SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Tongues of their mothers: the language of writingKarel Schoeman se dood: 'n Koue dag vir die letterkunde author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.2961 

HULDEBLYK

 

Karel Schoeman (1939-2017)

 

 

Hein Willemse

Professor in die letterkunde in die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. E-pos: hein.willemse@up.ac.za

 

 

Ek het Karel Schoeman nie persoonlik geken nie. Ontmoet ja, maar nooit léér ken nie. Ek het dus geen ervaring van die legendariese afjakke wat van sy kennisse oor die jare beleef het nie óf van deure wat abrup toegestoot of loergaatjies wat beslis toegeskuif is nie óf korrespondensie wat onbeantwoord gebly óf ergerlikhede wat afstand gehandhaaf het nie. Nog minder kan ek van sy mentorskap getuig. Ek en Schoeman het wel vir byna drie jaar soms saam geëet, of liewer, soms op dieselfde tyd, in dieselfde stadsbuurt, in dieselfde restaurant geëet.

Daar was 'n tyd toe ek in die Kaapse middestad aan die bopunt van St Georgesstraat naby die Parlement, die Katedraal en die Suid-Afrikaanse Biblioteek gewerk het, skuins oorkant een van die stad se oudste teekamers, St Marks met sy donkergroen leerbekleedsel en agt tafels, met daarnaas die veel groter Skotse tema-restaurant wat op 'n stadium slegs Andrea Bocelli as agtergrondmusiek gespeel het. Schoeman het gereeld sy middagetes in St Marks geëet, ten minste een of twee keer 'n week; ek: byna daagliks.

Ek het Schoeman 'n paar keer ontmoet, die eerste keer, 'n hele paar jaar nadat ek 'n meesterskripsie oor Na die geliefde land (1972) en Die hemeltuin (1979) geskryf het. Die ontmoeting was in een van die leeskamers van die Suid-Afrikaanse Biblioteek toe hy geroep is om een of ander navraag oor ou Kaapse koerante wat ek gehad het, te beantwoord. Hy was hoflik en het my navraag met professionele afstandelikheid áfgehandel. Uit ons verdere gesprek en 'n terloopse opmerking kon hy agterkom dat ek iets van sy werk geweet het, en sy vraag aan my was, "Het u die studie sinvol gevind?"

Daar was niks ergeliks of afwysend in sy stemtoon nie, maar my eie beskroom-heid het voorkom dat ek sy tyd mors en my antwoord was 'n kort "natuurlik", en daarmee was ons gesprek beëindig. Hy het weer geruisloos verdwyn terug na sy kantoor in die biblioteek se kelder. Daarna moes ek hom 'n keer of wat weer oor dieselfde navraag raadpleeg en Schoeman het sy afstandelike hoflikheid gehandhaaf.

Wat my aanvanklik na Schoeman as skrywer aangetrek het, was die onderbeklemtoning in 'n teks soos 'n Lug vol helder wolke (1967), maar veral die sosiale bewustheid en betrokkenheid in By fakkellig (1966) en later in Om te sterwe (1976), romans wat ek in ons dorpsbiblioteek teëgekom het. In By fakkellig wat in Ierland afspeel, kon ek Suid-Afrikaanse parallelle aflees en 'n sosiale gerigtheid waarneem wat nie elders in my vroeë leeswerk voor die hand liggend was nie.

In my voorgraadse studie was Na die geliefde land en Op 'n eiland (1971) voorgeskryf. Die openingreël in laasgenoemde "Dit is 'n lang reis van Piréus na die eiland" (7) het 'n leeservaring ingelei wat ek vir jare daarna nog voor die gees kon roep. Dit is die eerste Schoeman-roman wat ek begeleidend gelees het en die dosent se beklemtoning van die veelduidigheid van dié openingsreël en die subtiliteit van styl en ritme het my oortuig dat iets in sy romans gebeur wat ek slegs vermoed het, maar waarvoor ek voorheen nie die teoretiese sofistikasie of vakbegrip gehad het nie.

Schoeman se verwoording van sy hooffigure se homoërotiese belewing het vir ons as studente 'n wêreld oopgemaak waarop ek en my geslag nie voorbereid was nie. Ek kan egter nie onthou dat een van ons kru of banaal op die subtiele beskrywing van menslike toenadering gereageer het nie. Dié literêre belewing was nuut en die skoling in verdraagsaamheid durend. Laat ek u herinner aan die bekende paragraaf aan die einde van Op 'n eiland:

Daar is niks wat ek kan sê nie, niks wat ek kan doen nie; daar is geen woord of gebaar waarmee jy 'n ander se smart kan aanraak nie [...] Daar is eilande wat deur geen mens bereik is nie, wit strande wat deur geen voet betree is nie; daar is fonteine van helder water waarvan niemand ooit gedrink het nie. Daar is gebiede wat op geen kaart vasgelê is nie en kuste waaraan daar nooit 'n naam gegee is nie; geen oor hoor daar die geroep van die voëls of die slag van die branders nie, die afstande ongemeet en die dieptes ongepeil-o ja, daar is eilande. (Op 'n eiland 188)

In Die laaste Afrikaanse boek bestempel Schoeman Op 'n eiland as die "mees outobiografiese [...] persoonlikste roman wat ek geskryf het [...] desondanks [dat daar] niks in die roman [is], wat regstreeks uit my eie lewe oorgeneem is nie" (409).

Vir my is Schoeman, literêr-gesproke, by uitstek 'n skrywer van die innerlike belewing, 'n belewing wat hy dikwels met uitbreidende beskrywing ondervang het. Dit was 'n onderwerp wat inderdaad krities in resensies aan bod gestel is en waarop Schoeman in een van sy outobiografieë soos volg kommentaar lewer:

Ek onthou dat ek laat Saterdagmiddae dikwels van waar ek gewoon het [...] opgestap het na my uitgewer se huis [...] om vir 'n tydjie daar te sit en gesels, en dan telkens berig gelewer het oor die vordering van die boek, sóveel bladsye en nóg het daar niks gebeur nie-met verwysing na die resensente wat destyds nog reëlmatig gekla het dat daar in my romans 'niks gebeur' nie, 'n verskynsel wat hulle klaarblyklik kriewelrig gemaak het. Eendag kon ek egter berig dat daar uiteindelik wél iets gebeur het: my hooffiguur het gegly en in die modder geval; wat inderdaad ook een van die seldsame oomblikke van aksie en opwinding in die boek uitmaak. (Die laaste Afrikaanse boek 533)

Sy manlike hooffigure word gekenmerk deur hul sosiale beperktheid, eensaamheid en onttrekking-hul vervreemding. Hulle is figure uit 'n vervloë tyd, wanaangepas en gebrekkig toegerus vir hul hede. In die meeste van sy romans word ons keer op keer getref deur figure wat dikwels hulpeloos, afgetakeld en gepynigd sin probeer maak van hul omstandighede, soms vertrek en soms wroegend daaraan ondergaan. Sprekend hiervan is dié aanhaling uit 'n Ander land (1984):

In hierdie tyd, terwyl sy lewe meer inkrimp-van sy kamer na die stoep, van die bed na die stoel-en al sy behoeftes en begeertes, al die roerings van sy gees, hulle van dag tot dag verder aanpas by die eise van 'n liggaam wat tot al hoe minder in staat is-in hierdie tyd voel Versluis die verlange by hom opkom om vir nog een keer, al is dit ook die laaste, uit die steeds enger grense van sy wêreldjie weg te kom. (404);

óf in Hierdie lewe (1993) waar die sentrale figuur se innerlike spanning verwoord word in die herinnering aan of vergeet van 'n verbygegane era:

Ek het lank daar bly sit, want ek was moeg, en geluister na die wind wat al sterker geword het. "Die droefenis en pyn," het ek van lank gelede onthou, "o, die droefenis en pyn," sonder om nog te weet waar ek die woorde eers gehoor het of wie dit was wat dit gesing het, want die stem van die sanger het vergete geraak, so onbelangrik soos die wind. Daar groei geen plant wat genesing bring nie, het ek egter by myself geweet, geen bossie wat vergetelheid kan verseker nie. Mens is gedoem om te onthou en verder te dra aan jou las, tot die einde toe. (208-9)

Hierdie romanmatige verslaggewing van 'n lewe en 'n deurleefde buitestanderskap was Schoeman se onbetwiste stempel, 'n lewe van toewyding wat waarskynlik voortgespruit het uit die geroetineerdheid, pligsbesef en algehele oorgawe van die kloosterling wat hy eertyds was. Dit is met dieselfde oorgawe dat hy sy navorsing oor historiese figure, die vroeë VOC koloniale periode, slawerny, die sendinggeskiedenis en die vroeë Vrystaat uitgevoer het.

