SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Fragmente uit die IliasDie mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

In a burning sea. Contemporary Afrikaans poetry in translation

 

 

Red. Marlise Joubert. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014. 352 pp. ISBN 978-14853-0107-3. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.33

In 2014 verskyn die Engelse bloemlesing in a burning sea by Protea Boekhuis-eietydse Afrikaanse gedigte in Engelse vertaling. Hier-die tweetalige publikasie (met die Afrikaanse bronteks en die vertaling naas mekaar) van ongeveer 170 vertalings poog om die "moder-ne" beeld van Afrikaanse poësie plaaslik en in die buiteland groter blootstelling te gee, van-daar die insluiting van digters van wie daar in die afgelope 5 jaar (2005-2011) ten minste 'n tweede bundel verskyn het. Soos André P Brink in die inleiding tot die bundel beklem-toon, is die publikasie "a way of affirming the modern world, but also a kind of tribute tot the very origins of South African poetry" (18). Dié benadering van die samestellers Marlise Joubert en Brink (wat die finale seleksie uit 10 gedigte soos voorgelê deur die 30 digters gemaak het), is tekenend van die tematiese naelstring waaraan die ouer sowel as die jonger generasie digters en hulle gedigte verbind is, naamlik hierdie Afrika-die histo-riese asook die alledaagse, die sardoniese en die serieuse, die politieke en die persoonlike, en alles daartussen. Die bloemlesing verskyn in 'n tydsgees waarbinne die mens se sen-sibiliteit ongemaklik ossileer tussen "onoplos-bare uiterstes van sinisme en idealisme, van onverskilligheid en betrokkenheid, van wan-hoop en utopiese behoefte," aldus Van den Akker en Vermeulen soos aangehaal deur Marlene van Niekerk (13-4). Dalk verwoord Daniel Hugo se gedig "Warmbad, Namibia" (128) iets hiervan-in die vormgewing, die rymende koeplette, die weerloosheid: my prilste herinnering:

'n glansende maan wat stil uitstyg bo die rand van ons agterplaas

in sy lig sien ek hoedat my dun skadu val eindeloos deur 'n rotsagtige kil heelal-

daar waar ek staan in 'n landskap van ysterklip het bedags 'n Namakwa-vrou my opgepas

haar geklik het tóé weerklink in my Afrikaans: die magneet wat my moet vashou hier ondermaans

die taal wat my laat klou aan die gebarste lip van Afrika, waaroor hortend 'n koorsasem blaas

en daarnaas, die vertaling:

my earliest memory: a radiant moon silently rising above the rim of our backyard

in its light I saw my slender shadow fall endlessly through a craggy, cold eternity-

there where I stood in a landscape of dolerite by day a Namaqua woman looked after me

her clicking speech echoed in my Afrikaans a magnet that must hold me here in the moon's trance

the language that has me holding on tight as across Africa's cracked lip its fevered breath blows hard

Die samestellers se invalshoek van die "moderne" is van belang in die lig van wat Steiner (7, 27) noem die "informing sphere of sensibility". Vir hiérdie leser is die bundel belangwekkend nie noodwendig in die tema-tiese gegewens of die tendense wat die gedigte weerspieël nie (Brink bespreek dit breedvoerig en insiggewend in die Inleiding), maar omdat dit Afrikáánse poësie in Engels (plaaslik en internasionaal) karteer en sodoende lesers se leefruimtes binne die werklikheid herorga-niseer. 'n Voorvereiste vir hierdie katerings-proses om te kan plaasvind, is dat die doeltaal ontvanklik sal wees vir die nuwe tekste en die metafore wat dit verteenwoordig geen woord staan alleen nie, "when using a word we wake into resonance, as it were, its entire previous history" (Steiner 24). Hierin lê die vernuwing in poësie wat vertaling bewerkstellig: tydens die proses van vertaling word die objek, die gedig, geapproprieer in so 'n mate dat dit bewaar word, maar ook 'n versnelde, ver-lengde lewe kry. Die vertáler (hetsy 'n eks-terne vertaler of die digter self) is die medium, die agent, wat die totstandkoming van die bronteks naspoor, náskryf. Dit is 'n tweeledi-ge proses: reproduktief ten opsigte van 'n nou-keurige oordrag van die gees (of styl) van die oorspronklike, en innoverend ten opsigte van vernuftige maniere waarop die doeltaal in-gespan word om uitdagings in die bronteks te oorbrug.

Die titel van die bloemlesing is ontleen aan Breyten Breytenbach se gelyknamige gedig (53) uit die bundel Windcatcher (2007), en eggo Heinrich Heine se gedig "Storm": "ver aan die rotskus van Skotland / waar 'n ou grys kasteel / uittoring bo 'n brandende see; / daar, by 'n geboë venster, / staan 'n vrou, beeldskoon en mistroostig, / deursigtig van gelaat en mar-merbleek / En sy speel op 'n harp en sy sing; / en die storm woed in haar lang hare; / en haar donker lied sweef / oor die wye, drei-gende see" (vry vertaal na Untermeyer se vertaling in Poems of Heinrich Heine: Three Hundred and Twenty-Five Poems. 1917 [1830]). Dit is 'n titel wat die niestandvastigheid van vernuwing en verandering suggereer, asook die paradoksale eienskap van digterskap, naamlik 'n behoefte aan die bekende en vol-tooiing, maar die steeds groeiende-brandende-begeerte na abstraksie en afstand.

Die bundel is verteenwoordigend van vroeër generasies digters soos Stockenstrõm, Spies, Breytenbach (wat steeds publiseer), die daaropvolgende generasie met onder ande-re Antjie Krog, Marlise Joubert, Cas Vos, Zan-dra Bezuidenhout, Marlene van Niekerk en Joan Hambidge, en laastens 'n generasie dig-ters wat in die jare sewentig en tagtig gebore is, waaronder Danie Marais, Ronelda S. Kamfer en Loftus Marais. Van Kamfer is daar reeds twee bundels in Nederlands vertaal, en van Marais enkele gedigte opgeneem in 'n Nederlandse versamelbundel.

in a burning sea bevat oorwegend eerste vertalings van digters se werk, daarom die belangrikheid van hierdie bloemlesing. Van Zandra Bezuidenhout, alfabeties eerste in die bundel, verskyn drie ongepubliseerde gedigte en vertalings deur Michiel Heyns. Die gedig "Intimate" se universele aanspraak dra op intens intieme wyse die beeldrykheid van die bronteks oor: "how transparent the nipple-bud / bleeding in berry-red passion", terwyl 'n invoeging soos "Contre-jour" 'n doelbewus vreemde keuse is vir die nie-vervreemdende bronekwivalent "teenlig". Heyns is ook die vertaler van enkele van T T. Cloete se gedigte, en in "letter" slaag hy daarin om die "skoonge-skroptheid" van Cloete se styl na te skryf.

Dit is geen verrassing dat die meeste van Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Marlene van Niekerk se gedigte in die bundel selfver-talings is nie. Van Vuuren (2014) skryf oor Mede-wete (2014), Kaar (2013) en vyf-en-veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014): "In 'n gemarginaliseerde taal soos Afrikaans, is al drie hierdie digbundels merkwaardig in hul onderskeie soorte vernuwing, grensoorskryding en die hoog-staande gehalte van 'n totale andersoortigheid van elkeen. Breytenbach se gedigte in die bloemlesing kom uit reeds verskene Engelse bundels, terwyl Krog se selfvertalings uit Body Bereft geneem is en Karen Press se vertaling "land" uit Skinned. In haar vertaling "Convolvulus" ("Purperblom", 299) kry Van Niekerk dit reg om, asof met 'n enkele kwashaal, die sensibiliteit van die digter en vertaler vas te vang, terwyl "The Red Poppy" (295) duidelik die digterlike vryheid van die selfvertaler belig:

Klein klaproos opgeskote in my tuin

Onmoontlik vermiljoen op 'n harige stingel,

Enkelgekartel met 'n filigraan bewimperde

pikswart oog, [...]

Small red poppy sprung up in my yard

impossibly vermillion,

on a hairy stem, a single silky drift unfurling,

filigree lashed your pitch-black eye, [...]

Ook van Petra Müller, Charl-Pierre Naudé, Johann de Lange en Ilse van Staden verskyn selfvertalings, maar met die uitsondering van twee van Lina Spies se gedigte, is elke digter se werk deur dieselfde vertaler(s) vertaal, 'n aspek wat konsekwentheid ten opsigte van styl verseker.

Teen die agtergrond van ontnugtering, die wegskryf en ánders skryf van die gewone en die aanvaarde wat kenmerkend is van die jonger generasie digters se werk, is die veiligheid waarmee Charl J. F. Cilliers "Good girls (Kamfer, "Goeie meisies", 151) vertaal opvallend: 'n mens sou hier 'n poging tot oordrag van Kamfer se taal in die gedig verwag, 'n oordrag van die skok, woede en teleurstelling wat so geslaagd deur Kamfer bewerkstellig word deur haar gebruik van Cape Flats-taal: "hulle raakie"; "hulle roekie"; "hulle tik nie"; "hulle djol nie"; "bly nie oppie". In die vertaling gaan die tekstuur, die grin-terigheid van byvoorbeeld die verkortings ("they do not"; "do not live on the") verlore en die gedig verkry 'n formeler register wat bots met die styl van die digter. Die invoeg van 'n voetnota vir die woord "jol" in hierdie gedig, maar ook in "Little Cardo", ontneem die gedig van sy vervreemdende karakter. Verfrissend wel, is Cilliers se vertaling van Loftus Marais se "Wederkoms", waarin die beeldrykheid, die noukeurig geplaaste woor-de asook die gestrooptheid baie geslaagd oorgedra word.

In geheel is die bloemlesing 'n weergawe van Walter Benjamin (17) se nosie dat taal, oftewel tale, ten minste één gemene faktor het, naamlik dít waaraan hulle uitdrukking gee. in a burning sea getuig van vertaalprosesse waartydens die vertalers nié noodwendig die doeltaal (Engels) probeer bewaar en beskerm het nie, maar dit ontvanklik gemaak het om op kragtige wyse deur die brontaal beïnvloed te word in so 'n mate dat die doeltaal verbreed en verdiep (Benjamin, 22), in 'n proses van "becoming".

F. A. Vosloo
francivosloo1@gmail.com
Universiteit van Stellenbosch
Stellenbosch

 

Geraadpleegde bronne

Benjamin, Walter. "The task of the translator". The Translation Studies Reader. Red. Lawrence Venuti. Londen, New York: Routledge, 2000. 15-25.         [ Links ]

Steiner, George. After Babel. Aspects of Language & Translation. Oxford: OUP, 1998.         [ Links ]

Heine, Heinrich. Poems of Heinrich Heine: Three Hundred and Twenty-Five Poems. Vert. Louis Untermeyer. 1830. Londen: Forgotten Books, 1917.         [ Links ]

Van Niekerk, M. "Die handige dubbelganger as beeld van die digter in die ouderwetse ambagtelike handwerkersgedigte van 'n internasionaal geroemde Iers-Engelse digter." Poësievertaling: Nederlands-Afrikaans-slyp-skool, Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Stellenbosch, 28-31 Okt. 2014. Ongepubliseerde lesing.         [ Links ]

Van Vuuren, H. "LitNet Akademies-resensie-essay: Mede-wete deur Antjie Krog". Lit-Net Akademies. 3 Des. 2014. 30 Jul. 2015. <http://www.litnet.co.za/Article/litnet-akademies-resensie-essay-mede-wete-deur-antjie-krog>         [ Links ].