SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Afrikaansmetodiek deur 'n nuwe brilThe Shadow of the Hummingbird author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.29 

BOOK REVIEWS

 

Eugene de Kock: Sluipmoordenaar van die staat

 

 

Anemari Jansen. Kaapstad: Tafelberg, 2015. 344 pp. ISBN: 978-0-624-07015-3. Epub: 978-0-624-07016-0.

Die naam Eugene de Kock lei tot sterk emosies in gesprekke met Suid-Afrikaners: Vir vele was hy die vergestalting van die boosheid van apartheid en iemand wat nooit weer vryheid buite die tronk mag smaak nie. Vir ander, was sy tronkstraf die onregverdige gevolg van die nodigheid om 'n sondebok te vind vir die vergrype van die apartheidsregering (226). Die debat oor De Kock se skuld al dan nie fokus op die feit dat hy as 'n gewone misdadiger vervolg is, al was die meeste van sy dade polities gemotiveerd binne 'n sisteem waarin bevrydingsbewegings gekriminaliseer is (234). Hoe dit ook al sy, hy is 'n figuur wat niemand koud laat nie en Anemari Jansen se aangrypende biografie is goed bewus hiervan.

De Ko ck w a s d e e l v a n d i e teeninsurgensie-eenheid bekend as Seksie C1, wat gestasioneer was op die nou berugte plek bekend as Vlakplaas naby Pretoria. Vlakplaas was natuurlik hoogs geheim tydens die 1980's en die hoofmissie van hierdie eenheid was om sogenaamde terroristegroepe te destabilisee r. Vlakplaas was die sentrum van vele landwye operasies wat gemik was op die neutralisering van terroriste (oftewel vryheidsvegters), asook 'n plek waarheen vele geneem is vir ondervraging, wat meestal met geweld en marteling gepaardgegaan het.

De Kock is in 1985 as bevelvoerder van Vlakplaas aangestel, en sy aandadigheid in soveel van die eenheid se gruweldade was grotendeels die rede vir die etiket van Prime Evil wat die media aan hom toegesê het.

Vlakplaas het in die vroeë 1990's tot 'n einde gekom en De Kock is in 1994 in hegtenis geneem. Na 'n verhoor van amper twee jaar, is hy skuldig bevind op 121 aanklagte, waarvan ses moorde, en is gevolglik tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Hy het in die laat 1990's aan die verrigtinge van die Waarheids-en-Versoeningskommissie deelgeneem en het om amnestie aansoek gedoen. Hier het hy weereens teenstrydige emosies in mense losgemaak, want hoewel hy groot berou getoon het, was hy ook brutaal eerlik oor sy vergrype (262). Hy het nie amnestie ontvang nie en het die grootste deel van sy vonnis uitgedien in die C-Max afdeling van die Pretoria-Sentraal tronk. Hy is vroeg in 2015 vrygelaat op parool, wat weereens rou emosie ontlok het onder die publiek.

Die lees van De Kock se lewensverhaal het my herinner aan die geval van Adolf Eichmann, een van die groot Nazi-misdadigers uit die Tweede Wereldoorlog. Eichmann is in 1960 onderskep deur Israel se spioenagentskap Mossad in Argentinië en daarna verhoor in Jerusalem. As een van die mense in beheer van die Joodse volksmoord bekend as die Holocaust, was Eichmann 'n groot vangs vir die jong Joodse staat. Eichmannn se verhoor was opspraakwekkend omdat hy die figuur geword het wat moes pa staan vir die gruwelike volksmoord. Die Duitse filosoof Hannah Arendt het die verhoor bygewoon en die welbekende frase aangaande "the banality of evil" gebruik om Eichmann te beskryf.

Die vergelyking tussen De Kock en Eichmann is nie soseer oor hul dade nie eerder as oor die publieke persepsies van die misdadiger self: De Kock was soos Eichmann 'n ideologies gedrewe misdadiger wat op die ou end moes pa staan vir die vergrype van 'n politieke regime, in dié geval die apartheidsregering. In eenvoudige Engels, is hy beskou as die fall guy vir baie van die apartheidsregering se wandade. Hy was uiteraard nie verantwoordelik vir wandade op die skaal van Eichmann s'n nie, maar wat 'n mens wel kan sê, is dat hy betrokke was in staatsmisdade wat sonder twyfel boos was. De Kock se wandade was dalk meer vergelykbaar met wat die Stasi in die ou Oos-Duitsland gepleeg het, met ander woorde terreur wat deur die staat in sy eie agterplaas aangeblaas is. De Kock se wandade het dus in die skaduwees te midde van die alledaagse samelewing se doen en late plaasgevind.

Jansen verskaf 'n simpatieke dog kritiese blik op De Kock se lewe en wat 'n mens opval soos met Eichmann, is die banaliteit wat ook te vinde is in die boosheid van apartheid. De Kock was (en is steeds) 'n redelik besadigde en doodgewone man, nie veel anders as die meeste mense in die voorstede nie. As 'n mens hom sou raakloop op straat, sal jy hom nie vereenselwig met die man wat in die pers as Prime Evil bekendheid verwerf het nie. Anders as Eichmann het De Kock wel berou getoon vir sy dade alhoewel daar ook debat is oor of dit werklik eg was al dan nie.

Die banaliteit van boosheid wys aan ons dat die mense wat betrokke is by vergrype soos die van De Kock en Eichmann, nie psigopate is met 'n mal kyk in hulle oë nie. Hierdie opvatting is 'n prentjie wat Hollywood gereeld aan ons opdis. Die waarheid is dat die mense wat namens die staat afskuwelike dade pleeg, heel normaal en soms selfs vervelig voorkom. Dit staan in sterk kontras met hul vergrype, wat definitief nie normaal of vervelig voorkom nie maar daadwerklik immoreel was. Jansen self verwoord die kontras tussen die man en sy dade (160) wanneer sy beskryf hoe moeilik dit is om De Kock se gru-weldade te vereenselwig met "die man met die sagte stem wat voor my sit [en] van daardie moorde met sy eie hande gepleeg het, die netjies versorgde hande wat nou op sy skoot rus".

Die vermensliking van die "Monster van Vlakplaas" is omstrede maar Jansen wys in die laaste hoofstuk van die boek daarop dat De Kock se verhoor nouliks verbind is aan die wroeging wat vele Afrikaners het met die sistematiese onderdrukking en ongregtighede wat hulle mense tydens apartheid gepleeg het. Jansen (308) haal aan uit Antjie Krog se Country of My Skull om hierdie gevoel jeens De Kock te verwoord (Krog het die WVK-verrigtinge nougeset byge-woon soos Arendt met die verhoor van Eichmann):

And suddenly I know: I have more

in common with the Vlakplaas five

than with this man [FW de Klerk].

Because they have walked a road,

and through them some of us have

walked a road-on their own with

their own fears and shame and guilt.

And some say it, most just live it, We

are so utterly sorry, We are deeply

ashamed and gripped with remorse.

Die vraag wat ons onsself afvra, is hoe ons mense hierdie vreeslike dade kon pleeg, Die reaksie is of om te erken dat ons almal bloed op ons hande het (dus gemeenskaplike skuld), of om dit alles te projekteer op die sondebok wat De Kock geword het, Hoe dit ook al sy, daar is gruwelike sondes teen ons medemens gepleeg en die boetedoening is groot,

Charles Villet
Monash Suid-Afrika, Roodepoort
charles.villet@monash.edu

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License