SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Reviews índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 no.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2986 

BOOK REVIEWS

 

Die formidabele Ling Ho

 

 

Johan Kruger.Kaapstad: Umuzi, 2016. 241 pp. ISBN: 978-1-41520-175-6.

Johan Kruger is 'n veelsydige skrywer wat sy pen aan verskeie genres gewaag het. Hy het onder andere vier jeugromans, twee geskiedkundige romans, verskeie kortverhale asook 'n speurroman die lig laat sien. In 2012 is Die vloek vir 'n ATKV-Woordveertjie benoem. Met die publikasie van die geskiedkundige roman Die dag van die Lords in 2015 het Kruger homself weereens bewys as 'n knap romansier wat 'n belangrike historiese gebeurtenis op kreatiewe en boeiende wyse met die leserspubliek kon deel. Laasgenoemde teks het die lewensverhaal van die omstrede Lord Horatio Kitchener ná afloop van die Anglo-Boereoorlog onder Afrikaanse lesers se aandag gebring.

Met sy jongste roman Die formidabele Ling Ho wend Kruger homself tot die satire en lewer hiermee indringende, kritiese kommentaar op die sosiopolitiese stand van postapartheid Suid-Afrika. Alhoewel die roman opsigself drasties verskil van sy vorige publikasies, stel Kruger ten doel om belangrike aangeleenthede op humoristiese wyse aan te spreek sonder om aanstoot te gee.

Die narratief fokus op twee karakters, Willem Landman en Evie Harmse, wie se lewenspaaie op dramatiese wyse kruis. Willem is 'n gladdebek kansvatter wat 'n lewe as towenaar maak en aandele in sy vriend se masseersalon besit. Wanneer hy die verhoog betree, ondergaan hy 'n metamorfose en verkry die Sjinees, Ling Ho, gestalte. Met sy kostuum en vermomming kul Willem/Ling Ho sy goedgelowige, naïewe gehore op beide letterlike as figuurlike vlak. Tesame met sy assistent, Pandora (met toepaslike woordspeling en assosiasies wat met dié naam gepaardgaan), toer hy deur Mpumalanga se platteland waar hy eerstehands kennis maak met die vooroordele wat steeds deur lede van die gemeenskap jeens sekere rasse aan die orde van die dag is. Kruger ontbloot op humoristiese wyse die korrupsie wat aan die orde van die dag is en lewer terselfdertyd kritiek op die kerk-as-instelling waar korrupsie en vooroordele nie aldag aan die groot klok gehang word nie.

Tydens Willem se reis tussen die dorpies waar hy optree, ontmoet hy Evie Harmse. Evie se lewensverhaal grens aan die karnavaleske en kan die leser nie anders as om soms in die mou te moet lag vir die skreeusnaakse situasies waarin Evie haarself bevind nie. As gedemoveerde bibliotekaresse, moet die bibliofiel met 'n ietwat verdagte verhouding met 'n troetelrot, haar gemaksone vir 'n mobiele biblioteekbus verruil om die Mpumalanga-platteland saam met haar homoseksuele assistent, Noah, in te vaar. Tydens hul omswerwinge maak Evie eerstehands kennis met die "nuwe" Suid-Afrika-'n milieu waar kulturele en politiese verskille seëvier. In die proses slaag Evie daarin om van haar voor-oordele te oorkom en kulturele brüe te bou wat voorheen onwaarskynlik sou wees.

Belangrike onderwerpe kom in die roman aan bod. Ten spyte van die satiriese aard van die narratief, slaag Kruger daarin om resente sosiaalpolitiese onderwerpe soos seksisme, rassisme, regstellende aksie, politiek binne die kerkgemeenskap, politieke korrektheid en die wyse waarop verskillende rasse met mekaar in wisselwerking tree op eerlike en realistiese wyse uit te beeld. Kruger integreer laasgenoemde onderwerpe met die narratief sonder om geforseerd voor te kom en menige Afrikaanse lesers sal met Willem en Evie se gedagtes, optrede en ervarings kan assosieer.

Willem en Evie se paaie kruis op onverwagse wyse wanneer omstandighede hulle noop om mekaar tydens 'n krisis te hulp te snel nadat Evie se assistent ontvoer word. Kruger slaag daarin om die spanning deurgaans te behou. Met die skielike vloed wat talle lewens bedreig, bereik die spanning 'n hoogtepunt en aktiveer hierdie gebeurtenis 'n ooreenkoms met Etienne Leroux se Magersfontein, o Magersfontein! (1976).

Alhoewel die roman as geheel geslaagd en oortuigend daar uitsien, is daar enkele aspekte wat bevraagteken moet word. Evie Harmse se karakter bevind haarself in 'n penarie nadat die eertydse skoonmaker en teedame as Direkteur van Biblioteekdienste in haar pos aangestel word. Alhoewel Evie ongelukkig is met die stand van sake, kan sy nie bedank nie aangesien sy haar pensioen sal verloor: "You will remain on the same salary and move to the back counter, Missus Harmse, or you may resign, forfeiting your pension ..." (14). Laasgenoemde stelling is hoogs aanvegbaar aangesien 'n werknemer wetlik nie van sy/haar pensioen ontneem kan word indien hy/ sy bedank nie. Evie se vrees om haar pensioen te verbeur, is dus ongegrond en dus onrealisties gesien binne die groter geheel van die narratief. Die skrywer verwys ook na die digter Johann Lodewyk Marais as "Johan (sic) Lodewyk Marais" (15). Die proefleser het nagelaat om hierdie fout te korrigeer.

Ten spyte van enkele foute, is Die formidabele Ling Ho 'n aangename leeservaring wat die leser enduit boei. Satire word op geslaagde wyse aangewend om belangrike sosiopolitiese kommentaar te lewer en terselfdertyd 'n besonder vermaaklike narratief te skep. Met Die formidabele Ling Ho lewer Kruger 'n belangrike bydrae tot die satiriese roman in Afrikaans.

 

Dewald Koen
Universiteit van Fort Hare. Oos-Londen
dkoen@ufh.ac.za

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons