SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Karel Schoeman se dood: 'n Koue dag vir die letterkundeNiemand op Rietvlei nie: ter nagedagtenis aan Karel Schoeman author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2962 

HULDEBLYK

 

Karel Schoeman se skrywerskap en vroeër werk: 'n persoonlike perspektief

 

 

Renée Marais

Vertaaldosent en programbestuurder van die nagraadse program in Vertaal- en Tolkstudie aan die Universiteit van Pretoria. E-pos: renee.marais@up.ac.za

 

 

Ons was in die kombuis besig om ontbyt te eet toe die gedig "Seekoevlei" vroeg een weeksoggend in Junie oor die radio voorgelees is, met die aankondiging dat N. P. van Wyk Louw die vorige dag gesterf het:

ek staan weer by 'n wit poel

waar 'n wintermiddag sneeu

en ek is klein en hoor verskrik

'n jakkals uit die rante skreeu (Louw, "Seekoevlei" 7)

Ek onthou my ongeloof en verslaentheid. Ek was elf jaar oud en het pas vantevore met Louw se poësie kennis gemaak deur 'n Groot verseboek wat my pa vir my present gegee het. Ek was betower deur sy gedigte. Dat hy nooit weer 'n nuwe gedig sou skryf nie, het ek as 'n persoonlike verlies aangevoel.

Die nuus van Karel Schoeman se dood het 'n ewe sterk gevoel van verlies by my ontlok. Ek het as vyftienjarige skooldogter reeds met sy romans kennisgemaak deur sy eerste twee vie romancées, oor Rembrandt en Beethoven. Daarna het ek stelselmatig al die Karel Schoemans op ons dorpsbiblioteek se rak gelees.

Op 'n eiland (1971), 'n voorgeskrewe werk aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, het onherroeplik van my 'n Schoeman-leser gemaak. Dit het dieselfde emosionele reaksie by my ontketen as Goethe se briefroman Die Leiden des jungen Werthers (1774), wat ons in Duits gelees het, en die musiek van Brahms en Chopin wat ek ingestudeer het. Vandag sal ek Op 'n eiland tipeer as 'n roman van die Romantiek, en 'n Bildungsroman (ontwikkelingsroman) met 'n poëtiese kwaliteit wat in Schoeman se latere meesterwerke met groter ingehoue emosie en volkome stilistiese beheer onder woorde gebring word.

Hoe meer ek van Schoeman gelees het, hoe minder kon ek begryp dat sy oeuvre soveel minder aandag geniet het as dié van die skrywers van Sestig. In die eerste twintig jaar sedert Schoeman se debuut (in 1965), toe hy al twaalf romans, agtien niefiksiepublikasies én 'n Hertzogprys op sy kerfstok gehad het, is daar net vier magisterverhandelings en twee doktorale proefskrifte oor Schoeman se werk voltooi. Ek het geweet dat ek my verdere navorsing oor Schoeman wou doen.

Alhoewel minstens vyf van Schoeman se eerste twaalf romans baie positief ontvang is, was dit die twaalfde, 'n Ander land (1984), wat by 'n groter leserspubliek aanklank gevind het. In verskeie opsigte is hierdie roman rigtingaanduidend binne Schoeman se oeuvre, byvoorbeeld deur die akkurate inkorporering van die Vrystaatse geskiedenis en kultuurgeskiedenis, die Nederlandse en Duitse leefwêreld, die sending en die rol van die sendeling, die uitbou van die ruimte tot 'n rolspeler-'n personasie-binne die roman, én die manier waarop die hoofkarakter, Versluis, na die dood toe lewe. Dié roman het in Schoeman se oeuvre én in die Afrikaanse letterkunde 'n nuwe benadering tot die historiese teweeggebring. Tussen 1980 en 1985 verskyn Schoeman se eerste historiografiese publikasies in boekvorm: vyf boeke oor aspekte van die geskiedenis, of kultuurgeskiedenis, van die Vrystaat, spesifiek Bloemfontein. Die naasmekaarbestaan van fiksie en niefiksie oor dieselfde gegewe lui 'n nuwe werkwyse vir Schoeman in.

Vir byna veertig jaar sedert sy debuut het Schoeman hom weerhou van uitsprake oor sy werkwyse as skrywer, en sy poëtikale opvattings. In die outobiografiese Die laaste Afrikaanse boek (2002) kom hierdie aspekte wel ter sprake. Hierdie teks, saam met verspreide onderhoude en argivale materiaal vorm die grondslag van my ondersoek na Schoeman se poëtika en werkwyse. In 'n onderhoud op sy sestigste verjaardag verklaar Schoeman byvoorbeeld dat daar in wese geen verskil is tussen die skryf van fiksie en niefiksie nie, behalwe dat die skrywer die proses kan beheer wanneer hy niefiksie skryf, maar nie wanneer hy fiksie skryf nie. Hy bestempel die onderskeid tussen fiksie en niefiksie as "kunsmatig", maar tipeer tog sy eie publikasies op grond van genre-indelings.

