SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.54 issue2Urban orature and resistance: The case of Donny ElwoodRe-imagining family and gender roles in Aminatta Forna's Ancestor Stones author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.54 n.2 Pretoria  2017

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.54i2.1314 

RESEARCH ARTICLES

 

'n Kulturele entomologiese ondersoek na insekte in Willem Anker se Siegfried

 

A cultural entomological investigation of insects in Willem Anker's Siegfried

 

 

Joan-Mari Barendse

Nadoktorale navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch (Departement Afrikaans en Nederlands). Haar navorsing handel oor die uitbeelding van insekte in die Suid-Afrikaanse letterkunde. E-pos: jmbarendse@gmail.com

 

 


ABSTRACT

In this paper I investigate the function of the references to insects in Willem Anker's debut novel Siegfried (2007) from a cultural entomological perspective. My focus is on the character Wilhelm (Willem) Smit. Smit, a failed writer, gains his entomological knowledge from the books on insects that were left behind by the previous tenant of the house he rents on the farm of Jan Landman and his mentally disabled son Siegfried Landman. His engagement with insects goes beyond a scientific interest: he compares people and human society to insects and has a habit of eating insects. It therefore falls in the realm of cultural entomology. Since cultural entomology deals with the relationship between humans and insects, I furthermore tie my discussion to the field of Human-Animal Studies (HAS) in which the intertwinement of human and non-human animals is explored. I analyse the following three aspects in Siegfried: Smit's entomophagy (the eating of insects), Smit's general musings on the connection between humans and insects, and the comparison of the homeless people of Cape Town to insects in the novel. I investigate whether the portrayal of insect and human interaction is indicative of a posthuman interweavement or not. My conclusion is that Smit's consumption of insects is an act of desperation rather than a liberating intertwinement of human and animal. The comparison of humans to insects mainly relates to the negative perception of insects in Western culture and does not point to a posthuman transformation of human and animal.

Keywords: Willem Anker; cultural entomology; Human-Animal Studies; Siegfried.


 

 

Inleiding

In hierdie artikel onderneem ek 'n kulturele entomologiese ondersoek na die verw-ysings na insekte in Willem Anker se debuutroman Siegfried (2007). My fokus is op die karakter Wilhelm (Willem) Smit, 'n mislukte skrywer en alkoholverslaafde wat 'n kluisenaarsbestaan voer in die bywonershuisie op die plaas van die boer Jan Landman en sy verstandelik gestremde seun Siegfried Landman. Smit beskryf homself as 'n "skrywer en insekkenner" (26). Sy entomologiese kennis doen hy op deur die insek-boeke te bestudeer wat deur die vorige inwoner van die bywonershuisie agtergelaat is (22). Smit se obsessie met insekte strek verder as slegs die wetenskaplike bestudering van dié groep diere. Hy eet gedurig insekte en verder het hy 'n gewoonte om die menslike samelewing op filosofiese wyse in verband te bring met insekte. Insekte staan ook sentraal in Anker se onlangse toneelstuk Samsa-masjien (2015) waarin die karakters Gregor en Josefine Samsa 'n tipe Deleuziaanse insekwording ondergaan (Barendse). In hierdie artikel fokus ek slegs op die uitbeelding van insekte in Siegfried.

Burger ondersoek in haar doktorale proefskrif "'n Geokrities-vergelykende analise van Afrikaans- en Engelstalige Suid-Afrikaanse stedelike romans" ook verwysings na ander diere in die roman.

Die kulturele entomoloog C. L. Hogue voer aan dat die veld van entomologie tradisioneel uit twee bene bestaan het: ekonomiese of toegepaste entomologie en akademiese entomologie (die wetenskaplike bestudering van insekte). Meer onlangs ontwikkel die subveld genaamd kulturele entomologie. C. L. Hogue se seun J. N. Hogue, wat in die voetspore van sy pa volg, definieer kulturele entomologie soos volg: "Cultural entomology is the study of the role of insects in those human affairs that are practiced for the nourishment of the mind and soul, such as language and literature, music, folklore, religion, art, and recreation. These activities that pervade primitive and modern human societies are concerned primarily with life's meaning rather than its function" (239).

J. N. Hogue (239-40) beskryf verder hoe entomologiese mitologie dikwels gemoeid is met mense wat in insekte verander en andersom. Daar bestaan verder die idee dat insekte deur die proses van metamorfose die siele van gestorwe mense verkry en engele word ook dikwels met insekvlerke uitgebeeld. Die metamorfose van insekte het daarom 'n metafoor geword vir die oorgang van die lewe na die dood. In antieke samelewings het insekte dikwels goddelike status gekry: die mees bekende voorbeeld hiervan is die skarabee binne die Egiptiese mitologie. Insekte speel ook 'n sentrale rol in die skeppingsmites van verskeie kulture: "The widespread recognition of insects in this role probably stems from an innate recognition of insects as ancient members of the living world that must have been present at its creation or soon thereafter" (J. N. Hogue, 240). In moderne Westerse fiksie word insekte dikwels uitgebeeld as die wesens wat 'n apokalips kan oorleef (C. L. Hogue). Insekte was dus daar voor die mens en in die hedendaagse samelewing word daar gespekuleer dat hulle steeds daar sal wees as die mens uitgewis word.

Die "ento" in die woord "entomologie" verwys na insekte. Insekte vorm deel van die groep ongewerwelde diere genaamd Arthropoda of geleedpotiges. Insekte word geklassifiseer as geleedpotiges wat as volwassenes 'n liggaam met drie segmente ('n kop, borsstuk en agterlyf), twee voelers en ses bene het (Morris 3). C. L. Hogue wys egter daarop dat kulturele entomologie nie beperk is tot die bestudering van die rol van insekte binne die geesteswetenskappe nie: geleedpotige diere soos duisendpote, spinagtige diere en skaaldiere word ook dikwels betrek.

In my ondersoek fokus ek op die volgende drie gegewens in die roman: Smit se entomofagie ("entomophagy"-die eet van insekte), Smit se algemene filosofiese besinning oor die verhouding tussen die mens en insekte, en die wyse waarop die haweloses van Kaapstad in verband gebring word met insekte. Omdat kulturele entomologie gemoeid is met die interaksie tussen insekte en die mens plaas ek my bespreking verder binne die wyer raamwerk van mens-dier-studies (MDS), 'n inter-dissiplinêre veld wat internasionaal en plaaslik tans 'n bloeitydperk beleef (Marvin en McHugh 2; Woodward en Lemmer 1-5). Die bestudering van diere val tradisioneel binne die natuurwetenskappe waarin daar hoofsaaklik gefokus word op dieregedrag en evolusie (Birke xviii). Meer onlangs word die studie van diere ook deel van die sosiale en geesteswetenskappe en hiermee saam verskuif die fokus na die verhouding tussen mens en dier (Taylor 1). Terme soos dierestudies, antroposoölogie en kritiese dierestudies word ook gebruik om na die studie van mens-dier-interaksies te verwys. Ek verkies egter om na aanleiding van Marvin en McHugh (2) se bespreking van die term MDS gebruik te maak. Volgens hulle dui die koppeltekens in die term "mens-dier-studies" op die skakeling van mense en diere: diere word nou saam met mense en mense saam met diere bestudeer, terwyl daar nooit vergeet word dat mense ook diere is nie. Die kernbeginsel van MDS is die versmelting en verweefdheid van mense en diere (Marvin en McHugh 2-3; Woodward en Lemmer 2).

In hierdie artikel maak ek gebruik van die terme "mens[e]" en "dier[e]" alhoewel verskeie kritici binne die veld van MDS verkies om na "menslike dier[e]" en "niemenslike dier[e]" te verwys (sien byvoorbeeld Birke en Woodward en Lemmer). Ek vind dié formulerings ietwat lomp en nie onproblematies nie, omdat die term "mens" steeds deel vorm van 'n beskrywing vir alle diere wat nie mense is nie. Ek gebruik egter die terme "mens[e]" en "dier[e]" met die veronderstelling, soos uiteengesit deur Marvin en McHugh (2), dat die mens ook 'n dier is.

Marvin en McHugh (5) is van mening dat akademici se toenemende belangstelling in die verhouding tussen mens en dier te doen het met die postmenslike wending waarin daar op 'n nuwe wyse na diere gekyk word: diere word agente wat nie net mensagtige subjekte of dingagtige objekte is nie, maar rolspelers van 'n ander orde wat in wisselwerking met mense tree. Kwessies binne MDS sluit ten nouste aan by posthumanistiese en ook ekokritiese uitgangspunte (sien byvoorbeeld Braidotti; Visagie; Wolfe Zoontologies en Posthumanism). Volgens Wolfe (Zoontologies ix), wat die "vraag van die dier" ("question of the animal") binne die hedendaagse samelewing ondersoek, is die huidige globale situasie 'n sosiale, tegnologiese en kulturele konteks wat onvermydelik postmenslik is. Braidotti beskryf die kern van die verweefdheid van mens en dier binne 'n postmenslike konteks soos volg: "In my view, the point about posthuman relations, however, is to see the interrelation human/animal as constitutive of the identity of each. It is a transformative or symbiotic relation that hybridizes and alters the 'nature' of each one and foregrounds the middle grounds of their interaction" (79, haar kursivering).

In MDS en posthumanisme word die dualisme van antroposentriese humanisme ondermyn en die grens tussen die mens en die "Ander" uitgedaag (Braidotti 65-6; Woodward en Lemmer 2; Taylor 1; Barendse 8-9). In hierdie artikel ondersoek ek of die uitbeelding van insekte in Siegfried getuig van 'n postmenslike vervlegting van mense en diere.

 

Entomofagie in Siegfried

Entomofagie as deel van mense se gewone dieet of vir medisinale gebruik val nie onder kulturele entomologie nie, maar die eet van insekte vir rekreasie en as deel van rituele val wel daaronder (C. L. Hogue). Binne die Westerse kultuur word die eet van insekte (vir enige doeleindes) tradisioneel as onaanvaarbaar beskou, omdat insekte met siektes, peste en plae geassosieer word (Gordon 342). Ramos-Elorduy (282) voer aan dat dié denkwyse rondom die eet van insekte in ontwikkelde lande besig is om te verander deurdat insekte al hoe meer as luukse, modieuse en eksotiese kositems aangebied word. Insekte is egter steeds nie deel van die daaglikse Westerse dieet nie. Soos wat Gordon (352, 358) aandui, het die onlangse belangstelling in entomofagie in ontwikkelde lande te doen met vermaak eerder as voeding. Entomofagie word ingespan vir skokwaarde in televisieprogramme soos Survivor en Fear Factor, terwyl insekprodukte soos wurmstokkielekkers en sjokoladebedekte krieke en miere as kuriositeite verkoop word (Gordon 350, 356-7). Die eet van insekte in die Westerse kultuur kan dus binne kulturele entomologie bestudeer word, omdat entomofagie met rekreasie geassosieer word. Gordon beweer dat hedendaagse Westerse entomofagie meer as net pret en plesier is deurdat dit deel is van die diskoers van verbruik:

