SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Karel Schoeman se skrywerskap en vroeër werk: 'n persoonlike perspektiefKarel Schoeman en die kuns van sterwe author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2731 

HULDEBLYK

 

Niemand op Rietvlei nie: ter nagedagtenis aan Karel Schoeman

 

 

Andries Bezuidenhout

Sanger, digter, rubriekskrywer en resensent. Hy is mede-professor in die Departement Sosiologie aan die Universiteit van Pretoria. E-pos: andries.bezuidenhout@up.ac.za

 

 

"Wie is jy?" roep die man

Verblind deur die skielike lig hou hy sy hand voor sy oë. "Ek soek die pad na Rietvlei," antwoord hy. (Schoeman 5)

Dis die eerste drie sinne uit Na die geliefde land (1972), drie besonderse kort sinne, gegewe Karel Schoeman se vermoë om sinne te skryf wat oor drie bladsye strek, draalsinne wat nietemin daarin slaag om 'n spanningsveld te bewerkstellig.

Dis hierdie roman wat my aan Schoeman se werk voorgestel het. Ek het dit op aandrang van 'n koshuisvriend van my pa gelees, 'n oud-Sonopper, aan wie se studeerkamermuur 'n ou Suid-Afrikaanse vlag tot diep in die nuwe millenium gehang het. Dalk hang dit steeds daar.

Ek vermoed ek het Na die geliefde land heel anders as my pa se koshuisvriend gelees. Hy het die aanbeveling waarskynlik as 'n tipe waarskuwing bedoel. In die tyd wat ek dit gelees het, seker in die laat-1980s, het dit my in staat gestel om my te verbeel dat ek dalk beter weet hoe dit moet wees om aan die ontvangkant van 'n outoritêre regime te wees-ek kon my in iemand anders se standplaas indink. Dis wat kuns soms doen: Wat die kop vermoed kom in die hart ook aan.

Dat Schoeman in 1972 'n plaasroman kon skryf oor 'n toekomstige landelike situasie, waarin beleërde wit boere aan 'n swart regering onderwerp word, is merkwaardig-kort na Sharpeville, maar nog voor die stakings van 1973 en die skoolopstande van 1976.

Ek moet in hierdie huldeblyk iets sê oor hoe 'n sosioloog Karel Schoeman lees. Sosioloë het baie by Schoeman te leer, maar Schoeman kan nie tot sosiologie gereduseer word nie. My dissipline, met 'n fokus op objektiewe navorsing, statistiek en Emile Durkheim se sosiale feite, is immers een van die dissiplines wat vir die vervlakking van die lettere verantwoordelik is.

Hierdie vervlakking word uitstekend deur Wolf Lepenies in sy boek Die drei Kulturen: Soziologie zwischen Literatur und Wissenschaft (vertaal as Between Literature and Science: The Rise of Sociology) beskryf. Lepenies wys hoe dat, voor die koms van sosiologie en aanverwante sosiale wetenskappe, die bestudering van literatuur, filosofie en klassieke tekste die grondslag was vir wat ons vandag "Geesteswetenskappe" noem. Ek verkies steeds die ou naam van die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria, naamlik Lettere en Wysbegeerte, of selfs die Engels, "Humanities"-benewens wetenskap gaan die lettere ook oor verwondering en 'n waardering vir kuns.

Schoeman was 'n man van die lettere, amper Victoriaans in sy vasberade soeke na 'n breër begrip van die menslike toestand, 'n soeke wat so wyd was dat dit die tipe spesialisasie waarin die Nasionale Navorsingstigting belangstel so instrumenteel laat voorkom as wat dit in der waarheid is.

Na 'n aanvanklike kennismaking met die formele akademie het Schoeman sy toevlug tot 'n klooster, biblioteke en die argief geneem. Hier het hy gelees, gelees, gelees en geskryf. Hy het boeke gemaak-báie van hulle. Dis dalk Schoeman se buitestanderstatus en die gebrek aan burokratiese beheer oor sy navorsingsprogram wat hom so deksels interessant maak.

Met sy skryfwerk het hy genres oorbrug-romans, radiodrama, vertaling, die redigering van dagboeke, die publikasie van versamelings foto's, 'n bemoeienis met argitektuur, plaaslike geskiedenisse, reisverslae, biografie as biografie (Schreiner), biografie as roman (Michelangelo), outobiografie, transnasionale geskiedskrywing, altyd met die vloei van mense, goedere en idees in gedagte.

'n Ruk terug het geskiedkundiges begin praat oor die tekortkomings van nasionale geskiedskrywing, omdat die nasiesstaat 'n onlangse verskynsel is en ons as't ware die nasiestaat teruglees op 'n landskap wat eerder deur wêreldryke gekenmerk is. Schoeman was reeds daar; lees maar Kinders van die Kompanjie: Kaapse lewens uit die sewentiende eeu (2006). In hierdie boek word die storie van die Khoi-Khoin-leier Doman vertel, wat Batawië toe gestuur is om Nederlands te leer praat. Doman het die taal geleer, maar ook hoe jy brandstigting kan gebruik om jou oorheersers se lewens moeilik te maak. Praat van kontemporêre relevansie! Verder kry 'n mens begrip vir die oorsprong van alkoholisme en verslawing as mens oor die gebruik van arak en tabak as vorms van maatskaplike beheer en oorheersing lees.

Schoeman se bemoeienis met geskiedenis het inslag in sy romans gevind-van die vroeë koloniale verlede tot 'n post-apokaliptiese toekoms. Daar is min sosiale wetenskaplikes wat met soveel insig oor die tekstuur van patriargie en geletterdheid in Suid-Afrika kon skryf (Hierdie lewe), oor religie en koloniale oorheersing (Verkenning), oor hetero-normatiewe ordes (Op 'n eiland, Afskeid en vertrek), hegemoniese manlikheid en geweld (Verliesfontein). Ek gebruik sosiologiese terme-elk reeds geyk en voosgebruik-maar Schoeman se romans, al word hierdie kwessies aangesny, gaan oor soveel meer as net dit.

Dis subversiewe romans in tye waarin Amerikaanse identiteitspolitiek Franse post-strukturalisme deur middel van 'n oordosis puriteinse moralisme omsit in 'n kwetterende sensuurmasjien. Hierdie masjien sou Hierdie lewe, waarin die spreker vroulik is, waarskynlik afmaak as 'n daad van manlike geweld. Wie is hy? Hoe durf hy!

Hy durf omdat hy lees, sou ek antwoord, omdat hy luister, bewus van die feit dat sommige stemme stilgemaak is, nie neergeskryf is nie. Omdat die lettere die idee van 'n gedeelde menslikheid toelaat, al is dit waarskynlik 'n fiksie. As ons dít laat vaar, is al wat oorbly die Factory of Humanities en die Department Store of Sociology waarin nis-identiteite om die mees outentieke benadelingstatus meeding.

Oor elk van Schoeman se romans sou mens 'n sosiologiese essay kon skryf, maar dis waarskynlik beter om die boeke te lees, weer te lees, om te besef dat die roman 'n bewussynsveld kan bewerkstellig wat die wetenskaplike ontwyk-hoekom studente in sosiologie, ingenieurswese, ekonomie en geneeskunde ook die letterkunde behoort te bestudeer.

Dit gaan oor 'n menslike soeke na betekenis, na identiteit, na 'n tipe tuiskoms vir diegene van ons wat van boeke en gedigte hou in 'n plek waar jy veel beter daaraan toe is as jy geld kan tel of raak kan skiet-die tipe soeke waarmee mense reeds vir eeue lank in kloosters, biblioteke en universiteite besig is.

Die verlede is 'n ander land. Miskien lees ek Schoeman nou anders as toe ek Na die geliefde land vir die eerste keer gelees het. Karel Schoeman is nou vir my 'n tipe doodsbegeleier, iemand wat my help om vrede te maak met die afsterf van die taalvorm waarin ek musiek maak en gedigte skryf, waarin ek my vakdissipline vir die eerste keer leer ken het ("vervreemding", nie "aliënasie" nie).

Dis 'n taal wat uit die interaksie tussen slawe en meesters onstaan het, 'n taal waarin een van die mensdom se mees groteske maatskaplike ordes tot stand gebring is, die taal met die dubbele negatief. Dis ook 'n taal waarin betekenisvolle en verruk-like romans geskryf is-dalk júis omdat die sprekers van hierdie Kreoolse taal met die uiterste pole van menslike mislikheid gekonfronteer is, met die onmoontlikheid van 'n etiese bestaan binne 'n kontinent waar daar vir hulle nog nooit 'n tuiskoms sonder geweld was nie en waarskynlik nooit sal wees nie.

"Ek soek die pad na Rietvlei," antwoord hy.

[...]

"Daar is niemand op Rietvlei nie, jy kan nie soontoe gaan nie." (Schoeman 5)

 

Aantekening

Die huldeblyk is op Donderdag, 11 Mei 2017 in die Eduardo Villa-museum, Universiteit van Pretoria, Pretoria gelewer.

 

Geraadpleegde bronne

Lepenies, Wolf. Between Literature and Science: The Rise of Sociology. Trans. R. J. Hollingdale. Cambridge: Cambridge U P, 1988.         [ Links ]

Schoeman, Karel. Na die geliefde land. 1972. Kaapstad: Human & Rousseau, 1994.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License