SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2NomadeDie pad byster author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Die vrou wat alleen bly

 

 

Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis, 2014. 197 pp. ISBN: 978-1-4853-0184-4. E-boek: EAN 9781485301851. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.27

Die vrou wat alleen bly, twee draaiboeke vir televisie, is ter viering van Karel Schoeman se 75ste verjaardag in 2014 uitgegee. Protea Boekhuis publiseer die afgelope dekade Schoe-man se werk en hierdie publikasie is 'n gepaste wyse om 'n belangrike mylpaal van 'n uiters produktiewe skrywer te vier.

In 1975 het Schoeman twee tekste vir "beeldradio" gepubliseer: Die somerpaleis en Besoek. In 1976 verskyn Die jare, en in 1989 het Schoeman sy roman Veldslag tot draaiboek verwerk. Sy televisiedrama Op die grens is in 1988 verfilm en het die SAUK-prys vir die beste televisiedrama verower; die draaiboek is egter nie gepubliseer nie. Naas die talle romans, vertalings en niefiksie-publikasies in Schoe-man se indrukwekkende oeuvre is hierdie handvol televisiedramas interessant. Schoe-man het moontlik aangevoel dat die enigste nie-epiese genre waarin sy tipe verhale tot hul reg sou kom, die televisiedrama is.

Die moderne leser is egter bewus daarvan dat die blote konsep van die "televisiedrama" problematies is; dié visuele teenhanger van die verhoogdrama en radiodrama het nooit besondere populariteit geniet nie, aangesien kykers meer geïnteresseerd was en is in dramareekse of films wat uitgesaai word. Die vrou wat alleen bly is dus anachronisties in elke opsig. Die tekste het volgens die voorwoord ongeveer in 1985 hul ontstaan gehad (dus in die tyd toe Schoeman met 'n aantal draaiboeke besig was), maar vreemd genoeg dra 'n Vrou wat alleen bly die datum 1990, en Hiér was huise, hiér 'n pad die datum 1990-1. Hierdie klein diskrepansie word nie in die teks verklaar nie.

Schoeman vrywaar hom in die voor-woord van die ergste kritiek wat betref ana-chronisme deur te verwys na die feit dat die politieke situasie in Suid-Afrika sodanig ver-ander het in die vroeë negentigerjare dat daar nooit sprake kon wees van verfilming van die twee tekste nie. In ieder geval was hy nooit heeltemal tevrede met die draaiboeke nie en het hulle "in die eerste instansie [...] as léés-eerder dan as speeltekste beskou". Gewapen met hierdie kennis moet ook die leser van Die vrou wat alleen bly die tekste primêr as leestekste benader-en dit is 'n belonende oefening.

Die titel van die publikasie is duidelik af-komstig van die eerste teks in die bundel, 'n Vrou wat alleen bly. Die "oorkoepelende titel" sinspeel op die oorkomste tussen die twee tekste: hoewel hulle in verskillende tydperke en op verskillende plekke afspeel, is die hoof-karakter in albei tekste 'n ongetroude vrou van om en by die dertig, 'n sielvolle "oujong-nooi" wat as sodanig misgekyk en misken word deur die mans en getroude pare om haar.

In die eerste draaiboek is dit Alma, 'n onderwyseres op die dorp en orrelis in die gemeente waar Helgard, 'n vriend uit haar kinderjare, predikant is. Aan die begin van die teks sterf Helgard in 'n fratsongeluk, en die res van die teks het ten doel om die span-ninge uit te beeld wat 'n sinistere ondertoon aan die predikant se dood verleen. Alma ken almal op die dorp, maar het nie enige ware vriende of vriendinne nie, behalwe Helgard, met wie sy 'n inniger vriendskap sou wou ge-had het, en Linda, 'n nuweling in die gemeen-skap wat haar eie huwelik berou en op die getroude Helgard verlief raak. Die teks is deur-week van die beklemming van 'n klein, na binne gekeerde gemeenskap en die onver-moë, desnieteenstaande, van mense om bete-kenisvolle kommunikasie te bewerkstellig.

Hiér was huise, hiér 'n pad speel in 1908 in 'n "hotelletjie aan die kus in die nabyheid van Kaapstad" (111) af. Die ongetroude hoofka-rakter is Mina Raubenheimer, 'n onderwy-seres (soos Alma in 'n Vrou wat alleen bly) wat vakansie hou in die hotel. Sy deel vir 'n kort tydperk hierdie ruimte met 'n lukrake versa-meling vakansiegangers en is deel van die wis-selwerking wat binne die gedwonge intimiteit van só 'n opset plaasvind. Mina bly egter gro-tendeels 'n toeskouer van ontluikende vriend-skappe en verborge hartstog onder die "jonger" gaste. Net soos Alma, wat óók verlief is op Helgard maar dit nooit kan openbaar nie, is Mina die simpatieke aanhoorder van Kitty se liefde vir Willie in plaas daarvan om aktief te mag handel op grond van haar gevoelens vir Kitty.

In albei tekste is hierdie onvermoë van die vroulike hoofkarakters 'n bron van frus-trasie en patos. Aangesien hulle nie die kans gegun word om 'n duidelike afdruk op hul omgewing te laat nie, maak hul lewens die indruk van vervlietendheid. Die professor in die tweede teks se vergelyking van 'n mens se lewe met 'n verdwene beskawing is be-sonder van toepassing op Alma en Mina se onderskeie toekoms: "hele wêrelde so vol-kome uitgewis dat niemand vandag meer kan sê nie: hiér was huise, hiér was 'n pad" (148).

Die twee draaiboeke beeld op Schoeman se kenmerkende ongehaaste manier verbyge-gane eras in die geskiedenis van Suid-Afrika uit. In samehang daarmee word universele temas op sensitiewe wyse in fyn besonderhede geskets.

Jacomien van Niekerk
jacomien.vanniekerk@up.ac.za
Universiteit van Pretoria
Pretoria