The consumption of insects, as does the consumption of many foodstuffs, involves communication and convention, rhetoric and ritual. The discourse of consumption is therefore rich in signs and codes. Entomophagy, more so than other forms of consumption, can embody other appetites, sins, transgressions, tensions, and desires. It is portrayed with fear or appreciation of insects, or the need to control. (344)

Soos die meeste mense afkomstig uit 'n Westerse kultuur beoefen Smit in Siegfried nie entomofagie om voedingstowwe te verkry nie. Die idee dat entomofagie tradisioneel taboe is in die Westerse kultuur is teenwoordig in die naam wat Siegfried hom noem: oom Smet (16). As inseketer, alkoholis, "banneling, verraaier [en] droster" (22) is Smit vuil en besmet. Siegfried, wat bloot onbewustelik "Smit" verkeerd uitspreek, is egter een van die min mense wat nie die "smet" in Smit raaksien nie. Hy sien ook niks vreemd in Smit se inseketery nie en dra selfs insekte vir hom aan om te eet: "'Hierso oom. Hierso eet.' Siegfried is besig om iets teen sy lippe te druk. Hy maak sy mond oop en proe dadelik die frank smaak van toktokkie" (52).

Volgens Gordon (344) kan entomofagie dikwels geskakel word met vrees of waardering vir insekte of die behoefte om beheer uit te oefen. Smit is nie bang vir insekte nie, maar het wel 'n groot bewondering vir die diere: "Smit weet hoekom hy van insekte hou. Hoe sag hulle suig en tas en skeur, hulle gestileerde suiers en mandibels" (38). Sy aanvanklike belangstelling in insekte kan verder gesien word as 'n manier om 'n mate van beheer en orde in sy lewe te skep. Smit verlaat die huis waarin hy in die Sederberge woon nadat 'n plaaswerker se dogtertjie in 'n poel op die eiendom verdrink en Smit haar nie kan red nie (22-3, 60). Hy word 'n swerwer en kluisenaar en behalwe vir die klein toelaag wat hy maandeliks van sy seun Karel ontvang, is hy heeltemal vervreem van sy familie (23). Hy vlug na die Karoo met die idee om hom af te sonder en uiteindelik die boek te skryf wat hy nog altyd wou. Sy pogings om te skryf, is egter onsuksesvol: "Hy onthou hoe hy sit en wag het, sit en staar het na die obsene kaal papier in die tikmasjien ingerol" (24). Hy haal dan die insekboeke van die vorige huurder van die bywonershuisie uit onder die bed en begin om die name van insekte te memoriseer:

Hy het die name van die insekte oor sy tong gerol. Die eerste lys wat hy kon opsê, was die B-insekte: Balblommaaier, Bamboesboorder, Bamboesdopluis, Barbertonma-deliefievlieg, Baskewer, Beesbrommer, Beesluisvlieg. Altyd een of twee oorgeslaan, uiteraard, maar dit was van geen belang. 'n Paar maande later kon hy gedeeltes uit die boeke aanhaal, steeds sonder enige storie. Dreg weg, weg. Die insekboeke was gerusstellend. Die lyste, die name, mantras teen die angs. (24)

Alhoewel Smit wetenskaplike werke soos Ons eie insekte deur Holm en De Villiers, Insects and their World deur Oldroyd en Fundamentals of Insect Life deur Metcalf en Flint bestudeer (21-2), is die inwin van kennis oor insekte vir Smit deel van 'n ritueel en tipe meditasie eerder as 'n wetenskaplike studie. Hy ontwikkel ook die gewoonte om lukraak insekname in sy gesprekke met ander mense in te werk, byvoorbeeld as hy Siegfried se oom probeer opspoor ná die dood van Siegfried se pa: "'Wat? ... Nee, net Bert. Ek sal uiteraard weet as dit Robert is ... Kaasmaaier ... Wat? Niks. Ek het hoegenaamd niks gesê nie'" (25). Hy gebruik ook soms insekname as deel van swetswoorde: "Smit mompel: 'Naand-naand, maaiernaaiers.' Hulle hoor wat hulle wil" (28). As kluisenaar is Smit nie gemaklik daarmee om met mense om te gaan nie en die gebruik van bekende insekname in gesprekke kan daarom beskou word as 'n manier om homself gerus te stel.

In die nege jaar op die Landmans se plaas maak hy geen vordering met sy boek nie. Hy sê egter nou nie net meer die name van insekte op as hy nie kan skryf nie, maar gryp na 'n insek om te kou:

Hy gaan sit en wag vir woorde. Sy tikmasjien onder die venster vang hierdie tyd van die dag die meeste son. Die gebleikte lint. Op die vensterbank staan 'n ry sonbesiedoppe. Twee lyk gekou. Langs die tikmasjien lê 'n koperraampie met 'n foto van Karel en die kleinkinders voor 'n vreemde huis. [...] Die sleutels van die tikmasjien brand sy vingers. Hy sit terug in die stoel, kyk na die dowwe lynpatrone op sy vingerpunte, en wag. Daar is 'n dooie kriek voor hom op die grond. Orthoptera Gryllidae. Hy tel dit op en hou dit teen die son. Striduleerder! 'n Teug uit die bottel. Hy skeur die bene een vir een af. Dan begin hy met die vlerke. (14-5)

In tradisionele en antieke samelewings het kulturele entomofagie groot betekenis gehad binne die kulturele lewe van 'n groep (J. N. Hogue 243-4). Smit beoefen egter sy entomofagie alleen. Dit is nie 'n seremonie wat van geslag tot geslag oorgedra is en 'n spesifieke kulturele betekenis vir hom het nie. Soos uit die aanhaling hierbo blyk, gaan die eet van insekte vir Smit gewoonlik gepaard met die gebruik van alkohol (sien ook bladsye 31, 86, 246). Die eet van insekte, saam met die opsê van insekname, is soos sy alkoholisme vir Smit meer 'n verslawing en ontvlugtingsmeganisme as 'n ritueel met simboliese betekenis. Op spottende wyse bring Smit wel entomofagie in verband met die Afrikaner se kultuurerfenis as hy die bekende gedig "Sproeireën" van D. J. Opperman herbewoord: "Smit sit en speel met 'n dooie kewer wat hy in die parkeerarea opgetel het en nie dadelik kon eien nie. Dit proe effe na kaneel. My nooi is in 'n nartjie, my ouma was 'n kewer" (42). 'n Moontlike verwysing na tradisionele rituele gebruik van insekte is te vind in Smit se voorspelling dat hy "hom gaan sit en doodsuip en opeindig met 'n tor tussen sy tande" (86). C. L. Hogue wys daarop dat 'n amulet in die vorm van 'n sonbesie op die tong van gestorwenes in China geplaas is, terwyl die skarabee dikwels deel uitgemaak het van die Egiptenare se begrafnisseremonies. Smit se beskrywing van sy eie dood is egter 'n parodie van die tipe gewyde gebruike van insekte waarna hierbo verwys word.

Gordon (345) is van mening dat entomofagie in die letterkunde onlosmaaklik verbind is met identiteit. Dat Smit die eet van insekte direk koppel met sy identiteit is duidelik uit die volgende woorde: "Hy is die een wat die eksoskelette moet fynmaal. Hy is die een wat insekte bestudeer en opvreet" (46). Dit is asof hy sy betekenislose lewe sin wil gee deur die selfopgelegde taak om insekte op die mees ekstreme wyse te ken en te besit. Volgens Gordon (348) word die grens tussen die natuur en die konvensionele menslike konstruksie van identiteit oorskry deur die eet van insekte: "Through consumption, a transformation takes place. [...] Boundaries between human self and animal or insect other are blurred as she becomes in a sense what she eats" (Gordon 349). Gordon, wat hier spesifiek na Mary Oliver se gedig "The Honey Tree" verwys, wys op die ekstatiese eenwording wat tussen die spreker en die natuur plaasvind as sy heuning en ook heuningbye verorber. Smit se entomofagie word egter nooit gekenmerk deur hierdie tipe ekstase, eenwording en transformasie nie. Dit bly deel van 'n desperate poging om orde en sin in sy lewe te skep. In die laaste gedeelte van die roman word uitgebeeld hoe Smit vervreemd en verwyderd van sy fisiese omgewing voel terwyl hy insekte en alkohol inneem:

Willem Smet sit met 'n kriek in sy bek. Die pote spartel tussen sy lippe voor hy die dop met sy voortande breek. Die bekende bitter smaak van insek is sy mond vol. Hy vat 'n sluk uit 'n kan wyn. Hy kyk na die veraf ligte, die gedruis van die stad, en dink dan hardop: 'Ons het niks, hoegenaamd niks, uit te waai met hierdie wêreld nie'. (246).

Die wêreld waarna Smit verwys, kan eerstens gelees word as die wêreld as geheel. Wolfe (Posthumanism xiv-v) voer aan dat die mens se verwydering van die aardse (biologiese, liggaamlike en materiële) deel uitmaak van die mens/dier digotomie van die humanisme. Smit se entomofagie bring hom dus nie nader aan 'n postmenslike verweefdheid van mens en dier nie. Hy ontken sy status as biologiese wese en streef na 'n abstrakte, bowêreldse bestaan. In hierdie artikel bespreek ek die rol van insekte in Siegfried en nie van ander diere nie. My bespreking fokus verder op die karakter Smit. As daar na die karakter Siegfried gekyk word, is daar wel sprake van 'n posthumanistiese liggaamlikheid en verweefdheid met diere en selfs plante (sien ook Hoofstuk 4 in Burger se proefskrif in hierdie verband).

Tweedens kan "die wêreld" slegs verwys na die ruimte van die stad. 'n Moontlike interpretasie is dan dat Smit die stad as die plek sien waar die eenheid tussen die mens en natuur/dier versteur word. In die roman word die stad gedurig as boos, vyandig en vuil uitgebeeld (19, 68, 145), terwyl die Landmans se plaas 'n mate van vryheid en skoonheid aan Smit en Siegfried bied (20, 23, 32-3). Alhoewel Burger (112-3) aanvoer dat Jan Landman en Smit die landskap van die plaasruimte beskou as "'n tipe aktant wat aktief vyandig is teenoor hulle", is die plaas tog die ruimte waarheen Smit kies om te vlug. Vir Siegfried is dit die plek waar hy oomblikke van geluk ervaar en ongestoord met sy paddavisse kan boer (58). Moderne tegnologie word ook as iets wat die mens korrupteer en verwyder van die natuurlike omgewing geskets (36, 89, 95, 105 en 109). Dit herinner aan die wyse waarop die euwels van die stad in tradisionele Afrikaanse plaasromans geplaas word teenoor die deugde van die plaas.1

 

Die vergelyking van die menslike samelewing en inseksamelewings in Siegfried

C. L. Hogue wys in sy kulturele entomologiese ondersoek uit dat die vergelyking van insek- en menslike samelewings 'n gewilde filosofiese gegewe is. Daar word byvoorbeeld aangevoer dat insekte een van die eerste lewensvorme op aarde was en sal oorleef as 'n natuurlike of mensgemaakte ramp alle mense uitwis (C. L. Hogue). Binne die Westerse literêre tradisie word insekte egter ook geassosieer met vergank-likheid en die kortstondigheid van die lewe, terwyl insekte soos die skoenlapper gekoppel word aan transformasie (Ferber, "Insect"). In Siegfried kom 'n kombinasie van hierdie uitgangspunte na vore.

Smit beskryf hoe insekte evolusionêr meer gevorderd is as die mens as gevolg van hulle aanpasbaarheid en vermoë om in moeilike omstandighede te oorleef: "Insekte weet hoe om klein te raak in hul harde doppe. Hulle het miljoene jare van ondervinding. Hulle probeer lankal nie meer regop loop nie" (64). Hy beny verder die oorlewingseienskappe van sekere insekte: "'Dit is tragies dat die mens nie soos die Britse embioptera-spesie onder klippe kan bly nie ....'" (30). Tydens sy en Siegfried se reis na die stad om Siegfried se oom op te spoor, bring hy egter hulle situasie in verband met die kwesbaarheid van insekte: "Hier in die oopte voel hy soveel kleiner. Twee miere, orde Hymenoptera, familie Formicidae" (22). Dat insekte broos is in die menslike wêreld word verder versterk deur Smit se waarneming van insekte wat teen die voorruit van 'n bakkie vasvlieg: "Termiete, muggies en sonbesies vernietig hulleself teen die shockproof glas van die Hilux: 'n edele maar futiele verset" (26). Smit se uitgangspunt is dus dat insekte as 'n groep sal oorleef, maar dat individuele insekte uiters kwesbaar is.

In die voorbeelde hierbo toon Smit bewondering vir insekte as 'n groep en simpatie met die broosheid van individuele insekte. Die res van sy filosofiese besinnings oor die verband tussen die mens en insekte is egter veel minder positief. J. N. Hogue (239) is van mening dat insekte, ten spyte van hulle ekstra bene en andersoortige leefwyses, genoeg na mense lyk en soos hulle optree om as modelle vir die menslike samelewing gebruik te word: "This status permits insects to act as objects on which to impart human qualities and as the source of qualities that can be incorporated into the framework of human ideology and social structure." J. N. Hogue se stelling dat insekte heelwat met mense in gemeen het, is aanvegbaar. Parikka (xxxiv) wys byvoorbeeld daarop dat dit 'n verskuiwing van denkraamwerke verg vir mense om inseksamelewings, veral met betrekking tot hulle veelvuldigheid en swermmentaliteit, te verstaan. Vir Parikka (xxxiv) is insekte eerder as gevolg van hulle andersheid 'n inspirasie vir menslike samelewings.

Smit vertel van 'n tipe mierkewer wat 'n stof afskei wat die kewer toelaat om ongestoord in miere se neste in te gaan en hulle kleintjies te eet (36). Volgens Smit het dié stof, wat hy "mier-heroïen" noem, "dieselfde uitwerking op miere as heroïen op die mens" en "offer die miere selfs hulle kleintjies op om die kewer langer in die nes besig te hou" (36). Die kewer waarna Smit verwys, is waarskynlik 'n kewer uit die familie Staphylinidae ("rove beetles") wat vermoedelik 'n chemiese stof gebruik op die wyse wat Smit beskryf (Weseloh en Hare 838). Di Giulio et al. wys op 'n ander groep kewers, die sogenaamde mierneskewers ("ant nest beetles"; familie Carabidae, genus Paussus), wat op hulle beurt die akoestiese seine van miere namaak om aanvaar te word in die nes. Die wyse waarop Smit die miere wat geflous word deur die predatoriese strategie van die kewer in verband bring met die mens se geneigheid tot verslawing is antropomorfiserend. Die vraag ontstaan of miere, wat as 'n swerm funksioneer en 'n gedesentraliseerde senuweestelsel (teenoor die mens se sentrale senuweestelsel) besit, werklik op dieselfde wyse as mense verslaaf kan raak aan 'n middel?

