SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Reviews índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 no.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2987 

BOOK REVIEWS

 

Lugkasteel

 

 

Annelie Botes. Kaapstad: Penguin Random House Suid-Afrika, 2016. 280 pp. ISBN 9781770229297 (druk); ISBN 9781770229303 (ePub).

Lugkasteel is Annelie Botes se dertiende boek. Sedert haar debuut wat in 1995 verskyn het, het sy haarself in verskeie genres gevestig. Onderwerpe waaroor sy al geskryf het, sluit in outisme (Raaiselkind, 2001), dobbelverslawing (Trippel Sewe, 1995) asook molestering (Thula Thula, 2009). Sy ontvang ook die ATKV-prys vir gewilde prosa vir Klawervier (1997). Met Lugkasteel plaas sy die soeklig op haar persoonlike selfontdekking, die alewige soeke na groener weivelde en lugkastele wat intuimel. Die boek fokus tog ook op diegene wat sterker aan die ander kant uitkom.

In Sabbatsreis (2007) vertel sy hoe sy in 2004 op 'n vliegtuig klim om 'n ouma, genaamd Granny, vir 'n jaar te gaan oppas. Slegs ses maande nadat sy weer terug by die huis is, gaan sy Engeland toe. Dit is híér waar die reis na Lugkasteel begin. In Engeland is sy die goewernante vir vier onhebbelike adelstandkinders in 'n grillerige en vuil kasteel. Die "lord", soos sy hom noem, is glad nie betrokke nie en die ma is 'n paniekerige en verstrooide asempie wat afgemat is as gevolg van haar vier kinders se gebrek aan dissipline. Verder ly Botes honger en moet sy eiers uit die hoenderhokke steel en skille en hoenderkos eet om aan die lewe te bly. Sy is op die rand om te verkluim en sy moet haar kamer met 'n bonatuurlike wese deel wat snags in die kasteelgange ronddwaal. Maar hierdie Kammanasie-vrou, soos sy na haarself verwys, gee nie sommer moed op nie en toets haar uithouvermoë. Later rig sy 'n ou toegegroeide Mercedes-Benz in as wegkruipplek waar sy kan dink, huil en in haar dagboek skryf. Dit is onvermydelik dat haar lugkasteel intuimel en haar man en seun kom haal haar 'n paar weke later. Dit is egter nie lank nie en sy is weer op pad na haar volgende avontuur.

Botes skryf skreiend eerlik en saam met persoonlike ervaring en goeie navorsing hou sy die leser geboei. Die samevoeging van humor en die onheilspellende verander die boek in veel meer as die verhaal van 'n vrou wat vier stout kinders in 'n kasteel oppas. Sy maak haar lesers deel van die misterie sodat selfs hulle hoendervleis sal kry wanneer sy in die donker gang met die voetboeie en slaghuishake loop met 'n asem wat in haar nek blaas. So ook wanneer sy tot die besef kom dat iemand saam met haar in haar kasteelkamer is en sy Louise, wat reeds oorlede is, se grys vlegsel in die laaikas vind. Karakters wat verder tot hierdie onheilspellende aspek bydrae is Oksana, 'n boomskraap kasteelskoonmaker wat soos 'n blinde gees in die kasteel ronddwaal, asook die misterieuse Witkat wat haar kamer in die aande besoek, maar later spoorloos verdwyn. In 'n onderhoud op LitNet bevestig Botes dat sy sommige van die vreemde gebeurtenisse nie by die boek ingesluit het nie, omdat sy bang was mense dink sy "plak die pap opsetlik dik aan" (Botes en Hugo). Of lesers dink dat hierdie bonatuurlike insidente waar of onwaar is, maak egter nie saak nie, want dié element maak vir 'n lekker-leeservaring wat jou laat soek na meer.

Dit is ook opvallend hoe sy tussen die verlede en hede beweeg en haar tyd by die kasteel met haar lewe vervleg. Haar lewensverhale fokus heelwat op haar tyd as musiekjuffrou in Bedford in die Oos-Kaap. Sy vertel onder andere van Magda Labuschagne wat klavier gespeel het op 'n stuk papier en sy wat Botes is wat dié "klavier" moes stem. Sy vertel ook van die jaar van die vloed toe die gryse, haar man, 'n kind gered het. Haar herinneringe word met 'n humoristiese inslag vertel dat jy nie kan help om te skater van die lag nie. Karakters soos Ernie, die knoffelplanter wat 'n ploeg met sy Cortina-bakkie trek, laat jou krul van die lag asook die insident waar 'n Jack Russel vanaf die kerkgallery op 'n oom val en die oom skree: "Help my, Jirre. Iemand het my met 'n hond gegooi!" (130). Hierdie staaltjies boei die leser, omdat Botes elke verhaal gebruik en dit terugtrek na die onderwerp van selfontdekking.

Die boek handel ook oor Botes se soeke na meer. Dit vind veral aanklank by diegene wat nie glo dat die lewe slegs moet bestaan uit kinders grootmaak en huisskoonmaak nie. Met die lees van die boek wonder die leser voortdurend hoekom sy dit aan haarself doen, maar dit gaan oor soveel meer as net sý wat na groener weiveld soek. Hieroor sê sy: "[a]l pak ons nie ons soetkyste en val in die wapad nie, bly dit iewers in die holtes van ons dagdrome dat ons eendag ons planne só sal beraam om by groen weivelde aan te kom. Dis hoe die mens is" (3). Dit gaan oor soveel ander wat óók voortdurend na lugkastele soek, maar wie se kastele uiteindelik intuimel.

Dit wil ook voorkom of Botes haar ingewikkelde verhouding met die skryfproses wil deel. Dit vind moontlik aanklank by ander skrywers, omdat skryf vir haar 'n nimmereindige innerlike stryd is. Sy brei veral uit oor hoe dit haar van sosiale geleenthede en haar man afsonder. Sy skryf onder andere oor die verskonings wat sy gebruik om nie te skryf nie, soos huisskoonmaak en werk in die tuin. Maar soos sy sê moet alle afdraaipaaie op die boekreis weer by 'n grootpad aansluit (121). Die voltooiing van die boek is vir haar dus onvermyde-lik, maar haar boekreis het baie afdraaie.

Lugkasteel is 'n boek met verskeie fasette wat strek vanaf humor, hartseer tot die bonatuurlike. Die skryfstyl, woordkeuses asook woordspeling word kreatief saam met persoonlike ervaring gebruik om 'n goeie storie met 'n duidelike boodskap te skets-ons almal se lugkastele stort soms in duie, maar die lugkasteel waarvoor jy voortdurend soek, is dalk reg onder jou neus.

 

Ruchelle Lombard
Universiteit Stellenbosch. Stellenbosch
ruchellekleyn@gmail.com

 

Geraadpleegde bron

Botes, Annelie en Trisa Hugo. Boekonderhoud: Lugkasteel deur Annelie Botes. 30 Nov. 2016. LitNet. < http://www.litnet.co.za/boekonderhoud-lugkasteel-deur-annelie-botes/>         [ Links ]

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons