SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Niemand op Rietvlei nie: ter nagedagtenis aan Karel SchoemanOn m'appelle Nina author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2730 

HULDEBLYK

 

Karel Schoeman en die kuns van sterwe

 

 

Cas Wepener

Verbünde aan die Departement Praktiese Teologie in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die outeur van Die reis gaan inwaarts. Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017, African SUN Media). E-pos: cas.wepener@up.ac.za

 

 

Ek het besluit dat ek graag iets oor die kuns van sterwe, oftewel ars moriendi, in Karel Schoeman se werk wil sê, spesifiek ook oor hoe dit saamhang met die sogenaamde inwaartse reis. Gerrit Olivier merk ten opsigte van Schoeman se werk op: "[O]m dit enigsins sinvol te benader, moet 'n mens kyk na die rol wat taal en optekening, die uitreiking na menslike kontak, en ten slotte die dood by Schoeman speel" (36). Alreeds in Schoeman se debuut, Veldslag, lê die tema van sterwe soos 'n saadkorrel wat in die verdere verloop van sy oeuvre ontkiem en in sy latere werke bykans soos 'n koringaar groei. Met sy afsterwe is my huldeblyk aan hom veral ook 'n huldeblyk vir die wyse waarop hy hierdie tema, 'n tema wat in ons eie dag vir baie 'n taboe is, dapper en met diepgang vir etlike dekades lank verken het.

Karel Schoeman was nie onbekend met die ars moriendi nie; inteendeel. Hierdie ars moriendi is 'n kuns wat beoefen word deur diegene wat sterf en diegene wat die sterwende bystaan. Dit geskied onder meer deur middel van versorging en ritueel. Enkele opmerkings oor Schoeman se lewe, en spesifiek met betrekking tot versorg-ing en ritueel, sal ek vervolgens uitlig voordat enkele opmerkings oor hierdie tema in sy kreatiewe tekste gemaak word.

In sy outobiografie gee hy heelwat aandag aan sy tyd as versorger en verpleër in Engeland en Skotland. Met betrekking tot versorging en sterwe het Schoeman dus nie alleen oor boekekennis beskik nie, maar het hy ook praktykervaring en moontlik ook oor phronesis (praktiese wysheid) ten opsigte van die ars moriendi gehad. Een beskrywing wat na my terugkom, is 'n herinnering wat hy beskryf ten opsigte van die tyd toe hy in 'n hospitaal buite Glasgow as versorger werksaam was:

En die ou man sterwend aan dermkanker wie se bed gereeld verskoon moes word maar vir wie alle beweging pynlik was: hoe ek hom, lig en uitgeteer soos hy geraak het, versigtig op my uitgestrekte arms optel terwyl die laken onder hom vervang word, en hy sy kop na my toe draai en met sy laaste krag dankbaar fluister, "You do that so well." (Schoeman, Die laaste Afrikaanse boek 450)

Soos ek hier lees, onthou ek Versluis en Gelmers, ds. Theophilus Heyns en oom Lammies en nog baie ander karakters en tonele in Schoeman se kreatiewe tekste. Dit is bykans asof die ambisies en drome van die jong Schoeman ten opsigte van roeping en die amp in die Rooms-Katolieke Kerk (in beide die klooster en seminarium), in samehang met sy tyd as verpleër, vir dekades daarna steeds neerslag gevind het in sy werk, alhoewel dit mettertyd ook verryk is deur ander invloede soos die Boeddhisme.

Dit was kortliks Karel Schoeman die versorger wat die ars moriendi beoefen en wie se beoefening daarvan deur die persoon wat versorg word, positief beoordeel word, maar in dieselfde boek tref ons ook Schoeman die liturg by die laaste oorgang in die lewensloop van die mens aan. Treffend is die beskrywing in Die laaste Afrikaanse boek waar hy self optree as voorganger in 'n ritueel wanneer hy sy moeder se as in die Vrystaat gaan strooi:

My prokureur het die verassing gereël, en by die begrafnisondernemer in die stad is my moeder se as aan my oorhandig in 'n wit kartondoos van die tipe waarin gebak verpak word, in 'n plastieksakkie gevul met wat lyk soos gruis, so slordig volgemaak dat as gemors het, los op die bodem van die doos; deur die besige strate van die middestad het ek die vrag gedra, verbaas oor die gewig daarvan, swaar soos 'n lyk in my hande. Die volgende herfs het ek dit tydens 'n besoek aan die Vrystaat gestrooi, soos my moeder geweet het sou gebeur, op die plaas van 'n vriendin wat saam met my op universiteit was en wat ook aan my moeder veel vriendelikheid betoon het terwyl sy nog in Bloemfontein gewoon het; net sy en 'n ouer vriendin van my moeder was aanwesig. Dit het daardie jaar goed gereën en die veld was geil, die plaasdam was vol en op die water het voëls na mekaar geroep. Uit my moeder se ou Bybel het ek psalm 103 gelees wat ek gedurende die laaste jare vir haar voorgelees het wanneer sy beangstig was by die gedagte aan dood, oordeel en straf: "Want zoo hoog de hemel is boven de aarde, is Zijne goedertierenheid geweldig over degenen, die Hem vreezen. Zoo verre het oosten is van de westen, zoo verre doet Hij onze overtreedingen van ons." Die lug was vol los drywende wolke, skitterend in die middagson: die hele vlak, wye golwende land, uitgestrek van horison tot horison, was 'n patroon van deinende lig en skadu. (592)

Die beskrywing wat Schoeman in Die laaste Afrikaanse boek van sy eie rituele handelinge aanbied, is tegelykertyd realisties en romanties. Daar is die as van sy moeder in 'n kartondoos wat mors en terselfdertyd in die een beskrywing is daar ook die voëls wat op die geil Vrystaatse vlakte na mekaar roep. Daar is die buitestander wat as liturg optree met slegs twee vroue as getuies by die "graf". En soos in sy kreatiewe werke is daar die immer teenwoordige spel met lig en donker. Schoeman lei hier die verassingsdiens van 'n "Nederlander" (ten dele 'n vreemdeling) op ander se grond in die Vrystaat, wat ook 'n terugkerende tema in sy werk is. Dit is 'n ritueel wat as oorgangsgritueel die laaste oorgang van sy moeder simboliseer, alhoewel die beskrywing daarvan omgeef is met die moontlikheid van "iets" meer. Daar is die lig wat met slegs die skaduwee gekontrasteer word en die groei en voëls van die lente wat hier in die herfs voorkom, word ook beskryf. Verder is daar die plaasdam wat vol is en so ook die simboliek van die dam op Eindvlei in 'n Lug vol helder wolke laat terugkeer. En laastens en uiters belangrik: daar is die woorde van genade en vergifnis.

Wat waar is ten opsigte van die uitbeelding van die mens (karakter) Karel Schoeman in sy outobiografie, is ook waar ten opsigte van baie van sy karakters in sy romans. In al die gevalle van die karakters wat positief uitgebeeld word in hulle beoefening van die ars moriendi in sy romans en novelles, is daar ook die feit dat hulle "iets" meer sien. In Die uur van die engel is daar Danie Versies wat 'n engel gesien het. Dominee Heyns in dieselfde roman se kort lewe staan deurgaans in die sfeer van die "iets" en spesifiek ook vanuit sy roepingsbelewenis. Pastoor Scheffler in 'n Ander land se prediking getuig van sy oortuigings en geloof. Selfs die ateïs Meester in n Lug vol helder wolke staan in hierdie tradisie, of is miskien die vader van hierdie tradisie, deurdat hy as ateïs steeds ruimte skep vir die geloof van ander en nuwe moontlikhede ontsluit. Meester het nie 'n engel gesien nie, maar vanaf 'n Lug vol helder wolke, in 'n Ander land en tot en met die Stemme-drieluik en selfs in Die laaste Afrikaanse boek is daar nie alleen spore van die inwaartse reis nie, maar tekens dat daardie reis ook verband hou met 'n bepaalde beskouing rakende die aard van die werklikheid.

