SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Skadu oor die sonwyserWonderboom author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.20 

BOOK REVIEWS

 

Voor-bode

 

 

Cas Vos. Pretoria: Protea Boekhuis. 2015. 143 pp. ISBN: 978-1-4853-0542-2.

Voor-bode is die jongste bundel van die bekende afgetrede teoloog Cas Vos wat in 1999 as digter debuteer met Vuurtong en sedertdien 'n waardevolle poësie-oeuvre opgebou het. Buscop (2003) lees Vos se poësie, teen die agtergrond van Vos (1996a en 1996b) se teologiese tweeluik Die volheid daarvan: Homiletiek vanuit 'n hermeneuties-kommunikatiewe perspektief (I & II) as 'n beliggaming van lewensvreugde (la joie de vivre) waarby die W/woord in die werklikheid en die komplekse wisselwerking W/woord en werklikheid sentraal staan. Hierdie ge-gewe vorm steeds in die nuutste bundel die grondslag van Vos se skrywersidi-olek, met 'n gedig soos "Stilte" wat as eksplisiet-versinterne poëtikale uiting gelees kan word. "Eerste woorde", die openingsafdeling van die bundel, het as motto die woorde "Stilte is goud en die woord is silwer" met daarby die naam van die digter Konstantinos PP Kavafis (1863-1933) van wie daar in hierdie bundel, verspreid in enkele van die af-delings, 'n vyftiental gedigte opgeneem is wat Vos uit die oorspronklike Grieks vertaal het. Hierdie keuse sluit in "Ons wag op die barbare", wat danksy J. M. Coetzee se toespeling daarop in sy roman Waiting for the Barbarians vir meer lesers bekend sal wees as van Kavafis se ander gedigte. Ofskoon die aantal gedigte van Kavafis wat in hierdie bundel geplaas is dus nie besonder omvangryk is nie en daar ook drie vertaalde gedigte van Giorgos Seferis opgeneem is, troon die grootmeester Kavafis uit as dominerende teenwoordigheid in die bundel, ook danksy die aantekeninge agterin die bundel wat hoofsaaklik op hom betrekking het: oor die ontwikkeling van moderne Grieks, die taal en styl van die gedigte van Kavafis, die lewensloop van Kavafis asook notas (met 'n oorwegend feitelike strekking) oor die spesifieke gedigte van Kavafis wat hier vertaal is.

Die titel van die bundel, Voor-bode, mag op die oog af strydig lyk met dit wat hierbo as hoofstrekking van Vos se werk geïdentifiseer is. Die aanmanings van onheil word weliswaar in hierdie bundel nie verbygegaan nie, veral in die afdeling "Pyngesante", maar die bun-deltitel het meer nog betrekking op die draers van hoop, die boodskappers van God, die bodes van liefde, van digterlike inspirasie en heling, veral W/woorde as boodskappers. In die omgewende duisternis, byna soos in Plato se grot, word "bodes" ingewag maar ook uitgestuur. In hierdie bundel word ook en veral Kavafis ontvang as gesant met 'n lewensverry-kende "boodskap".

Die genoemde motto by die eerste afdeling blyk by nadere ondersoek afkomstig te wees uit 'n vroeë en redelik onbekende gedig van Kavafis, "Woord en stilte", waarin Kavafis die stelling wat in hierdie ou spreekwoord gemaak word, naamlik dat stilte verkieslik is bo woorde, verwerp en eerder 'n kragtige betoog ten gunste van woorde konstrueer teen die agtergrond van die besef dat die mens "na die beeld van die Woord" geskep is (vgl. Halim 93 e.v.). By Kavafis en ook by Vos vind hierdie gerigtheid nie in 'n een-sydige soort poësie neerslag nie, maar in 'n verskuns wat juis die beliggaamde spel van die W/woord vooropstel.

In die inleiding tot sy vertaling van fragmente uit Homeros se Ilias, wat in 2014 by Protea Boekhuis verskyn het, sluit Vos by die afdeling oor die invloed van die Ilias op die twintigste- en een en twintigste-eeuse poësie sy eie Afrikaanse vertalings in van Kavafis-gedigte wat die spore van daardie werk vertoon. In Voor-bode word 'n wyer en betreklik gevarieerde keuse uit die werk van Kavafis opgeneem. Die pakkende aantekeninge by hierdie bundel kan as 'n waardevolle aanvulling tot die besonder klein korpus geskrifte oor Kavafis in Afrikaans beskou word (vgl. Van Schalkwyk 2-3). Dis egter met die ingeslote gedigte van Kavafis dat Vos die stewigste bydrae tot dusver lewer wat betref die vertaling van Kavafis se werk na Afrikaans (voorheen is enkele verse deur onder andere Uys Krige, Johann de Lange en Joan Ham-bidge vertaal).

Wat Vos se bydrae verder onderskei, is dat hy met sy kennis van die Grieks ook besondere aandag aan die oorspron-klike taalaanwending en verstegniek, insluitende eindrym gee, iets wat in die meeste vertalings (ook in die bekendste Engelse weergawes) wegvertaal word. Ons word dus ietwat nader gebring aan die oorspronklike aanbiedingswyse in Grieks. Verder kies Vos nie slegs uit die estetiserende homoërotiese gedigte (waaraan Kavafis sy roem veral te danke het) nie, maar ook uit werk met 'n meer "histories-beskoulike" strekking (die tweede groot tema by Kavafis), asook gedigte wat nie tot die heel bekendstes van Kavafis behoort nie. As vertaaloefening is Vos se poging om die versteg-niek te laat herleef wel lonend, en vir die toegewyde Kavafis-leser bied dit 'n openbarende leeservaring, maar as geheel beskou, bevredig sommige van die vertalings nie volkome nie. Daar is in van die gedigte, byvoorbeeld "Die stad", iets geforseerd in die eindrym wat te veel aandag vir sigself opeis en die skoon en sekure versgang, waarvoor Kavafis bekend is, skaad. "Kom terug" vertoon 'n grinterigheid wat die sensualiteit van hierdie geliefde Kavafis-gedig onder-myn. Bepaalde woordkeuses in die ver-talings doen vreemd aan, byvoorbeeld die gebruik van "weerhou" in "Die stad" en "Verborgenhede". As 'n mens self nie Grieks magtig is nie, is dit uiteraard nie moontlik om die vertaalkeuses te gaan kontroleer nie. Al waarop 'n mens dan kan staatmaak, is jou aanvoeling wat betref die poëtiese gaafheid van deel en geheel, en my enkele besware kader dus veral hierin.

Vos se digbundels word oor die algemeen telkens weer oorwegend gunstig ontvang, en in die nuwe bundel verteen-woordig sy eie oorspronklike gedigte 'n waardige toevoeging tot sy poësie-oeuvre sonder dat hier 'n nuwe koers ingeslaan word. Iets van laasgenoemde manifesteer dalk wel in die "gesprek" met Kavafis wat hierdie bundel domineer, deurdat van die afdelings nie net verryk word met Kavafis-vertalings nie maar ook dat daar 'n soort wisselwerking tussen Vos se eie werk en Kavafis s'n tot stand kom ten opsigte van gemeenskap-like tematiese gerigthede en selfs meta-foriese verbande - wat laasgenoemde betref byvoorbeeld die uitgeblase lamp in "Melankolie" wat skakel met Kava-fis se "Kerse", daardie groot gedig oor die tyd. Om die eie gedigte bepaalde afdelings met Kavafis te laat deel, kan seker dapper genoem word. Gegewe dit waarmee hier skouers geskuur word, val die kariger verse van Vos helaas ook des te meer op.

