SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número1Voor-bodeKomplot índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 no.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.21 

BOOK REVIEWS

 

Wonderboom

 

 

Lien Botha. Kaapstad: Queillerie, 2015. 224 pp. ISBN: 978-0-7958-0095-5.

Lien Botha is bekend as kunstenaar-fotograaf. Wonderboom, haar debuutroman, is die eindproduk van 'n magistergraad in Kreatiewe Skryfkuns. Met die publikasie van hierdie roman sluit Botha aan by 'n toenemende aantal skrywers en digters wat die Afrikaanse literêre landskap die laaste paar jaar op soortgelyke wyse betree het. Die verskillende kunstenaars-rolle wat Botha aanneem, blyk duidelik in Wonderboom, aangesien Botha se visuele kuns en ingesteldheid met gewaagdheid by die roman ingewerk word.

Wonderboom kan gesitueer word binne die tradisie van die distopiese roman. Die soms absurde gebeure speel af in 'n postapokaliptiese Suid-Afrika, waar 'n ramp die ordelike samelewing, ekonomie en daaglikse bestaan omver-gewerp het. Streke van die land word nou deur verskillende magte oorheers: in die Kaap swaai die wrede Albino X die septer, terwyl "kleiner groeperings [...] vigilante-groepe" in ander dele "op die been gebring is nadat munisipaliteite in duie begin stort het en mense begin saamspan het om dinge weer min of meer funksioneel te kry" (154). Die protagonis, die vioolspeler Magriet, wil ontsnap van die dwingelandy van Albino X en pak die lang pad aan terug na die voorstad Wonderboom in Pretoria, waar sy grootgeword het en haar familie steeds woon.

Die distopiese karakter van die roman bewerkstellig skakels met 'n reeks Suid-Afrikaanse romans in Afrikaans sowel as Engels; soms bloot deur die breë eienskappe van hierdie subgenre, maar dikwels ook deur intertekstuele of visuele verwysings. Enersyds is daar vae herinneringe aan grootse werke soos Karel Schoeman se Na die geliefde land (1972) en Nadine Gordimer se July's People (1981), asook Anna M. Louw se laaste roman, Vos (1999). Laasgenoemde verleen aan die protagonis in Wonderboom 'n familienaam, terwyl dit ook aangetref word in sommige van die collages wat elke hoofstuk voorafgaan. Benewens die gesprek met ouer, meer literêre werke, kan Botha se roman ook andersyds beskou word as deel van 'n bepaalde kontemporêre literêre beweging, waarvan Zoo City (2011) deur Lauren Beukes een van die belangrikste uitsette is. Soortgelyk aan Beukes se roman speel Wonderboom af binne 'n oordrewe Suid-Afrikaanse weergawe van 'n polities-onstabiele land. Hoewel dié Suid-Afrika verbeeldingswerk is, kom die leser vinnig agter dat die roman kommentaar lewer op 'n hedendaagse Suid-Afrika. Ek het reeds verwys na die roman se "kleiner groeperings [...] vigilante-groepe" wat nuwe, postapokalips-munisipaliteite daarstel. Dit is moeilik om die verband met die huidige veelbesproke praktyk van belastingonthouding hier mis te lees. So ook is 'n onderonsie met 'n korrupte polisiemag, waardeur die protagonis en haar reisgenote slegs arrestasie vermy deur die beampte om te koop-in die absurde tradisie van die distopie nie met geld nie, maar met 'n musiekkonsert en 'n papegaai (97-101). Dan is daar ook die kwessie van ekonomiese ongelykheid, waaroor Magriet nadink terwyl sy haar op Vergelegen bevind:

Binne die kokon moet dinge voortgaan soos altyd, en omdat die mense binne hierdie papiebestaan oor die kapitaalkrag beskik, is dit vir hulle moontlik om 'n eersteklas-toestand te bly handhaaf.

Hoe de hel hulle hul kopruimtes om die ellende daar buite kry, is 'n raaisel (41).

