SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 número2NarokkongNomade índice de autoresíndice de materiabúsqueda de artículos
Home Pagelista alfabética de revistas  

Servicios Personalizados

Articulo

Indicadores

Links relacionados

  • En proceso de indezaciónCitado por Google
  • En proceso de indezaciónSimilares en Google

Compartir


Tydskrif vir Letterkunde

versión On-line ISSN 2309-9070

Tydskr. letterkd. vol.52 no.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Stil punt van die aarde

 

 

Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau, 2014. 119 pp. ISBN: 978-0-7981-6491-7. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.25

Ná 'n publikasiedroogte van veertien jaar beleef Johann de Lange sedert die verskyning van Die algebra van nood (2009) 'n bloeitydperk met die publikasie van Weerlig van die ongeloof (2011), Vaarwel, my effens bevlekte held (2012) en sy mees resente bundel Stil punt van die aarde (2014). 'n Moontlike verklaring hiervoor is dat digterskap vir De Lange grootliks 'n noodwen-dige reaksie of selfs borswering teen verwon-ding en verlies verteenwoordig. Die implikasie hiervan word goed in die motto van Hugo Claus tot die slotafdeling ("Beseringstyd") van Stil punt van die aarde opgesom: "Hoe dichter de dichters bij hun sterven geraken / Des te grimmiger kermen zij naar de sterren."

Hoe nader en meer die verlies, hoe groter die digtersdrang. Moontlik verklaar dit ook waarom De Lange so obsessief met bepaalde temas in sy oeuvre omgaan-digterskap, seks, liefde, toenadering tot die biologiese vader, gesprekke met literêre voorgangers en die dood. Dié pantsers bevredig soms, maar skiet dikwels te kort. Gevolglik bly die sprekers in De Lange se poësie voortdurend op soek na die ideale panasee, want vir hierdie digter "word die poësie die medium vir die digter om neuroses te besweer. Die digter is 'n outo-psigiater". De Lange se werkswyse mag oënskynlik op 'n eenselwige patroon en onbe-reikbare strewe dui, alhoewel só 'n taksering nie die ryk netwerk van teenpole, paradokse en oorgange verreken nie.

In Stil punt van die aarde is herkenbare kompulsies aanwesig, maar die bundel is ook aanduidend van die voortdurende spanning tussen vervulling en ontnugtering in De Lange se oeuvre. Meermale word 'n dominante kom-pulsie in een bundel in 'n latere bundel ge-relativeer of vanuit 'n ander invalshoek benader. In dié verband is die verskuiwende blik op die dwelmervaring relevant. Die inkering en relativerende beskouing van die spreker in Stil punt van die aarde verskil van die kompulsiewe dwelmekstase wat in Die algebra van nood nagejaag word. In die tweede strofe van "Hersenskim" (71) is dié verskui-wing opmerklik: "& ek onthou die eensame ekstase / van 'n junkie alleen op sy bed / met sy toornige naald & toerniket,/ beskou deur vuilgevatte brilglase." In "Laat vaar" (72) verwoord 'n voormalige dwelmhedonis sy ontnugtering nog duideliker: "Laat vaar die lepel, laat vaar / die naald, laat vaar / die vlam: die honger / hart is 'n weggooi-lam."

Dié reëls suggereer dat verlies 'n prominente medespeler in menslike ervaring is. In Stil punt van die aarde verwoord De Lange die volle reikwydte van verlies indringender as in sy vorige bundels. Naas gedigte oor die verlies van geliefdes, troetelkatte, mede-digters, onskuld en roem, sluit De Lange ook gedigte in wat verlies in wyer sosiale kontekste belig. Goeie voorbeelde is "Aankoms & vertrek" (95) en "Kandahar 2" (108) wat onderskeidelik oor die Jodeslagting en die konflik in Afganistan handel.

Dit gaan in die bundel om die vergank-likheid en weerloosheid van alle dinge. De Lange se empatie lê by die randfiguur wie se belewing hy op 'n insigryke en kompromislose wyse skets. 'n Paar voorbeelde uit sy jongste bundel is die skopofiel, olifantman, self-moordenaar en dwelmverslaafde.

In die derde afdeling "Kermis van die nag" val die fokus grootliks op gay seks. Die taal-en beeldgebruik in dié gedigte is eksplisiet, geil en boertig. Die speelse element in gedigte soos "Boerneef" (49), "Die Griekse kamp" (52), "Roedes & roetes" (59), "Driemanskap" (62) en "Lewis Caroll, 'n sirkusdroom" (67) herinner sterk aan die homoërotiese gedigte van Hennie Aucamp. Die duidelike invloed van Aucamp is te bespeur in reëls soos: "Met pomp & circus stands / sê'rie moenie meester / "Let me see a show of hands, / & put away that ogling peester!"

De Lange se voorkeur vir die uitbeelding van hipermanlike tipes (soos die avonturier, cowboy, rugbyspeler en boer) kom ter sprake in gedigte soos "Bear Grylls thrills" (54), "Rodeo" (55), "Voorgee" (65) en "Haarsny" (66). Dit gaan egter om meer as net 'n herbevestiging van 'n stereotipiese ideaal, want telkens ontbloot De Lange 'n wondbaar-heid of relativeer hy sy oordrewe represen-tasies. Dit is veral in "Rodeo" waarin dié aspek beklemtoon word: "terwyl sy vry arm wilde lasso's / gooi om sy vrees."

Nie al die homoërotiese gedigte is ewe geslaagd nie. De Lange het 'n impasse bereik met dié soort vers aangesien hy te veel steun op suiwer grafiese beskrywings van gay seks en die manlike anatomie. Daar is net soveel maniere om ejakulasie, masturbasie en orale seks oortuigend en oorspronklik uit te beeld, alvorens dit neig na pornografiese verveling. Gedigte soos "Halfkroon" (60), "Vroegoggend, Sandy Bay" (64), "Theewaterskloof, Alien Safari" (69) en "Branding" (70) herinner te veel aan 'n arsenaal soortgelyke gedigte in die De Lange-oeuvre wat om "bloot stom vlees" sentreer.

De Lange se fyn waarnemingsvermoë en intense verwondering aan natuurverskynsels, seisoenwisseling en dieregedrag is 'n promi-nente gegewe in die bundel (veral in die tweede afdeling "Spoor"). Dit is op dié terrein waar De Lange sy vakmanskap die beste vertoon in gedigte soos "Oogwitte" (30), "Insek" (31), "Paradysboomslang" (36) en "Duimsketse by die vier seisoene in Kaapstad" (44). De Lange kan saam met Petra Müller, Ina Rousseau, Wilma Stockenstrõm en Johann Lodewyk Marais as van die mees natuur-bewuste digters in die Afrikaanse poësie ná 1970 beskou word. Dit is 'n aspek van sy poësie wat soms nie behoorlik na waarde geskat word nie ofskoon dit sedert sy debuutbundel Akwarelle van die dors (1982) aanwesig is. Met gedigte soos "Eilandballerina" (16) en "Hotten-totsgot" (32) lewer De Lange 'n waardevolle bydrae tot die spesiegedig in Afrikaans. In laasgenoemde gedig slaag De Lange deur treffende beelde soos "Kranige skadubokser" en "vlugvoetige groen samoerai" om die wesensaard van die hottentotsgot te ver-woord. Hierdeur verkry die spesie naas natuurwetenskaplike belang ook 'n poëtiese waarde. Die hottentotsgot verskuif van insek na estetiese objek. In dié opsig sluit De Lange nou aan by Johann Lodewyk Marais-sekerlik die mees vernugtige beoefenaar van die spesiegedig in Afrikaans.

Met Stil punt van die aarde lewer De Lange voldoende bewys van sy ervare digterskap. Dit is veral sy sterk estetiese ingesteldheid en tegniese bedrewendheid wat opnuut bekoor.

Neil Cochrane
cochrn1@unisa.ac.za
Universiteit van Suid-Afrika
Pretoria