SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2Die pad bysterSonde van Lusinda author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Buys: 'n Grensroman

 

 

Willem Anker. Kaapstad: Kwela, 2014. 432 pp. ISBN: 978-0-7957-0693-6. EPUB: 978-0-7957-0694-3. MOBI: 978-0-7957-0695-0. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.29

Willem Anker is sedert 2004 bekend as dra-maturg wat met innoverende teaterstukke soos Slaghuis, Skrapnel en Samsa-masjien die grense van teater uitdaag. In 2007 verskyn sy bekroonde debuutroman, Siegfried, waarmee beide die bildungsroman en die sogenaamde heldereis as subgenres uitgedaag word. In 2014 verskyn Anker se tweede roman, Buys: n Grensroman, wat soos die subtitel reeds te kenne gee, weer eens grense verskuif.

Buys bied 'n blik op die nomadiese lewe van die historiese figuur Coenraad de Buys. Die roman begin in die laat sewentienhonderds wanneer Buys op agtjarige ouderdom sy ouer-huis verlaat en sy eerste grens oorsteek. Spoe-dig verlaat hy die Kaap en oral langs die pad verwek hy kinders met 'n ganske "Buysvolk" wat tot stand kom. Saam op sy drosterpad is daar die honde wat nie net sy spoor agtervolg nie maar juis hierdie persoon, wat 'n totale weersin in die idee van grense gehad het en konstant van inperking probeer ontvlug het, se jeukvoete op die pad gesit het.

Die subtitel skep onmiddellik 'n verwag-ting van hierdie roman se aansluiting by grensliteratuur, met Etienne van Heerden se ikoniese kortverhaal, "My Kubaan", wat in verband gebring kan word met die hond-motief in Buys. Die Kubaan-figuur in Van Heerden se kortverhaal manifesteer as figuur-like entiteit aangesien dit 'n verpersoonliking van die soldaat se skuldlas is. Op hierdie wyse word 'n eiesoortige verband getrek tussen die "Grensroman" in die subtitel en grens-literatuur as subgenre, aangesien die honde in Buys, soos Phil van Schalkwyk (2014) tereg aandui, kontrasterend fungeer as die Kubaan in Van Heerden se kortverhaal.

In Van Heerden se kortverhaal sluit die verpersoonliking van die soldaat se skuldlas aan by N. P van Wyk Louw se bekende gedig, "Ballade van die bose": "Ek is jou wese se ondergrond en ek trap in jou spoor soos 'n goeie hond". Hierdie versreël kan verder in verband gebring word met Henning Snyman (2014) se mening dat Buys die donker kant van die menslike aard en karakter is, oftewel die onderbewuste en die barbaarsheid van menswees.

Hierdie brutaliteit, boos- en barbaarsheid van menswees skakel Buys met Cormac McCarthy se Blood Meridian (1985). In sy ontvangstoespraak tydens die oorhandiging van die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk aan Buys, het Anker erken dat hy dikwels na McCarthy se roman teruggekeer het om te kyk hoe McCarthy wilde mans in wilde plekke beskryf. Behalwe vir beide romans se uitbeelding van uiterse brutaliteit en geweld-dadigheid, is verdere verbande wat uitgelig kan word dat Blood Meridian, net soos Buys, 'n roman is wat met historiese gegewens werk en wat op 'n nomadiese karakter fokus.

In sy doktorale proefskrif het Anker (2007) ondersoek ingestel na die nomadiese karakter in onder andere Alexander Strachan se Die werfbobbejaan (1994), deur die roman te lees volgens die Franse denkers Deleuze en Guattari se besinnings oor subjektiwiteit en die wordende-dier. Interessant is dat Anker se bevindinge oor die aspek van wordende-dier in Strachan se roman ook neerslag vind in sy eie roman, wat nie net Buys en Die werfbobbejaan by mekaar laat aansluit nie, maar ook verdere insigte bied in die hond-motief wat in Buys gevind kan word. Hierby kan ook Strachan se roman Die jakkalsjagter ge-noem word, omdat die parallel tussen hond en mens selfs sterker hierin figureer.

Die sogenaamde wordende-dier, aldus Deleuze en Guattari, impliseer nie dat die dier en die mens dieselfde ding is nie, maar verwys eerder na wanneer die dier 'n koorsagtige gedagte in die mens word. Dit gaan dus nie soseer oor identifikasie met die dier nie, maar die vraag word eerder gestel of die nomadiese subjek sy eie elemente kan voorsien met die affekte wat daarvan 'n dier sou kon maak. Daarom is daar 'n montage wat aan die wor-dende-dier van die nomadiese subjek behoort, met hierdie montage wat 'n sogenaamde ontvlugtingslyn, of ontsnaproete, vir die no-madiese subjek sal bied om grense te ontvlug.

Die trop honde wat Buys op sy drosterpad agtervolg, is gedurig aan die verander, met van die kwylende bekke wat die trop verlaat en ander wat weer aansluit. Buys sowel as hierdie trop honde kan as drosters beskou word wat maak dat hulle met mekaar verbind kan word. Daar is dus, in navolging van Anker se proefskrif, 'n sogenaamde Deleuze/ Guattariaanse komposisie wat tussen Buys en die honde bestaan: 'n montage wat geskep word deur nie net Buys en die honde se gewelddadigheid en brutaliteit nie, maar ook deur hul drostery. Hierdie idee word bevestig deur Van Schalkwyk wat meen dat Buys, soos die trop honde wat hom agtervolg, doelbe-wus orde, geborgenheid en ingesetenheid agterlaat en as't ware self drosterhond word soos dié in Peter Blum se gedig, "Drosterhonde bo Oranjesig', wat deur middel van die motto in die roman opgeroep word.

In sy proefskrif lê Anker verder klem op Deleuze en Guattari se stelling dat verraad deel is van enige wording. Die wordende-dier is aan die kant van die verraad, met verraad wat aanwesig is binne die wording van 'n mens met 'n dier. Hierdie verraad is ook aanwesig in Buys as wordende-dier, maar in die vorm van Buys se verset en opstand teen grense en gesagsfigure. Hierdie verraad begin wanneer hy as seun in opstand kom teenoor sy swaer en peetpa, Dawid Senekal, en word ook later gevind in sy botsings met die gesag van die Kolonie. As jong seun byt Buys 'n hond se oor af tydens 'n konfrontasie met die trop. Alhoewel Buys nie hondsdolheid opdoen nie, word dit tog duidelik dat hy iets aangesteek het by die gediertes, met sy wording wat dierlik geïmpliseer word: "Sien jy hoe ek die oggendlug ruik, my neus omhoog soos 'n snoet? Hoe ek opkyk voor enigiemand anders iets hoor?" (25). Hierdie aspek van wordende-dier word ook bevestig deur Van Schalkwyk se stelling dat die groep drosters en uitvaagsels wat tydens Buys se omswerwinge by hom aansluit, in eie reg trop word, gelei deur iemand wat soos 'n wilde hond gewetenloos handel.

So ook is besmetting 'n verdere element wat binne wordings figureer, met voort-planting wat as vorm van besmetting kan dien. Talle vroue wat Buys op sy drosterpad teëkom, word deur hom "besmet" met die gevolg dat hy as 't ware 'n eie volk vir homself voort-plant. Ook die leser word besmet met die legende van Coenraad de Buys wanneer Alom-Buys aan die begin van die roman die leser soos volg uitnooi op die drosterpad van Buys: "Kom, laat ek jou besmet, my erflik belaste leser" (9).

Buys se besmetting deur voortplanting word sodoende verbind met die rol wat sek-sualiteit in die nomadiese subjek se wordings-proses speel, met die wordende-dier van die mens wat volgens Deleuze en Guattari altyd seksuele begeerte insluit, net soos Buys se seksuele begeertes een van die belangrikste rigtingwysers vir sy identiteit word. As voor-beeld van Anker wat die historiese feite wil eerbiedig maar steeds die reëls stylvernuwend wil oortree, plaas Leon de Kock (2015) klem op die waaghalsigheid waarop Anker 'n homo-erotiese element aan Buys gee. Sodoende word gestalte gegee aan die historiese Buys se seksuele identiteit wat sy enorme viriliteit bevestig, aangesien Buys vermoedelik meer as 300 kinders by 'n verskeidenheid vroue verwek het. Heel komieklik verklaar Buys in 1814, wanneer sy derde vrou geboorte skenk aan 'n seun, "[...] die Here weet ek het nie meer name vir die spruite nie en ons doop hom Baba" (358).

Opvallend is die uitgebreide opnoem van lyste in die roman. Vanselfsprekend histori-seer en verpersoonlik dit hierdie verbeelde lewensverhaal van Coenraad se Buys, maar dit kan ook in verband gebring word met die identiteitskonsep in die roman, soos Willie Burger (2015) opmerk. Die opstel van lyste is juis 'n poging om dinge vas te pen en 'n sekere begrip daaroor te kry, met Buys wat ondersoek instel na wat gebeur as 'n mens weier om vasgepen te word en jou te laat begrens.