In die bogenoemde voorbeeld word die menslike eienskap van verslawing ('n eienskap waaroor Smit self ook beskik) toegeken aan miere. In die roman is dit egter hoofsaaklik mense wat gelykgestel word aan diere en nie andersom nie. Smit beskryf 'n vrou wat hulle in 'n kafee teëkom tydens hulle reis na die stad soos volg: "Die vrou agter die kasregister was 'n dowwedopluis, 'n duisend maal opgeblaas. 'n Groot wese met oë weerskante van die te klein kop" (42). As Smit die fisiese eienskappe van insekte na 'n mens oordra, is die resultaat grotesk. Ook die inwoners van die stad word gelykgestel aan insekte. Volgens Smit is "die stad nie 'n goeie plek nie":

"Dit is vergelykbaar met die sosiale opset van ruspes wat saamkoek, omdat hulle nie individueel kan funksioneer nie. Dan vrek duisende as gevolg van die tekort aan hulpbronne in die beknopte, oorbewoonde ruimte" (68). Parikka (xxxiv) beskou die organisasie van inseksamelewings as moontlike modelle vir die ontwikkeling van nuwe, meer effektiewe stelsels in die menslike samelewing. In hierdie beskrywing van Smit lei 'n insekagtige swermmentaliteit eerder tot die mens se ondergang as opheffing.

Later vergelyk Smit die stad weer met 'n miernes: "Die trein stop by 'n stasie, buite wemel mensmiere, 'n nes wat aan die brand gesteek is. Hy wil nie deel wees van wat hy sien nie, die sinlose telery tot daar geen plek meer oor is nie; tot die spul oor mekaar begin klouter vir lug" (69). Hierdie gegewe word geëggo deur Siegfried se opmerking tydens 'n besoek aan 'n winkelsentrum: "Die mense is miere in 'n opgedonnerde nes 'n groot water spoel oor alles" (112). Ook as Siegfried in die hospitaal beland, verwys hy na "mensemiere oral oor mekaar almal huil en skree in die rooiligsee" (141). Sosiale insekte soos miere en bye se gedrag word tradisioneel verbind aan positiewe eienskappe van die mens, byvoorbeeld eenheid, samewerking, hardwerkendheid, ensovoorts (J. N. Hogue 241). Dit is egter nie die beeld wat in Siegfried geskep word nie. In die ruimte van die stad word enige poging tot sosialisering gekorrupteer. Waar mense met insekte vergelyk word, is dit telkens 'n chaotiese, groteske beeld wat geskep word.

 

Die uitbeelding van haweloses as insekte in Siegfried

Smit en Siegfried word aangeval op 'n trein in Kaapstad. Smit se beserings is ernstig en hy en Siegfried word ingeneem en versorg deur 'n groep hawelose mense wat onder 'n brug woon (71-4). Smit beskryf die ruimte as "die brommernes, saamgekoek om die opgegaarde stront" (82). Die haweloses word soos volg deur Smit beskryf: "Die brommers wat onder die brug rondhang, kom en gaan, almal ewe lelik, ewe opgeneuk, almal met dieselfde stank" (82). Die hoof van die groep, Meester, is volgens Smit "die bosslaper, die brugkoning, die fokker met die een oog tussen al die blindge-drinktes [...] die vlieg wat darem nog 'n vlerk het, wat nog so effe kan fladder" (74).

'n Besonder negatiewe konnotasie word in verskeie kulture, insluitende die Westerse kultuur, aan vlieë en brommers geheg. Hulle word geassosieer met die bose, peste, siektes en vuilheid. Swerms vlieë is een van die tien plae in Die Bybel en een van die benaminge vir Satan, Beëlsebub, beteken "god van die vlieë (Ferber "Fly"; J. N. Hogue 240). Die simbool van die vlieg staan verder vir enigiets wat onbelangrik en nietig is (Ferber "Fly"). Philo en Wilbert (21) wys daarop dat menslike buitestanders, soos haweloses, reisigers en misdadigers, soos diere wat as peste beskou word 'n marginale posisie in die stad beklee en met afsku bejeën word. Die haweloses in die roman voer dan ook 'n bestaan aan die rand van die samelewing, hulle is "'n klomp menselewens gesensor deur die massas, mense wat nog net hier onder die brug 'n lewe uit sement kan kap" (146). Volgens Smit woon hy nou "tussen die mislukkings wat lankal opgegee het, of nooit sin daarin gesien het om te begin nie" (85). Hulle word as so onbelangrik in die samelewing beskou dat hulle nie toegang het tot basiese dienste soos mediese sorg nie. Volgens Meester is daar "lankal nie meer plek vir [hulle] tipes" in openbare hospitale nie en word sorg aan haweloses geweier in sulke instellings (74). Ten spyte van hulle kwesbaarheid, oorleef baie van die brugbewoners wel. Smit wonder byvoorbeeld hoe oud Meester is en Meester antwoord: "'Jy maak jouself klein, die dood sy kyk anderpad'" (246). Meester se uitspraak herinner aan Smit se beskrywing van hoe insekte "klein raak in hul harde doppe" om te oorleef (64). Soos insekte, maak die haweloses hulleself "klein" teen die aanslae van die lewe en kry hulle 'n mate van beskerming deur hulle anonimiteit en deur as 'n groep te funksioneer. Soos reeds genoem, het Smit egter 'n afsku van die swermagtige samekoeking van mense in die stad (68, 82). Dit is in teenstelling met sy aanvanklike bewondering vir die oorlewingseienskappe van insekte (30, 64). As hierdie eienskappe op mense van toepassing gemaak word, bekoor dit Smit nie meer nie.

Die vergelyking tussen die haweloses en vlieë in die roman hou deurgaans verband met die tradisionele simboliek van die vlieg deurdat die haweloses as vuil, onbelangrik en marginaal uitgebeeld word. Daar word wel een keer afgewyk van die negatiewe konnotasie wat aan vlieë geheg word. 'n Ou vrou wat ook onder die brug woon, versorg vir Smit en Siegfried nadat hulle aangeval word op die trein. Sy "mede-maaiers", soos wat Smit hulle noem, wat hom probeer "opfix", laat hom dink aan die vlieg- en brommermaaiers wat in die Boereoorlog gebruik is om wonde te genees" (74-5, 81). Smit se finale woorde oor die verband tussen mens en maaier spreek egter van geen hoop nie:

Hy sluit sy tirade af met 'n spreuk waarop Salomo trots sou wees: "Die nuutgebore siel is 'n maaier, afstootlik, maar met darem 'n bietjie potensialiteit om iets van waarde te word. Sodra die brommer egter sy vlerke sprei, as die mens mens word, dan weet jy verseker, daar was nooit enigiets om na uit te sien nie: net 'n konstante vloed van vrees en begeertes." (85-6)

Metamorfose word gewoonlik geassosieer met 'n nuwe begin: die ruspe wat 'n pragtige skoenlapper word. Volgens Smit hou die metamorfose waardeur hy en die ander brugbewoners gaan egter geen nuwe moontlikhede in nie. In Anker se toneelstuk Samsa-masjien verskil die gegewe in 'n groot mate: Gregor en Josefine se insekwording word gekenmerk deur liggaamlikheid en hoop vir die transformasie van die lewe na die dood (Barendse 20-1).

 

Slot

Die verwysings na insekte in Siegfried hou telkens verband met die desperaatheid, vervreemding en hopeloosheid van die hedendaagse mens. Smit beoefen entomofagie in 'n poging om van sy angs te ontsnap. Dit is nie 'n eenwording met die natuur of 'n hoër spirituele belewenis nie, maar skep eerder 'n mate van beheer in sy andersins betekenislose lewe. Die grens tussen mens en dier word nie oorgesteek nie: Smit probeer eerder ontsnap van die materiële werklikheid. In Smit se omgang met insekte kan die mens slegs tot mens metamorfoseer ("as die mens mens word", 85) en daar is nie sprake van 'n postmenslike hibridisasie nie. Smit bewonder die oorlewingseienskappe van insekte (30, 64), maar as hy dan mense met insekte vergelyk, hou dit verband met die negatiewe konnotasie wat daar aan insekte geheg word in die Westerse kultuur: beelde word geskep van 'n groteske insekvrou (42), mense wat wurmagtig en grillerig oor mekaar kriewel in die stad (68), en haweloses wat gelykgestel word aan pesinsekte soos vlieë (82).

Dit is hoofsaaklik die verstotenes van die samelewing met wie insekte in verband gebring word: Smit is 'n kluisenaar en buitestander en die haweloses leef aan die rand van die samelewing. Tradisioneel word die dier as die "Ander" geskets en in Siegfried word insekte gekoppel aan uitgeworpe mense wat ook as die "Ander" funksioneer in die gemeenskap.

Alhoewel Anker se uitbeelding van insekte in Siegfried nie op 'n postmenslike vervlegting van mens en dier wys nie, breek hy weg van die tradisionele antropo-sentriese uitgangspunt waar die mens op 'n hoër vlak as diere geplaas word. Die interaksie tussen mens en dier gee egter nooit aanleiding tot 'n transformasie waarin die aard van albei verander om nuwe moontlikhede te skep nie.

 

Erkennings

My dank aan die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Universiteit Stellenbosch vir befondsing tydens die beginfase van hierdie navorsing. Verdere dank aan die "American Council of Learned Societies" se "African Humanities Program" vir finansiële steun tydens die voltooiing van hierdie artikel.

 

Aantekening

1 . Van Coller (100) beskryf hoe die stad in tradisionele plaasromans soos dié van D. F. Malherbe (Die meulenaar (1926) en Die bergstroom ruis (1940)) en Jochem van Bruggen (Die sprinkaanbeampte van Sluis (1933), die Ampie-trilogie (Die natuurkind (1924); Die meisiekind (1928) en Die kind (1942)) en Die burgemeester van Slaplaagte (1922)) as "die plek van verderf" voorgestel word. Deur die plaasruimte as 'n plek van ontvlugting uit te beeld en die stadsruimte as vyandig herinner Siegfried aan dié tradisie. Hier moet bygevoeg word dat Siegfried op ander wyses weer afwyk van die tradisionele plaasroman. Die gegewe van die opeenvolging in 'n patriargale stelsel, wat sentraal staan in tradisionele plaasromans (Coetzee xiv), word byvoorbeeld ondermyn deurdat Jan Landman se opvolger 'n verstandelik en fisiese gestremde seun is wat nie sal voortbou op die Landmans se nageslag nie.

 

Geraadpleegde bronne

Anker, W. Siegfried. Kaapstad: Kwela, 2007.         [ Links ]

Barendse, J. "Die 'grense van menswees' en insekwording in Willem Anker se Samsamasjien (2015)." LitNet Akademies (Geesteswetenskappe) 13.3 (2016): 1-25. 3 Nov. 2016. < http://ww.litnet.co.zaAlie-grense-van-menswees-en-insekwording-willem-anker-se-samsa-masjien-2015/>         [ Links ].

Birke, L. "Preface: In Hope of Change: Rethinking Human-Animal." Reds. Taylor, N. en T. Signal. Theorizing Animals: Re-thinking Humanimal Relations. Leiden: Brill, 2011. xvii-xx.         [ Links ]

Burger, B. 'n Geokrities-vergelykende analise van Afrikaans- en Engelstalige Suid-Afrikaanse stedelike romans. D Litt, Universiteit Stellenbosch, 2016.         [ Links ]

Braidotti, R. The Posthuman. Cambridge: Polity, 2013.         [ Links ]

Coetzee, A. 'n Hele os vir 'n ou broodmes: Grond en die plaasnarratief sedert 1595. Kaapstad: Van Schaik, 2000.         [ Links ]

Di Giulio A. et al. "The Pied Piper: A Parasitic Beetle's Melodies Modulate Ant Behaviours." PLoS ONE 10.7 (2015). 3 Jun. 2016. < http://journals.plos.org/plosone/article?id=10.1371/journal.pone.0130541 >         [ Links ].

Ferber, M. "Insect." A Dictionary of Literary Symbols. Cambridge: Cambridge U P, 2007. 11 Mei 2016. <http://search.credoreference.com.ez.sun.ac.za/content/entry/litsymb/insect/0?PHPSESSID=slmdgf9rllnl9cuhb9g06ogge4>         [ Links ].

______. "Fly." A Dictionary of Literary Symbols. Cambridge: Cambridge U P, 2007. 11 Mei 2016. < http://search.credoreference.com.ez.sun.ac.za/content/entry/litsymb/fly/0>         [ Links ].

Gordon, S. "Entomophagy. Representations of Insect Eating in Literature and Mass Media." Insect Poetics. Red. E. C. Brown. Minneapolis: U of Minnesota P, 2006. 342-62.         [ Links ]

Hogue, C. L. "Cultural Entomology by Dr Charles Hogue." Annual Review of Entomology 32 (1987). 4 Feb. 2016. <http://www.insects.org/ced1/cult_ent.html>         [ Links ].

Hogue, J. N. "Cultural Entomology." Red. Resh, V H. en R. T. Carde. Encyclopedia of Insects. Oxford: Elsevier Science and Technology, 2009. 239-45.         [ Links ]

Marvin, G. en S. McHugh. "In it together: an introduction to human-animal studies." Routledge Handbook of Human-Animal Studies. Reds. G. Marvin en S. McHugh. New York: Routledge, 2014. 1-9.         [ Links ]

Morris, B. Insects and Human Life. Oxford en New York: Berg, 2004.         [ Links ]

Parikka, J. Insect media: An Archaeology of Animals and Technology. Minneapolis: U of Minnesota P, 2010.         [ Links ]

Philo, C. en C. Wilbert. "Animal spaces, beastly places: an introduction." Animal Spaces, Beastly Places. New Geographies of Human-animal Relations. Reds. C. Philo en C. Wilbert. Londen en New York: Routledge, 2000. 1-34.         [ Links ]

Ramos-Elorduy, J. "Anthropo-entomophagy: Cultures, evolution and sustainability." Entomological Research 39 (2009): 271-88.         [ Links ]

Taylor, N. "Introduction: Thinking About Animals." Theorizing Animals: Re-thinking Humanimal Relations. Reds. N. Taylor en T. Signal. Leiden: Brill, 2011. 1-20.         [ Links ]

Van Coller, H. P "Die representasie van plaas, dorp en stad in die Afrikaanse prosa." Stilet 18.1 (2006): 90-121.         [ Links ]

Visagie, A. "Pasmaatspesies, niemenslike diere en die omgewing: gedagtes oor die postkoloniale ekokritiek in Suid-Afrika." LitNet Seminare en Essays. LitNet 2013. 6 Aug. 2015. < http://www.litnet.co.za/pasmaatspesies-niemenslike-diere-en-die-omgewing-gedagtes-oor-die-postkoloniale-ekokritiek/>         [ Links ].

Weseloh, R. M. en J. D. Hare. "Predation/Predatory Insects." Encyclopedia of Insects. Reds. V H. Resh en R. T. Carde. Oxford: Elsevier Science and Technology, 2009. 837-39.         [ Links ]

Wolfe, C. What is Posthumanism? Minneapolis: U of Minnesota P, 2010.         [ Links ]

______. "Introduction." Zoontologies. Red. C. Wolfe, Minneapolis: U of Minnesota P 2003. ix-xxiii.         [ Links ]

Woodward, W. en E. Lemmer. "Introduction: Figuring the Animal in Post-apartheid South Africa." Journal of Literary Studies 30.4 (2014): 1-5.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License