SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 número2Reviews índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 no.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2983 

BOOK REVIEWS

 

Die aarde is 'n eierblou ark

 

 

Susan Smith. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016. 95pp. ISBN: 978-1-4853-0716-7.

Die aarde is 'n eierblou ark is Susan Smith se tweede bundel. Smith het 'n fyn aanvoeling vir klank- en woordspel en net soos haar debuut, In die afwesigheid van sin, gee haar tweede bundel die indruk van geslyptheid en presisie. In albei werke is daar 'n fokus op taal as oordrags- en bewaringsmiddel. Waar haar eerste egter meer gekonsentreer het op die familiebande tussen verskillende generasies vroue, staan die natuur en natuurbewaring sentraal in haar nuwe bundel.

Natuurverse het 'n lang tradisie in Afrikaans met die spesifieke fokus op natuurbewaring en ekologie as 'n meer resente ontwikkeling in hierdie genre- sien in dié verband Johann Lodewyk Marais se essay in die versamelbundel Ons klein en silwerige planeet waar hy hierdie tendens, wat ook sterk in sy eie verse na vore kom, bespreek. Smith se werk sluit dus by 'n gevestigde tradisie aan-veral by die natuurverse van vrouedigters soos Petra Müller, Ilse van Staden en Carina Stander waarin daar dikwels 'n tipe spirituele gebondenheid tussen moederaarde en die vroulike waarnemer/digteres aan bod kom. Iets van die tematiek van Smith se debuut resoneer dus ook met dié aspek van haar tweede bundel. Die gebondenheid tussen vrou/ moeder/mens en aarde is onder meer die tema van die gedig "Miss Gaia: 'n hooglied van die kompos" wat aan die einde van Die aarde is 'n eierblou ark verskyn. Dit begin: "Ons is van die aarde / en ons sal terugkeer / aarde toe" en sluit af: "Ons is van die aarde. Die aarde / het ons gemaak." Myns insiens is die bewaringsboodskap van die bundel ook grotendeels opgesluit in hierdie gegewe, aangesien Smith deurgaans fokus op die feit dat die mens deel is van die aarde en daarom "haar", ons moeder, moet bewaar.

Die bundeltitel lê duidelike verbande tussen die aarde en die oorsprong van lewe met die eier-beeld wat geboorte oproep en die ark-beeld die Bybelse verhaal van die uitwissing, maar ook die voortbestaan, van die mens ná die sondvloed. Die aarde is dan ook ons ark, ons veilige vesting (sien die gedig "eierblou ark") waarin ons "deur die melkweg veer". Die ark-metafoor dien verder as 'n tipe waarskuwing dat die mens weer uitwissing in die gesig kan staar en gestraf sal word vir sy (sondige) vernietiging van die natuur. In gedigte soos "albatros" en "lewensiklus van die rara avis" kom die bewaringsboodskap baie konkreet aan bod wanneer die effek van besoedeling op die plant- en dierelewe geskets word. Die knap gedig "sonval" stel ook 'n postapokaliptiese wêreld voor waar die mens gelaat is met net vae herinneringe van die natuur.

Naas die aansluiting by die Afrikaanse literêre tradisie, wys Smith ook telkens op die invloed wat verskillende Engelse digters op haar natuurverse gehad het. Die werk van Mary Oliver en Henry David Thoreau, beide bekend vir hulle natuurverse, word onder meer vermeld in die gedig "landmeter" waarin die digter se eie digterlike identiteit ook aan bod kom. Verskeie ander digters soos Walt Whitman, Sylvia Plath en John Keats, asook natuurwetenskaplikes soos Thomas Huxley, Karl von Frisch en Charles Darwin se name kom in die gedigte voor. Die natuurwetenskap as intertekstuele materiaal word op interessante wyse ingespan in die sterk versreeks "saad" waar saadkatologusinligting benut word om verbande te lê tussen die digter se jeug en die oorsprong en ontwikkeling van haar natuurbewussyn en digterskap.

In die gedig "landmeter" vermeld Smith 'n aanhaling van Maxine Kumin: "Mary Oliver is a patroller of wetlands in the same way that Thoreau was an inspector of snowstorms." Sy lê in hierdie gedig ook verbande met haar eie praktyk as digter ("aan die ander kant syfer ek deur / patrolleer die vleiland / landmeter van die soutgebied / navigeer lugstrome aan die kontoerkant / van 'n seemeeuveer"). In Die aarde is 'n eierblou ark kom ook iets na vore van taal of kuns as bewaringsinstrument wat sterk skakel met die natuurbewaringstema van die bundel. Die eerste gedig in die bundel ("huls") lui:

die droë peul knal naatlangs oop

die halwe huls 'n ligte boot

waarin 'n klein swart alfabet

van sade stroomaf

na 'n beskutte hawe vaar

Die beeld van woorde as sade wat tot 'n nuwe begin ("geboorte") kan lei, word hier gebruik. Dit sinspeel waarskynlik ook op 'n bewaringsbewussyn wat by die lees van die bundel kan saad skiet. Hier gaan dit egter ook oor die optekening en dus bewaring van die name van plante en diere sowel as gedetailleerde beskrywings daarvan. Talle Afrikaanse name vir plante, diere en insekte word in Smith se bundel gebruik met gedigte soos "vyf kanttekeninge in 'n tuindagboek" wat, soortgelyk aan die veldwerknotas van natuurwetenskaplikes, verskeie natuurverskynsels woordeliks illustreer.

Smith se gebruik van intertekste is interessant en daar is 'n ooglopende aansluiting by 'n gevestigde literêre tradisie in Afrikaans. Dit is egter wat laasgenoemde aspek betref waar die probleem soms lê ten opsigte van party verse in die bundel-die leser ervaar dit as oorbekend en minder outentiek. Die emosionele trefkrag wat verskeie van die verse oor familiebande in Smith se debuut gehad het, ontbreek dikwels in hierdie tweede bundel en haar netjies afgewerkte gedigte is geneig om minder te ontroer. Die reeks verse ("saad") oor haar kindertydherinneringe waarin die verbintenis met die ouers onder meer aan bod kom, is dan weer na my mening van die sterker verse in haar tweede bundel. Smith is 'n vaardige digter en die leser wag om te sien hoe haar digterskap verder sal evolueer in haar komende bundels.

 

Marni Bonthuys
Universiteit van Wes-Kaapland. Bellville
mbonthuys@uwc.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons