SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número1Reviews índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 no.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.27 

BOOK REVIEWS

 

Soos familie. Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste

 

 

Ena Jansen. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015. 574 pp. ISBN 978-1-86919-953-1.

Die gerekende akademikus Ena Jansen woon al lank in Amsterdam waar sy "bijzonder hoogleraar in de Zuid-Afrikaanse letterkunde" aan die Universiteit van Amsterdam is en ook aan die Vrije Universiteit doseer. Sy is bekend vir haar seminale studie oor Elisabeth Eybers: Afstand en verbintenis (1996). Haar nuutste boek, Soos familie, is die resultaat van 'n omvattende navorsingsprojek oor Suid-Afrikaanse huiswerkers waarmee Jansen langer as 'n dekade besig was. Die boek span op uiters geslaagde wyse die kroon op jare se toegewyde navorsing en ook op Jansen se produktiewe loopbaan as letterkundige. Dit is pragtig gedruk op roomkleurige papier, met 'n treffende voorplat, en bevat 50 bladsye se eind-note naas 'n omvattende bibliografie en nuttige register asook 'n kleurseksie van agt bladsye wat die inhoud van die boek uitstekend aanvul.

Hierdie lang akademiese teks is uit-ers leesbaar geskryf. Jansen slaag daarin om dit toeganklik te maak vir 'n breër gehoor sonder om aan die kwaliteit van die navorsing wat daarin vervat is, afbreuk te doen. Ek voorsien dat Soos familie nog lank geraadpleeg sal word deur 'n verskeidenheid navorsers en studente danksy die deeglike analises van tientalle tekste en die vlot integrasie van teoretiese insigte. Die boek sal egter ook gelees word deur liefhebbers van niefiksie én letterkunde wat nie daarvoor terugdeins om met 'n kritiese ontleding van die "alledaagse" verskynsel van swart huiswerkers gekonfronteer te word nie.

Die basiese vertrekpunt van Soos familie word in die inleidende hoofstuk omskryf: "Danksy teoretiese problematisering en kritiese vrae weet ons dat ons persepsies van 'die werklikheid' onder meer beïnvloed word deur die boeke wat ons lees, die films en kunswerke waarna ons kyk. Die Britse kultuurkritikus Stuart Hall praat in 1997 daarom van die 'cycle of representation': skrywers en kunstenaars beeld uit wat hulle waarneem en hierdie voorstellings beïnvloed dan weer die manier waarop kykers en lesers na 'die werklikheid' kyk en hoe mense hulle gedra" (15).

Jansen ondersoek hierdie 'sirkel-gang van representasie' van stedelike huiswerkers ('n fokus op plaaswerkers sou 'n reusekorpus bykomende tekste genoodsaak het) in Afrikaanse sowel as Engelse Suid-Afrikaanse tekste. Sy voer die verskynsel van huiswerkers terug tot die tyd van die V.O.C. aan die Kaap en dit blyk dat daar vanaf die vroegste teenwoordigheid van Europeërs in Suid-Afrika die verwagting was dat swart vroue fisiese arbeid in die huise van wit gesinne sou verrig. Lank nâ die afskaffing van slawerny bly huiswerk die "beroep" van swart vroue met min of geen opleiding wat in hul armoede en desperasie uitgelewer is aan die gelade intimiteit tussen die huiswerker en haar (wit) werkgewers. Die titel van die boek het ontstaan uit die gereelde bewering in die tekste wat ondersoek is dat die huiswerker "soos een van die familie" is. Soos Jansen egter uitwys en herhaalde-lik aantoon, lê die knoop by die woord "soos": die idee dat die huiswerker deel van haar werkgewers se gesin uitmaak, is dikwels 'n paternalistiese verdoeseling van die uiters ondergeskikte rol van die swart huiswerker wat op grond van haar velkleur en posisie beslis baie anders as die wit gesinslede behandel word.

'n Verdere insig wat die studie gelei het, is die feit dat huiswerkers die rol van "tolk" vervul: vanaf Eva Krotoa tot en met apartheid in die twintigste eeu en in werklikheid tot en met vandag is huiswerkers dikwels die enigste swart (werkersklas) mense met wie wit werkgewers gereeld interaksie het. Die bekendste voorbeeld is Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena waarin die karakter Poppie haar wit werkgewer se skakel is met dit wat met swart mense onder apartheid gebeur. Op sy beurt het die roman 'n onmiskenbare bewuswordingsfunksie onder wit lesers verrig. In talle ander romans en outobio-grafiese tekste, wys Jansen ons, vind dieselfde soort bemiddeling tussen swart en wit in die vorm van huiswerkers plaas.

Soos familie sluit op belangrike wyse aan by die werk van Jakes Gerwel, J. M. Coetzee en andere wat die representasie (of gebrek aan representasie) van swart mense in tekste deur wit skrywers aan die orde gestel het. Jansen se projek behels egter die baie spesifieke verskynsel van swart huiswerkers en wil dan 'n so volledig as moontlike blik uit talle invalshoeke daarop werp. Haar noue fokus sorg dikwels vir 'n nuwe perspektief op bekende tekste. Jansen toon nie net aan hoe wit karakters teenoor swart huiswerkers in literêre tekste optree nie; sy ontmasker ook die moontlike ide-ologiese blindekolle van wit skrywers, lesers en literatore. In daardie opsig sluit Jansen se werk aan by die ontluikende navorsingsgebied van kritiese witheidstudies.

Twee hoofstukke word bestee aan die historiese agtergrond van huiswerkers in Suid-Afrika waarin Jansen swaar op sosiologiese en historiese studies steun en sy wy 'n hoofstuk aan die ver-skynsel van wit huiswerkers voordat haar navorsing oor swart huiswerkers aangebied word. Haar deeglik gekon-tekstualiseerde teksontledings is nie net van fiktiewe huiswerkers in die werk van Brink, Coetzee, Schoeman en talle ander nie; ook outobiografiese tekste van sowel wit (Elisabeth Eybers, Audrey Blignaut, Minnie Postma, ens.) as swart skrywers (Es'kia Mphahlele, Chris van Wyk, Sindiwe Magona) word behandel, en in hoofstuk 6 word swart huiswerkers self eksplisiet aan die woord gestel in 'n verskeidenheid tekste. 'n Aantal tematiese hoofstukke ("Huiswerkers en kinders", "Huiswerkers en seksualiteit", ensovoorts) word gevolg deur 'n hoofstuk oor huiswerkers in postapartheidromans deur wit skrywers sowel as 'n verband houdende hoofstuk oor postapartheidromans deur swart skrywers.

Jansen se keuse om haar nie tot die Afrikaanse letterkunde te beperk nie, het tot gevolg dat Soos familie 'n belangrike bydrae tot vergelykende Suid-Afrikaanse literatuurstudie lewer.

Hoewel die uitgebreide opsommings van verhaalgebeure beslis bygedra het tot die lengte van Soos familie, is dit gemotiveerd: Jansen skryf vir 'n diverse gehoor en bevorder die totstandkoming van gedeelde kennis tussen Suid-Afrikaners met verskillende verwysing-sraamwerke. Dit is dikwels onsmaaklike kennis: Soos familie demonstreer keer op keer dat ontstellende voorbeelde van rassisme en verontmensliking in die blote verskynsel van huiswerkers gevind kan word en dit is hoegenaamd nie iets wat tot die apartheidsverlede beperk is nie.

Soos Jansen self aandui, is 'n vername tekortkoming van die boek die feit dat tekste uit die ander amptelike tale in Suid-Afrika nie geraadpleeg kon word nie. So belangrik soos wat 'n monografie soos Soos familie enersyds is, illustreer hierdie tekortkoming die nodigheid vir meer groepsnavorsing oor Suid-Afrikaanse letterkundes. Die verwysing na 'n handvol Zulutekste (met spelfoute) op p. 229 moes eerder weggelaat gewees het. Wat is die funksie daarvan as geen tekste in Tswana, Tsonga, Xhosa, enso-voorts vermeld word nie?

'n Verdere tekortkoming is Jansen se hantering van terminologie wat met velkleur verband hou. Sy verwys dik-wels na "wit mense", "swart mense" en "bruin mense", maar jammer genoeg het essensialiserende en/of verouderde terme soos "blankes", "wittes" en "kleurlinge" óók 'n hoë frekwensie. Dit skep die indruk dat al die genoemde uitdrukkings ewe geldig is in 2015. Ek bepleit nie blote politieke korrektheid nie-hierdie skryfwyses en woordeskat het belangrike teoretiese implikasies wat reeds in Jansen se projek ingebed is.

Jansen gee nie voor dat die tekste wat sy geselekteer het 'n volledige lys is nie. Dit is egter vir my besonder vreemd dat Riana Scheepers se Katriena-bundels nie 'n enkele keer in Soos familie geanaliseer word nie. Hulle word wel as eksemplar-ies van die teenwoordigheid van huiswerkers in die Afrikaanse letterkunde voorgehou, dikwels in dieselfde asem as Minnie Postma se versamelings sketse Ek en my bediende (1955) en Alweer my bediendes (1959). Veral een skets van Postma word deeglik gedekonstrueer deur Jansen. Daar word slegs gesuggereer dat Scheepers se "postapartheid maar [...] goedig-bedoelde" voortsettings van Postma se lighartige sketse (234) ewe kri-ties gelees sou kon word.

Verdere kritiek lê werklik op die vlak van redigering. "Nongqawuse" is verkeerd gespel as "Nonquase" (57) en dit is onduidelik waarom "lobôla" verafrikaans is terwyl bogadi kursief geskryf word (verkeerd gespel as "boghadi").

Oorwegend is Soos familie uitstekend versorg en die ganse boek getuig van 'n weldeurdagte bemoeienis met 'n uiters relevante en onderbestudeerde onderwerp.

Jacomien van Niekerk
Universiteit van Pretoria, Pretoria
jacomien.vanniekerk@up.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons