SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Learning Zulu: A secret history of language in South AfricaDie Bram Fischer Wals author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2912 

BOOK REVIEWS

 

Post mortem

 

 

Pieter Fourie. Pretoria: Protea Boekhuis, 2016. 80 pp. ISBN: 978-1-4853-0433-3 (gedrukte boek); ISBN: 978-1-4853-0434-0 (e-boek).

Dood en afsluiting vorm kerntemas in Pieter Fourie se jongste gepubliseerde dramateks. Daarby is die handelingsverloop direk en oënskynlik ongekompliseerd. Die toneel open met 'n kaal verhoog en drie grafhope sand. Die oorledenes, Basjan (plaasboer), Vytjie (huiswerker, en haar ongebore kind in 'n juwelekissie) en Gulu (plaaswerker) sit elkeen by die kop van sy of haar graf. Die enigste lewende personasie is Trien, Basjan se vrou. Soortgelyk aan die openingstonele in Ek, Anna van Wyk (1986) en Die koggelaar (1988), laat sy die oorledenes hul verhale in die vorm van 'n spel binne 'n spel as 'n post mortem op die verhoog uitspeel.

As lid van 'n potensiële gehoor verneem die leser van die plaasboer se verhouding met 'n huiswerker oor klasseen kleurgrense heen. Vytjie, 'n naam met seksuele ondertone, is egter ook in 'n verhouding met Gulu betrokke, maar Basjan raak van hom ontslae deur hom van wyn afhanklik te maak en, so is die suggestie, te vergiftig. Basjan en Vytjie ry gereeld saam dorp en aasvoëlkamp toe en elke keer skuif Vytjie nader totdat sy op Basjan se skoot sit en help bestuur. Die krisis breek aan wanneer sy Basjan se kind verwag. Haar swangerskap loop daarop uit dat Basjan haar soos 'n skaap keelaf sny. Hy pleeg daarna selfmoord. Trien ly aan depressie en dit is duidelik dat haar en Basjan se verhouding onherstelbaar verbrokkel het.

Alhoewel die stuk vir die eerste keer in 1993 in die Wynand Moutonteater (Universiteit van die Vrystaat), daarna op Kampustoneel en in 2000 weer in die Wynand Mouton opgevoer is, is hierdie teks die eerste formele publikasie van die teks. Dit bly 'n vraag waarom die manuskrip nou eers, sestien jaar ná die 2000-opvoering, gepubliseer is. Die drama is nie weer ná die 2000-speelvak opgevoer nie.

Gegewe Fourie se voorstellings van die Afrikaner(patriarg) veral in Ek, Anna van Wyk (1986) en Die koggelaar (1988), en die sosiokulturele en politieke oorgange wat die aanvang van die negentigerjare gekenmerk het, sou Post mortem (1993) ná die eerste opvoerings in 1993 waarskynlik as 'n skrywersnabetragting van die voorafgaande periode in die oeuvre beskou kon word. Blykens 'n aantekening op bladsy 80 is hierdie 2016-publikasie die weergawe wat in 1992 voltooi is.

Naas die argivale en kanonieke aard wat die teks nou met publikasie verkry, bly dit 'n vraag watter betekenisse die leser as lid van 'n potensiële gehoor in 2016 aan die teks sou kon heg.

Wil die dramaturg sê dat Trien se vraag in die oop slot ook in 2016 onbeantwoord bly? Sy vra die gehoor: "Ek is skoon. [...] Is ek nie?" Maar hoe moet ons dan Basjan se keelafsny (soos die slagskaap wat deurentyd as verhoogmetafoor in Donderdag se mense (1989) aan 'n slaghaak teen 'n peperboomtak hang) van Vytjie en die offer van sy eie liggaam in die slot aan die aasvoëls interpreteer? Verteenwoordig hul dood die einde van 'n vorige bedeling, gevolg deur 'n lykskouing en begrafnis? Breek daar inderdaad 'n nuwe bedeling aan? Basjan se ongebore kind, die fetus in Vytjie, het immers saam met die moeder gesterf, en met dié sterfte het die moontlikheid van 'n nuwe bedeling verdwyn.

Trien se slotdialoog konfronteer die gehoor op eg Brechtiaanse wyse met die mate waartoe sy aan haar en al die karakters se verledes geketting is (sien die ketting om die hekpaal op die voorste buiteblad as simbool). Met hierdie vraag, en met haar aandrang daarop dat Vytjie altyd skoon moet wees, laat sy en die dramaturg die besluit oor haar aandadigheid aan die dood van die ander personasies aan die potensiële gehoor oor.

Haar rol as personasie wat die laaste woord inkry, wil in hierdie verband egter nie volkome oortuig nie. Die strategiese plek wat sy as slotkarakter neem, word byvoorbeeld nie ondersteun deur haar optrede as 'n hoofkarakter nie (sy tree eerder as 'n tritagonis op), terwyl haar verhouding met Basjan en veral Vytjie in die slot van Post mortem nie dieselfde dramatiese intensiteit en afloop vertoon as die slot van Ek, Anna van Wyk nie.

Op die agterbuiteblad staan dat dié drama "die sluitstuk van Pieter Fourie se vierluik plaastragedies is". Dié einde staan in ironiese teenstelling met die betekenis wat die voorste buiteblad oordra, waarop die afbeelding van 'n kliphekpaal van 'n draadhek verskyn. Volgens die parateks is hierdie afbeelding 'n reproduksie van 'n foto wat Paul Alberts geneem het en dra die titel "Hekpaal, Ceres-Karoo, 1987". Dit is uit Alberts se fotoboek B uite die hekke van Eden (2009) geneem.

Ongeag daarvan of "Eden" 'n werklike plaasnaam in die Moordenaarskaroo is, is die vraag of die perspektief wat die foto op die voorste buiteblad bied 'n teenstellende, vervreemdende blik op 'n purgatorium (in die doderyk) verteenwoordig. Sou die ruimte anderkant hierdie "hek [...] van die paradys [Eden]" 'n plek van reiniging (purgatorium) verteenwoordig, skep die parateks hiermee die moontlikheid van 'n klassieke katarsis by 'n potensiële gehoor en by die personasies in die spel. Die verwysing na Post mortem (2016) as die sluitstuk van vier "[...] tragedies" (my kursivering) sluit by hierdie interpretasie van die begrip katarsis aan.

Neem die leser in ag dat Post mortem (2016) die sluitstuk van vier plaasdramas is, is dit onvermydelik dat die teks binne die oeuvre intertekstueel dig is aan herhalende temas en die aard van die voorstellings. Dit geld veral die Brechtiaanse aard van die teks waarin die personasies en die narratief, met die moontlike uitsondering van Trien, eerder (historiese) tipes verteenwoordig. In hierdie verband sluit die drama by die plaasroman as soort aan, met al laasgenoemde se permutasies.

Uiteindelik lê die waarde van dié publikasie in die beskikbaarstelling van die teks, waardeur 'n vollediger blik op 'n periode in een van Afrikaans se invloedrykste dramaturge 'n moontlikheid word.

 

Johan Coetser
Universiteit van Suid-Afrika. Pretoria
coetsjl@unisa.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License