SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2Stil punt van die aardeDie vrou wat alleen bly índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070
versión impresa ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Nomade

 

 

Johann Lodewyk Marais. Pretoria: Cordis Trust Publikasies, 2014. 92 pp. ISBN: 978-0-9870397-8-1. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.26

Die negende bundel van Johann Lodewyk Marais, Nomade, tree in vele opsigte in gesprek met die digter se bestaande oeuvre en die gevestigde fokus op natuur- en plekgegewe, omgewingskwessies, historiese figure en gebeure-die hele digterlike diorama van Marais.

Die bundeltitel aktiveer by die leser 'n verskeidenheid van verwagtinge: 'n tematiese fokus rondom die aksie van reis en van plek tot plek beweeg die swerwende, onvaste aard van 'n swerwersbestaan; die teenstellende as-pekte van aan die een kant die eksotiese ont-dekking van die onbekende en aan die ander kant die vervreemding wat die onbekende meebring; en die reis nie net as fisiese reis nie, maar ook as geïnternaliseerde reis. Met hierdie assosiasies in die agterkop begin die leser se eie reis deur die landskap van die bundel.

Die bundel is pragtig uitgegee en die voorbladkunswerk van Lynette ten Krooden met die gepaste titel, Timbuktu, sowel as haar pensketse wat met gedigte regdeur die bundel in gesprek tree, dra by tot 'n geskakeerde visuele ervaring.

Dieselfde visuele rykheid vind neerslag in die digter se soeke na en verwoording van Afrika in sy kleurryke en dikwels teenstrydige geheel van teenstellings en botsings-die postkoloniale lewe teenoor die disintegre-rende oorblyfsels van 'n koloniale bestel; die fokus op natuurgegewens en die mens se af-hanklikheid van die natuur, maar ook die uitbuiting van natuurlike hulpbronne, soms juis deur dié wat daarvan afhanklik is; uiteen-lopende godsdiensbeskouinge (met 'n ge-paardgaande blik op die Islamgeloof en ver-wante simbole) en politieke onrus, geweld en oorlog.

Ingedeel in agt afdelings, open die bundel met 'n inleidende afdeling wat die sentrale reismotief van die bundel binne 'n kosmiese konteks plaas. In die openingsgedig, "Oor-sprong" posisioneer die reisiger-digter die reis binne die grense van Afrika en wys op sy tuiskoms "by die riviere, / vleie en heuwels van hierdie moeder / met die chromosome van lank, lank terug" (13). Die reis is enersyds 'n uitwaartse beweging, maar ook 'n terug-keer na die oorsprong van lewe. In "Sonne-wende" (15) verkry die reis 'n kosmiese di-mensie "tussen die boogskutter en die steen-bok" en tree op multidimensionele vlakke in gesprek met Adam Small. Ook Van Wyk Louw se "wye en droewe land" word hier en in 'n opvolgende gedig ("F. W de Klerk", 46) geaktiveer. Afrika word aangebied as die moederkontinent, die beskermer van lewe, maar ook teenstellend as die plek van droef-heid en ellende.

Die verdere afdelings handel agtereen-volgend oor Afrikabome (II), diere waarmee die mens in verskillende verhoudings staan (III), kernfigure in die historiese landskap van Afrika (IV) (waarin die gedig "Nelson Mandela" [45] die aangrypende hoogtepunt is), plekgedigte (V), 'n aantal hibriede gedigte in afdeling VI wat aansluit by die tema van reis per boot, in afdeling VII gedigte oor museums en veral ook 'n blik op die koloniale erfenis van Afrika, afgespeel teen die postkoloniale hede. Die slotafdeling van die bundel bevat gedigte wat as 't ware soos by die tuiskoms ná 'n reis, terugkeer na die digter self en sy eie posisie binne die gegewe.

In die pragtige "Worsboom" (20) word die reisiger-digter wat sy tyd aflees uit die worsboom se pendules op 'n fisiese wyse betrek; hy is ook karteerder (21) wat sintuiglik en taktiel "sien", "kyk", "gesels", "oefen" (21) en met sy "vinger gly" (22) oor die tasbaarhede wat hy teenkom op sy reis. Die suggestie van vrugbaarheid, oorvloed en belofte van die "handvol pitte" wat in sy kaart toegevou is in die gedig "Kremetart" (21), staan in skel kon-tras met die gevoel van vernietiging en disin-tegrasie in die slotgedig, wanneer die "ruwe kaarte van groot trekroetes" (92) in die skadu staan van die "verweerde aardbol" waar "alles onherstelbaar begin kwyn"-die troostelose woorde waarmee die bundel sluit.

In die afdeling oor plekgedigte is dit veral die gedig "Heilige skrif " wat opval waarin die reisiger-digter uitreik om die "mooi karak-ters" van die Koran-skrif met sy wysvinger aan te raak, maar in die proses die lesende vrou daarvan laat "gru". In hierdie kontaksone, soos gedefinieer deur Pratt (7) beleef die reisiger 'n botsing van teenstrydige kulture en die uitsluiting van die reisiger kan gelees word as 'n marginalisering-'n tema wat geëggo word deur die toenemende gevoel van vernietiging en "verval" (90) waarvan hy hom bewus word. Die reisiger-digter sien dat "niks op die veld [...] oorbly nie" (89), dat "die hoekpale van klip verkrummel" (90) en hy self later bykans geen spoor meer laat nie as hy "eggoloos deur die leë huis" stap ("Karen Blixen-museum", 81). Gaandeweg word die ontreddering van die spreker-digter open-baar: hy "blaai koorsig in ou reisjoernale" (80) en "word [...] niks verder wys nie" (90). In "Oorlees" sê hy:

Hierdie geslote boek is my lewe,

maar hoe blaai ek die blaaie om en terug

na die collage van foto's, indrukke

en stemme van die afwesiges? (90)

Die bundel verse as reisverslag verkry groter stukrag in die lig van die persoonlik-menslike element van verlies-verlies nie net aan die lewende wesens van die kontinent, hul uitbuiting, die ten gronde gaan van die natuurlike omgewing en die disintegrasie en stelselmatige vernietiging van rekordhouding nie, maar ook 'n verlies aan die gekoesterde wêreld van die self: "in die klein ryk van" sy "vae kindertyd" waar die voorvader-reisge-note "oral" steeds in "rosette van dahlias" en "suurlemoenverbena" teenwoordig was, het die stemme stil geword. Die herinnering aan die "donker hand" wat na hom omgesien het en die hele geborge lewe van taalontdekking word vertroebel deur "kilte en verdriet" (912); dit het alles deel geword van die "stemme van die afwesiges" (90). Die uitstaande kinderherinnering van in die spieël kyk en homself sien en ken (92) veronderstel 'n selfkritiese hede-oomblik van binnetoe kyk wanneer die reisiger-digter sy eie plek in die reisverhaal in oënskou neem. Binnetoe kyk, en selfs die onvermoë om te kan sien (89) omdat dit wat gesien moet word, tot niet is, staan in sterk kontras met die herhaalde aksies van "kyk" en "sien" wat as deurlopende motief in die bundel voorkom.

Johann Lodewyk Marais bevestig met hierdie bundel nogeens die nisposisie wat hy in die Afrikaanse poësie beklee en verruim terselfdertyd die tematiek van sy oeuvre. Nomade is 'n heg gestruktureerde bundel wat met die uitsondering van enkele gedigte wat minder digtheid en dwingendheid vertoon, 'n waardevolle toevoeging maak tot sy bestaande oeuvre en substansieel daarmee in gesprek tree. 'n Hoogs aanbeveelbare bundel waarin "die vrugbaarste sade [...] geheel / en al ongemerk" ontkiem het.

Susan Smith
ssmith@ufh.ac.za
Universiteit van Fort Hare
Oos-Londen

 

Geraadpleegde bron

Pratt, Mary Louise. Imperial Eyes: Travel Writing and Transculturation. Londen & New York: Rout-ledge, 2008.         [ Links ]