op profiele in 'n volgende uitgawe: Willem Anker, Gilbert Gibson, Harry Kalmer, Danie Marais, Johan Myburg, Ronelda Kamfer, Tertius Kapp ... Om maar net enkeles te noem.

 

Desmond Painter
Universiteit Stellenbosch. Stellenbosch
dpainter@sun.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License