Die "iets" is deur die lens van die dood en die ars moriendi terug te vind in al hierdie tekste, alhoewel dit heelwat verder geneem word in Die uur van die engel sodat die hele roman 'n bykans sakramentele tekstuur verkry. Dit is nie alleen die "iets" van die panteïsme van die plaasroman-tradisie nie, die "iets" wat te vinde is in die landskap en die natuur nie, maar die "iets" wat deur die dood as misterieuse gas 'n moontlikheid word. Sodoende is dit 'n besonder brose "iets".

In al hierdie karakters is die reis-tema in samehang met verlies terug te vind. Met verwysing na Hölderlin merk die Ierse filosoof Richard Kearney op: "[...] unless we first experience an uncanny sense of homelessness (Unheimlichkeit), we cannot begin the journey of homecoming (Heimkommen); a journey that is never a return to a fixed origin (Heimat) but a turn toward a home always still to come (Heimat als Ankunft)". (13) Die reis wat inwaarts gaan, staan by Schoeman grootliks in die teken van sterwe en dood. Die dood bied in hierdie lewe die potensiaal van 'n disoriëntasie wat, indien dit inderdaad as 'n gas ontvang word, die potensiaal van reoriëntasie bied. Kearney merk ook op: "The shortest route from wonder to wonder is loss" (13).

Karakters se verstaan en belewenis van die werklikheid beïnvloed hoe hulle die ars moriendi beoefen en dit wil voorkom asof hulle inwaartse reis, wat saamhang met hulle reflektering oor die dood, 'n ander venster oopmaak op die (harde) werklikheid van die lewe. Dit is deur reisend besig te wees met die dood, of anders geformuleer, deur gasvryheid te betoon teenoor die dood as vreemdeling, dat engele reisgenote word. Die dood as gas wat ontvang word, word erken as (doods)engel, maar maak van die gasheer insgelyks 'n engel wat self weer ander kan besoek, maar wat ook ander engele kan eien.

Die ritual studies-kenner Ronald Grimes skryf oor fiksie:

fictive worlds are sanctuaries in which one can fruitfully reimagine ritual [...] Just as a ritually defined arena can serve to keep ordinary existance at bay by putting action, as it were, in quotation marks ('dying7 ritually is not the same as dying in an auto accident), so fiction can bracket off ritual from the imperative to embody and enact, which rites normally entail. (13)

Fiksie bied dus 'n unieke en potensieel belangrike visie op ritueel (en liturgie) wat nie op ander wyses verkry kan word nie. Grimes skryf verder: "The relative disengagement provided by fiction can either become a disease, a way of hiding and refusing responsibility, or it can substantially renew that from which it is tactically and momentarily disengaged" (13).

Fiksie bied dus 'n unieke en potensieel belangrike visie op ritueel en selfs versorging wat nie op ander wyses verkry kan word nie. Ek is van mening dat vir die Praktiese Teologie die kreatiewe werk van Karel Schoeman inderdaad 'n heiligdom is, om die sosiaal-wetenskaplike Grimes se woord te gebruik, waarin ons met vrug in ons eie dag ritueel in die algemeen, en die ars moriendi in die besonder, kan herverbeel.

Karel Schoeman se lewe en kreatiewe oeuvre getuig van 'n inwaartse reis in die teken van gasvryheid teenoor die laaste gas op die lewensreis van die mens. Hy laat vir ons 'n besondere bron na waarby ons nog vir lank baat kan vind. Vir sommiges mag hierdie tema en die waarde daarvan redelik morbied klink, maar in 'n doodontkennende samelewing, huldig ek hom daarvoor.

 

Aantekening

Hierdie huldeblyk is op Donderdag 11 Mei 2017 in die Eduardo Villa-museum, Universiteit van Pretoria, Pretoria gelewer. 'n Ander weergawe van die huldeblyk is op 4 Mei 2017 op Litnet gepubliseer.

 

Geraadpleegde bronne

Grimes, R. L. Fictive Ritual. Reading, Writing, & Ritualizing. Waterloo: Ritual Studies International, 2013.         [ Links ]

Kearney, R. Anatheism. Returning to God after God. New York: U of Columbia P 2010.         [ Links ]

Olivier, G. "Beskouing." Sluiswagter by die dam van stemme. Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Reds. W. Burger en H. van Vuuren. Pretoria: Protea, 2002. 20-34.         [ Links ]

Schoeman, K. Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau, 2002.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License