SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2Reviews author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Services on Demand

Article

Indicators

Related links

  • On index processCited by Google
  • On index processSimilars in Google

Share


Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Narokkong

 

 

Riël Franzsen. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015. 64 pp. ISBN-13: 978-14853-0410-4. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.24

Die debuutbundel van Riël Franzsen Narokkong skep op die oog af die indruk dat die gedigte in die bundel die natuur as prominente tema sal betrek veral aangesien die voorblad-illustrasie 'n aantal natuurgegewens op die voorgrond plaas. In die bundel word die natuur egter hoofsaaklik as motief opgeroep. Met die titel word die invloed van D. J. Opperman aangedui aangesien die enigma-tiese Narokkong in Opperman se gedig "Koggelbos" figureer. Die sterkste tematiese gegewe wat in Franzsen se bundel na vore kom, is die intens persoonlike ervaring van die mens en sy omstandighede met die fokus feitlik uitsluitlik op 'n vader se worsteling met die outisme van sy seun. Die gedigte bied op 'n rou en eerlike wyse 'n uitbeelding van die ouer se ervaring van sy kind se lewensloop, van geboorte tot volwassenheid.

Die spanning wat in die bundel ontwikkel, word sterker beklemtoon deur die motief van Narokkong (voël van die aand) en ander voël-soorte. In sommige kontekste word voëls, veral uile, beskou as die draers van slegte nuus en as simbole van onheil. Die voëls en hulle konstan-te teenwoordigheid wys uit na die geheime wêreld van die outistiese seun wat nie van buite af gepenetreer kan word nie. Die voëls word dus die vergestaltings van die nooit afwesige herinnering aan die onplesierige werklikheid wat outisme vir die gesin inhou.

Hierdie onplesierige werklikheid kan byvoorbeeld nader omskryf word as die moedeloosheid wat deur die ouers en dokters ervaar word aangesien die outisme van die kind onvoorspelbaar is. Een ervaring hiervan word in die gedig "Gloukoom" (13) aangedui:

vanself 'n wonderwerk

is skadu aan die optiese senuwee

deur 'n spesialis beperk

tog bly uitsig uitsigloos

vanuit die skaduwêreld

onder Narokkong se vlerk

steeds val ouers en artse rond

tonnelvisie van die psige

is hier aan die werk

Die gedig dui aan dat die besoek aan die dokter in 'n sekere mate vrugte afgewerp het, maar die "skade aan die optiese senuwee [is slegs] beperk" en nie ten volle verhoed nie. Genesing was dus net gedeeltelik. Die onplesierige waarheid, dat outisme onvoor-spelbaar is en dat die binnelewe van die kind nog steeds gedeeltelik 'n geheim is, word bevestig in die tweede strofe met die vermel-ding dat die "uitsig" van die ouers en die dokters "uitsigloos / vanuit die skaduwêreld / onder Narokkong se vlerk" bly. Die wêreld van die seun is 'n "skaduwêreld" van gehei-menis. Narokkong verkry hier 'n dubbele betekenis. Eerstens staan Narokkong in vir 'n negatief gekleurde skaduwêreld met die suggestie dat hy die heerser oor hierdie wêreld is omdat dit onder sy vlerke is. Tweedens tree Narokkong op as sinistere beskermer van die geheime wêreld van die seun, aangesien die sig belemmer is en "uitsigloos" bly. Die gevolg is dat die "ouers en artse" rondval, en sonder volkome begrip van die "skaduwêreld" kan hulle uiteraard nie die geheimenisse deurgrond nie-die "tonnel-visie van die psige" van hul outistiese seun bly 'n onvermydelike belemmering.

Al die elemente in die bundel word saamgeweef om die indruk te laat van 'n bundel wat verstegnies goed versorg is. Ondanks die literêre, Bybelse en natuur-kundige motiewe is die digterlike diepgang wat in Narokkong bereik word, nie buitenge-woon indrukwekkend nie. Dit is duidelik dat die bundel meer daarmee gemoeid is om uitdrukking aan die ervaring van 'n gesin met 'n outistiese seun te gee as wat dit ambisieus die taal as digterlike medium uitdaag of digterlike tendense probeer verskuif. Aange-sien Narokkong egter 'n debuutbundel is, is dit goed moontlik dat Riël Franzsen in sy verdere groei as digter nog veel hoër sal mik

Ondanks hierdie kritiese vasstelling is dit vir die ontvanklike leser uiteindelik onmoont-lik om die impak van die eerlike en pynlike blik op die impak van outisme op die gesin te mis te kyk of te vergeet. Gedigte soos "Paas-fees" (19), "Poppekas" (24-5) en "Reisgenote" (63) dring deur verby die emosionele weer-stand van die leser en bied 'n koue en harde blik op die individu se ervaring van die teis-tering, frustrasie, hulpeloosheid en die on-vermoë om weg te breek van outisme. Die individuele ervaring van die spreker getuig van 'n besef dat die waarheid dat sy geliefde seun deur outisme vasgepen word, onom-stootlik is, maar dat hy betekenis kan vind in die saamleef daarmee sodat die ervaring uiteindelik draagliker word.

Mariska Coetzee
coetzeemariska@ymail.com
Universiteit van Pretoria
Pretoria

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License