SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 número1Samsa-masjienSkadu oor die sonwyser índice de autoresíndice de assuntospesquisa de artigos
Home Pagelista alfabética de periódicos  

Serviços Personalizados

Artigo

Indicadores

Links relacionados

  • Em processo de indexaçãoCitado por Google
  • Em processo de indexaçãoSimilares em Google

Compartilhar


Tydskrif vir Letterkunde

versão On-line ISSN 2309-9070
versão impressa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 no.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.18 

BOOK REVIEWS

 

Stukke teater

 

 

Pieter-Dirk Uys. Kaapstad: Human & Rousseau, 2015. 413 pp. ISBN: 978-0-7981-6407-8.

Pieter-Dirk Uys is 'n dapper en gewaagde dramaturg. Hy is skrywer, akteur, vermaaklikheidskunstenaar, aktivis en filantroop. Drie besondere persone het elk 'n noemenswaardige invloed op Uys se lewe gehad. Sy ma, die befaamde kon-sertpianis Helga Basel, wat as Jodin uit Duitsland moes vlug net voor die Tweede Wereldoorlog, het hom geleer om as 'n wereldburger oopkop, aanpasbaar en vreesloos-kreatief te wees. Van sy ma het hy geleer om nie sy kop en sy lewe te versuur met onbenullige snert nie. Sy pa het weer by geleentheid nâ een van sy pro-duksies aan hom gevra: "Hoekom moet jy altyd so vloek in jou stukke? Kielie my eerder saggies agter my oor met wat jy wil sê. Dan luister ek..." (Uys in Meiring 34). Hieruit het hy die waardevolle les van subtiliteit geleer. Uys se vriendskap met Sophia Loren is ook merkwaardig. Loren het in haar eerste brief aan Uys geskryf (Uys se woorde): "Daar is nie tyd om te huil nie. Onthou die mooi dinge, maar jy moet daar wees vir almal en help om die stukke op te tel" ("Pieter-Dirk Uys 70 en steeds op sy stukke").

Pieter-Dirk Uys skep Suid-Afrikaanse stories. Die stories in Stukke teater is egter veel meer as blote konteksgebonde politieke satire. Uys self beskryf sy stories in die bundel nie meer as polities nie. In die sewentiger- en tagtigerjare is sy stukke gesien as politieke uitsprake, maar vandag in 2015 kan hulle gelees word as stories oor mense wat leef teen die agtergrond van politieke opstand en sosiale chaos binne 'n groter universele verband. Die verbeeldingspel wat geïn-spireer word deur die teater, bied in die dramatekste van Uys 'n legio visuele moontlikhede van hoe hulle op die te-aterverhoog uitgespeel kan word, maar ook hoe hulle uiteindelik op die werklike verhoog van die lewe sal uitspeel. Dit is egter die gedrukte teks wat sal verseker dat die stories behoue sal bly. Hierdie bundel is opgedra aan sy vader en dien ook as huldeblyk aan sy twee tantes- twee belangrike figure in die Afrikaanse letterkunde, wyle Anna M. Louw (skry-wer) en Anna Uys (lektor in Afrikaans).

Die werklike impak van Uys se dramas in die een-en-twintigste eeu is nie noodwendig uit die politieke mynvelde van die verlede nie, maar juis oor die manier waarop mense en karakters sulke turbulente ervarings leer hanteer (Uys in Fourie). Die teaterstukke wat Uys geskryf het in die apartheidsera, weerspieël wel die gloed van die vure van lyding en protes. Die gehore van daardie tyd het die tekste instinktief gedekodeer teen die agtergrond van hul politieke ervarings, hetsy ondersteuners van die "struggle" of ondersteuners van die status quo. Wanneer daar egter nou teruggekyk word na 'n teks wat geskryf is in byvoorbeeld 1976, word die politieke hoofopskrifte van toe, klein onderskrifte van vandag, maar ook 'n herinnering aan wat dit beteken om deur onstabiliteit, chaos en sosiale korrupsie te kan leef. Die ironie dat geskiedenis homself herhaaldelik met elke nuwe tydvak kan transformeer van tragedie na klug en weer terug, wys op die dinamiese proses van herskep-ping daarvan, veral in Pieter-Dirk Uys se tekste. Volgens Uys is dit maar net 'n kwessie van rym: "From apartheid to tripartite; from amandla to Nkandla!" (Uys in Fourie).

Drama draai om die menslike bestaan en kan nie noodwendig vasgevang word in 'n enkele politieke tydgleuf of atmosfeer nie. Lyding is universeel en tydloos. Oorlewing teen die gang van die maatskappy, vrees, onsekerheid en woede, kan deur die eeue uitgespeel word in vele vorme. Satire en ironie word geredelik vir daardie doel in die teater aangewend. Politieke satire is wel meestal tydsgebonde en Uys wend ironie en satire rojaal aan. Die meeste van sy satiriese werke is ook geanker in woede teenoor sy magteloosheid, sy verse, sy kompromieë en sy heulery deur stilte. Maar, Uys het egter die spel met sy gehoor vervolmaak. Hy kan met skerp en soms goedkoop humor 'n gehoor aanvanklik boei totdat hulle onbewus-telik ingetrek word in fundamentele gesprekke oor volksgewete, politiek, haat, liefde, sosiale waardestelsels en die maatskappy op 'n universele vlak.

Pieter-Dirk Uys het dit reggekry om-in 'n tyd toe die land oor sekere dinge nie gepraat het nie-die teater te gebruik as 'n platform om die ongehoorde dinge wel te sê. Uys skryf 25 dramas en meer as 30 eenmansvertonings en revues wat plaaslik maar ook in die buiteland opgevoer word. Hy publiseer ook etlike romans, memoires en kook-boeke. Uys is ook welbekend vir sy alter ego, Evita Bezuidenhout, 'n wit Afrikaner sosiale figuur en politieke aktivis wat al die afgelope 40 jaar bestaan. Die onderskeid tussen Evita en Pieter-Dirk raak soms uiters wollerig juis omdat die persoon en sy alter ego integraal deel van mekaar is. Om Pieter-Dirk Uys te begryp en sy tekste te kan interpreteer, moet 'n mens dus ook Tannie Evita goed ken en verstaan.

Die pryse wat hy en "sy" ontvang, is ook nie gering nie. Van die pryse sluit in: die Suid-Afrikaanse Waarheid- en Versoeningstoekenning in 2001, asook 'n Fleur du Cap-prys vir sy vertolking van Bambi Kellerman (Evita se suster) in die kabaret F.A.K. Songs and Other Struggle Anthems. Hy ontvang vele ere-doktorsgrade van onder andere die Rhodes Universiteit (1997), Universiteit van Kaapstad (2003), Universiteit van Wes-Kaapland (2003), Universiteit van die Witwatersrand (2004) asook die Universiteit van Kwazulu-Natal (2014). Evita Bezuidenhout ontvang in 2000 die Living Legacy-toekenning in San Diego, in die VSA. Hy/sy ontvang ook die Lifetime Achievement-toekenning van die Cape Tercentenary Foundation, die 2011 TMSA Naledi Lifetime Achiever-toeken-ning asook die Special Teddy-toekenning by die Berlin International Film Festival (Berlinale) in 2011.

Ter viering van Uys se sewentigste verjaardag in 2015 verskyn die bundel, Stukke teater, bestaande uit vyf van Pieter-Dirk Uys se Afrikaanse dramas oor die satiriese uitbeelding van en kritiek op die apartheidstelsel in Suid-Afrika. Die dramas sluit in: Selle ou storie, Karnaval, Die Van Aardes van Grootoor, Panorama en Die vleiroos. Stukke teater is 'n gedoku-menteerde opgaaf van die geskiedenis van Suid-Afrikaanse protesteater. Dit sal altyd 'n belangrike tydsdokument van 'n verbygegane era wees.

Selle ou storie was Uys se eerste toneelstuk wat in die Suid-Afrikaanse teater verbied is deur die publikasieraad, waarskynlik as gevolg van die biseksualiteit wat ter sprake kom in die teks. Dit is geskryf in 1973 en vir die eerste keer opgevoer in 1974. Die stuk handel in breë trekke oor verhoudingspro-bleme tussen vier karakters. Dit is wel 'n konteksgebonde teks wat vassteek in die tyd van politieke onrus in Soweto in die sewentigerjare. Die universele temas van ouderdom, verganklikheid en eensaamheid staan egter sentraal in hierdie drama.

