SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Reviews índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 no.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2984 

BOOK REVIEWS

 

Alles het niet kom wôd

 

 

Nathan Trantraal. Kaapstad: Kwela, 2017. 59pp. ISBN: 978-0-7957-0791-9.

Vier jaar ná sy kragtige, bekroonde debuutbundel, Chokers en survivors, verskyn Nathan Trantraal se tweede digbundel, Alles het niet kom wôd.

Soos die eerste bundel, is die verse in 'n Kaaps-Afrikaanse register geskryf met 'n sterk en uiters direkte, gekruide parlando-aanslag.

Verskeie temas bekend uit die debuut is weer hier aanwesig: die digter se grootwordmilieu op die Kaapse Vlakte en verbande tussen vriende en familielede wat dié milieu bevolk, vergelyk "Saggias", "Taliban", "Die anne Liney", "Bethe" en "Clichay". Verlies, swart humor, ironie, woede, slegte herinneringe en 'n brutale werklikheid word in gedig na gedig opgeroep, telkens met treffende slotte. Daar is wel ook enkele verse met 'n sagter in- en aanslag, soos "Ezra", "Rebekah", "Jaloesiegieste" en "Lentegeur".

Die religieuse tema word reeds in Chokers en survivors teruggevind, vergelyk verse soos "is altyd winte innie kêk", "Mamma HL" en "Brightly beams". In Alles het niet kom wod word hierdie tema-geloof, godsdiens, die kerk, sektes, vergifnis, wedergeboorte en ontgogeling met al hierdie kwessies-sterker aanwesig gestel, meestal tussen die pole van hoop/verwagting en telkense teleurstelling wanneer sekere werklikhede inskop.

Die omslagontwerp, deur "The Trantraal Brothers" en Mike Cruywagen, is gebaseer op Bernini se Die ekstase van Sint Teresa, 'n beeldhouwerk in wit marmer in die Cornaro-kapel, Santa Maria della Vittoria, Rome, gemaak tussen 1647 en 1652. Volgens Wikipedia vang hierdie beeld die oomblik vas wanneer goddelikheid die aardse liggaam betree. Die ontwerp dui natuurlik op die hooftema van die bundel en kan ook die vermoede versterk-kennende Trantraal se visie en aanslag-dat daar nie noodwendig goeie uitkomste op die religieuse verwagtings gaan wees nie en dat die "niet" in die titel nie net op "nuut" gaan dui nie. Die slot van "Moenie vi hulle sê ôs gan ie, annes wil hulle saamkom" stel dit immers (ná 'n vas-en-bid-sessie in die berge):

Soms voel ek jamme vi ös

Ek kan sien hoe ös rêrag

moes gelyket

en hoe die engele moes gelagget

virrie country bumpkins

Die laaste mense om yt te vinne

Jesus het lankal gekom

en hy is wee hie weg, sône ôs

Vergelyk ook die beginreëls van "Clichay":

Clichay dien net die Here

vanaf ie twiede January tot ie vyftiende December

Wannerit breaking up is

sit sy haa verhouding met haa

persoonlike saligmaker on hold

In die eerste gedig, "Alles het niet kom wöd", vertel die liriese subjek dat hy "drie kee deerie wate" was en "sieke [is] / ek het met minner dywels / deerie wate gegan / as wat ek mee ytgekom het". In dieselfde gedig wat handel oor 'n doopseremonie op 'n strand, word die volgende skreeusnaakse toneel gevind:

Een gravely overweight suste

collapse oppie sand

soese anaesthetised olifant

inne wildlife documentary

"Hallelujah! Thank you Jesus!

Lord we praise you!"

Ammel dink

issie gies wat haa omgestootet,

maa as ôs honest was sal ös gesienet

die regte miracle was

dat sy nie gesinket innie sea

soese ancient city nie

Die Bybelse Saggeüs word teruggevind in die gedig "Saggias" waarin die oom, Boy, se verhouding met die Woord beskryf word:

Maa jy kannie vi Boy

ompraat mettie Woord ie

Boy rol vi hom dagga-stoppe

mettie blaaie innie Bybel

Hy sê dit roek bieter as bladjies

en dat as jy rêrag Oepenbaring wil vestaan

moet jyrit lekke lank in jou longe hou voo jyrit ytblaas

Skrynende aanklagte teen die gevolge van apartheid en oor die oproep om versoening in postapartheid-Suid-Afrika, word weer gehoor in "S.o.b." (hier: "Silly old boer"), "Fiction en estrangement" en "Die man wat ie kinnes vang" In die laasgenoemde gedig waarsku die liriese subjek sy dogtertjie:

Die regte man wat jy moet
ytkyk voo issie white man

[...]

Wan as jy hom ie kans gie
sal hy jou siel steel
en virrie dywel offer
as nogge down payment
vi sy hemel op aarde

In die hoogs ironiese "Cash for Gold" lees ons van die klipharde werklikheid waarin die bekroonde digter hom bevind:

Ek wonne of ekkie ienagste
prize-winning poet is
wat copper wire
vi kosgeld moet strip

[...]

Ek kry respect en awards
wat vi genoeg mense baie beteken
en dan oppe Woensdag
wat niks beteken ie
staan ek innie voorhys en wieg
ie award in my hand
en vra my ma: "Wat dink Mammie,
is dié bronze of copper?"
Assit copper is issit 'n paa dae se kos
assit bronze is beteken it niks vi my nie

Al is die omvang en impak van hierdie bundel miskien effens minder as die debuut (wat gooi jy nadat jy 'n atoombom gegooi het?), is dit steeds 'n baie sterk poging waarmee Nathan Trantraal hom ongetwyfeld vestig as een van die belangrikste kontemporêre Suid-Afrikaanse digterstemme.

 

Henning Pieterse
Universiteit van die Vrystaat. Bloemfontein
pietersehj@ufs.ac.za

 

Geraadpleegde bron

Wikipedia. "The Ecstasy of Saint Teresa". 26 Jul. 2017. <http://en.wikipedia.org/wiki/Ecstasy_of_Saint_Teresa>         [ Links ].

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons