SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.53 issue1The mating game of polarities author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.53 n.1 Pretoria  2016

http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v.53i1.15 

OBITUARY

 

Huldeblyk.  Tienie du Plessis: maker van boeke

 

 

Hein Willemse

 

 

 

"Ons kan die dooies inkort", het Tienie du Plessis (geb. 29 September 1949) opgemerk toe ek en hy ons tekskopie vir die Lente 2015-nommer van Tydskrif vir Letterkunde drasties moes inkort en hy die huldeblyke wou sny.

"Liewer nie, die dooies is voor in die ry, anders val hulle later heeltemal uit", was my antwoord. Min wis ons dat hy ses weke later ook aanspraak sou maak op 'n huldeblyk. Na 'n heupoperasie sterf hy aan 'n hartaanval op Vrydagoggend 9 Oktober 2015 in die Little Company of Mary Hospitaal in Pretoria.

Ons het mekaar leer ken deur sy betrokkenheid by die uitgewery Taurus en Stet, die kortstondige little magazine van die 1980's. Hy het Taurus se boeke ontwerp en uitgelê en sy Stetvoorblaaie het versamelaarsitems geword waaroor daar selfs tesisse geskryf is. Toe ek vyftien jaar gelede gevra is om die eindredakteurskap van die joernaal oor te neem, was Tienie die eerste mens met wie ek oor my planne gepraat het.

Die aanpassings wat ek aan Tydskrif wou maak, was radikaal in die konteks van die Afrikaanse letterkunde: die nuwe tydskrif moes 'n Afrikaanse sentrum hê maar oopstaan vir die res van Afrika; Afrikaans moes sy plek naas die ander tale van Afrika inneem en die Afrikaanse letterkunde moes staangemaak word tussen al die ander Afrika-letterkundes. Dit was die begin van 'n onbekende pad en ek wou 'n makker aan my sy hê wat 'n sin vir avontuur en 'n aanvoeling vir die uitdaging gehad het. Daardie mens was Tienie du Plessis.

Sy opdrag was om die hele opset te herbedink: die formaat, die bladuitleg, die gebruik van illustrasies en foto's en die skep van 'n nuwe mashoof. Oor die loop van verskeie maande, vele konsepte, vele koppies rooibostee, karringmelkbeskuit en nou en dan 'n paar biere het ons mekaar gevind en saam op weg gegaan. Tienie was een van die spilpunte van Tydskrif en sy heengaan is 'n onmeetbare verlies.

Hy het omgegee vir die gehalte en vormgewing van sy werk. Ek onthou die eindelose moeite wat hy gedoen het om verslete foto's vir 'n boek of artikel te restoureer. Ons het maklik saamgewerk, maar daar was tye, veral wanneer ons Arabiese, Tsjeggiese, Poolse of Yoruba-tekste met onbekende diakritiese tekens moes hanteer dat sy geduld beproef was. Van Tienie was daar in sulke gevalle soms eenreël-eposboodskappe: "Fonetiese marteltog" of "Jissis, die korreksies is 'n pynlike proses!"

Ons het pret gehad met die ontwerp van Tydskrif se voorblaaie. Tienie se inklinasie was ironies, myne minder en gegee die joernal en sy geskiedenis moes ons dikwels 'n goue middeweg volg, weg van sy soms uitdagende voorstelle. Wanneer my voorstelle hom geval het, het hy heel maklik gesê, "Kom ons doen dit!" Soms was dit moeilik om 'n geskikte voorblad te kry, en dan was sy reaksie op herhaalde voorstelle 'n kriptiese "Doen geheel niks aan my nie". Op 'n keer het van ons skrywers 'n voorbladvoorstel gemaak en Tienie se oordeel was verdoemend:

Ek het die afskuwelike skildery gekry. Die prent is miskien gelaai met insiggewende simboliek (ook glad nie te subtiel nie), maar dis een van die lelikste beelde wat ek nog gesien het. Kleurgebruik is volspektrum sonder apologie, die ligbron is twyfelagtig en die figure is infantiel-grotesk As spotprent gebruik dit die voorhamer eerder as die skalpel en as skildery lê dit waarskynlik tussen art-brut en 'n lomp eerstejaarpoging. Die formaat is problematies-landskap met belangrike inligting wat nie links of regs gesny kan word nie. Ons sal dus die volledige illustrasie (baie klein, maar dis dalk 'n gelukkie) moet plaas. Myns insiens 'n teleurstellende voorstel vir die voorblad.

As 'n ontwerper het hy in die loop van die uitlegproses die tekskopie goed leer ken en dikwels met voorbladvoorstelle gekom wat die afgelope dekade en 'n half dié kenmerk van Tydskrif vir Letterkunde geword het. Met die laaste uitgawe waaraan hy gewerk het, het hy na aanleiding van opponerende artikels oor die representasie van die Anglo-Boereoorlog in Afrikaanse romans voorgestel dat ons 'n skildery van 'n veldslag op die voorblad gebruik. "Wat van 'n Boer met 'n AK en 'n helikoptertjie?!", het hy ondeund gevra.

Tienie was 'n onverskrokke boekemaker en Itaka en Hond-uitgewerye was sy voertuie. Hy het sensuur verafsku en die kortsigtigheid van die Afrikaanse boekbedryf het hom gepla. In een van sy ouer eposse skryf hy:

Die konsentrasie van Afrikaanse uitgewerye in die Kaap en die dodelike fokus op verkope en wins beteken, volgens my, 'n verskraling van Afrikaanse leesstof in talle opsigte. Literêre erkenning (en toekenning) is lankal nie meer gemik op die ontdekking van nuwe talent nie. [...] Ek dink nie dat HOND hierdie gaping eiehandig kan toestop nie, maar miskien net 'n skrale bydrae kan lewer tot die breek van hierdie kettings.

Tienie kon met gemak oor allerlei temas en idees praat. Dit was nie ongewoon vir ons om in een gesprek oor uiteenlopende onderwerpe soos die krygskunde, die politiek, natuurbewaring, rugby, krieket of sy vuilgroen Russiese Lada Niva-viertrek te praat nie. Vir die meer as byna vyftien jaar wat ons saam aan Tydskrif gewerk het, het ons ten minste twee keer per maand saamgeëet, en met die voorbereiding van elke uitgawe gereelder. Dit is hy wat my bekendgestel het aan Luigi van Café Bree in Groenkloof se gewilde zivas, geregte met Jemeense platbrood vernoem na beroemde Suid-Afrikaanse skilders. Tienie se gunsteling was die sterk-gegeurde "Irma Stern". (Soos die toeval dit wil hê, sterf ook Luigi aan 'n hartaanval in die eerste week van Oktober 2015.) Na ons gesprekke het Tienie dikwels 'n artikel of 'n verwysing aangestuur: "N a v van jou opmerking vanmiddag, hier's 'Slavoj Zizek and the role of the philosopher'" of "Powerful stuff maar ook duidelik hoekom en waar dit verskil van ons version hier in SA-Amerikaanse rassisme" of 'n verwysing na een van die artikels uit die jongste nommer van die New Scientist.

'n Maand voor sy dood, weer na een van ons etes, stuur Tienie die lirieke van Randy Newman se "Old man" aan my. Dis sprekend onsentimenteel ... en sprekend Tienie. Die slotvers lui:

Won't be no God to comfort you

You taught me not to believe that lie

You don't need anybody

Nobody needs you

Don't cry, old man, don't cry

Everybody dies.

Tienie du Plessis is dood . en 'n era is verby. Ons het hom nog nodig gehad.

Pretoria

Sondag, 11 Oktober 2015

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License