SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número2Adam Small (1936-2016)Zulfah Otto-Sallies: an open door; an open heart índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 no.2 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.17159/tvl.v.53i2.16 

HULDEBLYK

 

Adam Small (1936-2016)

 

 

Peter Braaf

Die leier van die Cape Flats Players wat ontstaan het uit die UWK Dramsoc wat in 1972 deur Adam Small opgerig is

 

 

 

Toe ek die nuus van mnr. Adam Small se afsterwe kry, het dit my 'n paar minute geneem om tot verhaal te kom. Hy is die twaalfde lid van die Cape Flats Players wat dood is; die derde een hierdie jaar.

Daar is sekere mense wat jy nie verwag dat hulle sal sterwe nie. Een van hulle was my seun Boccaccio wat byna ses jaar gelede oorlede is; 'n ander was Adam Small. Die ervaring van die doodstyding en die hol gevoel daarna sal my altyd bybly. Hoe verwerk jy die verlies? "Tyd heel alles", het 'n spreker in 'n huldeblyk aan my seun gesê-maar dis nie heeltemaal waar nie: herinneringe en die gevoel van afwesigheid bly.

Waarom praat ek van meneer Small in plaas van professor Small of gewoon net Adam Small? Ons kom 'n lang pad saam en ek respekteer hom as my meneer. Ek onthou hom as:

Adam Small, die gevoelvolle mens;

Adam Small, die people's poet en dramaturg;

Adam Small, die filosoof en denker;

Adam Small, die man wat enigeen belangrik laat voel het; Adam Small wat sy tyd vooruit was; Adam Small wat lewe is.

Ons verbintenis strek oor vier dekades heen, en het begin by die Universiteit van Wes-Kaapland toe ons dramagroep, die Dramavereniging of Dramsoc, die eerste keer Kanna hy kô hystoe in 1972 opgevoer het. Die jaar daarna het mnr. Small en 'n paar van ons die Cape Flats Players begin. Ons eerste opvoering as Cape Flats Players was in Malmesbury in Desember 1973 met Joanie Galant-hulle en What about de Lô?. 'n Resensent het die volgende daaroor te sê gehad: "Adam Small ken kleurlinge maar sleg en Joanie Galant laat dorp gons-L.K.R. [Lid van die Kleurlingraad] stap uit". Mnr. Small het die gemeenskap laat gons, toe en vir jare daarna-en dit is wat ek gaan mis.

Hy was sy tyd ver vooruit en talle kritici moes later herbesin oor hulle vorige (voor-) oordele. Aanvanklik is gesê dat Kanna hy kô hystoe nie opvoerbaar is nie; vandag word dit beskou as die beste drama in Afrikaans.

Van mnr. Small het ek selftrots geleer, om staat te maak op jou inherente vermoë. Daarvoor sal ek hom ewig dankbaar wees.

Toe ek later regiewerk gedoen het, het ek net die beste van my akteurs verwag. Nog iets wat ek van hom geleer het.

Ek gaan sy emosionaliteit mis. Wanneer ons gerepeteer het, het hy hom so ingeleef dat hy dikwels 'n traan gestort het. Selfs 'n gesang kon hom bewoë laat. Ek onthou hoe hy met 'n traan in die oog kon luister na van sy gunstelinggesange "Byna 'n Christen, byna oorreed" en "Nader my God by U".

Kaizer Ngwenya sê in die Sowetan in 1981: "Adam Small is life, he is a necessary part of the South African theatre". Ons almal is armer met die heengaan van mnr. Small; vir ons as toneelgroep trek ons sy dood erg aan.

Sy dramas en gedigte het die lewe en die karakters van ons omgewing verwoord. Ons as Cape Flats Players het dit ons lewenslange taak gemaak om sy werke op die planke te bring.

Ons het sy karakters ons eie gemaak; sy karakters het ín ons geleef. Makiet, Kanna, Joanie, Map, Johnnie het lank nadat die dramas opgevoer is steeds in ons bly voortleef.

Mnr. Small, Melvyn Whitebooi, Ivan Sylvester en al die groepslede wat ons vooruit gegaan het, het ons toneelgroep gebeitel tot wat ons vandag is, met mnr. Small wat tot teen die einde van sy lewe en met ons opvoerings van sy laaste ge-publiseerde drama Maria, Moeder van God, die pas aangee het.

Ek wil mnr. Small ook onthou as 'n omgee-mens. Wanneer ons na 'n besoek aan sy huis weggery het, het hy gestaan en wuif totdat ons om die hoek verdwyn het: 'n bedagsame gasheer, 'n ware heer en 'n opregte omgee-mens.

Een van my onlangse hoogtepunte was toe mnr. Small in 2014 teenwoordig was by ons opvoering van Kanna hy kó hystoe in die Bellville-Suid-gemeenskapsentrum. Aan die einde van die opvoering het hy met ons kom praat en gesê: "ek kan skaars kon glo dat dit ek was wat die drama geskryf het. Wanneer 'n mens ouer raak leef jy van herinnering en dit is goed so". Dit is herinneringe en waardering soos dié wat mnr. Small vir altyd by jou sal laat bly, soos ook al die ander Cape Flats Players wat voor hom huis toe is.

Rus in vrede, mnr. Small.

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons