SciELO - Scientific Electronic Library Online

 
vol.52 issue2Synapse tracing between self and other in Mede-wete by Antjie Krog (2014)Die stilte opgeskort author indexsubject indexarticles search
Home Pagealphabetic serial listing  

Tydskrif vir Letterkunde

On-line version ISSN 2309-9070
Print version ISSN 0041-476X

Tydskr. letterkd. vol.52 n.2 Pretoria  2015

 

RESENSIES/REVIEWS

 

Mede-wete

 

 

Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 2014. 128 pp. ISBN: 978-0-798-16787-1. DOI: http://dx.doi.org/10.4314/tvl.v52i2.22

Antjie Krog geniet as digter, skrywer, akade-mikus en verslaggewer oor die Waarheids-en Versoeningskommissie (WVK) wye be-kendheid. Dié bekroonde digter het onlangs haar nuutste digbundel Mede-wete (2014) die lig laat sien.

Die flapteks van Mede-wete, ook uitgegee in Engels as Synapse, stel dit soos volg bekend: "Antjie Krog se digterskap het begin met verset teen taal en gesag wat meer was as jeugdige rebelsheid-dit was 'n begeerte om die taal sélf los te maak van beperkinge. Kwessies rondom gewete, geheue en taal word nou, in haar eerste digbundel in agt jaar, tot 'n nuwe intensiteit gevoer."

Die titel en die motto's voorin die bundel is reeds sprekend van die spilpunte van Mede-wete. Die titel wys op 'n kollektiewe bewust-heid en in baie gevalle 'n bewustheid van ge-deelde Afrikanerskuld. Mede-wete, onkonven-sioneel met 'n koppelteken geskryf, dwing die leser om woorde soos medemens, medepligtige, medemenslikheid op te roep en deurgaans neem 'n bewus wees van die Ander 'n prominente posisie in. Die fokus op die verhouding tussen Self, 'n eie identiteit, en 'n relasie tot die Ander word in Mede-wete deur verskillende strategieë deurgevoer. Daar word byvoorbeeld gebruik gemaak van gesprekvoering in verskeie vorme, wat onvermydelik die aandag vestig op 'n Self-Ander-verhouding. Hiervan is "bediendepraatjies" (60-74) 'n goeie voor-beeld-die leser word deur "bediendepraatjies" bewus gemaak van die misverstande wat daar bestaan tussen Self en Ander. Die mens se relasionaliteit tot 'n Ander staan dus voorop, maar die bundelmotto's plaas 'n verdere klem op die mens se relasie tot grond en grondbesit en hoe dít identiteitsvorming beïnvloed.

Die openingsgedig, "'ek wil 'n graf hê om van te draai'" (uit die eerste afdeling, naamlik "die werf"), illustreer reeds die twee genoem-de temas. 'n Kollektiewe bewustheid en die aard van grond en grondbesit blyk byvoor-beeld uit reels soos "sy verwarde / nageslag staan waar ons voel ons nie hoort nie / verduur deur geboortegrond waaraan ons vir geslagte / bloei" en "in die snykoud Vrystaat skitterlig is dit asof / iets sugtends van ons uitgaan van ons / Afrikanergewete ons taalheid ons wit-heid". Die gedig handel oor die begrafnis van die digter-spreker se pa en is tekenend van 'n deurwinterde skrywershand, dit is merkwaar-dig om iets so uitmuntend poëties te skep van 'n onderwerp wat dit maklik tot die sentimen-tele kan leen.

Een van die mees prysenswaardige aspek-te van Antjie Krog se poëtika is haar vermoë om 'n veelvuldige perspektief vreesloos en eerlik te kan weergee. 'n Aspek hiervan is die dualistiese voorouerliefde, 'n liefde vir grond en die plaas, maar terselfdertyd 'n wete dat daar hierin 'n onvermydelike bevoorregting lê waarin sy as Afrikaner deel gehad het en deur haar liefde vir haar Afrikanerfamilie en herkoms, dalk steeds deel het. 'n Gedig wat dié dualisme besonder goed illustreer is "om soos vroeër" (21):

om soos vroeër die Kroonstad/Vljoenskroonpad te vat en nader aan die afdraai te hoor hoe rits my gewrigte los hoe sidder my vel as ek by die plaaspad-middelmannetjie oorskakel na tweede rat vir die kyk die kruie tot waar [···]

ag, ek verlang na my pa en my ma soos wat hulle was daar aan die bopunt van die tafel voor in die kar geselsend in die hoofslaapkamer en die wêreld deur hulle in stand gehou volkoringheilsaam en onvernietigbaar

so het dit gevoel ek hardloop julle van agter-af in sit my arms om julle skouers en loop in die warm wesend-heid van julle knorrige gewetes loop liedswermend soos ek eens geloop het as julle kind, julle wit batende kind

oor die uitgestrekte werf van leuens want kyk 'n heerskare was onder ons hak 'n gehaksel wat bloei: ek dra met julle saam dit wat nou so skeur uit 'n haag van bloed en bitter wraakgebroei

Die tematiese besinning oor die aard van grond, grondbesit, mag, patriargie en die verband tussen identiteit en grond, hoewel tipiese postkoloniale temas, word nooit een-tonig of clichématig aangebied nie. Die blik op die patriargale word byvoorbeeld afgewis-sel met 'n matriargale perspektief wanneer die digter-spreker vertel van sterk vroue uit haar voorgeslagte, soos byvoorbeeld in "[grond]-tussen hakies onvertaalbaar" waar-in die digter-spreker se oumagrootjie die grondbesitter is. Genderkwessies word ook op ander maniere in die bundel getematiseer. Die gedigte "junior" en "om in 'n dogtertjie se kamer te slaap" word op bls. 36 en 37 teenoor mekaar gestel en raak só heelwat van die ste-reotipiese sienings van genderrolle aan.

Nog 'n bekende Krog-tema is die ver-strengelheid van verlede en hede, met die skuldtema wat dikwels daarmee verband hou. In "dis hy!" (22) sê die digter-spreker byvoorbeeld "vas / geheg bly ons hede aan die verlede sterf". Vanselfsprekend bring hierdie tematiek ook ander temas na vore, soos die onbetroubaarheid van herinneringe en ge-heue ("geheue" 87), wat deurgaans in die bun-del aangeraak word.

Mede-wete is ryk aan motiewe en tematiese verskeidenheid. Behalwe vir grond, identiteit, skuld, familiebande en kollektiewe bewust-heid, is daar ook verwysings na die poëtikale, die orale tradisie, die dood, geweld, eensaam-heid en verganklikheid. Die pragtige "kers-sonnet" (75) is 'n gedig wat laasgenoemde aan-grypend uitbeeld.

'n Verdere kenmerk van Mede-wete is die uiteenlopende style en eksperimentering met tipografie, taal en neologismes. Daar is die intertekstuele invloed van Paul Celan en verwysings na Spivak, J. M Coetzee, Carl Jung en andere. Die poësie wissel tussen narratiewe poësie, praatpoësie en suiwer beeldpoësie. Die metaforiek wat byvoorbeeld in gedigte soos "ongelowig is nie die regte woord nie" (86) en "huisskoonmaak" (96) gebruik word, is te-kenend van geslypte woordkuns.

Krog se oeuvre word deurlopend geken-merk deur die outobiografiese en in Mede-wete is dit nie anders nie. In aansluiting by een van die hooftemas is die outobiografiese ver-wysings merendeels na die digter-spreker se verhouding met haar eie ouers, kinders, eg-genoot, kleinkinders en herkoms. Die intieme huweliksruimte word in "toe die jongste kind"(101) betree en 'n gedig soos "as ek doodgaan"(102) is een van die laatverse wat die digter-spreker se eie dood aanraak. Dit is verder op-vallend hoeveel ooreenkomste daar tussen Mede-wete en Krog se outobiografiese 'n Ander tongval (2005) bestaan. So is heelwat van die vertellinge in laasgenoemde omgedig tot ge-digte soos "'n verhaal" (16-7) en "voor-verkiesingspraatjies" (20).

Menige resensente het al "by die dood van Nelson Rolihlahla Mandela" (107) as 'n krag-toer geprys, en daar is inderdaad vele hoog-tepunte in hierdie bundel. Mede-wete is nie op dieselfde literêre vlak as Lady Anne (1989) of Kleur kom nooit alleen nie (2000), maar is steeds 'n indrukwekkende bundel wat as een van die hoogtepunte in die Afrikaanse poësie van die afgelope paar jaar gesien kan word. Ek sluit af met 'n aanhaling uit die sikliese en uitmuntende "mirakel" (30-1):

ek behoort aan hierdie land

dit het my gemaak

ek het geen ander land as dié land nie

mateloos is my liefde vir die land

verwikkeld gehard en onomwonde

Ihette Jacobs
jacobsi@ufs.ac.za
Universiteit van die Vrystaat
Bloemfontein

Creative Commons License All the contents of this journal, except where otherwise noted, is licensed under a Creative Commons Attribution License