Tydens my meesterstudie van die Schoeman-romans het ek konstant geworstel met vrae oor die relevansie van literatuur, en meer bepaald die relevansie van die Afrikaanse literatuur vir lesers en mense met my sosiale agtergrond. Waarom wou ek my enigsins bekommer oor die wroeginge van Afrikaner-intellektuele? Wat het dit met my uit te waai? Is die kartering van die hiate in die beskrywings van die Afrikaanse letterkunde nie belangriker nie? Is die ínskryf van 'n volle, omvattende Afrikaanssprekenheid nie belangriker nie? Met my navorsing het Schoeman nie vir my direkte antwoorde gegee nie, maar daar was genoeg in al daardie vroeë romans soos By fakkellig en Na die geliefde land om vir my insig in my belewing van my er-varingswêreld te gee.

Maar terug na die begin.

St Marks-teekamer was klaarblyklik nie Schoeman se enigste eetplek nie. Hy is meesal opgemerk in die Kompanjiestuin se opelugrestaurant en op die terrasse van die luukse Mount Nelson Hotel. Daarenteen het St Marks déúrleef daaruit gesien maar die kos was bekostigbaar en heilsaam. Dis waar ek my middagetes geëet en die dagblaaie gelees het, meesal by dieselfde tafel met 'n uitsig op die deur, die wandelhal en 'n dwarsstraat. So onopvallend soos in sy werksplek het Schoeman gewoonlik by die tafel na aan die deur ingeskuif, met sy rug na die wandelhal, en sy bestelling geplaas, byna sonder uitsondering'n skotteltjie sop. Na ons ontmoetings in die biblioteek het hy soms met 'n kopknik laat blyk dat hy my herken het, maar sy kopknikke was nooit uitnodigings tot gesprek nie, daarvoor was dit te afgetrokke. Dikwels, wanneer ek na 'n rukkie van my koerant opgekyk het, het daar nuwe klante by sy tafel gesit en die lenige man met die grys baard het stilweg verdwyn tot 'n volgende keer.

Dié stadsdeel het onherroeplik verander. In die wandelhal, voor die herbenoemde Mandela-Rhodes-huis, verkoop smouse nou allerlei toeriste-aandenkings; oorkant die Katedraal op Adderleystraat het 'n Indiese magnaat 'n ultraluukse hotel agter 'n eeu-oue fasade opgerig, die geroesemoes van 'n kettingrestaurant het die klanke van Andrea Bocelli vervang en in plaas van sop en die beleënheid van ou leer ruik 'n mens nou nuwe klere in 'n boetiek.

Ek kon hierdie huldeblyk op verskillende wyses afsluit: ek kon stilstaan by Schoeman se beskrywing van eensaamheid, ouwêreldsheid, van herinnering en vergeteldheid, van wesenlike vervreemding maar ek kies om te eindig met die klinkende woorde van die karakter Carla in Na die geliefde land wat aandring om wéér gehoor te word, as 'n sleutel tot voortgang en voortbestaan:

"Wanneer iets onherroeplik geword het, moet jy die feit erken en dit aanvaar," het sy gesê. "Dit help nie om te skop en te spartel nie, al jou trane en jou gebede sal jou nie help nie, jy moet verder lewe, so goed of so sleg soos jy kan. Dis die lewe wat onver-biddelik is, nie ék nie. Daardie ou wêreld het verdwyn en dit sal nooit in die ewigheid terugkom nie, selfs al gee ons ons lewens om dit te probeer herwin. Ons moet leer om in hierdie nuwe wêreld te lewe." (149-50)

 

Aantekening

Die huldeblyk is op Donderdag 11 Mei 2017 in die Eduardo Villa-museum, Universiteit van Pretoria, Pretoria gelewer.

 

Geraadpleegde bronne

Schoeman, Karel. Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau, 2002.         [ Links ]

______. Hierdie lewe. Kaapstad: Human & Rousseau, 1993.         [ Links ]

______. 'n Ander land. Kaapstad: Human & Rousseau, 2006.         [ Links ]

______. Na die geliefde land. Kaapstad: Human & Rousseau, 1972.         [ Links ]

______. Op 'n eiland. Kaapstad: Human & Rousseau, 2009.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License