SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2SulamietDie formidabele Ling Ho author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2974 

BOOK REVIEWS

 

As in die mond

 

 

Nicole Jaekel Stauss. Kaapstad: Queillerie, 2017. 230 pp. ISBN 978-0-7958-0135-8.

In Nicole Jaekel Strauss se tweede bundel kortverhale, As in die mond, speel kos 'n sentrale rol, soos in haar debuutbundel, Maal (2010), en ook in die bloemlesing, Kosblik (2013), wat sy daarna saamgestel het. Die verhale in As in die mond handel egter eerder oor verwikkelde menslike verhoudinge en die nagevolge van traumatiese ervarings wat deur die loop van die bundel vir lesers én karakters duideliker word.

Dit is veral die gebruik van deurlopende motiewe en volgehoue spanning in die volgorde en progressie in die twaalf verhale, tot met die slot van die laaste verhaal, wat 'n besonder sterk eenheidsbundel tot gevolg het. In hierdie opsig kan As in die mond in dieselfde asem genoem word as ander sterk eenheidsbundels in Afrikaans soos onder andere Chris Barnard se Duiwel-in-die-bos, Henriëtte Grove se Jaarringe, Riana Scheepers se Feeks, Rachelle Greef se Palazzo van die laaste dans en Willemien Brümmer se Die dag toe ek my hare logemaak het.

Die titel verbind reeds die verhale deur die "as"- en "mond"-verwysings gepaardgaande met die motto se aanhaling van Marques wat sinspeel op herhaalde hergeboortes in die lewe van elke mens.

Daar is sterk terugverwysing na traumatiese gebeure in die verlede wat hierdie karakters se handelinge, verhoudings en denke beïnvloed. Dit begin al met die moeder van Jeanne d'Arc wat in 1455 na die Notre Dame in Parys reis om haar dogter se eer te herstel ná die verraad en onregverdige verhoor wat gelei het tot haar teregstelling op die brandstapel meer as twintig jaar tevore op 30 Mei 1431. Die motiewe van geweld, vuur, as, klippies en 'n klok wat lui, word reeds in hierdie eerste verhaal gevestig. Die moeder-dogter-verhouding wat die kern vorm van heelwat van die daaropvolgende verhale word ook hiermee ingelei. Die refrein van Jeanne se moeder weerklink inderdaad deur die bundel: "Ek het 'n dogter gehad ...".

Moeders en dogters en selfs grootouers word in hierdie verhale deur 'n geskiedenis van veral een traumatiese gebeurtenis van mekaar geskei en vervreem, al word die kontinuïteit van die geslagte, van grootmoeder tot kleinkind, ook per implikasie bevestig. Die verbintenis tussen hierdie karakters, en ook die mans betrokke by hulle, word een van die leidrade wat die leser moet volg deur die loop van die bundel.

Behalwe die as en vuur, die klippies en klok, kom ook ander motiewe in die later, meer moderne verhale voor. Op p. 216 word byvoorbeeld verwys na 'n "suurlemoenmeringueresep, 'n deken, klippe. Of die haarlok van 'n dooie kind". Daarby kom ook 'n resep vir 'n Peppermint Crisp-tert, geklopte eierwitte, melktert, die harlekynskilderye van Picasso en die blou kleur van die lug en 'n serp. Van Suid-Afrika, die Paarl en Kaapstad, na New York, Griekeland, Frankryk en Marrakesj is die soet en bitter van die gebak en die ander assosiasies met bogenoemde motiewe en beelde teenwoordig in die herinneringe en ervaringe van die onderskeie karakters.

Nie net die gedetailleerde beskrywings van kos en geure skep atmosfeer nie. Daar is 'n duidelike melancholiese toonaard, met Leonard Cohen se lirieke as direkte verwysing, wat aansluit by die deurlopende verwerking van 'n traumatiese verlede wat in die laaste verhaal, "Donkey Kong", eers volledig verwoord word. Dit volg op jare se geheueverlies by een van die hoofkarakters waarna in meer as een verhaal verwys word.

Op hierdie wyse word die een verhaal 'n vooruitwysing of terugverwysing na die ander, word die kuns en kunstenaar, sielkunde en sielkundige, ook betrek by al die "kosmakers" en selfs 'n restaurant-eienaar. Dit lei selfs tot 'n metatekstuele laag wanneer Maia, die jongste in die linie van vier vroue, besef sy moet "(d)alk uit 'n ander hoek na die kunstenaar kyk" (196). Soos sy moet die leser leer om "soos 'n vlieg die omstanders, die kunstenaar én die toeskouer tegelykertyd [...] dop (te) hou" (198); terugkeer na vorige verhale om latere verhale met 'n ander perspektief te lees.

Ná Jeanne d'Arc se moeder in die eerste verhaal leer ken die leser 'n tiener-dogter wat 'n sielkundige word, ma's wat self kies om nie by hulle dogters betrokke te wees nie, oumas en kleinkinders wat op wisselende wyses mekaar vind, mense wat dekades daarop wag om mekaar te ontmoet en tog besef hulle sal mekaar nooit heeltemal ken nie. Dit wat hulle verwerp, soos die kunstenaar sy viool, is dikwels die essensie wat hulle terugvind in 'n harlekynskildery, die smaak van 'n tert, 'n bak vol klippies en uiteindelik 'n verbrande video-speletjie. Al laat dit uiteindelik net die smaak van as in die mond.

Jaekel Strauss se tweede bundel is 'n deurgekomponeerde eenheidsbundel wat vlot lees, unieke en gekompliseerde karakters aan die leser voorstel en intermenslike verhoudings en reaksies besonder fyn en suggestief beskryf. Deurentyd laat die verhale ook die leser oor aan sy of haar eie interpretasies en herkenning van geïmpliseerde betekenisse rondom beelde en woorde. Onbeantwoorde vrae wat nog bly huiwer ná die lees, maak verder van hierdie bundel 'n leeservaring wat jou lank bybly.

 

Johan Anker
Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Wellington
AnkerJ@cput.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License