Die gebruik van lyste in die roman om te historiseer en te verpersoonlik, herinner aan Ingrid Winterbach se Niggie; ook deurdat albei tekste hulself voordoen as historiese romans maar in die hande van meesterstorievertellers hul nie deur hierdie subgenre laat begrens nie. Merkwaardig van Anker se kreatiewe omgaan met die historiese roman is die feit dat Buys nie 'n poging is om 'n verklarende beeld van die historiese figuur Coenraad de Buys te bied nie. Met besinnings oor veral verset en immoraliteit, laat Buys die leser eerder iets oor menslike bestaan ontdek. Anker verskuif verder die grense van die historiese roman deur gebruik te maak van 'n alwetende ek-verteller, naamlik Alom-Buys, om die begrensinge van tyd en plek te oorstyg en die leser direk aan te spreek.

Die ek-vertelling wat by tye aangebied word as 'n tipe bewussynstroomvertelling waartydens gesteun word op liriese en poëtiese taalgebruik, herinner verder aan Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam waar bekende Afrikaanse idiome en gesegdes, net soos in die geval met Buys, ook deur Tante Zan verdraai en vermeng word. Geertruy, Buys se halfsuster, noem immers teenoor Buys dat: "[...] woorde kan hard werk as jy hulle reg inspan soos flukse osse. Woorde is gereedskap. Jy moet hulle leer gebruik soos 'n saag of 'n hamer" (18-9), iets wat Anker op verbluffende wyse in Buys regkry. Net soos Van Heerden slaag Anker daarin om 'n unieke, onvergeetbare karakter in die Afrikaanse letterkunde te skep. Tante Zan en Buys is albei rebelle en buitestaanders; beide is karakters wat met hul rebelsheid proklameer dat hulle nie saam met die norm gaan nie, maar 'n ander manier van lewe aan hulself toeëien.

Die leser word veral oorrompel deur die oortuigende wyse waarop Anker die lig-gaamlike agteruitgang en aftakeling van die mens belig, met die verganklikheidsmotief wat aangrypend uitgebeeld word; daardie onvermydelike verouderingsproses waardeur selfs 'n triomfantelike, onverskrokke, brutale en heroïese figuur soos Buys moet gaan. Die wyse waarop die aftakelingsproses en die motief van verganklikheid beskryf word, laat weerklink iets van dieselfde deernis en begrip waarmee Marlene van Niekerk dit in Agaat uitgebeeld het.

Willem Anker is een van die opwindendste en belangrikste nuwe stemme wat die afgelope dekade op die Afrikaanse literêre toneel verskyn het-'n skrywerstem wat as prosaïs, vanweë die literêre gehalte van Siegfried en Buys, spoedig 'n belangrike rol binne die Afrikaanse literêre kanon gaan inneem. Met sy grensverskuiwende en imposante Buys: n Grensroman, stel Anker nie net 'n baie hoë standaard vir sy eie toekom-stige prosawerke nie, maar hy stel ook 'n uit-daging vir skrywers wat op die terrein van die historiese roman wil beweeg.

Frederick J. Botha
fbotha@uj.ac.za
Universiteit van Johannesburg

 

Geraadpleegde bronne

Anker, W. P P Die nomadiese self: skisoanalitiese beskouinge oor karaktersubjektiwiteit in die prosawerk van Alexander Strachan en Breyten Breytenbach. DPhil-proefskrif, U Stellenbosch, 2007.         [ Links ]

Anker, W. 2015. Toespraak gelewer tydens die ontvangs van die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans vir Buys: 'n Grensroman aan die Universiteit van Johannesburg, Sater-dagaand 9 Mei. Johannesburg.         [ Links ]

Burger, W. "Boekmerk: Buys deur Willem Anker. Boekbespreking op fykNET se Flits'. YouTube, 1 Mrt. 2015. 30 Jul. 2015. <https://www.youtube.com/watch?v=lPdjs1zBr30>         [ Links ].

De Kock, L. "Weet jy van die mans in Buys se bed?" Rapport, 25 Jan. 2015. 30 Jul. 2015. <http://www.netwerk24.com/vermaak/2015-01-25-weet-jy-van-die-mans-in-buys-se-bed>         [ Links ].

Snyman, H. "LitNet Akademies-resensie-essay: Buys deur Willem Anker". LitNet, 7 Nov. 2014. 30 Jul. 2015. <http://www.litnet.co.za/Article/litnet-akademies-resensie-essay-buys-deur-willem-anker>         [ Links ].

Van Schalkwyk, P. "Our hunting fathers." LitNet, 9 Des. 2014. 30 Jul. 2015. <http://www.litnet.co.za/Article/biebouw-resensie-buys-en-our-hunting-fathers>         [ Links ].

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License