SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Alles het niet kom wôdAs in die mond author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2985 

BOOK REVIEWS

 

Sulamiet

 

 

Lina Spies. Tygervallei: Naledi, 2016. 87 pp. ISBN 978-0-928316-47-6.

Met die bundeltitel Sulamiet sluit Lina Spies sterk aan by die Ou Testamentiese boek Shir Hashirim, direk vertaal die Lied der Liedere, of soos die naam in die Afrikaanse Bybel lui: Hooglied. "Salomo se mooiste lied" volgens die opdrag in Hooglied 1:1. Enkele kort opmerkings oor Hooglied kan lig werp op verskeie aspekte van Sulamiet. Daar bestaan byvoorbeeld 'n goeie kans dat Hooglied deur 'n vrou geskryf is. Die boek is opgestel as 'n soort drama wat hoofsaaklik bestaan uit dialoog tussen die mooi bruin gebrande (1:5), liefkosende (1:2; 8:1) en uiters erotiese (8:10) vrou, oftewel Sulamiet (6:13) en die man waarin die vrou die meeste aan die woord kom. Die naam Sulamiet slaan ook op die Hebreeuse woord vir vrede, shalom, wat ook in verband staan met die eienaam Salomo aan wie Hooglied opgedra is en die stad (jeru) van shalom, te wete Jerusalem (Sion). Wie die Sulamiet is en waartoe sy in staat is, wat met die (ook lyflike) liefde te make het, staan dus in 'n baie nou verband met vrede. Moderne eksegete beweeg graag verby die tradisionele allegoriese interpretasies van die boek, byvoorbeeld dat die verhouding tussen die man en die vrou die verhouding tussen Christus en die kerk voorstel of dat die vrou se sonbrand op die sonde dui, en plaas die klem eerder op die werklike (inklusief fisiese) liefde tussen die man en vrou van Hooglied. Othmar Keel skryf met betrekking tot Hooglied: "Allegorising is nothing but an elegant way of despising the text!" Lina Spies stem duidelik saam met Keel. Hierdie (fisiese) liefde staan in 'n baie noue verband met die natuur in die algemeen en ook kosmologiese tydsaanduidings soos die wisseling van seisoene en die afwisseling van dag en nag waartydens die skaduwees lank word en die aandwind begin waai wat alles deel is van 'n fyn waarneming van die hiermaals. Verder is Hooglied deel van die korpus sogenaamde wysheidsliteratuur (praktiese raad oor hoe om hier en nou te leef) in die Ou Testament en pas dit binne 'n Semitiese wêreld. Uiteraard is daar soveel meer wat oor Hooglied gesê kan word, maar ten slotte kan net genoem word dat die verlangende uitroep van 1:2 "Soen my, soen my weer en weer!" regdeur die boek resoneer en ook dat verskeie eksegete Hooglied 8:6b as 'n soort hoogtepunt in die teks aandui, te wete: "Die liefde is sterker as die dood."

Sulamiet bestaan uit vyf dele (bedrywe?) wat elk sekere temas opneem en waarvan die meeste herkenbare terugkerende temas binne die digter se oeuvre is. Breedweg en in algemene sin is daar die volgende temas in die onderskeie dele. Deel I: ouderdom, sterwe, seisoene (Herfs). Deel II: die liefde (ook op 'n latere ouderdom), die tuin van Eden en van Hooglied, Holland/Boland, lyflikheid (soen), klank en stilte. Deel III: teologie, die kind, die digter se ouers. Deel IV: die Holocaust, die Joodse wortels van die Christelike geloof, musiek en stilte. Deel V: Afrikaans, betrokkenheid ten opsigte van die apartheidsverlede en hedendaagse Suid-Afrikaanse konteks. Gereeld is daar ook verwysings na Eybers, Dickinson en spesifieke komponiste en musici. Verskeie resensente van Sulamiet beweer dat daar geen katte in die bundel is nie, hulle moet net weer kyk (65, 81). Tog, is hierdie temas nie beperk tot die onderskeie dele in die bundel nie en is hier sprake van 'n sterk eenheidsbundel. Ek is van mening dat Hooglied se hoogtepunt, die liefde en die dood en dat die hartstog magtiger as die doderyk is, Sulamiet omraam en deursuur en as sodanig as 'n soort heuristiese sleutel kan dien vir die lees van die bundel, aangesien die voortgaande verlange wat gekenmerk word deur die wederkerigheid tussen verganklikheid en die liefde, in al die afdelings ter sprake kom. Sodoende word verskeie spannings en paradokse opgetel, soos die tussen die hiermaals en die hiernamaals, die lyf en die siel, tussen die goudblonde Margerete en die asvaal Sulamiet (60). Reeds in "Besef", die eerste gedig in die bundel, word die dood as tema aangeroer, alhoewel binne die tuin van die liefde van Hooglied:

Dalk word die kreeftegang van die ouderdom

in die aandbries soms 'n wandeling

saam met 'n onvervreemde God

in die tuin van 'n ontwakende aardse lente

en hoor jy skielik 'n voël

sing soos by oggendskemering.

