SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Die potlooddief se bruid en ander storiesDonker spoor author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.25 

BOOK REVIEWS

 

Nuwe Stories 3

 

 

Saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Kaapstad: Human & Rousseau, 2014. 160 pp. ISBN: 978-0-7981-6798-7.

Nuwe Stories 3 is die derde en laaste bundel wat uitgegee word as deel van die Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd vir skrywers onder die ouderdom van dertig. In die voorwoord skryf een van die samestellers Suzette Kotzé-Myburgh dat "jong skrywers wat nog nie voorheen gepubliseer is nie, hiermee die geleentheid kry om hul verhale in 'n bundel te sien". Die volgende jong skrywers se kortverhale is in die bundel opgeneem: Frederick J. Botha, Luka Dreyer, Susan Gaigher, Carla Kargaard, Corné Koegelenberg, Martin Laubscher, Ilisna Nel, Carien Smith, Tanya van Buuren, Heloïse van der Walt, Christina van Deventer en Elani Venter. Dit is opvallend dat 'n hele aantal van dié skrywers ook verhale gepubliseer het in Nuwe Stories (2012) en/of Nuwe Stories 2 (2013). Alhoewel geen van die skrywers al 'n volle bundel gepubliseer het nie, is almal van hulle dus nie heeltemal onervare nie.

Die wenner van die 2014-wedstryd is Frederick J. Botha met sy verhaal "The day Madiba died" (30-6). Drie van Botha se verhale word in die bundel opgeneem, en hy is ook een van die skrywers wat reeds gepubliseer het in Nuwe Stories 2. In die voorwoord noem die ander samesteller van die bundel Leti Kleyn dat een van die foute wat jong skrywers maak, is om "te veel [te] steun op gebeure in die skrywer se eie wêreld". Botha se verhaal "The day Madiba died" wys egter dat verhale wat gebaseer is op eie ervaring en "die skrywer se eie wêreld" juis suksesvol is. In die verhaal, geskryf vanuit die perspektief van 'n jong dosent, word persoonlike tragedie, naamlik die dreigende siekte van 'n vader, en nasionale tragedie, die sterwe van oudpresident Nelson Mandela, op 'n uiters geslaagde wyse vervleg. Die spanning in die verhaal en die gemoedstoestand van die spreker word geëggo in die "dag [wat] onverwags grys, bewolk en koud" word (33). Botha se ander twee verhale "Antie en die engel" (13-20), wat vanuit die perspektief van 'n arm wit vrou geskryf word, en die ietwat studentikose "Drie daggakoppe rook tesame" (21-9) ('n duidelike kopknik na Jan Rabie se "Drie kaalkoppe eet tesame") is veel minder oortuigend.

'n Verhaal wat getuig van 'n fyn waarnemingsvermoë is Carla Kargaard se "Om 'n bok se hart te plant" (68-75). In die verhaal, wat handel oor 'n student se besoek aan haar ouma in die ouetehuis, is dit die klein details in die vertelling wat die kwessie van verganklikheid ten beste vasvang: die gevlekte World's Greatest Grandmother-koffiebeker met 'n "chip" in (69), die bedkassie met "'n foto van 'n jong meisie met swart hare" (69). In Carien Smith se "Likkewaan" (110-6) word die psige van 'n jongmens op 'n oortuigende wyse weergegee. 'n Jong onderwyseres moet in die afgeleë Botshabelo Afrikaanse klasse gee vir arm swart kinders. Haar onvolwassenheid en gebrek aan ervaring is duidelik deurdat sy slegs fokus op haar eie ongemak en misnoeë met haar situasie. Sy is verder geïrriteerd met die kinders eerder as wat sy empatie met hulle omstandighede het. Heelwat van die skrywers in die bundel tell nog dikwels in plaas daarvan om te show. Smith kan egter nie daarvan beskuldig word in hierdie verhaal nie. Sy kry dit reg om op skreiende wyse die armoede en haglike huislike omstandighede van die kinders uit te beeld. Die onderwyseres kyk toe hoe die kinders tydens pouse met 'n "sokkerbal gemaak van 'n bondel ryssakke" (110) speel. Terwyl sy die minute tel voordat die einde van die dag aanbreek, sit sy belangeloos en merk aan een van die kinders se opstel oor "'n Dag in my huis" (115):

My hys is klyn met twee kamirs. In een kamir is daar twee mitrasse. Ek en my twee ouer broers deel een. Ma en dad en my bybie sussie deel die anir een. Die anir kamir is klyner. Dis waar ons vuur brand en kos maak. Gistraand het dad gan drink. By die shibien en ma is nie happy nie.

Susan Gaigher se allegoriese fantasie- oftewel wetenskapsfiksieverhale "Martine se teepot" (46-55) en "Maslow" (56-67) is verfrissend. Gaigher is een van die min skrywers in die bundel wat 'n kenmerkende en oorspronklike stem laat klink. 'n Mens sal 'n Gaigher-verhaal tussen vele ander kan uitken en ek hoop dat ons nog baie van dié jong skrywer sal hoor.

Aktuele temas soos moord en misdaad ("Een in 'n miljoen" [37-45]-Luka Dreyer; "Die koekietannie" [123-8]- Heloïse van der Walt), huishoudelike geweld ("Utopia" [129-41]-Christina van Deventer), die seksuele misbruik van kinders ("Een, twee, drie, blok myself" [98-103]-Ilisna Nel), posttraumatiese stres ("Ontspoor" [117-22]-Tanya van Buuren) en geestestoornisse ("Lettie se verlies" [150-5]-Elani Venter) word ondersoek. In die satiriese "Die vrese van Bennie Wessels" (76-87) van Corné Koegelenberg vertel die spreker van sy vriend Bennie Wessels wat byna mitiese status het, en slegs bang is vir drie dinge in die lewe: "vuil skottelgoedwater, sy tannie in Caledon se worshond, Pudding, en om op 'n date te gaan met 'n meisie wie se pa 'n dominee is" (78). Martin Laubscher betree op sy beurt in sy verhaal "Die einde van die wêreld" (88-97) die paranoïese wêreld van samesweringsteorieë.

Om 'n kortverhaal te skryf, is nie maklik nie. 'n Skrywer moet in die bestek van 'n paar bladsye die konteks van die verhaal skets en karakters en 'n storielyn ontwikkel. Verder moet 'n verhaal nie te kripties wees nie, maar ook nie te veel weggee nie. Met die lees van 'n kortverhaal moet die leser aan die einde steeds aan die wonder en raai bly. Die skrywers in die bundel het hulle oor die algemeen goed van hulle taak gekwyt en nuwe stories geskep wat die leser nog lank na die lees daarvan bybly.

Joan-Mari Barendse
Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch
barendse@sun.ac.za

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License