SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1Discursive patterns in Brandwaterkom by Alexander StrachanStukke teater author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.17 

BOOK REVIEWS

 

Samsa-masjien

 

 

Willem Anker. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015. 92 pp. ISBN: 978-1-4853-0256-8. (gedrukte boek).

Willem Anker is tot op hede die skrywer van twee gepubliseerde dramas en twee romans. Sy drama Slaghuis en die roman Siegfried het in 2007 verskyn, terwyl die drama Skrapnel in 2011 en die omvangry-ke grensroman Buys in 2014 gepubliseer is. Soos hul titels suggereer, is 'n raakpunt tussen Slaghuis en Skrapnel voorstellings van brute, bloedige geweld.

Samsa-masjien bied nie voorstellings van geweld nie, maar sluit eerder by 'n verdere kenmerk van vernuwing in die postapartheid letterkunde aan wat ná 2000 verskyn het. Volgens Brink "raak 'n mens [in hierdie werke, JC] dadelik bewus van 'n beweging na binne". Hy beskryf dié "beweging" in die eerste Jan Rabie/Marjorie Wallace Gedenklesing in 2010 as 'n "proses weg van die bloot sosiale toneel na die menslike en individuele aard van dit wat vertel word".

In Samsa-masjien neem die "beweging na binne" die vorm van 'n soektog na antwoorde op die vraag wat 'n mens is as hy iets anders as 'n mens word. Reeds die titel, waarin die eienaam "Samsa" opgeneem is, verraai die feit dat hierdie soektog deur Kafka se verhaal Die Verwandlung (Die metamorfose) geïnspireer is. Soos in ander Kafka-verhale, onder andere Ein Bericht an eine Akademie ('n Verslag [deur 'n bobbejaan, JC] aan 'n Akademie) of Forschungen eines Hundes (Ondersoeke van 'n hond), bepaal transformasie die handelingsverloop in Samsa-masjien.

Alhoewel Anker en Kafka se hoof-karakter en dogter, Gregor en Grete, dieselfde name het, stem die handelingsverloop in Samsa-masjien nie met Kafka se werk ooreen nie. Verder is die ander karakters in Samsa-masjien nie sonder meer uit Kafka se Die Verwandlung oorgeneem nie. So is daar in Samsa-masjien duide-like raakpunte tussen die voorstelling en optrede van Gregor se ewe bejaarde vrou Josefine met die karakter Josefine in Kafka se verhaal "Josefine, die Sängerin oder das Volk der Mäuse".

Kafka se Gregor word een oggend na 'n onrustige nagrus wakker om te ontdek dat hy oornag in 'n insek verander het. Daarteenoor begin Anker se drama wanneer Grete vir Gregor en Josefine op grond van hul ouderdom en Gregor se optrede in haar huis opneem. Gregor sien oral denkbeeldige insekte en praat en speel met hulle. Vir sy dogter is die ont-stellendste egter dat hy hom toenemend na die kelder terugtrek waar hy en Josefine 'n "geraasmasjien" bou, sy bedenklik op 'n viool speel en altwee uiterlik vuiler word, byna soos die "stereotipiese" opvatting wat mense het dat insekte vuil is. Die klimaks breek aan wanneer Grete en Tjaart 'n kliënt aan huis onthaal met die doel om 'n kontrak vir die bemarking van 'n handewastoestel te bekom.

Die geraasmasjien of intonarumori (Italiaans vir "geraasmaker ", vergelyk Wikipedia en ongenommerde bladsy 10 van die drama) speel 'n sentrale rol in die skep van 'n tekstuele en toneelmatige diskoers oor waar die grense van menswees lê. Net soos Kafka se Gregor tot 'n insek met 'n menslike bewussyn transformeer maar die vermoë verloor om in menslike taal te kommunikeer, transformeer Anker se Gregor tot 'n geraasmasjien maar met 'n bewussyn wat die leser of gehoor hoogstens as post- of transmenslik sou kon herken. As karakter teken Samsa-as-masjien toenemend in die taal van geraas protes teen verskeie sake aan en steek daardeur die grens van menslike kommunikasie oor. Namate sy protes toeneem, word die geluide uit die kelder, wat musiek en stemopnames insluit, al harder.

Dit is opvallend dat Samsa-as-masjien se protes dikwels in die vorm van 'n inversie van die verhouding tussen betekenaar en betekenis voorkom. In plaas daarvan om woorde met verskillende, maar vaste, betekenisonderskeidinge in Gregor se dialoog te gebruik, keer die dramaturg die proses van betekenisgewing op stra-tegiese plekke om. Een van die motto's aan die begin van die teks, naamlik die vraag "[i]s dit nie eerstens deur die stem wat ons dier word nie?" sluit by hierdie inversiewe gebruik van dialoog aan.

Voorbeelde van protes in geraastaal sluit Gregor se openingsgesprek met 'n kakkerlak ("Blat-tar-i-aa, Blat-tod-ee-aa") in, asook Josefine se onverkwiklike vioolspel waarna niemand anders behalwe Gregor wil luister nie, die verhouding tussen kinders en ouers waar kinders vir hul bejaarde ouers sorg en nie omgekeerd nie, Gregor se regressie tot kindwees as gevolg van die demensie waaraan hy ly, of die indringing van waardes van buite die huis ter wille van die verkryging van finansiële voordele. 'n Voorbeeld van laasgenoemde is Char-lené en haar man wat binne die valse intimiteit van Grete-hulle se huislike kring onthaal word ten einde 'n waardevolle kontrak te bekom. Alhoewel dié toneel dalk effe te uitgerek is, is die clichés wat Grete en Tjaart tydens die ete van kaartjies aflees, 'n hoogtepunt van inversie. Die trefkrag van dié toneel setel daarin dat Charlené en haar man afwesige karakters is, met ander woorde nie op die verhoog verskyn nie.

Samsa-masjien is uiteindelik veel meer as "'n kopknik na Kafka se klassieke verhaal", soos op die agterbuiteblad van die gepubliseerde drama beweer word. Kafka se hele oeuvre, die (geraas)masjien waarna die titel verwys, sy sosiale en politieke posisie as 'n Jood wat in Duits skryf in 'n omgewing (die stad Praag) waar die omgangstaal Tsjeggies is, en die repre-sentasie van demensie, maak van hierdie dramateks 'n waardige en vernuwende toevoeging tot die Afrikaanse drama nâ 2000. Foto's van die stel en die insluiting van byklanke in die vorm van 'n CD verhoog toeganklikheid tot die teks en bied rigtingwysers vir verdere, onder andere Jungiaanse, interpretasies daarvan.

Johan Coetser
Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria
coetsjl@vodamail.co.za

 

Geraadpleegde bronne

Brink, A. 2011. "Ground Zero: Die Suid-Afrikaanse literêre landskap nâ apartheid." (Jan Rabie/Marjorie Wallace Gedenklesing, Universiteit van die Wes-Kaap, 17 September 2010). Werkwinkel, 6.1. (2011): 9-22.         [ Links ]

Wikipedia. 2015. "Intonarumori." 13 Nov. 2015. <https://en.wikpedia.orgwiki/Intonarumori>         [ Links ].

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License