Die slotgedig in die bundel is tereg dan ook 'n gedig na aanleiding van Randall Wicomb se begrafnis "Die man met die kitaar" (86-7) wat handel oor die dood van Wicomb, maar juis ook die liefde van sy broer. Sulamiet, met die pragtige skets op die omslag van die voëls wat waarskynlik teen die aandskemering invlieg en regdeur die bundel (spreeus, merels, duiwe) kwetter en koer soos die duiwe in Hooglied, word as bundel 'n tuin in 'n baie spesifieke konteks. Hooglied was as boek bes moontlik 'n literêre beeld van wat kan wees, 'n soort tweede tuin van Eden waar die liefde triomfeer en is geskryf in 'n tyd in die geskiedenis van Oud-Israel toe daar volgens Maleagi (2:13-16) baie gebroke verhoudings in die land voorgekom het. In daardie uitdagende konteks, wat in die teken staan van gebrokenheid en 'n tuin waaruit die mens gedryf is, verbeeld Hooglied 'n moontlikheid van 'n goeie situasie wat kan bestaan te midde van slegte omstandighede. Bewus van die twee skeppingsverhale van Genesis, kom die gedig "In die begin" (40) en spruit Eden "uit dorings en distels", maar juis in die bewuste aanraking tussen twee mense. Die bovermelde moeilike konteks waarbinne Hooglied ontstaan het en wat ook ten dele vergelykbaar is met die Suid-Afrika van 2016, erken Spies en word veral in Deel V aangebied, alhoewel liefde die remedie is en herskepping 'n moontlikheid. Hierdie laaste deel dui beide op die huidige Suid-Afrikaanse konteks van armoede en ander maatskaplike probleme, maar kyk ook terug na die apartheidsverlede. Die slotstrofe van "Treursang" is eerlik en trefseker met verwysings na die Psalms soos wat ook gebeur in "Die agtergeblewene" (79-80):

En ek wat nooit 'n banneling was

-vervreem van my Sionsberg-

en aan 'n vreemde rivier

nie traanblind my lier

in 'n wilger opgehang het nie,

sing nou my versuimde treursang.

Met 'n bundeltitel soos Sulamiet verwag die leser Bybelse- en godsdienstige temas soos dit alreeds ook aangetoon is. Daar is verskeie Afrikaanse digters wat die tema van godsdiens al aangesny het en waarvan Cussons seker die bekendste eksponent is. Spies het dit al dikwels gedoen, maar wat tog besonders is in haar werk, is dat sy met diepgang die nuwe insigte van die teologie in haar poësie opneem en ook standpunt inneem. In Tydelose gety maak sy erns met die debat ten opsigte van die historiese Jesus en hierdie tema word weer opgeneem in Sulamiet. Jesus as Joodse rabbi is van belang, maar dan juis ook die Ou Testamentiese leefwêreld en denkwyses, die Semitiese kultuur waarin die sterk dualistiese Griekse denke met hulle onderskeid tussen siel en liggaam met liggaam gesien as sleg en wat diep ingedring het in die Christelike geloof en teologie en Westerse filosofie, nie aanwesig is nie. Die dansende, omhelsende en soenende Sulamiet is by uitstek 'n beliggaming van die Semitiese kultuur waarin die oomblik van die nou gevier en geniet word, eerder as 'n fokus op die toekoms, maar ook die aardsheid van Jesus en die spesifieke en radikale aard van Jesus se tafelgemeenskap (67, 68). "Dank" laat my onwillekeurig dink aan Versfeld se opmerking: "Nothing is more indicative of who you are than your food and table customs." Versfeld se opmerking neem Spies verder, naamlik dat ook hoe jy soen heelwat verklap oor wie jy en julle is. Die titelgedig "Belydenis van 'n Sulamiet" (41) lewer kritiek op die gebruik van Afrikaners om mekaar op die mond te soen as "'n parodie op die soen wat net minnaars beskore is". Die tema van lyflikheid met die soen as simbool hiervan is 'n belangrike tema in die bundel (42). Spesifiek ook aanraking tussen mense is belangrik wat insgelyks 'n sterk Bybelse tema is. Volgens Jakobus in die Nuwe Testament begin genesing met fisiese aanraking. Benewens hierdie aardse en eintlik uitbundige viering van die lyflike, met die gepaardgaande klem op musiek en dans, word die belang van stilte ook deurgaans beklemtoon en roep dit die teks van 1 Konings 19 op, naamlik dat God in die fluistering van die windstilte aanwesig is.

Natuurlik is daar so baie wat in hierdie resensie nie aandag gekry het nie, soos die musiek, die afstand en verbintenis met Nederland en Suid-Afrika en die Holocaust, maar oor hierdie sake het resensente ten opsigte van Sulamiet en vorige bundels al verhelderend geskryf. Vir hierdie leser is Sulamiet nie alleen 'n pragtige digbundel nie, maar ook 'n belangrike bydrae, veral gegewe die digter se omgaan met teologie en dit binne 'n uitdagende Suid-Afrikaanse konteks waar dit nodig is om 'n nuwe tuin te verbeel.

 

Cas Wepener
Universiteit van Pretoria. Pretoria
cas.wepener@up.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License