SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1KameeNuwe Stories 3 author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.24 

BOOK REVIEWS

 

Die potlooddief se bruid en ander stories

 

 

Keina Swart. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015. 139 pp. ISBN: 978-1-4853-0292-6. EBOEK: 978-1-4853-0293-3. EPUB: 978-1-4853-0294-0.

Keina Swart is die afgelope veertien jaar redakteur en mede-eienaar van die Waterberg-streekskoerant Die Pos. Uit haar pen het reeds twee kinderboeke verskyn, naamlik Hoekom praat groot-mense so snaaks? (2010) en Bleek Bennie se woeste hoes (2011), asook 'n tienerverhaal Bloujaar (2014). Swart is veral bekend as rubriekskrywer en haar eerste boek vir volwassenes, Die potlooddief se bruid en ander stories (2015), is 'n versameling van rubrieke en essays deur hierdie bekroonde joernalis.

Die bundel is verdeel in vier afdelings, naamlik "Mans van my hart", "Vroue van my hart", "Kinders van my hart" en "Stories van my hart", en bevat altesaam 54 stories wat gekenmerk word deur hul eenvoud en Swart se empatie vir haar medemens wat sy verwoord deur die gebruik van humor en nostalgie.

Soos die titel van die eerste afdeling te kenne gee, vind die leser hier stories oor verskeie mansfigure. Hierdie afdeling is die sterkste een van die vier, en verhale wat die leser bybly, is "Met woestynsand en duine agter jou", "Woordemans is gevaarlik", "Die potlooddief se bruid", "Die ou met die overall", "Dis nog niks, check my skoene!" en "Laatnagversoeke". Laasgenoemde verhaal kan gelees word as interessante aansluiting by die genre van die Afrikaanse grensverhaal.

Kenmerkend van hierdie afdeling is die tema van ouderdom wat in menige van die stories voorkom. Hier is dit die onvermydelike aftakelingsproses van die liggaam (en verstand) wat 'n beduidende invloed op die skrywer het. In verhale soos "Wat 'n lieflike geraas", "Die ou met die overall", "Lofredes en trompetgeskal" en "Dis nog niks, check my skoene!" is dit die vaderfiguur wat dikwels aangetref word, en in laasgenoemde verhaal ook die plaasvervangende stiefpa. In elkeen van hierdie verhale word die klem ge-plaas op die mans se weerloosheid wat 'n duidelike emosionele uitwerking op die vroulike verteller het.

In die tweede afdeling, "Vroue van my hart", kan verhale gevind word oor uiteenlopende vrouefigure soos 'n ouma, tantes, 'n bergvrou, 'n huiswerker, 'n oor-gewig vrou wat agter die parfuumtoon-bak in Edgars werk, en selfs 'n Hongaarse aktrise. Die verhale wat hier beïndruk is "Koms van die bergvrou" en "Jy's 'n lady". Weer eens oorheers die tema van ouderdom in verhale soos "Net hier op my skouer" en "Een magtige tagtig jaar", waarin die fokus in laasgenoemde ook val op die onvermydelike uiteinde van ouderdom, naamlik die dood. Alhoewel die dood ook figureer in die briljante "Jy's 'n lady", is dit die tema van die eensame vrou wat so sterk in hierdie uiters visuele vertelling heers, asook in stories soos "Koms van die bergvrou" en "Dagpas vir 'n engel".

"Kinders van my hart", die derde afdeling, bevat meestal stories oor die skrywer se eie kinders, met die fokus op Swart se bewustheid van die veral ouer wordende kind, en haar verwerking van haar eie kinders se verliese en/of teleurstellings. Alhoewel nie een van die stories in hierdie afdeling vir my in die besonder uitstaan nie, slaag Swart om soos 'n bekwame rubriekskrywer haar eie emosies en indrukke deur te gee, na gelang van die invloed wat haar kinders op haar as ma, vrou, maar ook as woordmens, skry-wer en boekliefhebber het. 'n Mens kan egter nie help om op te merk hoe die fyn balans tussen humor en patos nie deurgaans bevredigend gehandhaaf word in hierdie afdeling nie, met van die stories wat by tye sentimenteel aangebied word.

In die laaste afdeling van die bundel, "Stories van my hart", is dit veral "Laat staan sulke dinge, laat staan", "Ken Meneer daai huil" en "Dis tyd" wat uitstaan. Eersgenoemde storie is as 't ware 'n verhaal aanmekaargestik uit enkele reëls uit talle bekende Afrikaanse volksliedjies om uiteindelik die tragiese liefdesverhaal van oom Kallie en tant Miena te vertel. Hierdie storie beklemtoon Swart se vernuf as skrywer en haar vermoë om kreatief om te gaan met woorde. Omrede dit haar liefde vir die Afrikaanse woord is wat sterk na vore tree, herinner hierdie storie ook aan "Woordemans is gevaarlik" in die eerste afdeling, waar lirieke deur Anton Goosen, Koos Kombuis en David Kramer binne die verhaal verweef is.

"Ken Meneer daai huil" dien as ope brief aan die president deur 'n ma wie se seun in 'n plaasaanval vermoor is, en die ontnugtering en pessimisme van hierdie storie kring ook uit na "Wat het hierdie land met ons gedoen?" en "Wat jy nooit moes doen nie"-stories waarin Suid-Afrikaanse realiteite, vernaamlik armoede en geweld, 'n sterk teenwoor-digheid het. Behalwe vir die byna poë-tiese en liriese element wat in "Dis tyd" teenwoordig is, staan hierdie verhaal vir my sentraal binne die bundel vanweë die skrywer se poging om daardie onvaspen-bare emosies weer te gee deur middel van woorde-iets wat sy as rubriekskrywer in elkeen van die stories in die bundel probeer verwoord.

Die stories is almal kort vertellinge van ongeveer drie of vier bladsye wat nie baie inspanning tydens die leesproses verg nie, maar met haar persoonlike in-drukke oor 'n verskeidenheid karakters en haar deernis vir mense sal Swart se stories ongetwyfeld menige lesers emo-sioneel stem; een van die belangrikste kenmerke van rubrieke. Dit is egter ook belangrik dat rubrieke die leser aan die dink sit - iets wat Swart nie werklik vir my regkry met al die stories nie.

Nietemin is Die potlooddief se bruid en ander stories 'n bewys van Swart se skerp waarnemingsvermoë en 'n bevestiging van haar skryftalent. Op die gebied van die essay en rubriek as genres is hierdie bundel nie 'n literêre mylpaal nie, maar wel goedgeskrewe ontspanningsliteratuur wat aanklank by 'n wye, populêre lesersmark sal vind.

Frederick J. Botha
Noordwes-Universiteit, Potchefstroom
bothafrederick@gmil.com

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License