SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número1KomplotDie potlooddief se bruid en ander stories índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 no.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.23 

BOOK REVIEWS

 

Kamee

 

 

Roela Hattingh. Kaapstad: Human & Rousseau, 2015. 143pp. ISBN 978-0-7981-6917-2.

Kamee is Roela Hattingh se debuutkort-verhaalbundel, waarvan sommige ver-hale deel was van haar meestersgraad in kreatiewe skryfkuns onder leiding van Henning Pieterse. Die titel verwys na 'n edelsteen waarop 'n beeld (meestal 'n vroueprofiel) of voorstelling in reliëf uitge-graveer is sodat die verhoogde beeldhou-werk 'n ander kleur as die agtergrond het. Volgens die WAT verwys die figuurlike betekenis na iets wat tref deur fynheid, kleinheid en harmonieuse afgerondheid. Dit kan ook dui op 'n kort letterkundige of dramatiese stukkie wat die karakter van 'n persoon, 'n plek of gebeurtenis in fyn en sterk reliëf bring. Die WAT stuur egter ook die leser na die lemma "kiekie", wat bes-kryf word as 'n vlugtige maar tekenende of veelseggende beeld of indruk deur middel van die geskrewe of gesproke woord.

Die kortverhaalbundel bevat 24 ver-hale en met die uitsondering van 3 ver-hale bestaan die titel telkens uit 'n enkele woord, wat meestal ook die tema van die verhaal op kriptiese en gekonsentreerde wyse aan die orde stel. Van die treffendste verhale is dan ook die korter en enkele kortkortverhale. Daar is gevolglik inderdaad sprake van fynheid en kleinheid, maar ook die indruk van 'n kiekie wat 'n vlugtige, maar veelseggende beeld op papier neerpen. Die skrywer se skerp visuele ingesteldheid en fyn waarne-mingsvermoë as kopieskrywer en dosent in beeldende kuns kom duidelik na vore.

Hattingh se skryfstyl kan bestempel word as toeganklik en onopgesmuk. Die uiteenlopende karakters uit alle lae van Suid-Afrika se demografie doen eg aan, juis as gevolg van die egtheid van realis-tiese taalgebruik wat ook moderne mengeltaal insluit. Indien in gedagte gehou word dat styl 'n konstruksie is wat ingespan word om iets op 'n oortuigende wyse te sê, slaag die verhale daarin om deur die "eenvoudige" realistiese vertelstyl die indruk te wek dat dit die waarheid spreek, soos wat 'n kiekie inderdaad die werklik-heid momenteel vasvang. Die verhale in die bundel belig én lewer kommentaar op benouende en herkenbare sosiale en etiese kwessies binne die alledaagse Suid-Afrikaanse werklikheid: owerspel en egskeiding, geloof, kanker en verlies, armoede en bedelaars by verkeersligte, maar ook op ligter noot: mans se obsessie met bakkies en sport en fiksheid. Die perspektief is nie beperk tot die vroulike belewenis nie-ongeveer 'n derde van die verhale word vanuit 'n manlike per-spektief aangebied wat bydra tot die ryke geskakeerdheid van die bundel.

Die motto's gee prominensie aan die indruk van outensiteit, want dit vestig die aandag op die interaksie tussen die verhaal en die werklike lewe wat deur die styl aan bod gestel word: "You were, you know, you are, the nearest thing to a real story to happen in my life..." (Renata Adler), en "Cool, unlying life will rush in" (D. H. Lawrence). Die sukses van die sterker verhale lê benewens oortuigende karakterisering in die wyse waarop die skrywer die oënskynlik gewone gegewe na 'n klimaktiese slot rig-'n slot wat plotseling, maar op verrassende en selfs skokkende wyse betekenisomwenteling bewerkstellig, én 'n appèl tot nadenke op die leser maak. In enkele verhale is hierdie tegniek ongelukkig minder geslaagd; waarskynlik juis as gevolg van die abrupte aard daarvan.

Die openingsverhaal, "Alibi", speel 'n sentrale rol ten opsigte van temas en motiewe wat verder in die bundel ontgin word. Die verhaal is 'n aanklag teen 'n ongebalanseerde en skeefge-trekte samelewing; teen veranderde norme en waardes wat tekenend is van ons tyd. Vanuit die perspektief van die tradisionele huisvrou word die obsessie met 'n oormatig gesonde leefstyl en "ontwerperslywe" geteken. Die verteller bestempel haarself as 'n "ou praatsieke potjierol" wat voor die probleem te staan kom van "Hoe less-is-more jy jou kop?" Ontspoorde kommunikasie, nie net binne huweliksverband nie, maar as tendens van sosiale kommunikasie wat alles verkort tot essensie, staan sentraal in die narratief. Teenoor die SMS-taal is die troef van die verhaal egter die uitge-sponne woord, "a...l...i...b...i", wat as reddingsboei dien waarmee sy verlossing uit die versmorende situasie bewerkstellig: dus by implikasie die skryfdaad, die korrekte woord en spelling, die moeisame "graveer" in taal om die beeld in reliëf te bring. Hierdie implisiete besinning oor die skryfproses en (wan)kommunikasie in 'n digitale era word ook aangetref in die treffende twee slotverhale van die bundel, "Congratulations. You've won! Do you want to start again?" en

"Werk". "Alibi" vertel terselfdertyd op onthutsende wyse van 'n verbrokkelende huwelik, en die byderwetse uitpakslaai word metafoor vir dié verwydering; 'n metafoor wat herinner aan die slaaimotief binne huweliksverband in Antjie Krog se Otters in bronslaai. Hattingh se tegniek om 'n verrassende slot te bewerkstellig kan ten beste in hierdie verhaal geïllustreer word. Die openingsreël lui soos volg: "An het gewéét, toe hy so aangaan oor die mengelslaai." Die leser word dus ook van die begin af getuie van die "misdaad" van owerspel, maar die aard van die kennis word tog ten slotte 'n uitklophou vir die karakter sowel as die leser.