As Schoeman die onderskeid tussen fiksie en niefiksie "kunsmatig" vind, tref hy daarteenoor wel deeglik 'n onderskeid tussen lesers en literatore. "Akademici en lesers [...] is twee dinge wat jy uitmekaar moet hou," sê Schoeman in 'n onderhoud met Olivier, want die leser lees omdat hy wil en die akademikus "omdat hy moet lees [...] en dikwels ook omdat hy sy slimgeid probeer bewys" (22-3). Vir "die gewone leser wat by die huis gaan sit, hoop mens, en die boek oopslaan en sê: 'Haai gits, hoe wonderlik'," (23) het Schoeman meermale sy waardering uitgespreek. In hierdie huldeblyk spreek ek daarom vandag my waardering teenoor Schoeman uit as 'n gewone leser; weliswaar teen die agtergrond van 'n akademiese beskouing van sy werk, maar nie andersom nie. Volgens Barron was Schoeman ongelukkig omdat Afrikaanse lesers hom geprys het, maar nie bereid was om hom in monetêre terme te vergoed nie: "He had a self-deprecating explanation for his poor readership: Afrikaners wanted a story, he said. Nothing happened in his books and the main characters died anyway at the end [.] His work was highly praised by serious literary critics who recognised it as the work of a master. But he wasn't writing for them" (19).

Schoeman was 'n meester van die stilistiek, 'n skrywer met 'n indringende kennis van die geskiedenis en kultuur van Wes-Europa, die Verenigde Koninkryk, en Ierland.

Ná sy terugkeer na Suid-Afrika word hy mettertyd dié skrywer by uitnemendheid oor die pioniersgeskiedenis van die land; en verhef hy die landskap tot 'n metafoor en manifestasie van ons identiteit en verbondenheid aan Afrika. In Schoeman se romans staan inderdaad nie die uiterlike handeling wat voorop nie, maar die innerlike, emosionele lewe van die mens. In sy groots opgesette romans wat aan dié van die Russiese meesters herinner, skep hy die stilte wat nodig is om uiteenlopende stemme in hierdie land tot spreke te bring.

Ek gaan terug na waar ek begin het. Louw en Schoeman se werk rig enersyds 'n emosionele appèl tot die leser en daag hom andersyds intellektueel uit. Die lees van hulle werk is daarom nooit 'n serebrale ervaring nie. Vir diegene wat fyn kan lees, word die skrywer deur sy woorde geopenbaar. Aan soveel aspekte van Schoeman se werk is daar nog kwalik aandag gegee-hy sal nog lank in ons midde wees.

Volgens Herman de Coninck in sy gedig "Poëzie" (22) bied poësie troos sonder om te troos. Die slot van Op 'n eiland beskryf smart en troos:

Hy kyk na my, en dan vertrek sy gesig langsaam; hy knyp sy oë toe en daar loop trane oor sy wange. Blindelings strek hy sy hand na my uit, en ek sit my arms om hom en hou hom vas, druk sy kop teen my aan en voel die rukkerige beweging van sy skouers. Daar is niks wat ek kan sê nie, niks wat ek kan doen nie; daar is geen woord of gebaar waarmee jy 'n ander se smart kan aanraak nie. Ek het daar bly staan en hom vasgehou tot die ergste heftigheid oorgegaan het, terwyl ek oor sy geboë hoof uitkyk na die see en die draaiende voëls. Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie. (Schoeman 132)

En, as 'n groet aan Karel Schoeman:

Net [hy], hoog en eensaam,

het in 'n nuwe dans stil begin gaan

die pad wat geen mens terug kan loop:

die dans van dié wat sterf en geen hoop

meer wil hê in die soet lewe, 'n gang

soos van die stil sterre wat bokant hang

elke nag

óm [hom] was die grys wind

en die grys land sonder boom of gras,

en eensaam water wat branding was

tot teen ver kape. (Louw, Raka 19)

So was dit genoeg.

 

Aantekening

Hierdie huldeblyk is op Donderdag 11 Mei 2017 in die Eduardo Villa-museum, Universiteit van Pretoria, Pretoria gelewer.

 

Geraadpleegde bronne

Baron, Chris. "Karel Schoeman: Solitary writer who shunned international fame". Sunday Times. 7 Mei 2017.         [ Links ]

De Coninck, Herman. "Poëzie". Met een klank van hobo. Herman de Coninck. Amsterdam: Van Oorschot, 1980.         [ Links ]

Louw, N. P van Wyk. Raka. Kaapstad: Tafelberg, 1981.         [ Links ]

______. "Seekoevlei". Nuwe verse. Kaapstad: Nasionale Boekhandel, 1963.         [ Links ]

Olivier, Gerrit. "Onderhoud met Karel Schoeman." Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Reds. Willie Burger en Helize van Vuuren. Pretoria: Protea, 2002. 20-43.         [ Links ]

Schoeman, Karel. Op 'n eiland. Kaapstad: Human & Rousseau, 1971.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License