Die belang van die reismotief in die roman word aangedui deur die kaart wat die teks voorafgaan. Die karakter se tog is fisiek, maar dit is ook 'n tog deur die verlede. Albei hierdie reise word deur die skrywer gebruik om die struktuur van die narratief en die vertelperspektief in Wonderboom te bewerkstellig.

Benewens die boombenamings of -verwysings wat in die hoofstukname aangetref word, word elke hoofstuk voorafgegaan deur 'n collage deur die skrywer. Die boomverwysings het grootliks betrekking op die fisieke reis en voorspel die inhoud van die hoofstuk- "Bloedboom" dui byvoorbeeld op verwonding en "Apteekboom" suggereer iets van genesing-terwyl die collages 'n aanduiding van Magriet se tog deur die verlede en haar stelselmatige geheueverlies is. Magriet se vertelling vroeg in die roman vertoon 'n samehang, maar soos die verhaal vorder, rafel haar vertelling stelselmatig uit, en die collages word kaler en kaler.

In aansluiting by 'n aantal romans en digbundels van die afgelope tyd vertoon Wonderboom 'n sekere ekobewustheid. Nie net is daar die titel van die roman en die gereelde verwysings na bome en plante nie, maar die roman skets 'n wêreld waarin die algehele verval van die samelewing baie mense gelei het na 'n eenvoudiger dog moeiliker bestaan nader aan die natuur. Die grens tussen mens en natuur word vervolgens op verskillende wyses vervaag. So verwys Magriet na haar blyplek as haar "nes by die see" (46), wat letterlik 'n nes van plante en ander materiaal is, terwyl sy in 'n oomblik van teerheid deur 'n minnaar met 'n boom vergelyk word:

Hy hou haar gesig met albei hande vas en sy sien trane in sy oë, dan druk hy albei sy duimvingers tot in die binnekant van haar mond asof hy haar speeksel wil uitpars, haar sap wil sien. Sy vergeet van alles waarvoor sy deesdae moet baklei, hy fluister in haar oor dat sy 'n geur het soos die aarde, hy het dit vroeër die aand waargeneem tussen die soet reuk van die katjiepiering (43).

Die violiskarakter laat die leser herhaal-delik nadink oor die rol van kuns en 'n kunsingesteldheid in 'n samelewing waarin alle ander vorms van soge-naamde beskawing vervaag of verval het. Ongelukkig is dit dikwels hier waar die roman 'n bietjie struikel. Die balans tussen die erns van die karakter se distopiese bestaan en die absurde gebeure en scenario's wat daarmee gepaardgaan, is nie altyd konsekwent nie. 'n Saamrygeleentheid vereis as vergoeding 'n seksuele guns-op sigself nie ondenkbaar nie. Dit is egter die karakter se denke daaroor wat onoortuigend is: "Met verloop van tyd het sy egter van plan verander en dit as 'n geleentheid gesien, die slukkies semen as kos begin beskou" (29).

Wonderboom is 'n gewaagde werk wat deur die hoofkarakter se liriese waarneming en ervaring 'n verhaalwereld skep. Botha se roman lewer kommentaar op kuns en kunstenaarskap, maatskaplike, ekonomiese en omgewingskwessies, en tussenin is daar natuurlik ook nog Magriet se verhaal en reistog. Dit is 'n mondvol, en jammerlik is dit dalk 'n raps te veel vir 'n debuutroman van net meer as 200 bladsye, 'n stuk of agtien collages, en met baie breë lynspasiëring. Hierdie leser hoop dat Botha miskien die keuse sal uitoefen om in 'n volgende roman eerder haar visuele ingesteldheid ten volle aan te wend waar dit in Wonderboom die sterkste is, naamlik verweef in die geskrewe verhaal.

Reinhardt Fourie
Universiteit van Suid-AMka, Pretoria

fourir@unisa.ac.za

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons