SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2In a burning sea. Contemporary Afrikaans poetry in translationConversations of Motherhood. South African Women's Writing across Traditions índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach

 

 

Louise Viljoen. Stellenbosch: SUN Press, 2014. 329 pp. ISBN: 978-1-920338-83-1. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.34

In 2009 verskyn Louise Viljoen se bundel opstelle, Ons ongehoorde soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog. Dié publikasie getuig duidelik van 'n navorser wat 'n lewenslange belangstelling in die werk van een digter noukeurig uitgebou het tot 'n formidabele kritiese beskouing oor een van Afrikaans se veelsydigste digter-skrywers. Daar is min navorsers wat enkele jare later nóg 'n boek op dieselfde peil kan publiseer, met 'n soort-gelyke diepgaande verkenning van een alkantige digter-skrywer se oeuvre. Die ver-skyning van Die mond vol vuur is tasbare bewys van Viljoen se omvattende ondersoek oor die werk van Breyten Breytenbach, en terself-dertyd ook 'n soort getuigskrif van dié kriti-kus se invloed op die Afrikaanse literêre kri-tiek van die afgelope 25 jaar.

Met 'n uitgewerslandskap waar daar nog min vakkundige publikasies op die gebied van die literêre kritiek verskyn, tree daar by hierdie leser dikwels 'n mate van skeptisisme in wanneer versamelbundels van reeds gepu-bliseerde navorsing uitgegee word. In die geval van Die mond vol vuur is daar egter twee sterk teenargumente op hierdie soort kritiek. Eerstens is dit duidelik dat hierdie bundel nie gewoon 'n herpublikasie van ouer navorsing is nie. Die outeur meld in haar erkennings dat "vorige weergawes" van die hoofstukke in Die mond vol vuur voorheen elders in verskeie vaktydskrifte en 'n vakkundige versamel-bundel verskyn het, maar die woordkeuse hier dui daarop dat daar aansienlike veran-deringe aangebring is vir hierdie publikasie.

Reeds in die eerste hoofstuk oor die eie-name in Breytenbach se poësie is dit duidelik dat Viljoen haar navorsing bygewerk het deur ook die digter se nuwer bundels in ag te neem.

Onder andere Die beginsel van stof (2011) en Katalekte (2012) word in hierdie bespreking be-trek, waardeur nuwer motiewe in Breyten-bach se poësie aan bod kom:

Tesame met [die name "Blackface", "Buiteblaf" en "Blanckface Buiteblaf"], wat dui op toe-nemende frustrasie sowel as die groeiende besef dat die dood in aantog is, gebruik die digter ook in Katalekte die naam "Stoftong Bobbejabach" om te suggereer dat die digter, wat eintlik 'n bobbejaan is, se mond binnekort gesnoer sal word deur die dood en tot stof sal terugkeer (25).

Op hierdie wyse tree die hoofstukke in Die mond vol vuur effektief met Viljoen se nuwer navorsing in gesprek. Onlangs, by die kongres van die Afrikaanse Letterkundevereniging in Pretoria, Oktober 2014, het sy nog 'n referaat gelewer waarin sy die tema van uitwissing in Breytenbach se Die windvanger (2007), Die beginsel van stof en Katalekte bespreek.

Die leser sal opmerk dat die navorser in die boek deurgaans van voetnote gebruik maak. As voetnoot tot haar eie opmerking oor die aspek van "die desentralisering en fragmente-ring van die subjek" in Breytenbach se poësie, volg hierdie voetnoot: "Vergelyk hieroor ook die doktorale proefskrif van Smuts (1995) getitel "Die desentralisasie van die subjek: 'n Post-strukturalistiese beskouing van Breyten Breytenbach se Die ysterkoei moet sweet en ('yk')". Soortgelyk is daar 'n voetnoot in Viljoen se hoofstuk "Die digter en sy vaders" waarin melding gemaak word van "[Andries] Visagie (2004:54-86) se ondersoek na die verhouding tussen '(v)aders, seuns en die politiek in die werk van Alexander Strachan, Mark Behr en S. P Benjamin". Hierdie vermeldings dui vir die leser op twee sake. Eerstens die tekenende in-vloed wat Viljoen as navorser en kritikus op navorsing oor Afrikaanse poësie gehad het (en steeds het), en tweedens hoe sy ook die ge-sprekke tussen literêre werke en verskeie na-vorsers se ondersoeke fyn nagevolg het.

Benewens die belang van name en die verhouding met die vader(s) in Breytenbach se poësie, dek die ander hoofstukke in Die mond vol vuur 'n aantal belangrike temas en kwessies oor die digter se werk. In "Die spanning tussen lokale en globale indentiteite" bou Viljoen met 'n bespreking van Dog Heart (1998) voort op die "onstabiliteit van identiteit" in Breytenbach se poësie; 'n eienskap van sy digkuns wat die ondersoek oor die gebruik van veelvuldige name in die eerste hoofstuk ook besoek het.

In die negende hoofstuk ondersoek Viljoen spesifiek Breytenbach se dramastukke (Boklied, 1998; Die toneelstuk, 2001 en Johnny Cockroach, wat nooit gepubliseer is nie, maar slegs opgevoer is). As 'n mens Breytenbach se lang loopbaan as digter en skilder oorskou, kom die vraag onvermydelik op waarom hy hom so laat in sy skrywersloopbaan tot die verhoogkuns gewend het, maar Viljoen stel juis dat dit nie vreemd is nie: "Die teater bied aan hom die geleentheid om sy vaardigheid met die digterlike woord te kombineer met sy verbeeldingrykheid as visuele kunstenaar op 'n manier wat deur 'n regisseur en spelers verder geneem kan word om die teater-ervaring te skep" (197). Hoewel die navorser in die woord vooraf prontuit stel dat "die ondersoek na Breytenbach se skilderwerk [oorgelaat word] vir kundiges op die gebied" (vii) is dit duidelik dat sy goed kennis neem van die potensiële impak van die digter-skilder se visuele uitbeeldingsvermoëns en tog 'n bydrae lewer tot die diskoers oor Breytenbach se visuele kuns.

In die laaste twee hoofstukke word Brey-tenbach se sentrale posisie in die Afrikaanse literêre sisteem noukeurig ondersoek deur enersyds te oorweeg hoe Afrikaanse digters in gesprek tree met die digter as openbare figuur, en andersyds in gesprek tree met sy digterskap. Hierdie sentrale posisie wat Brey-tenbach beklee, is ook in die populêre kultuur geen geheim nie, soos wanneer dit byvoor-beeld tot absurde en gewaande hoogtes gevoer word as die liriekskrywer van die rock-groep Fokofpolisiekar, Hunter Kennedy, in Annie Klopper se biografie oor dié groep (Biografie van n bende, Protea Boekhuis, 2011) as 'n soort Breytenbach-figuur geskets word. Soos Viljoen tereg noem, is dit "opvallend dat 'n baie wye spektrum van Afrikaanse digters, vanaf gekanoniseerde figure tot selfgepub-liseerde digters, vanaf gevestigde digters tot debutante, hulle geroepe gevoel het om op Breytenbach se openbare optredes te rea-geer". Verder dui sy in 'n deeglike analise aan hoe 'n aantal gedigte deur onder andere George Weideman, Lina Spies, Adam Small, Wopko Jensma en Ronel de Goede verwys na Breytenbach se poësie en "'n blik [gee] op die uitsonderlike impak wat hy op die Afri-kaanse literêre lewe gehad het en nog steeds het" (270).

Die mond vol vuur bied aan die leser 'n omvattende reis deur die werk van Breyten Breytenbach. Selfs diegene wat bekend is met Viljoen se navorsing sal waarskynlik haar bywerkings vir hierdie publikasie insig-gewend vind. Dit moet ook genoem word dat hierdie teks met vrug voorgeskryf sou kon word (as 'n mens dit nog sou waag om so 'n boek vir letterkundestudente voor te skryf) vir 'n universiteitsmodule met Breytenbach as fokuspunt. Met haar weloorwoë argumente en kritiek, sowel as haar klinkklare skryfstyl wat toeganklik genoeg is vir die ondersoeker en student, bevestig Viljoen met hierdie publikasie weereens haar posisie as poësiekenner.

Reinhardt Fourie
fourir@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons