SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Sonde van LusindaFragmente uit die Ilias índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

The Road of Excess

 

 

Ingrid Winterbach. Vertaal deur Leon de Kock 2014. Kaapstad: Human & Rousseau. 320 pp. ISBN: 978-0-7981-5626-4. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.31

The Road of Excess is Leon de Kock, bekende outeur en vertaler wat onder meer ook verantwoordelik was vir die vertaling van Etienne van Heerden se In stede van die liefde (In Love's Place, 2013) en Marlene van Niekerk se Triomf (Triomf, 1999), se vertaling van Ingrid Winterbach se 2011 M-Net-pryswenner Die benederyk. Die verhaal van Aaron Adendorff, 'n selfmartelende kunstenaar wat sukkel om terug op sy voete te kom ná 'n stryd met nierkanker en die skielike dood van sy vrou, sy buurvrou Bubbles Bothma wat by sy huis opdaag met 'n gorilla-mombakkies en pienk spandex-broek aan, sy broer Stefaans-'n voormalige drank- en dwelmverslaafde-se bombardering van lukrake sms- en e-posboodskappe met sy relase wat etlike bladsye aaneen strek. Al die gebeure, gesprek-ke en relase wat Winterbach meesterlik in Die benederyk saamgeweef het, word in The Road of Excess met sukses oorvertaal.

Maar tog is daar iets wat verlore gaan in die vertaling; of dalk nie verlore gaan nie, maar net ánders is. Die eerste opmerklike "an-dersheid" tussen die oorspronklike roman en die vertaling is die titel. Die benederyk sou sekerlik meer akkuraat vertaal kon word met "underworld", soos wat dit menigmale in die roman gedoen word, maar The Underworld dra met hom sy eie bagasie-'n reeds bestaande filmreeks, musiekgroep en roman met hierdie benaming. Om The Underworld as titel vir hierdie roman eerder uit te sluit, maak dus heeltemal sin.

Dit ter syde gestel, is dit wel waar dat die titel The Road of Excess 'n ander sleutel vir die leser gee om die roman mee te interpreteer. Waar die "benederyk" dui op 'n statiese plek, kan daar in die "road of excess" iets gesien word van 'n reis, 'n uittog, van verandering.

Verder gee die taalgebruik in die roman daartoe aanleiding dat Aaron as karakter minder desperaat voorkom. Die intensiteit, die histerie waarmee die karakter deurlopend in die Afrikaanse weergawe van die roman geassosieer word, kom in die vertaling meer gedemp voor. Die vertelling van sy gevoel teenoor die voormalige bure se honde wat hy met klippe bestook het, sy frustrasie met sy huishulp Gloria Sekete asook galeris Eddie Knuvelder en buurvrou Bubbles Bothma wat hy in Die benederyk met vurigheid gevóél het, word oorgedra met 'n hopeloosheid-'n omarming van die verandering wat hy ondergaan en 'n atmosfeer van groter ont-vanklikheid. Sy verbanning van Bubbles uit sy huis voel minder heftig, selfs sy verwyte van Eddie Knuvelder (en sy assistente) en Jimmy Harris is meer bedees.

Die taalgebruik in Die benederyk is ook meermale die bron van die humor in die roman wat dan aanleiding gee tot die vraag of humor vertaal kan word. Buiten Bubbles Bothma se voorkoms (haar pienk spandex-broek, gorilla-mombakkies en truie met aller-hande lukrake motiewe daarop) is dit die taalgebruik van die karakter asook die onversoenbaarheid van sekere van haar op-merkings met haar karakter self wat hu-moristiese effekte tot gevolg het. So is daar byvoorbeeld haar voordrag van 'n uittreksel uit Milton se "Paradise Lost" wat vir Aaron (en die leser) nie noodwendig ooreenstem met die verwagte verwysingsraamwerk wat Bubbles sou hê nie. Sou die leser kon aanneem dat indien Engels haar moedertaal was, die moontlikheid groter sou wees dat Milton algemeen deel van haar verwysingsraam-werk uitmaak? Sonder die deurlopende wisseling tussen Afrikaans en Engels gaan daar ook iets van Bubbles se karakterisering verlore. Uiteindelik kom dit daarop neer dat die humor waarmee Bubbles geassosieer word, nie juis in The Road of Excess so prominent is nie en dat dit veral raakgesien word indien die oorspronklike roman ook byderhand gehou word.

Waarop dit neerkom, is dat die titel, die taalgebruik, die sinskonstruksie, die toonaard van die roman, die karakterisering, en so meer dit laat voorkom asof die karakters minder desperaat is. Die juistheid van die vertaling word hier nie bevraagteken nie, soos Aaron se omskrywing van Jimmy Harris wie se naels "tot in die lewe gebyt is" waarvan die vertaling "his nails are bitten to the quick' (52) is. Die vertaling is weliswaar akkuraat, maar "to the quick" beklemtoon nie die groteskheid waarmee Harris geken word op dieselfde manier as wat "tot in die lewe" dit doen nie.

Daar is nie 'n konstante stryd teen afdaling in die benederyk nie, maar eerder 'n omhelsing van die pad wat daartoe lei en daarmee saam ook selfs die bestemming. Selfs die buiteblad van die boek dra tot hierdie idee by. Waar die buiteblad van Die benederyk byna heeltemal swart is met net enkele kleure aan die bokant van die boek, is die buiteblad van The Road of Excess gevul met tropiese plante en blare, wat herinner aan die beskrywing van Aaron se tuin in Durban.

Kortom: die roman is anders as die oorspronklike. Hiermee wil ek nie beweer dat Winterbach se stem verlore gaan nie. In Aaron se vertelling van sy skilderproses, sy liefde vir kadmiumrooi, in Stefaans se relase oor hulle ouers, grootouers, Samuel en Josua Reinecke, Jimmy Harris se teoretiese aanslag tot kuns, deurentyd is Winterbach se stem in hierdie vertaling herkenbaar-herkenbaar, maar anders.

Dawita Brits
dawitajohanna@yahoo.com
Universiteit van Pretoria
Pretoria

Creative Commons License Todo el contenido de esta revista, excepto dónde está identificado, está bajo una Licencia Creative Commons