SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Karel Schoeman (1939-2017)Karel Schoeman se skrywerskap en vroeër werk: 'n persoonlike perspektief author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2935 

HULDEBLYK 

 

Karel Schoeman se dood: 'n Koue dag vir die letterkunde

 

 

Vasu Reddy

Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. E-pos: vasu.reddy@up.ac.za

 

 

Toe die nuus aan my meegedeel is, was ek, soos baie ander ook, heel hartseer om van die omstandighede rondom Schoeman se dood te verneem. Nie omdat ek hom persoonlik geken het nie, maar omdat ek, soos u, tog op 'n manier 'n idee van die man gehad het deur sy werk. Aangesien ek sekere van sy vroeëre werke, veral Veldslag (1965), By Fakkellig (1966), Die Hemeltuin (1979) en 'n Ander Land (1984) gedurende my literatuurstudies bestudeer en sy produktiwiteit en bydraes oor die laaste paar jaar gevolg het, is dit duidelik dat sy dood 'n baie koue dag vir die literatuur inlei. Meer as die omstandighede rondom sy dood, bied die dood van 'n outeur 'n geleentheid vir introspeksie, refleksie en selfs verdere spekulasie oor die werk wat hulle agterlaat. Daar is verskeie woorde wat kan gebruik word om Schoeman te beskryf, naamlik privaat, selfvertwyfelend, selfweersprekend, versoberend, niesentimenteel en onbewoë. Die blote weerstand wat sy werk teen vereenvoudiging en analise bied, blyk die mees voor die hand liggende eienskap van sy werk te wees.

Toegegee, ek is nie 'n kenner van hierdie groot outeur se werk nie, en ek gee ook nie voor om 'n volledige begrip van sy enorme oeuvre te hê nie. Sekere outeurs spoor ons op verskeie maniere aan om lewenslange studente van hulle werk te word-en Schoeman hoort in hierdie kategorie. My enkele opmerkings is bondig, aangesien ek daarvan bewus is dat daar meer bevoegde kommentators bestaan wat Schoeman vanuit 'n verskeidenheid dissiplinêre perspektiewe lees en bestudeer. Wat ek sê, doen ek in die konteks van erkenning aan wat Schoeman vir ons in die breër veld van die geesteswetenskappe beteken-veral in die tyd waarin ons leef en werk, waar 'n onstuimige nasionale politieke situasie, in samehang met 'n onrustige wêreldorde, ons herinner aan die diep behoefte aan betekenis in 'n wêreld gevul met bose probleme (wicked problems). Sy werk herinner ons aan die aannames, motiewe en die implikasies van alles.

Ons bring hulde aan 'n groot skrywer wie se statuur en bydrae, glo ek, selfs meer betekenisvol sal word na sy dood. By hierdie geleentheid waar ons oor sy dood praat, herinner ek my aan die klassieke essay van Roland Barthes, Franse literêre kritikus en teoretikus, genaamd "Die Dood van die Outeur". Daarin dui hy aan dat 'n outeur nie slegs 'n "persoon" is nie, maar 'n sosiaal- en historiessaamgestelde onderwerp. Gebaseer op Marx se deurslaggewende insig dat dit geskiedenis is wat mense maak, en nie, soos Hegel gedink het, die mens wat geskiedenis maak nie, beklemtoon Barthes dat 'n outeur nie voor of buite taal bestaan nie. Met ander woorde, dit is deur sy skryfwerk wat die outeur gemaak word en nie omgekeerd nie.

Soos Barthes (143) dit stel, "dit is taal wat praat, nie die outeur nie"-of trouens die neerskrywer nie. Fiktiewe werke is palimpseste, en as sodanig ontdaan van enige "enkele 'teologiese' betekenis (die 'boodskap' van die Outeur-God)" (Barthes 146). Die sleutel tot 'n teks is nie te vinde in sy "oorsprong" nie, maar in sy "bestemming": "die geboorte van die leser moet ten koste van die dood van die Outeur wees" (148).

Waar ons op verskillende maniere hulde aan Schoeman bring, kom dit met 'n opregte erkenning van en waardering vir die omvangryke korpus wat hy nalaat. Terwyl ons die dood van 'n skrywer gedenk, moet ons terselfdertyd die geboorte van die leser erken. Schoeman laat baie gawes na waarop ons trots moet wees: 19 versamelings prosa, en 46 niefiksiewerke wat biografieë, historiese geskrifte, outobiografieë en reisverhale dek. Bo en behalwe die huldeblyke, besprekings en blogs wat sy kolossale bydraes loof, of debatvoering oor sterf met waardigheid wat ontlok word, is 'n sentrale tema wat my bybly die waarde wat hy aan die samestelling en bewerking van sy tekste heg-en die enorme krag van woorde en idees. As akademici het ons opwindende, energieke en toegewyde werk om ons besig te hou met die kreatiewe en intellektuele nalatenskap wat hy aan ons bemaak.

Sy dood is 'n onmeetbare verlies, nie net vir die Afrikaanse letterkunde nie, maar ook vir die hele spektrum van wat 'n Suid-Afrikaanse letterkunde uitmaak. Die korpus wat Schoeman nalaat vir die letterkunde, en as 'n verlengstuk daarvan die wêreldletterkunde, dui daarop dat sy taal, moed en invloed nie net sy prosastyl raak nie maar ook die skryfhandeling self.

Schoeman het herhaaldelik verklaar dat hy baie verskuldig is aan die Britse skrywer L. P Hartley se beroemde woorde "the past is a foreign country: they do things differently there," ofskoon dit vir Schoeman minder oor die doen en late van die inwoners van sy land gaan en meer oor die moeilike reis daarheen (vergelyk Morton). Vroeg in sy 1998-roman, Verliesfontein, uit die Stemme-trilogie, skryf Schoeman: "Die verlede is 'n ander land; waar is die pad wat soontoe loop?" (31). Soos Willie Burger uitwys, is "Schoeman se bemoeienis met die verlede, met herinnering en die moontlikhede om die verlede te rekonstrueer uit herinneringe of uit oorblyfsels van die verlede [...] belangrik in sy hele oeuvre maar staan veral sentraal in die Stemme-drieluik" (81).

Dit blyk ook duidelik uit sy werk dat hy bewustelik nie as 'n geskiedkundige skryf nie, maar dat hy die geskiedenis in die konteks daarvan benader. Natasha Erlank beskryf Schoeman as "a novelist and author who has breathed life into the dry bones of history" (n. p.) Na die geliefde land (1972), in Engels uitgegee as Promised land in 1978, is volgens Cheney nie die eerste roman oor 'n toekomstige Suid-Afrika nie, maar dit was die eerste sodanige roman wat nie kolonialisme of apartheid gesteun het nie.

Hoewel die teks konteksgebonde is, is daar 'n gedeelte wat aansluit by dit waarmee ons vandag as 'n land op sekere wyses worstel. Volgens Cheney is Promised land se temas voor die hand liggend en Schoeman maak seker dat lesers dit nie mislees nie. In een van haar talle besinnings oor haar lewe sê Carla vir George:

When something becomes irrevocable, you have to recognize the fact and accept it. It doesn't help to kick and struggle, all your tears and your prayers won't help. You must go on with your life, as well or as badly as you can. It's life that's unyielding, implacable, not me. The old world has disappeared and it will never, in all eternity, come back, even if we give our lives to try to regain it. We must learn to live in the new world. (219)

Daardie nuwe wêreld het egter verander; ons leef in 'n ander interregnum, soos Nadine Gordimer op hierdie tydstip sou gesê het.

Met die karakter Sussie in Hierdie lewe (1993) / This Life (2005) het Schoeman 'n sterwende vrou geskep wat insig uit die dood verkry-nie slegs as gevolg van daardie skielike openbaring nie, maar herhaaldelik in die loop van haar lewe en deur die dood van ander. Tog erken sy, terwyl sy die dood van haar moeder betreur en die beskouings van ander verwerp, dat hierdie pynlike en intieme verlies aan haar nuwe krag gegee het: "So much had already changed or been lost over the years, that this was only one more change and loss in the long sequence; I had survived each change and each loss thus far, and I knew I would be able to endure this one too, regardless of their expectations" (179).