Karnaval is ook nâ sy opening in 1975 nâ net 10 opvoerings gestaak weens die kritiek op die destydse politieke bestel. Die teks speel af op Oujaarsaand in Langstraat, Kaapstad.

Die Van Aardes van Grootoor word vir die eerste keer in Kaapstad opgevoer in 1977. Dit is 'n epiese boeredrama in die destydse twee amptelike landstale. Die opvoering is ook gestaak in 1978 waars-kynlik omdat daar te diep in die psige van die Afrikaner gekrap is. Suksesvolle appèl is egter aangeteken.

Panorama, wat op Robbeneiland afspeel, is vir die eerste keer by die Gra-hamstadfees in 1987 opgevoer. Dit was een van Uys se meer suksesvolle teater-stukke en word in daardie jaar deur Derek Wilson van The Argus beskou as een van Uys se beste toneelstukke in jare. Die stuk vind 'n speelvak in Johannesburg, Kaapstad, Londen asook in Amerika.

Die vleiroos word in 1992 opgevoer met 'n storielyn wel geanker in die politieke veranderinge in Suid-Afrika, maar omgewingsbewustheid is 'n sen-trale tema in die teks. Ander belangrike universele temas wat ook aan bod kom in hierdie Suid-Afrikaanse teks is onder meer ouderdom, waardes, vriendskap, die natuur en hoe die aarde en die mens stelselmatig vernietig word in die stryd om vooruitgang.

Deurgaans word die leser gekonfron-teer met 'n nuwe lees van gedateerde tekste met die klem op die onderliggende universele temas. Stadig maar seker word die leser op hierdie manier bewus gemaak van die hernude waarde van die tekste, nie net binne die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook binne 'n groter universele konteks. Uiteindelik het Pieter-Dirk Uys sy stem gevind en sy posisie toegeëien as 'n soort produksie-bestuurder van Suid-Afrikaanse teater. In die woorde van Uys self: "Ek is die bestuurder wat al my stemme probeer orkestreer tot 'n geheel. Ek sit met 'n orkes van stemme wat ek moet dirigeer, maar ek moet ook buite die kamer van geluid kan staan en seker maak dat die storie nie deur al die stemme versmoor word nie. In die begin was dit meer eenvoudig: om aandag te trek met kras geluid en bombastiese drom... Met vandag se vryheid van spraak is daardie kru wapens teen mooigeid nie meer nodig nie. My taak is nie meer om vir gehore te preek oor wat hulle moet dink nie. My taak is om elkeen vir hom- of haarself te laat dink. Ek wil mense laat positief voel, want ons het elkeen 'n verantwoorde-likheid om iets positiefs, opbouend en hoopvol by te dra" (Uys in Fourie).

Op 'n plaaslike, maar ook universele vlak, sal Uys waarskynlik nooit ophou "skep, uitdaag en vermaaklik-fyn vermaan nie... Hy is 'n onwrikbare visionêre humanis, 'n onmisbare maatstaf vir menslikheid, 'n verdrywer van vrees, 'n geniale kunstenaar en 'n geliefde gewer van hoop" (Meiring 36).

Anthea van Jaarsveld
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
vjaarsa@ufs.ac.za

 

Geraadpleegde bronne

Fourie, P "Athol Fugard en Pieter-Dirk Uys gesels met Paula Fourie". Litnet. 2015. 7 Mei 2015. < http://www.Utnet.co.za/athol-fugard-en-pieter-dirk-uys-gesels-met-paula-fourie/>         [ Links ].

Meiring, L. "Pieter-Dirk Uys 70 en immer die entertainer". Sarie. Sept. 2015. 32-6.         [ Links ]

"Pieter-Dirk Uys 70 en steeds op sy stukke". Finesse, Sept. 2015. 26-32. Sept. 2015. <http://www.voelgoed.co.za/pieter-dirk-uys-op-70-"aftree-'n-vloekwoord">         [ Links ].

Creative Commons License Todo o conteúdo deste periódico, exceto onde está identificado, está licenciado sob uma Licença Creative Commons