Dit wat Vos met die groot voorganger Kavafis deel, is die hunkering na die "volheid" (trouens die titel van die sewende en laaste afdeling) wat die lewe (in begenadigde oomblikke soms net-net) kan bied, veral deur die erotiek en in die belewing van kuns. Vos se gedigte oor sy liefde vir en (liggaamlike) hunkering na sy vrou in byvoorbeeld die afdeling "Liefdesbodes" word afgewis-sel met die homoërotiek van Kavafis, 'n tema waaraan Vos in die nawoord ook ruimte gee. Ook in Vos se teologiese werksaamheid het die (homo)erotiek aan bod gekom, veral in die boek Liefde is die grootste: Oor erotiek en seksualiteit waarvan hy en Dirk Human redakteurs is. Om die (homo)erotiek in 'n posi-tiewe lig te bejeën, soos in die bydraes tot hierdie boek die geval is, is binne die Afrikaanse (kerklike en teologiese) wêreld geen vanselfsprekendheid nie. Nog minder was die homoërotiek in Kavafis se leeftyd (in sy tuisstad Alexandrie, Egipte) iets wat openlik uitgeleef kon word. Die teenstribbelrige ingesteldheid wat Kavafis reeds in 'n vroeë werk soos "Woord en stilte" vertoon, het hom egter bemagtig (nie net psigologies nie maar ook retories-poëties) en in staat gestel om algaande by 'n alternatiewe "wysheid" uit te kom, een wat hom sonder spyt en skaamte na die liggaamlike genot kon laat (terug)kyk. In "'n Ou man", trefseker vertaal deur Vos en opgeneem in die afdeling "Voorlopers", betreur 'n ou man dit dat hy hom vroeër in sy lewe deur 'n meer konvensionele wysheid laat lei het. Die voorlaaste strofe lui:

Hy herroep impulse wat hy bedwing

het; en hoeveel

plesier hy opgeoffer het. Elke verspeelde oomblik

tart nou sy sinlose wysheid.

Kavafis se "Ithaka", wat die voorlaaste plek inneem in die slotafdeling, verteen-woordig 'n kulminasiepunt van Kavafis se persoonlike en digterlike lewensreis. In hierdie gedig word selfs teleurstelling (ten opsigte van bestemmings) in 'n milder kader geplaas. Die reis self, die sensuele reis, word die doel, die eintlike bestemming. Die slotstrofe lui:

En as jy haar arm vind, Ithaka het jou nie bedrieg nie. Met wysheid wat jy verwerf het,

met soveel belewenis, moet jy nou sekerlik verstaan wat

Ithakas beteken.

Kavafis was in lewe en skrywe voorbode van die moontlikheid, eendag "in 'n volmaakter samelewing" ("Verborgenhede"), van 'n vervulde lewe vir die (onderdrukte, hunkerende) individu. Vos maak in die bundel Voor-bode 'n skof van sy eie reis (persoonlik en poëties), hier na die einde se kant, in die geselskap van die digterlike wysgeer Kavafis mee. Hy wen beslis daarby, maar ook Kavafis wat hier opnuut, (self)bemagtigend, die woord kan voer, en dit in Afrikaans.

Phil van Schalkwyk
Noordwes-Universiteit, Potchefstroom
Phil.VanSchalkwyk@nwuac.za

 

Geraadpleegde bronne

Buscop, Jan. "Digoeuvre van Cas Vos: Die belig-gaming van 'n lewensvreugspel." Verbum Et Ecclesia 24.1 (2003).         [ Links ]

Halim, Hala. Alexandrian Cosmopolitism: An Archive. New York: Fordham U P, 2013.         [ Links ]

Van Schalkwyk, Phil. "'Op de wijze van Kavafis': Die voorbeeld van die digter uit Alexandrie." Literator 35.2 (2014).         [ Links ]

Vos, C.J.A. Die volheid daarvan I: Homiletiek uit 'n hermeneuties-kommunikatiewe perspektief. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike navorsing, 1996a.         [ Links ]

_______. Die volheid daarvan II: Homiletiek uit 'n hermeneuties-kommunikatiewe perspektief. Pretoria: Raad vir Geesteswetenskaplike navorsing, 1996b.         [ Links ]

Vos, Cas & Dirk Human (reds.). Liefde is die grootste: Oor erotiek en seksualiteit. Pretoria: Protea Boekhuis, 2007.         [ Links ]

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License