Tydens die finale fisiese distansiëring gedurende die laaste dae van sy lewe skryf Schoeman: "Oor die afgelope jaar of twee het ek besef dat die navorsing en skryfwerk wat my so lank besig gehou het vir my 'n las begin word, en ek het met 'n sekere verligting daarvan afstand doen" (in Du Toit). Op 'n manier dien hierdie laaste woorde ook as 'n uitnodiging aan ons, sy lesers, om aan te hou skryf, indien hy met distansiëring bedoel dat sy taak afgehandel is, maar dat ons taak as lesers nou begin.

As die geesteswetenskappe 'n gebied is wat ons dwing om menslik te wees, bied Schoeman se werk aan ons 'n logiese aanknopingspunt om te verseker dat sy denke, sy denkwereld, 'n uiters belangrike deel van die kurrikulums uitmaak om ons onderrig, navorsing en denke te inspireer. As een van die ander belangrike eienskappe van die geesteswetenskaplike dissiplines die idee van selfbewussyn is, dwing Schoeman se werk ons om aannames te ondersoek, noukeurig op ons terme te let en waardering te toon vir kompleksiteit en dubbelsinnigheid.

Terwyl ons dus met leedwese die heengaan van 'n groot Suid-Afrikaanse skrywer onthou, vier ons ook die waardevolle skatte wat hy aan ons almal nagelaat het. 'n Mens sou kon sê dat Schoeman in sy prosa-en inderdaad in alles wat hy geskryf het-aan ons 'n ryke nalatenskap van action architecture besorg het. Ons taak as vakgeleerdes is om die indrukke, gevoelens en betekenisse waaruit sy werk bestaan te herstruktureer en sin daaruit te maak. Daar lê 'n groot taak vir ons voor. Die stem van die skrywer is deur die dood stilgemaak, maar hy neem afskeid met 'n uitnodiging aan ons om aan te hou oor hom en sy werk te praat.

 

Aantekening

Die huldeblyk is op Donderdag, 11 Mei 2017 in die Eduardo Villa-museum, Universiteit van Pretoria, Pretoria gelewer.

 

Geraadpleegde bronne

Barthes, R. Image-Music-Text: Essays Selected and Translated by Stephen Heath. London: Fontana, 1977.         [ Links ]

Burger, W "Grafstene in Karel Schoeman se Hierdie lewe. Vertellings wat die afwesige aandui." Stilet 21.1 (2010): 81-95.         [ Links ]

Cheney, M. "Coetzee in the Promised Land." Quarterly Conversation. 2008. 9 Mei 2017. <http://quarterly-conversation.com/jm-coetzee-disgrace-karel-schoeman-promised-land>         [ Links ].

Du Toit E. "Karel Schoeman skryf waarom hy eie lewe neem." Netwerk 24. 2 Mei 2017. 9 Mei 2017. < http://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/karel-schoeman-skryf-waarom-hy-eie-lewe-neem-20170502>         [ Links ].

Erlank, N. "Die Sendingloopbaan van Karel Schoeman." Ongepubliseerde kongresreferaat. 2000. 9 Mei 2017. <https://www.academia.edu/6819990/A_Reflection_Karel_Schoeman>         [ Links ].

Gordimer, N. Telling Times: Writing and Living, 1954-2008. New York: WW Norton, 2010.         [ Links ]

Morton, J. "Karel Schoeman's 'This Life'." Words without Borders. Mei 2015. 9 Mei 2017. <http://www.wordswithoutborders.org/book-review/karel-schoemans-this-life>         [ Links ].

Schoeman, K. Promised Land. New York: Simon & Schuster, 1978.         [ Links ]

______. This Life. Kaapstad: Human & Rousseau, 2005.         [ Links ]

______. Verliesfontein. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License