In teenstelling met die "ontwerperslywe" van spesifiek die manlike karakters wat in "Alibi" aan bod gestel is, val die klem in 'n aantal verhale op die gekwelde en geknelde vroueliggaam, selfs op die abjekte en/of groteske vroulike liggaam, wat op ironiese wyse ook die weerloosheid van dié liggaam beklemtoon. Die abjekte verteenwoordig dit wat identiteite, sisteem en orde versteur, terwyl die abjekte liggaam herhaaldelik sy eie grense oorskry, en sodoende die wens vir liggaamlike selfbeheer en eie-naarskap ontwrig. In "Swem" word die ingeperkte liggaam van 'n Moslemvrou in die vlakwater op die strand uitgebeeld. Sy is letterlik vasgevang in haar geloof se onderdrukking omdat sy genoop word om haar skraal liggaam in haar purdah te versteek. In teenstelling is daar die beeld van "die vet vrou met die swart kostuum" (22) wat vrylik dieper as almal deur die water sweef en dans.

"Trousseau" en "Weetlus" sinspeel op die seksueel misbruikte en selfs mishandelde vroulike liggaam, terwyl "So lief soos sout" die ontstellende verhaal vertel van die slagoffer van jarelange huweliksgeweld. "Land van die lotus-blare" handel oor die Chinese seksuele fetisj van die misgevormde gouelotus-voete. In "Tambudzai (Swaarkry)" het die vroulike protagonis groteske veelvuldige liggaamsdele wat sy ten spyte van vernederende lewensomstandighede tot haar eie voordeel aanwend. Die dryfkrag agter die optrede van die jong seun in "Eintlik" is om sy ma van "wiele" te voorsien om haar gestremde liggaam van hulp te wees. Die skokkende omstrede tatoeëer-metode van "scarring" word in "Honger" aan die leser voorgestel, 'n meervlakkige verhaal wat insgelyks kommentaar lewer op skeefgetrekte seksualiteit met vleis as metafoor. Volgens Kristeva se opvattings van die abjekte is die uiterste aspek van abjeksie die lyk, en in "Vakansietog", "Vrylopers" en "Werk" is die "kiekie" wat ten slotte die leser bybly dan ook die geskende lewelose liggaam. Ingebed in hierdie verhale is egter óók die moontlik-heid van verlossing, van 'n ommekeer na bevryding, van 'n soeke by die karakters na geluk wat die versmorende realiteit sal ophef-en dit word dan telkens op vernuftige wyse bewerkstellig deur die verrassende slot wat steeds oop is vir interpretasie.

Die gegewe van die "kiekie" wat deur die titel aan die orde gestel word, kry in die titelverhaal, "Kamee", letterlik beslag. Die spil waarom hierdie verhaal draai, is die geliefde gestorwe moeder. Haar "uitgerafelde" (47) geskende liggaam ná haar mastektomie word in detail met deernis beskryf. Hierdie liggaam (soos ook die ander gekwelde vroulike liggame in die bundel) word by implikasie in jukstapo-sisie geplaas met die skoonheid van die vroueprofiel op die verlore kamee, maar ook met die kamee wat die verteller na haar ma se dood laat maak, gebaseer op drie foto's en herinneringe. In hierdie verhaal maak die geliefde tante Margaret van die openingsverhaal weer eens 'n kamee-verskyning. Uiteindelik bly die verhaal oop vir interpretasie, maar die eksplisiete verwysing na die vertel van 'n verhaal in die openingsreël, sowel as die ewe eksplisiete verwysing na die opskryf van die "kameestorie" (45), stel die spanning van die saambestaan van opponerende wêrelde - werklikheid en verbeelding, realiteit en droom-as noodsaaklike komponente van die skryfhandeling op die voorgrond. Ook in hierdie verhaal (soos in "Alibi") word die skryfproses en die moeisame graveer van die kamee met mekaar in verband gebring.

Dit is opwindend om 'n debuutkort-verhaalbundel in Afrikaans te lees wat 'n verdienstelike en bevredigende bydrae tot die kortverhaalgenre lewer. Die beste verhale in die bundel verdien boonop beslis 'n plek in die volgende uitgawe van die kanonieke Die Afrikaanse kortver-haalboek.

Adéle Nel
Noordwes-Universiteit, Vanderbijlpark
Adele.Nel@nwu.ac.za

 

Geraadpleegde bron

Kristeva, J. Powers of Horror: An Essay on Abjection. New York: Columbia U P, 1982.         [ Links ]

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons