SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1WonderboomKamee author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.22 

BOOK REVIEWS

 

Komplot

 

 

André Krüger. Kaapstad: Human en Rousseau, 2015. 416 pp. ISBN: 978-07981-6971-4.

André Krüger het reeds met sy debuutroman, Die twee lewens van Dieter Ondracek (2012) belofte getoon as 'n spannings-verhaalskrywer. Met sy tweede roman, Komplot (2015), sit hy sy verkenning van hierdie genre voort deur die herhaling van sekere struktuuraspekte soos onder andere terugflitse, die wisseling tussen buitelandse en Suid-Afrikaanse ruimtes, bekende historiese gebeure en dubbele identiteite.

Thomas Jacobs, 'n Suid-Afrikaner, neem as 'n idealistiese anargis deel aan die Spaanse Burgeroorlog (1936-9), teen Franco se Nasionaliste. In Spanje word hy Josep wat nâ sy aanvanklike oorlogdeelname as soldaat, saam met 'n ongenaakbare Russiese agent, Ortiz, geheime operasies as dubbelagent en sluipmoordenaar uitvoer. Sat van al die geweld en ontnugter deur die werklikhede van oorlog keer hy terug na Suid-Afrika waar hy hom mettertyd vestig op die plaas Wolwekuil, naby Colesberg. Hier probeer hy ontvlug van sy gewelddadige verlede en ontmoet Oom Doep, Anna en Alida by wie hy op verskillende vlakke betrokke raak.

Die ruimte en tyd wissel tussen Suid-Afrika (1935) met sy eerste (mislukte) sluipmoordpoging en oorsese ruimtes. Die hoofstuktitels dui telkens ruimte en tyd aan. Dit begin met Parys (1936), met sy aankoms in Europa, Madrid en Barcelona tydens die Spaanse Burgeroorlog (1936-8) en Moskou, tydens die sameswering om Verwoerd te vermoor:

1958-9. Terug in Suid-Afrika: 1940-59, is Johannesburg en veral die Toorberg-omgewing naby Colesberg die sentrale ruimtes. Die wisseling van tyd en ruimte dra by tot die skep van spanning en die tipiese truuk van die spanningsroman: die uitstel van die slot. Alhoewel die eerste deel van die roman hoofsaaklik tydens die Spaanse Burgeroorlog afspeel, is die leser wel die hele tyd bewus van die eindpunt: die komplot om Verwoerd te vermoor én die wete dat dit misluk het. Maar die tergende vraag bly huiwer: hoekom?

Die ontwikkeling van die karakter: Thomas/Josep word een van die kerngegewens van hierdie roman: die uiters oortuigde anargis, sterk ideologies gedrewe, wat langsamerhand en deur baie ontberinge ontnugter word en begin begryp hoe groot magstrukture en gepaardgaande ideologieë individue beïnvloed en gevange hou, totdat hy later besef: "mense is belangriker as idees". Hierdie ideologieë sluit, buiten die anargisme, ook die kommunisme, nasionalisme, die Koue Oorlog, apartheid en rassisme in. Elkeen daarvan speel 'n rol in die lewe van Thomas en die mense in die verskillende samelewings en ver-houdinge om hom. Sy ontwikkeling van tipiese buitestanderfiguur tot 'n mens met sterk menslike verhoudinge vorm deel van sy karakterontwikkeling. Vir my is dit een van die bevredigende en goed gemotiveerde aspekte van hierdie roman.

Krüger slaag ook daarin om tydsom-standighede goed vas te vang met die beskrywing van kleredrag, gewoontes, kulturele stereotipes en selfs voertuie. Sy belangstelling in motors van daardie tyd het reeds in die vorige roman geblyk met verwysings na die Opel Kapitän, Chrysler Valiant, De Soto en die legend-ariese BKW F5. In Komplot is daar die Russiese Zll-110, die Packard 180 en die werktuigkundige by die voertuigdepot se uitgesproke bewondering vir die tweede generasie Chev Bel Air Coupe: "Jissis, kaptein, dis 'n moerse fokken kar die. 'n 55-model met Super Power Pack option. Hy't 'n V8-enjin van twee honderd vyf en sestig kubieke duim. Honderd vyf en negentig pêre onder die kap! Nul tot sestig myl per uur in twaalf punt nege sekondes. Jissie, ek wens ek het so een gehad" (297). Dialoog wat 'n man laat kwyl.

Alhoewel die skrywer deeglik rekenskap gee van sy navorsing oor die historiese gebeure en die ruimte in die buiteland noukeurig beskryf, met gedetailleerde beskrywings van ge-boue en die binneruimtes van stede, is dit veral sy tekening van die Suid-Afrikaanse landskap, veral die Karoo en die natuurlike dialoog op die plaas tussen Thomas, Oom Doep, Anna, Alida en later ook sy dogter, Sara, wat tref. Die dialoog en handeling van die speurders, kaptein Robert Ferreira (Robert) en die breedsprakige speurder-sersant Boshof (Bossie-wat anders?) is louter genot om te lees, soos byvoorbeeld die volgende telefoongesprek oor die dowe getuie wat ondervra is:

Bossie klink tam maar opgewonde.

"Kaptein, die dowe perd het nou wel nie al sy vingers en tone in sy kop nie, as kaptein verstaan wat ek bedoel, maar hy kan teken.

"Konstabel Maisela het hom onder hande gehad, en toe ek daar kom, toe vra hy vir papier en potlood. Jis, kaptein, die perd kan mooi teken. Ek het nog nie so iets gesien nie. Lenie se suster Annie is mos 'n kunsonnie, en sy kan ook teken. Lenie het ons gewys, maar jissis, nie soos dié nie. Ek weet nie, kaptein, dis iets anders dié..."

"Bossie?"

"Kaptein?"

"Wat, Het. Hy. Ge. Te. Ken?" (298-9)

Die slot sluit op verrassende wyse aan by die eerste hoofstuk en alhoewel daar myns insiens 'n bevredigende sluiting van die verskillende verhaallyne is, word 'n voortdurende, sikliese verloop tog gesuggereer .

Sekere gebeure word egter nog te sterk gemanipuleer om we rklik oortuigend te wees-soos die stil ge-tuie as uitstekende tekenaar. Ideologiese gesprekke en gedagtes is myns insiens ietwat oorbeklemtoon in die begin van die roman, maar soos die teks vorder, word die leser veral betrek by die in-nerlike worstelinge van die hoofkara-kter, die ontwikkeling van verrassende verhoudinge en 'n klimaks in die laaste hoofstukke.

Struktureel is daar die parallelle en herhalende motiewe wat ooreen-stem met die eerste roman: die man uit die gewelddadige verlede wat die hoofkarakter weer opspoor, die invloed van ideologieë op individue en volks-groepe, ideale versus werklikhede, die Karoo as ruimte en die toenemende ontgogeling en ontnugtering. Komplot is egter 'n geslaagde en hoogs leesbare spanningsroman wat buiten die intrige ook boei met interessante karakters en perspektiewe.

Johan Anker
ankerj@cput.ac.za
CPUT, Wellington

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License